Gebruik “’n Inleiding tot God se Woord”—Om ’n gesprek te begin
1. Watter nuwe hulpmiddel het ons vir die bediening ontvang?
1 Voor in die hersiene uitgawe van die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling is daar ’n gedeelte “’n Inleiding tot God se Woord”, wat in Afrikaans in die vorm van ’n boekie uitgegee is. Hoe kan ons hierdie nuwe hulpmiddel gebruik wanneer ons aanbiedings vir die bediening voorberei? Aangesien tekste onder verskillende Bybelonderwerpe gegroepeer word, op soortgelyke wyse as in die Redenering-boek, kan dit baie nuttig wees om gesprekke te begin.
2. Hoe kan ons “’n Inleiding tot God se Woord” in die bediening gebruik?
2 Jy kan vraag 8 gebruik en sê: “Ons besoek ons bure kortliks omdat baie mense wonder: ‘Is God te blameer vir menselyding?’ [In party gebiede is dit doeltreffender om die vraag vir die huisbewoner te wys.] Wat dink jy? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel gee ’n bevredigende antwoord op hierdie vraag.” Lees en bespreek een of meer van die teksverwysings regstreeks uit die Bybel. As die huisbewoner belangstelling toon, kan jy vir hom die 20 vrae in die inleiding wys en hom vra om een te kies om tydens die volgende besoek te bespreek. Of jy kan een van ons studiepublikasies aanbied wat meer inligting bevat oor die onderwerp wat jy pas bespreek het.
3. Hoe kan ons “’n Inleiding tot God se Woord” gebruik om gesprekke te begin in gebiede waar mense aan ’n nie-Christelike godsdiens behoort?
3 Vraag 4 en vraag 13 tot 17 kan baie nuttig wees wanneer jy in gebiede preek waar mense aan ’n nie-Christelike godsdiens behoort. Byvoorbeeld, jy kan die inligting in vraag 17 gebruik en sê: “Ons doen kort besoeke as ’n openbare diens aan gesinne. Stem jy saam dat gesinne vandag met baie uitdagings te kampe het? [Wag vir ’n antwoord.] Baie egpare het hierdie wyse woorde nuttig gevind: ‘Die vrou moet diep respek vir haar man hê.’ [Jy hoef nie te meld dat dit uit Efesiërs 5:33 kom nie. As jy met ’n vrou praat, kan jy dalk liewer die woorde van Efesiërs 5:28 aanhaal.] Dink jy dat dit ’n huwelik sal help as hierdie raad toegepas word?”
4. Wat kan jy doen aan die einde van jou gesprek met iemand wat aan ’n nie-Christelike godsdiens behoort?
4 Tref aan die einde van jou gesprek reëlings om die bespreking by ’n ander geleentheid voort te sit. Miskien kan jy besluit om te praat oor een van die ander tekste in die vraag wat jy gebruik het. Vertel die huisbewoner op ’n gepaste tyd dat die wyse woorde wat jy met hom bespreek het, uit die Bybel kom. Op grond van jou vorige besprekings en die persoon se beskouing van die Bybel kan jy ’n publikasie aanbied waarin jy dink hy sal belangstel.—Sien die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Desember 2013.