Hoe om diegene te help wat nog nie vir die Leer Bybel-boek gereed is nie
1. Sal die Leer Bybel-boek aanvanklik by almal byval vind? Verduidelik.
1 Voordat iemand ’n aanbidder van Jehovah kan word, moet hy kennis inneem van wat die Bybel leer. Maar party behoort aan ’n nie-Christelike godsdiens en beskou die Bybel nie as God se Woord nie. Ander glo glad nie aan God nie en respekteer nie die Bybel nie. Watter hulpmiddels is al met welslae gebruik om diegene te help by wie die Leer Bybel-boek nie aanvanklik byval vind nie? Die wenke hieronder is gebaseer op die kommentare van verkondigers van sowat 20 verskillende lande.
2. Wat moet ons probeer uitvind as iemand vir ons sê dat hy nie aan God glo nie, en waarom?
2 Diegene wat nie aan God glo nie: As iemand sê dat hy nie aan God glo nie, is dit goed om uit te vind waarom hy so voel. Is dit omdat hy in evolusie glo? Het hy geloof in God verloor weens die onregte in die wêreld of die huigelary in godsdiens? Kom hy van ’n land waar geloof in God onderdruk is? Hy ontken dalk nie dat God bestaan nie, maar het nooit gevoel dat dit nodig is om aan Hom te glo nie. Baie verkondigers het gevind dat die vraag “Het jy nog altyd so gevoel?” die persoon aanspoor om sy mening te lug. Luister en moet hom nie in die rede val nie. Wanneer ons verstaan waarom die persoon nie aan God glo nie, sal ons weet hoe om te antwoord en watter publikasie om aan te bied.—Spr. 18:13.
3. Hoe kan ons toon dat ons die persoon en sy oortuigings respekteer?
3 Wanneer jy antwoord, moet jy seker maak dat die persoon nie voel dat jy sy beskouing aanval nie. Hierdie wenk kom van die Verenigde State: “Dit is baie belangrik om ’n persoon se vryheid om te besluit waarin hy glo, te respekteer. Ons moenie argumente probeer wen nie, maar moet eerder vrae vra wat mense laat dink en wat hulle help om hulle eie gevolgtrekkings te maak.” Nadat die huisbewoner sy mening gelug het, begin een reisende opsiener dikwels sy antwoord met die vraag: “Het jy al ooit aan hierdie moontlikheid gedink?”
4. Hoe kan ons Boeddhiste help?
4 Vir baie Boeddhiste is God ’n vreemde begrip. Party verkondigers in Brittanje hou daarvan om die brosjure Lasting Peace and Happiness—How to Find Them te gebruik wanneer hulle vir hierdie mense getuig. Nadat hulle die inleiding bespreek het, bespreek hulle die deel “Is There Really a Most High Creator?” en dan die deel “A Guidebook for the Blessing of All Mankind.” Daarna sal hulle moontlik die Leer Bybel-boek kan aanbied deur vir die huisbewoner te sê: “Selfs al glo u nie aan God nie, sal u by ’n studie van die Bybel baat vind omdat dit baie praktiese raad bevat.” ’n Pionier in die Verenigde State wat in die Chinese veld dien, het gesê: “Baie mense in ons gebied geniet dit om te lees. Daarom lees hulle dikwels die hele publikasie voordat ons terugkom. Maar hulle verstaan dalk nie wat ’n Bybelstudie behels nie. Ek hou dus daarvan om die Goeie nuus-brosjure tydens die eerste besoek aan te bied omdat dit op ’n manier geskryf is wat dit makliker maak om ’n gesprek te voer.” ’n Kringopsiener in die Chinese veld in die Verenigde State sê dat dit moontlik is om die Leer Bybel-boek tydens die eerste besoek aan te bied. Maar dit sal miskien beter wees om die studie eerder te begin in hoofstuk 2, wat die Bybel aan die huisbewoner bekend stel, as in hoofstuk 1, wat God bespreek.
5. Waarom is dit belangrik om geduldig te wees?
5 Dit neem tyd vir ’n persoon om geloof in God op te bou, en daarom is dit noodsaaklik om geduldig te wees. Ons eerste paar gesprekke sal ’n persoon dalk nie beweeg om te erken dat ’n Skepper bestaan nie. Maar miskien sal hy ná verloop van tyd erken dat dit moontlik kan wees of sê dat hy verstaan waarom iemand tot daardie gevolgtrekking kan kom.
6. Waarom stel party mense nie in die Bybel belang nie?
6 Diegene met ’n gebrek aan belangstelling of vertroue in die Bybel: Maar dikwels sal iemand wat erken dat God moontlik bestaan, nie belangstel in wat die Bybel leer nie omdat hy nie glo dat dit God se Woord is nie. Dalk woon hy in ’n nie-Christelike land en verbind hy die Bybel met die Christendom. Of dalk woon hy in ’n sogenaamde Christelike land waarin die meeste mense ’n baie sekulêre uitkyk het en dink hy nie dat die Bybel vir hom nuttig sal wees nie. Hoe kan ons sulke mense help om belangstelling in die Bybel te ontwikkel en uiteindelik ’n studie in die Leer Bybel-boek te aanvaar.
7. Wat is dikwels ’n goeie manier om belangstelling in die Bybel te wek?
7 Die takkantoor in Griekeland het geskryf: “Die beste manier om mense te help wat nie in die Bybel belangstel nie, is eenvoudig om die Bybel oop te slaan en vir hulle te wys wat dit bevat. Baie verkondigers het opgemerk dat die uitwerking wat die Bybel se boodskap op ’n persoon se hart het, kragtiger is as enigiets wat hulle sou kon sê (Heb. 4:12). Om God se naam in die Bybel te sien, het baie mense gehelp om die begeerte te ontwikkel om die Bybel te ondersoek.” Die takkantoor in Indië het geskryf: “Die waarheid omtrent die lewe en die dood vind groot byval by baie Hindoes—so ook die Bybel se belofte van ’n wêreld sonder kastediskriminasie.” As verkondigers melding maak van plaaslike probleme, gee dit hulle dikwels die geleentheid om vir ander te wys wat God se Koninkryk volgens die Bybel sal doen om dinge reg te stel.
8. Wat kan ons vir diegene sê wat ’n negatiewe beskouing van die Bybel het as gevolg van die Christendom?
8 As iemand ’n negatiewe beskouing van die Bybel het as gevolg van die Christendom, moet jy vir hom sê dat die Christendom die Bybel en die leringe daarin verkeerd voorstel. Die takkantoor in Indië het geskryf: “Soms moet ons mense help om te sien dat kerke nie die bewaarders van die Bybel is nie.” Hulle het gesê dat Hindoes dikwels beïndruk is met deel 4 van die brosjure Wat is die doel van die lewe? Hoe kan jy dit vind?, wat verduidelik hoe die kerke probeer het om God se Woord te vervals en te vernietig. ’n Pionier in Brasilië sê vir mense: “Vind gerus meer uit oor wat die Bybel leer. Baie mense doen dit met ’n oop gemoed, sonder enige verpligting teenoor ’n godsdiensgroep. Jy sal dalk verbaas wees oor wat jy leer.”
9. Waarom moet ons nie moed opgee as iemand nie aan die begin belangstel in wat die Bybel leer nie?
9 Jehovah sien elke persoon se hart (1 Sam. 16:7; Spr. 21:2). Hy trek diegene met die regte hartstoestand na ware aanbidding (Joh. 6:44). Baie van hierdie persone is nooit van God geleer nie of het min blootstelling aan die Bybel gehad. Ons bediening gee hulle die geleentheid om “gered [te] word en tot juiste kennis van die waarheid [te] kom” (1 Tim. 2:4). Moet dus nie moed opgee as party nie aan die begin belangstel in wat die Bybel leer nie! Gebruik een van die hulpmiddele wat in jou taal beskikbaar is om hulle belangstelling te wek. Dalk sal jy die bespreking uiteindelik kan voortsit in ons vernaamste Bybelstudiehulp, die boek Wat leer die Bybel werklik?
[Venster op bladsy 4]
Probeer die volgende as die huisbewoner sê dat hy nie aan God glo nie:
• Vind uit waarom deur te vra: “Het u nog altyd so gevoel?”
• As hy ’n Boeddhis is, kan jy die brosjure Lasting Peace and Happiness—How to Find Them, bladsye 9-12, gebruik.
• As hy in evolusie glo, kan die volgende nuttig wees:
Die reeks “Is dit ontwerp?” in die Ontwaak!
Die video The Wonders of Creation Reveal God’s Glory
Die brosjures Is lewe geskep?, Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe en A Satisfying Life—How to Attain It, deel 4
• As hy geloof in God verloor het weens die onregte en lyding in die wêreld, kan die volgende nuttig wees:
Die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, hoofstuk 10
Die brosjures Gee God werklik vir ons om?, deel 6, en Wat is die doel van die lewe?, deel 6
• Gaan oor na die Leer Bybel-boek sodra die huisbewoner die idee aanvaar dat daar ’n moontlikheid is dat God bestaan. Dit sal dalk goed wees om te begin met hoofstuk 2 of ’n ander onderwerp wat vir hom gepas is.
[Venster op bladsy 5]
Probeer die volgende as die huisbewoner nie in die Bybel glo nie:
• Bespreek hoofstuk 17 en 18 van die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
• Gebruik die brosjure Why Should We Worship God in Love and Truth? vir Hindoes.
• Gebruik die brosjure Will There Ever Be a World Without War?a, bladsye 3-11, vir Jode.
• Bespreek die voordele daarvan om Bybelbeginsels toe te pas. Jy kan die volgende publikasies gebruik om iemand die praktiese waarde van die Bybel te wys:
Die reeks “Hulp vir die gesin” in die Ontwaak!
Die video The Bible—Its Power in Your Life
Die brosjures Goeie nuus wat van God kom!, les 9 en 11, ’n Boek vir alle mense, bladsye 22-26, en A Satisfying Life—How to Attain It, deel 2
Gebruik die brosjure The Pathway to Peace and Happiness, bladsye 3-7, vir Boeddhiste.
Gebruik die brosjure Real Faith—Your Key to a Happy Life, deel 3, vir Moslems.
As jy preek in ’n gebied waar mense teen die Bybel bevooroordeeld is, sal dit dalk verstandig wees om hulle eers ’n hele paar keer te besoek voordat jy vir hulle sê waar jy die wyse raad kry wat jy aan hulle meedeel.
• Verduidelik hoe Bybelprofesieë vervul is. Jy kan die volgende publikasies gebruik:
Die video The Bible—Accurate History, Reliable Prophecy
Die brosjure ’n Boek vir alle mense, bladsye 27-29
• Gaan oor na die Leer Bybel-boek sodra die persoon vra wat die Bybel oor verskeie onderwerpe leer.
[Voetnoot]
a Hierdie brosjures is beskikbaar in die Watchtower Library op CD-ROM.
[Venster op bladsy 6]
As die huisbewoner sê: “Ek glo nie aan God nie”, kan jy sê:
• “Kan ek kortliks verduidelik wat my oortuig het om aan ’n Skepper te glo?” Bespreek dan punte uit die Redenering-boek, bladsye 379-381, of reël om vir die persoon ’n publikasie te bring wat jy geniet het om te lees.
• “Maar as daar wel ’n God is, watter soort persoon sou jy wou hê hy moet wees?” Die meeste huisbewoners sê dat hulle aangetrokke sou wees tot ’n God van liefde, geregtigheid en barmhartigheid, ’n onpartydige God. Wys vir hom in die Bybel dat God hierdie eienskappe besit. (Dit sal dalk selfs moontlik wees om hoofstuk 1 van die Leer Bybel-boek te gebruik en met paragraaf 6 te begin.)
As die huisbewoner sê: “Ek glo nie in die Bybel nie”, kan jy sê:
• “Baie mense voel so. Party mense dink dat die Bybel nie wetenskaplik akkuraat is nie of dat Bybelstandaarde onprakties is. Sê vir my, het jy al die Bybel gelees? [Wag vir ’n antwoord. Wys die persoon dan die inleiding op bladsy 3 van die brosjure ’n Boek vir alle mense en bied die brosjure aan as julle gemeente dit in voorraad het of soek die materiaal in Watchtower Library op, en druk dit uit.] Baie mense twyfel aan die geloofwaardigheid van die Bybel omdat godsdiens die leringe daarin verkeerd voorstel. Volgende keer sal ek graag ’n voorbeeld op bladsye 4 en 5 wil bespreek.”
• “Baie mense voel ook so. Kan ek vir u iets omtrent die Bybel wys wat my beïndruk? [Lees Job 26:7 of Jesaja 40:22, wat toon dat die Bybel wetenskaplik akkuraat is.] Die Bybel bevat ook wyse raad wat gesinne kan help. Volgende keer sal ek graag vir u ’n voorbeeld hiervan wil wys.”
• “Dankie dat u dit vir my sê. As God wel ’n boek vir die mensdom geskryf het, wat dink u sou dit bevat?” Wys dan vir die persoon iets in die Bybel wat met sy kommentaar ooreenstem.