Gebruik jou tyd in die bediening ten beste
Gedurende die 2014-diensjaar het Jehovah se Getuies 1 945 487 604 uur in die bediening deurgebring—’n duidelike bewys dat ons vasbeslote is om besig te bly in Jehovah se diens! (Ps. 110:3; 1 Kor. 15:58). Maar kan ons ons kosbare ure in die bediening gebruik om selfs meer mense te bereik, aangesien ‘die oorblywende tyd kort is’?—1 Kor. 7:29.
Ons moet aanpasbaar wees as ons ons tyd in die bediening ten beste wil gebruik. Byvoorbeeld, sê nou jy spandeer gereeld ’n uur of meer aan ’n sekere aspek van die bediening, maar vind niemand met wie jy kan praat nie. Kan jy aanpassings maak om meer mense te vind met wie jy kan praat? Omstandighede verskil van plek tot plek. Maar die volgende wenke kan jou help om jou tyd beter te gebruik sodat jy “nie in die lug slaan nie”.—1 Kor. 9:26.
Getuieniswerk van huis tot huis: Baie verkondigers is al dekades lank in die gewoonte om hulle dag in die bediening te begin deur van huis tot huis te getuig. Maar baie mense werk gedurende die dag, en daarom kan ons gerus probeer om laatmiddag of vroegaand van huis tot huis te getuig, wanneer meer mense tuis is en ontspanne is. Gedurende die dag sal getuieniswerk op straat of in sakegebied moontlik beter resultate oplewer.
Openbare getuieniswerk: Tafels en mobiele uitstallings moet geplaas word op plekke in die gemeente se gebied waar daar baie voetgangers is. (Sien Ons Koninkryksbediening vir Julie 2013, bl. 5.) As die voetgangerverkeer daar verminder, kan die Gemeentelike Dienskomitee besluit om die mobiele uitstalling en tafel te skuif na ’n plek waar daar meer voetgangers is.
Herbesoeke en Bybelstudies: Kan jy jou herbesoeke doen en jou Bybelstudies hou op tye wanneer ander aspekte van die bediening nie so produktief is nie? Kan jy byvoorbeeld, as die huis-tot-huis-bediening produktief is op ’n Saterdagoggend, jou Bybelstudie in die middag of aand hou? Kan verkondigers in kleiner motorgroepe verdeel wanneer hulle herbesoeke doen sodat hulle meer in die bediening kan bereik?
Hoewel ons altyd die tyd kan tel wanneer ons aan die bediening deelneem, vergroot dit ons vreugde wanneer ons produktief is. As jy vind dat een aspek van die bediening op ’n sekere tyd nie so produktief is nie, kan jy aan ’n ander aspek van die bediening deelneem. Bid tot Jehovah, “die Heer van die oes”, vir sy leiding sodat jy jou tyd in die bediening ten beste kan gebruik!—Matt. 9:38.