Die ontdekking van ‘die groot reptiele’ van die verlede
WANNEER jy op die rand van die Red Deer River-vallei, net suid van die dorpie Drumheller in Alberta, Kanada, staan, staan jy op die randjie van twee verskillende wêrelde. Op die hoogliggende terrein strek die eindelose koringlande van die Alberta-prêries in elke rigting. Maar wanneer besoekers by die kranse na die droë en dorre vallei afkyk, kan hulle hul ’n ander wêreld voorstel wat baie anders as hul eie is—die wêreld van die dinosourusse.
In hierdie vallei, met sy steil canyons van veelkleurige sedimentêre gesteentelae, is honderde dinosourusbeendere opgegrawe. Sommige mense in hierdie gebied noem die barre canyon “die dongaveld”. Maar besoekers, jonk sowel as oud, word met verwondering vervul as hulle kyk na die fossielerfenis van sommige van die verbasendste diere wat ooit op die aarde gelewe het.
Die ontdekking van die dinosourusse
Voor 1824 was dinosourusse onbekend aan die mens. In daardie jaar is die beendere van verskeie soorte gefossiliseerde reptiele in Engeland opgegrawe. Die Britse paleontoloog Richard Owen het hierdie diere Dinosauria genoem, ontleen aan die twee Griekse woorde deinos en sauros, wat “vreeslike akkedis” beteken. Die naam is vandag nog gebruiklik, maar hoewel dinosourusse reptiele is, is hulle nie akkedisse nie.
Sedert 1824 is dinosourusfossiele op elke kontinent gevind. Die fossielverslag, wat in lae sedimentêre, of waterafgesette, gesteentes agtergelaat is, toon dat daar ’n buitengewoon groot aantal en verskeidenheid dinosourussoorte was gedurende ’n tydperk in die aarde se geskiedenis wat die Tydperk van die Dinosourusse genoem word. Party het op land gelewe, terwyl ander in moerasse gelewe het. Sommige het miskien selfs in water gelewe, baie soos die hedendaagse seekoei.
Groot hoeveelhede dinosourusoorblyfsels—nie net geraamtes nie maar ook ander bewyse soos voetspore—is op die Groot Amerikaanse Vlakte opgegrawe. Die prêries van midde-Alberta het heelwat dinosourusoorblyfsels opgelewer, waaronder byna 500 volledige geraamtes. In die twintigerjare is dinosourusbeendere tydens ekspedisies in die Gobi-woestyn van midde-Asië ontdek. In die veertigerjare het ’n Russiese ekspedisie in Mongolië ’n dinosourusgeraamte ontdek wat ongeveer 12 meter lank was.
In 1986 het Argentynse wetenskaplikes die fossiele van ’n plantetende dinosourus in Antarktika ontdek. Tot op daardie tydstip was Antarktika die enigste groot landoppervlakte waar dinosourusfossiele nog nie gevind is nie. Pas tevore het ’n Amerikaanse navorser dinosourusbeendere op die North Slope van Alaska gevind. Die afgelope honderd jaar is dinosourusbeendere op so baie plekke ontdek dat dit duidelik geword het dat dinosourusse in die gryse verlede algemeen voorgekom het.
Wanneer het hulle gelewe?
Gedurende hulle tydperk het dinosourusse ’n oorheersende rol in die lewe op aarde gespeel. Maar toe het hulle vergaan. Die gesteentelae waarin mensefossiele aangetref word, is telkens bokant die lae waarin die dinosourusfossiele aangetref word. Om dié rede maak wetenskaplikes oor die algemeen die gevolgtrekking dat mense eers later op die aardse toneel verskyn het.
In verband hiermee sê die boek Palaeontology, deur James Scott: “Selfs die vroegste spesies Homo sapiens (die mens) het lank na die verdwyning van die dinosourusse geleef . . . Nadat kanteling (vanweë die aarde se beweging) in aanmerking geneem is, word gesteentes wat mensefossiele bevat telkens aangetref bokant dié waarin die beendere van die groot dinosourusreptiele bewaar word, en daaruit volg dat laasgenoemde uit ’n vroeër tydperk as die mense-oorblyfsels dateer.”
In die Red Deer River-vallei is daar ’n sedimentêre gesteentelaag wat dinosourusbeendere bevat. Bokant hierdie laag is ’n persbruin laag wat die kontoere van die heuwelhang volg. Bo-op die persbruin laag is ’n bruinerige sliksteenlaag wat fossiele van subtropiese varings bevat en dus ’n warm klimaat aandui. Bokant hierdie laag is daar etlike steenkoollae. Hoër teen die heuwelhang is daar growwer grondlae. Daar is geen dinosourusbeendere in enige van die hoërliggende lae nie.
Die boek A Vanished World: The Dinosaurs of Western Canada sê dat “elk van die 11 vernaamste dinosourussoorte . . . om en by dieselfde tyd in die westelike binneland uitgesterf het”. Dít, en die feit dat mensebeendere nie saam met dinosourusbeendere gevind is nie, is waarom die meeste wetenskaplikes die gevolgtrekking maak dat die Tydperk van die Dinosourusse geëindig het voordat mense op die toneel verskyn het.
Maar daar moet kennis geneem word van die feit dat sommige sê dat dinosourusbeendere en mensebeendere nie saam gevind word nie omdat dinosourusse nie in dieselfde gebiede as die mens gelewe het nie. Sulke uiteenlopende beskouings toon dat die fossielverslag sy geheime nie so maklik openbaar nie en dat niemand wat vandag op aarde lewe werklik alles weet nie.
Kenmerke
Wetenskaplikes het tot die slotsom gekom dat ’n groot vlak see vroeër oos van die Noord-Amerikaanse Rotsgebergte bestaan het. Hierdie see was honderde kilometers breed en het van die huidige Arktiese Oseaan tot by Mexiko gestrek. Langs die plat kuslyn was daar welige, moerasagtige woude. Fossiele dui daarop dat heelparty dinosourussoorte in hierdie ekologiese omgewing geaard het. Die edmontosourus, ’n eendbekdinosourus wat ongeveer 9 meter lank was, het blykbaar, soos koeie, in troppe in die moeras gewei. Drietoonvoetspore wat goed behoue gebly het en die gefossiliseerde inhoud van die maag het paleontoloë hierdie gevolgtrekking laat maak.
Ander getuienis dui daarop dat sommige dinosourusse sosiale gewoontes geopenbaar het. Hulle het waarskynlik troppe gevorm, miskien groepe van honderde of meer. Die ontdekking van opeenvolgende nes- en eierlae op dieselfde plek toon dat sommige dinosourusse elke jaar na dieselfde neste teruggekeer het. Scientific American sê dat geraamte-oorblyfsels van jong dinosourusse naby die neste ‘’n sterk aanduiding is van sosiale gedrag onder die kleintjies en ook die moontlikheid insluit dat die ouers die kleintjies versorg het nadat hulle uitgebroei het’.
Die fossielverslag toon dus dat daar ’n ontsaglike aantal en groot verskeidenheid dinosourusse was. Maar hoe het hulle presies gelyk? Was hulle almal skrikwekkende, reusagtige gediertes—“vreeslike akkedisse”? Waarom het hulle so skielik verdwyn?
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Smithsonian Institution, Washington, D.C.: Photo Number 43494