Die verskillende vorms en groottes van dinosourusse
VAN al die uitgestorwe lewensvorme het dinosourusse mense se verbeelding waarskynlik die meeste aangegryp. Dinosourusse word dikwels as reusagtig en skrikwekkend voorgestel. Toe die naam aanvanklik gesmee is uit die Griekse woorde wat “vreeslike akkedis” beteken, is daar gemeen dat hulle skrikwekkend groot was, omdat die destyds bekende dinosourusfossiele groot was.
Sommige dinosourussoorte was reusagtig, het skrikwekkend gelyk en was vermoedelik meer as tien keer swaarder as ’n groot Afrikaanse olifant. Maar deur die dekades heen het paleontoloë die beendere van talle kleiner dinosourusse opgegrawe. Sommige is so groot soos ’n donkie en party is nie baie groter as ’n hoender nie! Kom ons ondersoek party van hierdie fassinerende eertydse reptiele.
Reptiele wat vlieg
Een interessante eertydse reptielsoort was die pterosourus (“gevleuelde akkedis”), wat die pterodaktilus (“gevleuelde vinger”) insluit. Maar hulle was nòg dinosourusse nòg voëls. Hulle was vlieënde reptiele en word saam met ander reptiele soos dinosourusse en krokodille geklassifiseer. Sommige van hulle het ’n vlerkspan van 8 meter gehad. Een wat in 1975 in Texas ontdek is, toon dat party ’n vlerkspan van meer as 15 meter gehad het. Hulle was moontlik die grootste diere wat ooit gevlieg het.
Terwyl pterosourusse die tande, skedel, bekken en agterpote van ’n reptiel gehad het, het hulle geensins soos die reptielagtige dinosourusse gelyk nie. En terwyl hulle skynbaar ’n voël met stywe, aërodinamiese vlerke was, was hulle baie anders. Soos voëls het die pterosourusse hol bene en min buigbare gewrigte in die vlerke en enkels gehad. Maar ’n voël se vlerke het vere en nie ’n membraan soos dit die geval met die pterosourusse was nie. En die vierde vinger van die pterosourus se voorste ledemaat was langer om die vlerkmembraan te steun. By die voël is die tweede vinger die vernaamste steunsel van die vlerk.
Die ornithiscia
Die ornithiscia (“voëlbekkenagtiges”) was een van twee algemene dinosourusklasse wat volgens hul bekkenstruktuur geklassifiseer word. Die dinosourusse in hierdie kategorie se bekkenstruktuur was soortgelyk aan dié van ’n voël, maar was natuurlik baie groter. Party was klein wat totale grootte betref, ander was kolossaal. Die iguanodon het tot 9 meter lank geword. Die geraamtes van etlike hadrosourussoorte dui op ’n eendbekagtige bo- en onderkaak met baie tande. Hadrosourusse was blykbaar tweevoetig en het op twee bene geloop of gehardloop. Sommige van hulle het tot 10 meter lank geword.
Die stegosourusse was ’n groep van die ornithiscia met groot benerige plate wat in ’n patroon op hulle rug gegroei het. Hulle het op al vier bene geloop, was ongeveer 6 meter lank en 2,4 meter hoog by die bekken. Daar word deesdae gemeen dat die benerige rugplate nie net as ’n beskerming gedien het nie, maar ook as ’n deel van ’n afkoelingstelsel vir hulle liggaam. Die agterbene was dik en olifantagtig, terwyl die voorbene kleiner was sodat die klein koppie na aan die grond was. Lang, benerige penne het straalgewys aan die punt van die stert uitgesprei.
’n Laaste groep ornithiscia—wat dwarsoor die aarde voorgekom het—was die ceratopsia, of horingdinosourusse. Hulle was van 1,8 meter tot 8 meter lank. Soos die Afrikaanse renoster het hierdie gepantserde “tenks” ’n groot verlenging op die skedel gehad wat ’n kenmerkende nekskild gevorm het. ’n Spesie met drie horings, triceratops, was ’n algemene verskynsel in die dinosouruswêreld. Die twee horings bokant die oë het tot 0,9 meter lank geword. Etlike fossiele van triceratops is in die Red Deer River-vallei in Alberta gevind.
Die saurischia—reusagtige dinosourusse
Nog ’n algemene dinosourisklas staan bekend as saurischia (“akkedis-bekkenagtiges”), en hulle het bekkenstrukture soos dié van akkedisse, hoewel dit weer eens baie groter is. Hulle pas die gewone voorstelling van dinosourusse: groot en skrikwekkend. Onder hulle was die apatosourus (wat vantevore brontosourus genoem is), ’n plantetende dinosourus wat op al vier bene geloop het. Hy het tot 21 meter lank geword en ongeveer 30 ton geweeg. Hierdie dinosourusse is in Noord-Amerika en Europa opgegrawe.
Die ewe reusagtige diplodocus het meer soos ’n slang gelyk, met ’n lang nek en stert, maar het bene gehad. Dit is die langste dinosourus wat bekend is en het ongeveer 27 meter lank geword, hoewel dit ietwat minder as die apatosourus geweeg het. Die diplodocus, wat in Noord-Amerika opgegrawe is, het neusgate bo-op sy kop gehad sodat hy sy kop feitlik heeltemal onder die water kon hou.
Dan is daar die brachiosourus. ’n Geraamte wat in Tanzanië ontdek is, was 21 meter lank. Daar word geskat dat sommige meer as 85 ton geweeg het. Hulle was 12 meter hoog, met ’n liggaam wat, soos ’n kameelperd s’n, skuins afgeloop het na die stert.
In 1985 is buitengewoon groot gefossiliseerde werwelbene in Nieu-Mexiko, VSA, opgegrawe. Die kurator van die Museum van Natuurhistorie in Nieu-Mexiko het dit seismosourus genoem. Daar is geskat dat die dier ongeveer 30 meter lank was en nagenoeg 100 ton geweeg het!
Die skrikwekkende tyrannosourus rex (“tiran-akkediskoning”) was ongeveer 3 meter hoog by die bekken. Wanneer hy gestaan het, was hy moontlik 6 meter hoog. Hy was ongeveer 12 meter lank. Sy kop was tot 1,2 meter lank, en daar was talle keëlvormige tande, 15 sentimeter lank, in sy groot mond. Die agterbene was olifantagtig, terwyl die voorbene baie klein was. Sy stert was groot en akkedisagtig. Daar word tans gemeen dat die tyrannosourusse hulle liggame horisontaal gehou het en hulle liggaamsgewig met hulle lang stert gebalanseer het, pleks van regop te loop.
’n Veranderende toneel
Die fossielverslag toon duidelik dat baie dinosourusse oral op die aarde gelewe het, in ’n eertydse landskap wat lank gelede verdwyn het. Maar hierdie verbasende skepsele, tesame met tallose ander dier- en plantsoorte het uitgesterf. Die paleontoloog D. A. Russell sê die volgende oor presies wanneer hierdie dinge plaasgevind het: “Ongelukkig is bestaande metodes om die tydsduur te bepaal van gebeure wat so lank gelede plaasgevind het betreklik onakkuraat.”
Wat het van die dinosourusse geword? Wat beteken hulle skielike verskyning en vermoedelik skielike uitsterwing? Laat dinosourusse twyfel ontstaan oor sekere grondbeginsels van Darwinistiese evolusie? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel ondersoek.
[Diagram op bladsy 8, 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
9 meter
6 meter
3 meter