Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 2/8 bl. 9-11
  • Wat het van die dinosourusse geword?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het van die dinosourusse geword?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die teorie van skielike uitsterwing
  • Die datering van dinosourusse
  • Die Genesisverslag en dinosourusse
  • Wat sê die Bybel oor dinosourusse?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die ontdekking van ‘die groot reptiele’ van die verlede
    Ontwaak!—1990
  • Die verskillende vorms en groottes van dinosourusse
    Ontwaak!—1990
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 2/8 bl. 9-11

Wat het van die dinosourusse geword?

“PALEONTOLOGIE is die studie van fossiele, en fossiele is die oorblyfsels van lewe uit vervloë tye.” Maar dit is, soos een paleontoloog gesê het, “’n hoogs teoretiese en eiewyse wetenskap”. Dit is duidelik in die geval van dinosourusse. Die wetenskaplike G. L. Jepson van Princeton het ’n paar teorieë oor wat van hulle geword het, opgenoem en gesê:

“Gesaghebbende en minder gesaghebbende skrywers het te kenne gegee dat dinosourusse verdwyn het omdat die klimaat . . . of die dieet versleg het. . . . Ander skrywers het siekte, parasiete, . . . veranderinge in die druk of samestelling van die atmosfeer, gifgasse, vulkaniese stof, oormatige suurstofvrystelling deur plante, meteoriete, komete, genepoeldreinering deur klein soogdiereiervreters, . . . kosmiese straling, verskuiwing van die Aarde se rotasiepole, oorstromings, kontinentale drywing, . . . dreinering van moeras- en meeromgewings en sonvlekke die skuld gegee.”—The Riddle of the Dinosaur.

Sulke gissings toon dat wetenskaplikes nie met sekerheid kan sê wat met die dinosourusse gebeur het nie.

Die teorie van skielike uitsterwing

’n Vader-en-seun-span, Luis en Walter Alvarez, het onlangs met ’n nuwe teorie vorendag gekom. Walter Alvarez het buite die dorp Gubbio in midde-Italië ’n eienaardige dun, rooi kleilaag tussen twee kalksteenlae in die rotsformasie ontdek. Die onderste kalksteenlaag het baie fossiele opgelewer. Die boonste laag het byna geen fossiele bevat nie, en daarom het die geoloë die gevolgtrekking gemaak dat lewe skielik verdwyn het en dat die dun, rooi kleilaag op die een of ander manier met die uitsterwing verband hou.

Ontleding het aan die lig gebring dat die klei baie iridium (’n metaal) bevat, 30 keer meer as die konsentrasie wat gewoonlik in gesteentes gevind word. Hulle het geweet dat sulke hoë konsentrasies van hierdie seldsame element net van die aarde se kern of van buiteaardse bronne kon kom. Hulle het tot die slotsom gekom dat die iridium afgeset is deur ’n groot asteroïed wat die aarde getref en die skielike uitsterwing van die dinosourusse veroorsaak het.

Na die ontdekking van die iridiumryke klei by Gubbio is soortgelyke afsettings in ander wêrelddele gevind. Het dit die asteroïedteorie gestaaf? Sommige wetenskaplikes bly skepties. Maar soos die boek The Riddle of the Dinosaur erken, het die Alvarez-teorie “nuwe lewe in die studie van uitsterwing en evolusie” geblaas. En die paleontoloog Stephen Jay Gould erken dat dit “die belangrikheid van mededinging tussen spesies” kan verminder.

Waar hy kommentaar lewer oor hierdie nuwe teorie en die skynbaar skielike uitsterwing van die dinosourusse erken een wetenskapskrywer: “Dit kan die grondveste van evolusiewetenskap skud en die huidige konsep van natuurlike teeltkeuse bevraagteken.”

Wetenskaplike David Jablonski van die Universiteit van Arizona kom tot die slotsom dat ‘die uitsterwing van talle plante en diere plotseling en buitengewoon was. Massa-uitsterwings is nie bloot die kumulatiewe gevolg van geleidelike uitsterwings nie. Iets buitengewoons het gebeur.’ Dit is ook die geval met dinosourusse. Hulle betreklik skielike verskyning en verdwyning weerspreek die algemeen erkende opvatting oor stadige evolusie.

Die datering van dinosourusse

Dinosourusbeendere word gereeld in laer grondlae as mensebeendere gevind, en dit laat talle die gevolgtrekking maak dat hulle uit ’n vroeër tydperk dateer. Geoloë noem hierdie tydperk die Mesosoïese periode en onderverdeel dit in die Kryt-, Jura-, en Triasperiode. Daar word gesê dat hierdie tydperke tienmiljoene jare lank was. Maar is dit met enige sekerheid vasgestel?

Een metode wat gebruik word om die ouderdom van fossiele te bepaal word radiokoolstofdatering genoem. Hierdie dateringstelsel bepaal die vervaltempo van radioaktiewe koolstof vanaf die dood van ’n organisme. “Sodra ’n organisme doodgaan, neem hy nie meer vars koolstofdioksied uit sy omgewing in nie, en die verhouding van die isotoop daal na verloop van tyd namate dit radioaktiewe verval ondergaan”, sê Science and Technology Illustrated.

Die stelsel het egter ernstige probleme. Eerstens, wanneer die fossiel vermoedelik sowat 50000 jaar oud is, het die radioaktiwiteitsvlak daarvan so laag gedaal dat dit baie moeilik bepaal kan word. Tweedens, hierdie vlak het selfs in nuwer monsters so laag gedaal dat dit steeds uiters moeilik is om dit akkuraat te bepaal. Derdens, wetenskaplikes kan bepaal teen watter tempo radioaktiewe koolstof vandag gevorm word, maar hulle kan nie bepaal watter koolstofkonsentrasies daar in die gryse verlede was nie.

Hetsy wetenskaplikes die radiokoolstofmetode om fossiele te dateer of ander metodes gebruik—soos radioaktiewe kalium, uraan of torium om gesteentes te dateer—kan hulle dus nie die oorspronklike vlakke van daardie elemente deur die jare heen vasstel nie. ’n Professor in metallurgie, Melvin A. Cook, sê dus: “’n Mens kan net raai wat hierdie konsentrasies (van radioaktiewe stowwe) was, en die ouderdomsresultate wat op dié manier verkry word, kan nie beter as hierdie raaiskoot wees nie.” Dit sal veral die geval wees wanneer ons in aanmerking neem dat die Vloed van Noag se dag meer as 4300 jaar gelede groot veranderinge in die atmosfeer en op die aarde teweeggebring het.

Geoloë Charles Officer en Charles Drake van die Dartmouth-kollege laat verdere twyfel oor die noukeurigheid van radioaktiewe datering ontstaan. Hulle sê: “Ons kom tot die slotsom dat iridium en ander verwante elemente nie onmiddellik afgeset is nie . . . maar dat daar eerder ’n sterk en wisselende invloeiing van hierdie stowwe gedurende ’n betreklik kort geologiese tussentyd van ongeveer 10 000 tot 100000 jaar was.” Hulle voer aan dat die opbreking en beweging van die vastelande die hele aardbol ontwrig, vulkaniese uitbarstings veroorsaak, sonlig versper en die atmosfeer besoedel het. Sulke ontwrigtende gebeure kon sekerlik die radioaktiwiteitsvlakke verander het, sodat die lesings van die hedendaagse radioaktiewe horlosies onakkuraat is.

Die Genesisverslag en dinosourusse

Terwyl die radioaktiewe dateringsmetode ’n nuwe metode is, is dit steeds op bespiegeling en veronderstelling gegrond. In teenstelling daarmee is die Bybelverslag in die eerste hoofstuk van Genesis eenvoudig ’n uiteensetting van die algemene volgorde van die skepping. Dit bots nie met die feit dat moontlik miljarde jare vir die vorming van die aarde nodig was en talle millenniums in ses skeppingstydperke, of “dae”, nodig was om die aarde vir bewoning deur die mens voor te berei nie.

Sommige dinosourusse (en pterosourusse) is dalk geskep gedurende die vyfde tydperk wat in Genesis genoem word, toe God volgens die Bybel “gevleuelde voëls” en “groot seediere” gemaak het. Miskien is ander dinosourussoorte gedurende die sesde tydperk geskep. Die groot verskeidenheid dinosourusse met hulle groot aptyt sou geskik gewees het as ’n mens dink aan die welige plantegroei wat blykbaar destyds bestaan het.—Genesis 1:20-24.

Toe die dinosourusse hul funksie verrig het, het God hulle lewe beëindig. Maar die Bybel sê nie hoe of wanneer hy dit gedoen het nie. Ons kan seker wees dat Jehovah dinosourusse met ’n sekere doel geskep het, selfs al verstaan ons daardie doel tans nie ten volle nie. Hulle was nie ’n fout of ’n produk van evolusie nie. Die feit dat hulle skielik sonder verbintenis met enige fossielvoorouers in die fossielverslag verskyn en ook verdwyn sonder om verbindende fossielskakels agter te laat, is getuienis teen die beskouing dat sulke diere geleidelik oor ’n tydperk van miljoene jare geëvolueer het. Die fossielverslag staaf dus nie die evolusieteorie nie. Dit strook eerder met die Bybel se beskouing oor die skeppingsdade van God.

[Lokteks op bladsy 10]

Die fossielverslag van die dinosourusse staaf nie evolusie nie, maar wel die skepping

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel