Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 2/22 bl. 22-24
  • Leer van die Jarawas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer van die Jarawas
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onbeskaaf?
  • Die lewenswyse van die Jarawas
  • ’n Tuiste van oorvloed
  • Wat die toekoms inhou
  • ’n Krap met ’n ongewone smaak
    Ontwaak!—1995
  • Die Faroëreilande—Uniek verbind
    Ontwaak!—2010
  • Een van die nuttigste neute op aarde
    Ontwaak!—2003
  • Baie eilande is bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 2/22 bl. 22-24

Leer van die Jarawas

Deur Ontwaak!-medewerker in Indië

“JOU bloeddruk is te hoog, en jou senuwees is gedaan. Reis na ’n tropiese eiland en gaan ontspan!” As die spanning en druk van die moderne beskawing jou gespanne maak, is dit dalk juis die raad wat jy nodig het. Wie kan so ’n aanloklike voorstel weerstaan, selfs al is dit nie om mediese redes nie? Neem gerus ’n blaaskansie en besoek die Andaman-eilande, die tuiste van die Jarawas.

Andaman-eilande? Jarawas? Moenie verleë voel as jy nog nooit van hulle gehoor het nie, want hulle is ver van die bekende toerroetes van die wêreld. As jy na ’n kaart kyk, sal jy die Andaman-eilande in die Baai van Bengale, tussen Indië en Myanma (voorheen Birma), vind. Hierdie eilandgroep, wat uit nagenoeg 300 eilande bestaan, is tans deel van die Republiek van Indië.

Onbeskaaf?

Die eilande is die tuiste van vier Negrito-stamme—die Groot Andamanese, die Jarawas, die Sentinelese en die Onges. Daar word gemeen dat die Negrito’s, wat “klein negers” beteken, afstammelinge is van ’n antieke, donkerkleurige pigmee-ras wat vroeër die grootste gedeelte van Suidoos-Asië en Oseanië bewoon het. Weens hulle afgesonderdheid is hulle al die suiwerste afstammelinge van die “Steentydperk-mens” genoem, of, soos luitenant Colebrook van die Britse Leër, wat die eilande vroeër bestuur het, dit gestel het, “die onbeskaafste mense ter wêreld”.

Toe die Britte in 1858 ’n strafkolonie daar gestig het, was daar duisende Groot Andamanese. Spoedig het die vreemdes se siektes—masels, sifilis en ander—tesame met opiumverslawing en alkoholisme die stamlede uitgewis. Tans is daar net ’n paar van hulle, almal van gemengde bloed, op die klein Strait-eiland. ’n Soortgelyke lot het die Onges getref.

Die Jarawas en die Sentinelese het jare lank kontak met, en uitbuiting deur, vreemdes vermy. Hulle vyandigheid het hulle in afsondering gehou maar het ook meegebring dat hulle as barbare en bloeddorstige kannibale bekendgestaan het. Slegs ’n paar jaar gelede, toe beamptes van die antropologiese departement in Port Blair, die hoofstad van die Andaman-eilande, probeer het om met een van die stamgroepe op Noord-Sentinel-eiland in aanraking te kom, is pyle na hulle sloep geskiet en het een pyl ’n fotograaf se been deurboor.

Wat het hulle so vyandig gemaak? M. V. Portman, ’n Britse offisier wat die eilande aan die einde van die vorige eeu bestuur het, het gesê: “By ons aankoms was die Jarawas ons goedgesind en het hulle ons ook nooit gepla nie, totdat ons hulle voortdurend begin treiter het deur die Andamanese van die kusgebied teen hulle aan te hits. Na ’n paar jaar van hierdie onrus het die lewe van die Jarawas baie moeilik geword en het hulle uit weerwraak begin om ons aan te val. Dit was ons skuld dat die Jarawas vyandig geword het.”

Die lewenswyse van die Jarawas

Die Jarawas is halfnomadies. Hulle leef in groepe van ongeveer 30, en ’n aantal buurgroepe vorm ’n stam. Elke groep trek rond binne ’n goed afgebakende grens en oortree nie op die gebied van ander groepe nie. Aangesien hulle in ’n welige tropiese gebied woon, is hulle nie landbouers nie en hou hulle geen huisdiere aan nie. Hulle bestaan hang af van hulle boë, pyle en spiese—jag en visvang.

Hulle lewenswyse sluit in dat hulle kos met mekaar deel. As iemand in die groep ’n seeskilpad vang, eet almal seeskilpad. As iemand ’n vark vang, eet almal varkvleis. Daar is geen klasseverskil met rykes en armes in hulle maatskaplike orde nie. “Die Jarawas kan nooit vir arm deurgaan nie”, het een van die antropologiese beamptes gesê. “Hulle het ’n oorvloed van lewensbenodigdhede.”

Iets buitengewoons omtrent die Jarawas is dat hulle een van die weinige volke ter wêreld is wat nie weet hoe om ’n vuur aan te steek nie. Hulle kry hulle vuur van brandende bosse wat gedurende die talle donderstorms deur weerlig aan die brand gesteek word. Hulle bewaak hulle vure sorgvuldig, hou dit aan die brand en neem dit selfs saam wanneer hulle rondtrek.

Die verbrokkeling van sedes is ’n vloek van die moderne beskawing. “Daar is geen voorhuwelikse seks onder die Jarawas nie”, het die beampte wat hierbo aangehaal is, gesê. “Egbreuk is uiters seldsaam. Die skuldige sal hom sterk maatskaplike afkeuring op die hals haal. Hy sal so sleg voel dat hy die gemeenskap ’n tyd lank sal verlaat voordat hy sal wil terugkeer.” Het mense in jou “beskaafde” gemeenskap so ’n skerp sin vir sedelikheid?

Die moderne beskawing is sinoniem met hoë bloeddruk, hartkwaal, kanker en dies meer. Die Jarawas word nie deur sulke siektes geteister nie. Hoewel hulle klein gebou is—die mans is nie langer as 1,5 meter nie en die vroue is selfs korter—is hulle al bestempel as “die mees volmaak gevormde mensies wat bestaan”. In hulle eie omgewing word hulle selde siek.

Hoewel godsdiens nie ’n belangrike rol in hulle lewe speel nie, het die Jarawas wel sekere rituele aangaande die dode. Wanneer iemand sterf, word die liggaam begrawe, en die hut wat vroeër deur die oorledene bewoon is, word ontruim. Na ’n paar maande word die liggaam opgegrawe. Die skedel, of meer dikwels die onderkaak, word dan deur die naasbestaande gedra. ’n Ruk later dra ander familielede dit om die beurt. Hierdie gebruik word beskou as ’n blyk van respek vir die oorledene en hou klaarblyklik verband met hulle opvattings oor die dode. Die Jarawas glo dat daar ’n siel, ’n draer van lewe, is wat in ’n ander wêreld voortleef. Hulle glo ook dat die siel steeds in hulle belangstel en sal dus enige daad vermy wat dit kan kwaad maak.

’n Tuiste van oorvloed

Die Jarawas woon in ’n ryklik toegeruste tuiste. Die pragtige orgideë, waarvan party net op hierdie eilande voorkom, is van die talle mooi plante wat die eiland versier. Volgens streekbotanis dr. N. P. Balakrishnan het party variëteite van hierdie orgideë “soos seldsame diamante” in 1880 “ongelooflike pryse in Engeland behaal”.

’n Duitse wetenskaplike het onlangs, ten koste van ’n vinger, die rowerkrap op Sentinel-eiland gevind. Die uitstalling van die Departement van Visserye in Port Blair, Andaman-eilande, het die volgende beskrywing van die rowerkrap op ’n vertoonbord gehad: ‘Gevaarlik vir kokosplantasies. Klim kokosbome. Pluk ryp vrugte. Breek die dop met sy groot kloue oop. Drink die soet water en eet die klapper.’ Ander het dit egter betwyfel of hierdie krap regtig al hierdie dinge doen. Terwyl kritici erken dat die krap bome klim, sê hulle dat dit net beskadigde kokosneute wat reeds op die grond is, oopbreek en eet.

Wat die toekoms inhou

Sal die Jarawas, onder die invloed van die moderne beskawing, die lot van die Groot Andamanese en die Onges deel—naamlik geleidelike agteruitgang en dalk uiteindelike uitsterwing? Net die tyd sal dit leer. Maar hulle het hul godgegewe tuiste reeds eeue voor die koms van vreemdes opgepas en die lewensmiddele op onselfsugtige wyse benut. Hulle lewenswyse was inderdaad eenvoudig en vreedsaam. Kan ons iets van die Jarawas leer?

[Prent op bladsy 24]

Hierdie krap klim bome en eet kokosneute

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel