Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 2/22 bl. 25-27
  • Waarom stel my ouers my in die verleentheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom stel my ouers my in die verleentheid?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hulle jou in die verleentheid stel
  • Leer om die situasie te verwerk
  • Hoe kan ek my ouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2009
  • Wat moet ek doen as my ouers stry?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Waarom wil my ouers my lewe regeer?
    Ontwaak!—1991
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 2/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Waarom stel my ouers my in die verleentheid?

Reg in die middel van die biologieles begin jy siek voel. Tot jou groot ontsteltenis bel die skool huis toe, en weldra is jou ma daar—geklee in pantoffels, pienk haarkrullers en daardie aaklige rooi sweetpakbroek wat sy by die huis dra. Sy het haar na jou toe gehaas sonder om haar oor haar voorkoms te bekommer, oortuig daarvan dat jy haar dringend nodig het. Maar jy waardeer nie haar reddingspoging nie. Al waaraan jy kan dink, is hoe verspot en slordig jou ma in haar uitrusting lyk. En wanneer sy voor al jou klasmaats oor jou begin kloek, wens jy dat jy sommer kan verdwyn. Jy is so verleë!

VOORVALLE soos dié lyk dalk vir ander lagwekkend. Maar jy lag nie. Jy voel ongemaklik, ’n ongemak so groot dat jy meen jy kan sommer sterf. Trouens, daar is ’n uitdrukking: ‘Om te sterf van verleentheid.’ En jy is nie die eerste wat so voel nie. Die eertydse Jode het byvoorbeeld die vernietigende potensiaal van verleentheid besef. Die Hebreeuse Talmoed het die openbare beskaming van ’n persoon met die vergieting van sy bloed vergelyk!

Daar is baie bronne van verleentheid, maar talle jongmense stem saam dat geeneen groter as hulle eie ouers is nie. Die lys dinge wat ouers kan doen om jou te verneder lyk eindeloos: openbare liefdebetoning, spoggery met jou prestasies, kinderagtigheid voor jou vriende en versoeke dat jy voor gaste “optree”. Selfs jou ouers se voorkoms kan jou in die verleentheid stel! Dit is dus geen wonder dat party jeugdiges ineenkrimp by die gedagte dat hulle saam met hulle ouers gesien sal word nie.

Maar waarom kan jou ouers jou so erg in die verleentheid stel? ‘Weet hulle nie van beter nie?’ wonder jy dalk.

Waarom hulle jou in die verleentheid stel

Kom ons ontleed jou eie gevoelens in hierdie verband. As ’n jeugdige is jy besonder vatbaar vir verleentheid, aangesien jy al hoe meer bewus geword het van die feit dat daar ander mense buiten jou eie gesin in hierdie wêreld is. Jy wil deur ander—veral deur jou portuurs—aanvaar word en jy probeer hard om “reg” op te tree. Jy wil natuurlik nie hê dat hierdie aanvaarding ondermyn moet word omdat jou ouers jou deur hul gedrag in die verleentheid stel nie. Soos ’n meisie genaamd Linda gesê het: ‘As jou ouers iets doen wat jou in die verleentheid stel, bekommer jy jou: “Wat gaan my vriende van my dink?”’ Waarom kan jou ouers jou gevoelens dan nie meer in ag neem nie?

Sielkundige Bernice Berk vertel dat een moeder vir haar besonder fyngevoelige tienderjarige seun gesê het: “Dit is my werk om jou in die verleentheid te stel. My ma het my in die verleentheid gestel, en jy sal jou kinders in die verleentheid moet stel.” Daar is meer as ’n greintjie waarheid in hierdie ietwat kortaf woorde. Nee, om ander in die verleentheid te stel is nie oorerflik nie, maar iets anders is: onvolmaaktheid.

Ouers is onvolmaak (Romeine 3:23). Daar kan nie van hulle verwag word om soos modepoppe te lyk nie, en soos jy het hulle nie altyd beheer oor alles wat hulle sê of doen nie. Hulle is ook daarop geregtig om van tyd tot tyd te ontspan en pret te hê. Wanneer hulle nou en dan soos iemand jonger—of selfs regtig verspot—optree, kan dit wees hoe hulle die feit dat hulle ouer word, verwerk. Onbewus van die uitwerking wat dit op jou het, stel jou ma jou dalk in die verleentheid deur die jongste danspassies saam met jou vriende op die proef te stel; jou pa probeer dalk om te bewys dat hy met tieners op die korfbalbaan kan meeding. Stel dit jou in die verleentheid? Miskien. Maar hulle wou jou gewis nie seermaak nie.

Jou ouers dra ook jou belange op die hart en weens onvolmaaktheid kan hulle oorreageer wanneer dit lyk of jou welsyn bedreig word. Die Bybelskrywer Lukas vertel byvoorbeeld hoe die 12-jarige Jesus die Pasga in Jerusalem saam met sy gesin bygewoon het. Terwyl sy ouers huis toe gereis het, het hulle opgemerk dat hy weg was. Hulle het naarstig na hom gesoek, en “ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra”. Jesus het ongetwyfeld hierdie gesprek met manne wat heelwat ouer as hy was, geniet. Maar toe sy moeder daar aangekom het, het sy, miskien voor hierdie vername manne van die nasie, gesê: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.”—Lukas 2:41-48.

Nog ’n faktor om in aanmerking te neem, is dat jou ouers hulle eie probleme het, probleme waarvan jy dalk nie eens bewus is nie. Moontlik is geldelike probleme, siekte of ander druk verantwoordelik vir hulle gedrag.

En ten laaste is die meeste ouers trots op hulle kinders. Hulle spog graag met hulle. Dit kan egter tot allerhande ontstellende situasies lei, soos dat jy gevra word om voor jou ma se vriendinne klavier te speel of dat jy moet aanhoor hoe jou pa vir almal wat wil hoor, vertel hoe “briljant” jy is!

Leer om die situasie te verwerk

Wanneer haar ouers haar in die verleentheid stel, sê ’n tiener genaamd Tonia, “bloos ek baie”. Hoewel dit dalk ’n natuurlike reaksie is, is daar produktiewer maniere om die situasie te verwerk. Jou aanvanklike ongemak kan verminder word as jy bloot party van die gedagtes wat tot dusver gemeld is, onthou (Spreuke 19:11). Beskou ook die volgende wenke:

Hou op om jou te bekommer: Waarskynlik sal al die bekommernis in die wêreld die situasie in elk geval nie juis verander nie. (Vergelyk Mattheüs 6:27.) Jy is per slot van rekening nie vir jou ouers verantwoordelik nie; jy is ’n afsonderlike individu. “Elkeen sal sy eie pak dra”, sê Galasiërs 6:5. Bowendien is jou probleem waarskynlik nie so erg as wat jy dink nie. Dr. Joyce L. Vedral sê dat ‘elke tiener wat in die verleentheid gestel word hom verbeel dat daar ’n gehoor is wat hom dophou’. Maar die meeste mense stel nie juis belang nie. Vedral sê voorts: “Die meeste mense is meer bekommerd oor ’n puisie op hul neus as oor jou hele familiegeskiedenis.” Onthou ook dat jou portuurs ook besorg is oor die indruk wat hulle ouers skep!

Moenie ’n slegte situasie vererger nie: Spreuke 27:12 (NAV) sê: “’n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie.” As jy die aandag op jouself vestig deur uit te roep: ‘Ag, Ma!’ vererger jy eenvoudig die situasie. Dit sal dalk verstandig wees om te ‘sorg dat onheil jou nie tref nie’ deur stil te bly.—Prediker 3:7.

Aanvaar nodige dissipline: Openbare teregwysing kán jou in die verleentheid stel. Maar dikwels verdien jy die dissipline en is die verleentheid bloot ’n deel daarvan (Hebreërs 12:11). Maar sê nou die dissipline is skynbaar ongeregverdig? Dink terug aan hoe Jesus sy moeder se onderbreking hanteer het. Hy het kalm gebly en sy situasie verduidelik. Trouens, die Bybel sê dat hy “onderdanig” was aan sy ouers (Lukas 2:49, 51). Probeer gerus om dieselfde te doen.

Praat met jou ouers: Vertel hulle vriendelik en beleef wat jou pla. Dit werk! Rosalee het in haar geval gevind dat “hulle gewoonlik sal probeer om te verbeter as jy vir hulle sê hoe jy voel en as hulle meen dat dit redelik is”. Een manier om jou ouers te help om jou kant van die saak in te sien, is om hulle uit te vra oor hoe hulle in die verleentheid gestel is toe hulle jonger was. Dit kan hulle oor jou situasie laat nadink.

Toon meegevoel: Dink net aan al die kere toe jy jou ouers in die verleentheid gestel het! Het jy dit opsetlik gedoen? Natuurlik nie! Waarom dink jy dan dat jou ouers opsetlik beplan om jou in die verleentheid te stel?

Moet nooit jou sin vir humor verloor nie: Soos een tiener erken het: “Jy moet probeer om oor party dinge te lag; later is dit nogal snaaks.” Ja, waarom moet jy ’n misstap so ernstig opneem? Onthou, daar is “’n tyd om te lag”, en soms wanneer jy ’n sin vir humor aan die dag lê, maak dit vernedering draagliker.—Prediker 3:4.

Maar hoe hard jy ook al probeer, jy kan verleentheid nie heeltemal vermy nie. Deur egter die voormelde toe te pas, sal jy heel waarskynlik jou beskouing kan verander van situasies wat jou kwansuis in die verleentheid stel.

Skryfster Jami Bernard sê byvoorbeeld: “My ma het altyd my hand vasgehou wanneer ons die straat oorgesteek het, selfs toe ek ouer was. Eendag het ek haar hand weggetrek en gekla: ‘Ma, ek het dit nie meer nodig nie.’ Sy het na my gekyk en gesê: ‘Ek het.’ Ek weet nie of sy bedoel het dat sy op iemand wou steun of dat sy verlang het na die tyd toe ek haar ‘baba’ was of dat sy voeling met my wou kry en nie seker was hoe om dit te doen nie. Maar wanneer ek nou haar hand vashou om die straat oor te steek, gloei ek—nie van verleentheid nie, maar van liefde.”—Die tydskrif Seventeen, Desember 1985.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel