Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 4/22 bl. 21-23
  • Waarom wil my ouers my lewe regeer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom wil my ouers my lewe regeer?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hulle beheer behou
  • ’n Veranderende persoonlikheid
  • Hoe om selfstandiger te word
  • Waarom moet ek so vroeg tuis wees?
    Ontwaak!—1992
  • Waarom is daar soveel reëls?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Wat moet ek doen as my ouers stry?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Hoe kan ek my ouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 4/22 bl. 21-23

Jongmense vra . . .

Waarom wil my ouers my lewe regeer?

“Ek hunker na ’n geleentheid om dinge te doen, om te sien waartoe ek in staat is, my krag te voel. . . . Ek wil die lief en leed smaak deur dit self te ervaar, nie deur daaroor te praat nie. Ek honger na ervaring; [my ouers] voer my verduidelikings.”—’n 16-jarige seun.

“Ek en my ma stem glad nie saam nie . . . Sy wil my soos ’n baba behandel . . . Ek wil wegkom; ek kan dit nie verdra om ’n gevangene te wees nie. . . . Ek wil grootword en sy wil dit nie toelaat nie.” —’n 17-jarige meisie.

DIT is ’n algemene beswaar onder jongmense dat hul ouers hulle lewe wil regeer. En miskien opper jy dieselfde beswaar. Jy sê dat jy laat wil uitbly; hulle sê dat jy vroeg huis toe moet kom. Jy sê dat jy gereed is om afsprake te maak; hulle sê jy is te jonk. Dit lyk asof elke ‘Kan ek’ beantwoord word met ‘Nee, jy kan nie’.

Ons moet darem erken dat ouers die meeste jongmense ten minste partykeer toelaat om te doen wat hulle wil. En jy is ongetwyfeld nie ’n uitsondering nie. Boonop is jou ouers stellig daarvan bewus dat jy nie meer ’n kind is nie; vroeër of later sal hulle afstand moet doen van die beheer wat hulle vandat jy gebore is oor jou uitgeoefen het. En soos die meeste ouers sal hulle waarskynlik graag wil sien dat jy ’n gebalanseerde, onafhanklike volwassene word.

Dit laat jou dalk wonder: ‘As my ouers dan so voel, waarom wys hulle dit nie?’ Dit lyk vir jou asof hulle jou lewe in ’n wurggreep het en nie van plan is om te los nie. Maar in werklikheid spreek dit waarskynlik vanself dat jy wel beheer oor jou lewe sal kry. Die eintlike vraag is wanneer. Jy wil dit nou hê. Maar jou ouers wil dalk hê dat jy dit geleidelik moet kry.

Een tiener het dit beskou as “’n mosie van wantroue” van haar ouers, ’n krenkende implisering dat sy ’n “selfvernietigende neiging het wat aan bande gelê moet word”. Maar kan dit wees dat daar goeie rede is vir jou ouers se optrede? Wat die geval ook mag wees, as jy hulle siening verstaan, kan dit jou help om nie kwaad te wees oor die manier waarop hulle jou behandel nie. Dit is soos Spreuke 19:11 sê: “Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig.”

Waarom hulle beheer behou

Eerstens moet jy besef dat die wêreld geleidelik gevaarliker en meer korrup geword het sedert jou ouers hulle pad deur hul jeug moes baan (2 Timotheüs 3:1, 13). Een ouer het erken: ‘Die wêreld wat ons seun of dogter op 14 of 15 of 16 beleef, is gevaarliker as dié waarin ons grootgeword het. Dit is onveiliger om alleen uit te gaan. Meer tieners raak swanger as toe ons jonk was.’ ’n Mens kan dus begryp waarom jou ouers jou wil beskerm!

As jou ouers godvresend is, is hulle ook diep besorg oor jou geestelike welsyn. Die Bybel beveel dat ouers hulle kinders “die instruksie en die teregwysing wat by ’n Christelike opvoeding tuishoort”, moet gee (Efesiërs 6:4, The New English Bible). En hulle weet dat jy nie vanselfsprekend Christelike waardes en opvattings sal aanneem bloot omdat hulle dit doen nie. Hulle besef ook dat “’n seun [of dogter] wat aan homself oorgelaat word, . . . sy moeder in die skande [steek]” (Spreuke 29:15). Hoewel hulle jou nie as ’n kind beskou nie, kan hulle nogtans verplig voel om ’n aandklokreël te maak en ander beperkings neer te lê.

Jy beskou sulke maatreëls dalk as benede jou waardigheid, as baba-agtig. Maar onthou, nie te lank gelede nie was jy nog ’n hulpelose baba in jou ouers se arms. En nou wil hulle jou van morele skade vrywaar, net soos hulle jou eens teen fisiese skade beskerm het. Hou ook in gedagte dat jou ouers self eenmaal tieners was, en hulle is terdeë bewus van die moeilikhede waarin ’n jongmens kan beland. Selfs die regverdige man Job het “die ongeregtighede van [sy] jeug” bely (Job 13:26). En sommige ouers het as jongmense sekere ernstige foute begaan wat die lewe vir hulle baie moeilik gemaak het.

Een moeder het erken: “Ek moes trou. Dit was omdat ek op ’n baie jong ouderdom reeds ’n vaste kêrel gehad het. Op sestien was ek swanger. Nou het ek drie kinders, en twee van hulle is tieners. Ek voel vyftig pleks van sewe-en-dertig. Ek het my jeug verloor.”

Jou ouers het miskien nooit so ’n bitter ervaring gehad nie. Maar hulle is waarskynlik baie besorg oor die gevare daaraan verbonde as jongmense afsprake maak en verbied jou dalk om dit te doen. Moet jy kwaad wees oor hierdie beperking? As jy is, moet jy nadink oor die woorde in Spreuke 27:12: “As ’n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf.” As jy werklik op jou ouers se raad ag slaan, kan jy onheil vermy.

’n Veranderende persoonlikheid

Jy dink dalk ook soos die jeugdige wat gesê het: “Ek weet wat ek doen. Ek gaan nie ’n gemors van my lewe maak nie. Waarom laat hulle my nie my eie lewe lei nie?” Maar die probleem kan wees dat jy jou ouers onwetend die verkeerde indruk gee. Soms tree jy dalk soos ’n bekwame volwassene op; by ander tye toon jy weer ’n kinderlike behoefte aan ouerlike hulp.

In die boek How to Single Parent vertel dr. Fitzhugh Dodson van een moeder se ervaring toe sy saam met haar 15-jarige dogter inkopies gaan doen het. Nadat die dogter haar keuse tot drie rokke verminder het, het sy gevra watter een haar die beste pas. Haar ma het ’n oomblik nagedink en toe geantwoord: “Ek dink die bloue lyk beslis die beste.” Wat was die antwoord op hierdie gevraagde advies? “Ag, Ma wil altyd my lewe oorheers en vir my sê wat ek moet doen!”

Maande later het hulle weer inkopies gaan doen. Die dogter het ’n paar uitrustings gekies en gevra: “Ma, watter een van hierdie baadjiepakke pas my die beste?” Omdat sy die vorige voorval onthou het, het die moeder besluit om versigtig te wees en geantwoord: “Ek is seker jy kan self besluit”, waarop haar dogter uitgeroep het: “Ag, Ma help my nooit wanneer ek dit nodig het nie!”

Gemoedstemminge wat wissel van uitdagende bravade tot kinderagtige aanhanklikheid verwar ouers. En in sekere mate word alle jongmense geteister deur sulke wisselvallige gedrag; dit is natuurlik wanneer ’n mens grootword. Maar hoewel dit natuurlik is, wys dit vir jou ouers dat jy nog sekere van die “dinge van ’n kind” moet aflê en nog nie die punt bereik het waar die beheer heeltemal verslap kan word nie.—1 Korinthiërs 13:11.

Hoe om selfstandiger te word

Jy meen dalk nogtans dat jy ten minste met minder ondersteuning en aandag kan klaarkom. In die hoop dat jy die vryheid sal kry waarna jy streef, kan jy by tye in die versoeking kom om jou tot slinksheid te wend. “Ek weet ek moet nie jok nie”, het ’n tienermeisie geskryf, “maar ek het dit net gedoen om dinge makliker te maak. [Ma] is te streng, en sy sou my nooit laat uitgaan het as ek haar die waarheid vertel het nie.” Om jou ouers te bedrieg, maak dinge egter nooit makliker nie. As die leuen bekend word (en die kanse is goed dat dit sal gebeur), kan dit sake baie bemoeilik.

Die skrywers van die boek Options gee hierdie verstandige raad: “As jy vir [jou ouers] leuens vertel wanneer jy wil hê dat hulle jou moet vertrou, maak net so veel sin as om te steel sodat jy kan bewys hoe eerlik jy is. As hulle jou betrap, is die kanse goed dat hulle nog strenger op jou sal wees net omdat jy agterbaks is.” Nog belangriker, leuens dra nie God se goedkeuring weg nie. Spreuke 3:32 sê: “Want die slinkse persoon is iets verfoeiliks voor Jehovah.”—NW.

Wees dus eerlik met jou ouers. Gee hulle volledige en juiste besonderhede van waarheen jy wil gaan en wie saam met jou sal gaan. As hulle aandklokreëls neerlê, moet jy dit respekteer. Dit sal hulle daarvan oortuig dat jy ’n verantwoordelike persoon is. Hulle sal dan minder geneig wees om hulle oor jou te bekommer wanneer jy weg is. En met verloop van tyd kan hulle meer geneë wees om jou groter vryheid te gee. Dit is soos die Bybel sê: “Baie sal verwag word van die een aan wie daar baie gegee is, en hoe meer ’n man vertrou word, hoe meer sal mense van hom verwag.”—Lukas 12:48, Phillips.

Die tyd vir jou om volle beheer van jou lewe te neem sal weldra aanbreek. Wees intussen geduldig. Geniet jou jeug (Prediker 11:9). Gee jou ouers jou samewerking wat hulle standpunt ten opsigte van afsprake, reëls, klokreëls, en so meer betref. As jy dit nou doen, kan dit jou later net baie verwyte en hartseer spaar. As jy meen dat sekere beperkings onvanpas vir jou ouderdom is, of onredelik is, moet jy nie daarteen rebelleer nie. Bespreek die saak kalm met jou ouers. Miskien het hulle bloot tred verloor met hoe oud jy werklik is of met hoe groot jy geword het. Wat die geval ook al mag wees, jy sal waarskynlik agterkom dat hulle nie werklik jou lewe wil regeer nie. Hulle wil net hê dat jy ’n gelukkige toekoms moet geniet.

[Prent op bladsy 23]

Hoe beskou jy aandklokreëls en ander beperkings?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel