Ons beskou eie wêreld
STRANDE OOPGESTEL
Suid-Afrika se Staatspresident het op 16 November 1989 afgekondig dat die land se strande voortaan vir mense van alle rasse oop sal wees. Volgens The New York Times het president F. W. de Klerk ook belowe dat die Wet op Afsonderlike Geriewe binnekort herroep gaan word; dit het 36 jaar gelede van krag geword en is gebruik om almal wat nie Blank is nie uit sekere openbare swembaddens, parke, biblioteke en vervoerstelsels te hou. Die land se Konserwatiewe Party, ongelukkig oor die voorgenome herroeping van die wet, het president De Klerk daarvan beskuldig dat hy Suid-Afrika op die weg na “algehele rassevermenging” plaas. Maar party van die openbare geriewe wat ter sprake is, onder meer talle strande, is voor die President se toespraak reeds stil-stil oopgestel. Die herroeping sal nie die land se gesegregeerde hospitale, skole of woonbuurte raak nie.
VIGS IN DIE NEGENTIGERJARE
Dr. Jonathan Mann, direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Wêreldprogram vir Vigs, het by ’n konferensie in Marseille, Frankryk, gewaarsku teen ’n groot wêreldwye verspreiding van Vigs in die negentigerjare. Tot tienmiljoen mense in 152 lande rondom die wêreld is nou moontlik met die virus besmet. Teen die jaar 2000 sal sesmiljoen mense moontlik aan Vigs sterf. Die berig in The Times van Londen sê dat Afrika die swaarste getref word. In Dar es Salaam, Tanzanië, het 42 persent van vroue wat in kroeë en restaurante werk glo die virus. Na berig word, is drie uit elke tien volwassenes in Côte d’Ivoire besmet. Wat die krisis in die Verenigde State betref, waarsku die Hudson-Instituut dat “’n ramp deur Amerika trek”. Dit voorspel dat die Vigs-virus teen die jaar 2002 sowat 14,5 miljoen Amerikaners sal besmet en dat meer Amerikaners in die negentigerjare daaraan sal sterf as in al die oorloë in die nasie se geskiedenis saam.
“BIOLOGIESE FILTERS”
In Nederland word nuwe stappe gedoen om die besoedeling van die Zoommeer, wat 1225 hektaar beslaan, te voorkom. Nederlandse beamptes is voornemens om mossels te gebruik om die besoedelstowwe te eet. Volgens die International Herald Tribune, wat in Frankryk uitgegee word, kan hierdie mossels as “biologiese filters” dien. Eksperimente het getoon dat mossels toksiese chemikalieë en metale verteer en uitskei. Hulle besoedelde afvalstowwe sak af na die bodem van waar dit gebagger kan word. Wetenskaplikes beweer dat die mossels meer as 50 persent van die PCB’s (polichloorbifeniele) en 30 persent of meer van die kadmium uit die water kan verwyder.
SWAK DATUMS
Volgens ’n studie wat in opdrag van die Britse Raad vir Wetenskaplike en Ingenieursnavorsing gedoen is, is baie laboratoriums wat radiokoolstofdatering op menslike artefakte uitvoer glad nie so akkuraat as wat hulle beweer nie. Monsters waarvan die ouderdom bekend was, is na 38 laboratoriums rondom die wêreld gestuur om gedateer te word. Net sewe van die laboratoriums het resultate behaal wat as “bevredigend” beskou is. Die Britse tydskrif New Scientist berig: “Die foutspeling . . . kan twee tot drie keer so groot wees as wat gebruikers van die tegniek beweer het.” Sulke groot verskille verswak die dogmatiese bewerings wat dikwels oor die ouderdom van antieke artefakte gemaak word, veral wanneer sulke bewerings Bybelchronologie weerspreek.
WILDDIEWERY VIR OOSTERSE MEDISYNE
Bewaringsbeamptes in die Kanadese wildernis het onlangs al hoe meer beerkarkasse gevind waarvan die pote afgekap en die galblaas verwyder is. Die Kanadese tydskrif Maclean’s berig dat ’n wilddief tot R11100 met net hierdie dele van een beer kan verdien. Hulle word verkoop as bestanddele vir tradisionele Asiatiese medisyne wat kwansuis pyn en ontsteking kan verlig of ’n mens se seksuele vermoë kan verhoog. Hulle maak ’n klein deel uit van ’n florerende bedryf in organe en ander dele van wilde diere; nie al sulke verkope is onwettig nie. Die fluweel van die geweie van takbokke en elke, die voortplantingsorgane van robbe en tiers, gedroogde seeperdjies en selfs die fetusse van takbokke is alles baie gesog.
POLISIETOESIG EN PARTYTJIES
’n Wilde partytjie in Bracebridge, Ontario, Kanada, het tot ’n nuwe polisieprogram in die gebied aanleiding gegee. Ouers het hulle 15-jarige seun aangesê om die huis en sy 10-jarige broer op te pas terwyl hulle weg is. Hy het ’n partytjie vir omtrent honderd jeugdiges gehou, wat gou hand-uit geruk het. Die bure het die polisie ontbied, maar die seun wou hulle nie in die huis toelaat nie. Later het die tienjarige die polisie ontbied. Die jeugdiges het hom gedwing om bier te drink tot hy dronk was en toe sy tropiese vis gebraai en voor hom geëet. Teen die tyd dat die polisie met ’n lasbrief teruggekom het om die huis te deursoek, het die kinders R28 900 se skade aan die huis aangerig. Sedertdien stel ’n nuwe program ouers in staat om die polisie vooraf in kennis te stel wanneer hulle hulle huis aan tienderjariges toevertrou, en dit gee die polisie volmag om die huis binne te gaan as hulle vermoed dat enige dwelm-, alkohol- of kriminele wet oortree word.
SELFABORSIES
Na onlangse wetgewing wat state in die Verenigde State meer mag gegee het om aborsies te beperk, is daar tientalle vrouegroepe wat weer opleef en metodes publiseer vir vroue om aborsies op hulleself uit te voer. The New York Times berig dat honderde vroue onlangs sulke aborsies op mekaar uitgevoer het, en dat artikels, boeke en videobande wat die metodes beskryf algemeen versprei word. Een feminis het vir die Times gesê dat sulke keuses vroue meer mag gee. Maar selfs sommige groepe wat ten gunste van aborsie is, is teen selfaborsies gekant en waarsku teen die gevaar.
PRIESTERLOSE KERKDIENSTE
Die tekort aan Katolieke priesters in die Verenigde State het so erg geword dat ’n Sondagdiens vir gemeentes sonder priesters by ’n onlangse samekoms van die land se biskoppe goedgekeur is. ’n Diaken of ’n leek, manlik of vroulik, kan die nuwe diens lei. Dit sluit in gesange, psalms, Skriflesing, die Onse Vader en die Nagmaal, mits brood beskikbaar is wat deur ’n priester geheilig is of van ’n werklike Mis af gebring is. Die biskoppe beklemtoon dat die nuwe diens nie ’n Mis is nie. Maar omdat meer gemeentes genoodsaak is om sonder priesters klaar te kom, kan die diens baie gewild wees.
VERWARDE TIERS
Volgens The New York Times het sowat 500 Bengaalse tiers in die Sundarban-Tierreservaat in Indië ongeveer 60 mense per jaar doodgemaak. In ’n poging om die aantal menseslagoffers te verminder, het die Indiese Boswese ’n nuwe maatreël aangeneem. Op grond van die bewering dat die tiers mense net van agter af aanval, het die Boswese gesigsmaskers uitgegee wat werkers aan die agterkant van hulle kop moet dra. Gedurende ’n periode van drie jaar is niemand wat ’n masker gedra het, gedood nie. In teenstelling hiermee het nie een van die 29 mense wat gedurende die laaste 18 maande van die driejaarperiode deur tiers gedood is die maskers gedra nie. Een houtkapper is van agter af deur ’n tier aangeval toe hy gaan sit en sy masker afgehaal het om middagete te nuttig. Sommige plaaslike inwoners redeneer dat hierdie “slim tiers nie lank gefop kan word nie”.
ONTYDIGE HUMOR
’n Onlangse rolprent, waarmee sy Noord-Amerikaanse vervaardigers R325 miljoen in net twee maande verdien het, beeld sadisme en uiterste geweld op ’n humoristiese wyse uit. ’n Resensie van die rolprent in die Brasiliaanse tydskrif Veja beskryf een voorbeeld. ’n Bestuurder se kop word deur ’n branderplank afgekap. “Terwyl die onthoofding gewys word, is die toneel meer snaaks as skokkend”, merk die resensie op. “Die gevolg is dat tallose tonele van skietery, moorde en slagtings, almal deurdrenk van die bloed, . . . komieklik pleks van weersinwekkend is. Die toeskouer word in der waarheid deur geweld vermaak. . . . Die geweld, die wrede verminking van liggame, die ondenkbare lyding, word in ’n verskoning vir gekskeerdery verander.”
LASTIGE SKULD
Europeërs wat nie hulle rekeninge betaal nie, kan binnekort iemand in ’n verspotte kostuum—soos byvoorbeeld ’n pienk panter—by hulle voordeur of hulle werkplek aantref om hulle daaraan te herinner dat hulle hulle paaiemente moet betaal. Die International Herald Tribune van Parys berig dat dit alles deel uitmaak van ’n nuwe strategie waarmee skuldinvorderaars ’n jaar gelede in Spanje begin het om debiteure aan te moedig om op te dok. Die teorie is dat gekostumeerde skuldinvorderaars soveel aandag sal trek dat die lener sy skuld uit verleentheid sal vereffen. Die direkteur van een agentskap beweer dat die strategie “amper altyd” werk.