Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 7/22 bl. 3-4
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die probleem word groter
  • Hulp aan diegene met vigs
    Ontwaak!—1994
  • VIGS—’n Krisis vir tieners
    Ontwaak!—1991
  • VIGS—Wat ouers en kinders moet weet
    Ontwaak!—1991
  • Hoe dokters hulle teen Vigs beskerm
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 7/22 bl. 3-4

VIGS—sy tragiese slagting onder kinders

HET jy al hulle foto’s gesien? Het jy al hulle verhale gehoor of gelees? Indien wel, het dit jou geskok? Kon jy jou trane inhou of keer dat daar ’n knop in jou keel kom? Gaan jou hart steeds uit na hulle? Kan jy nog hoor hoe sterwendes saggies kerm sonder dat iemand daarvan bewus is? Kan jy selfs nou die patetiese tonele van sterwende babas—twee, drie en vier in ’n bed—vergeet? Die meeste van hulle is weggegooi. Hulle lyding en dood is die gevolg van hierdie verskriklike siekte waardeur die wêreld nou geteister word—vigs!

Die berigte en regstreekse uitsendings uit een Europese land in Februarie 1990 het tienmiljoene kykers geskok. Oor die hele wêreld het nog miljoene mense van die tragedie in koerante en tydskrifte gelees. Die tydskrif Time het berig: “Die gesig is walglik en skrikwekkend. In een kinderbedjie na die ander lê babas en kleuters wat soos ou mense lyk, hulle vel is verrimpel en op hulle uitgeteerde gesiggies is die onmiskenbare teken van die naderende dood.” “Dit is erger as enigiets wat ek nog gesien het”, het een dokter die situasie betreur. “Dit is klaarblyklik ’n epidemie wat deur mediese dade oorgedra word.”

Hoe is dit moontlik? In teenstelling met die meeste vigs-babas wat gebore word met die virus wat hulle van vigs-besmette moeders gekry het, is hierdie kinders nie HIV-positief gebore nie. Dié tragedie is die gevolg van bloedoortappings wat ná die geboorte aan swak of vroeggebore babas gegee is omdat daar gemeen is dat dit die swak babas sou versterk—’n gebruik wat lank reeds deur die mediese professie in twyfel getrek word. “Een bloedskenker wat HIV-positief is, kon 10, 12 of meer kinders besmet het”, het een dokter gesê.

Dr. Jacques Lebas, president van die humanitêre organisasie Doctors of the World, wat in Parys gesetel is, het gesê: “Vir die eerste keer in die geskiedenis van vigs het ons te kampe met vigs onder kinders. Dit is ’n epidemie.”

Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) het byvoorbeeld in September 1990 vir die eerste keer ontstellende bewyse uitgereik wat die wêreldwye epidemie van vigs onder kinders bekend gemaak het. Die WGO het berig dat tienmiljoen kinders waarskynlik teen die jaar 2000 besmet sal wees met die virus waardeur die verworwe immuniteitsgebreksindroom veroorsaak word. “Die oorgrote meerderheid van hulle sal teen die jaar 2000 vigs opgedoen en gesterf het”, het dr. Michael Merson, direkteur van die organisasie se wêreldwye program oor vigs, gesê. Gedurende die laaste deel van 1990 was een derde van die nagenoeg 1,2 miljoen mense wat reeds vigs het vermoedelik kinders jonger as vyf.

Is dit dan verbasend dat die verspreiding van die vigs-plaag al ’n pandemie genoem is? Teen die einde van 1992 sal ongeveer viermiljoen babas vir HIV-besmette moeders gebore wees. Vier uit vyf kinders wat met die virus gebore word, ontwikkel vigs teen hulle vyfde verjaarsdag. As hulle eers vigs het, sterf hulle gewoonlik binne een of twee jaar, het dr. Merson by ’n nuuskonferensie in Genéve gesê.

Deskundiges voorspel dat daar in 1992 150-000 vigs-gevalle onder vroue in Afrika alleen sal wees en nog 130 000 gevalle onder kinders in Afrika. In die Verenigde State is daar tot op hede moontlik tot 20 000 babas vir HIV-besmette vroue gebore, het die WGO gesê. Die Evening Post van Wellington, Nieu-Seeland, het in sy uitgawe van 12 Julie 1989 berig dat nagenoeg 140 000 van Brasilië se jongmense draers van die virus is. “Maar aktiviste vrees dat daardie skatting dalk laag is”, het die koerant berig. “Ek glo dat hierdie groep, indien hulle nie spesiale behandeling ontvang nie, ’n atoombom in die stad sal word”, het die mediese hoof van die National Foundation for the Welfare of Minors gesê. “Dit is ’n uiters ernstige probleem”, het ’n bekende Brasiliaanse sielkundige besorgd gesê.

Die probleem word groter

Kan iemand koud gelaat word deur die benarde toestand van hierdie onskuldige slagoffers wat aan hierdie dodelike siekte ly? Neem byvoorbeeld hierdie berig: “Minstens 50 kinders is in Sentraal-Afrika vermoor—sommige deur hulle eie ouers—omdat hulle vigs gehad het, berig die Noorweegse Rooi Kruis.” Ander kinders in Afrika met vigs word uit hulle huise gedryf deur gesinne wat desperaat is om enige skakels met ’n siekte waaraan ’n erger stigma kleef as aan melaatsheid, uit te wis, het die Sunday Star, ’n Johannesburgse koerant, berig. “In sommige gebiede word vigs-slagoffers en hulle gesinne verbied om by watergate en in kerke te kom”, het die koerant gesê.

Nog ysingwekkende statistieke laat geen ruimte vir oorgerustheid nie. Berigte uit alle wêrelddele wys die vigs-pandemie uit as die direkte oorsaak van ’n ander tragedie. Miljoene kinders wat nie met die vigs-virus besmet is nie, gaan in die negentigerjare weeskinders word. Waarom? Hulle ouers sal aan vigs sterf. Die WGO skat dat daar teen 1992 wêreldwyd vyfmiljoen weeskinders as gevolg van vigs sal wees. “Dit is ’n oorweldigende probleem wat ontwikkel. En tensy ons die versiendheid het om vir pleegsorg voorsiening te maak, sal ons groot weeshuise moet open”, het een deskundige op die gebied van kindersorg gesê.

“Die pyn is byna onbegryplik”, het ’n maatskaplike werkster oor een gesin in New York gesê. “Die ma is besmet, die pa is besmet, die baba is siek, die ouers en baba gaan sterf, en hulle gaan ’n 10-jarige seuntjie agterlaat wat sonder enige gesinslede gaan wees.”

En ten laaste is daar hierdie nugtere opmerking deur dr. Ernest Drucker van die Albert Einstein College of Medicine in New York. “Ná ’n ouer gesterf het, bevind die kinders hulle dikwels in die middel van ’n stryd om toesig oor hulle, en word hulle van die een familielid op die ander afgeskuif terwyl hulle hulle verlies en die stigma wat aan vigs kleef, probeer verwerk.”

Vigs word vinnig een van die vernaamste oorsake van sterfgevalle onder kinders en jong volwassenes. Dit is die negende grootste oorsaak van sterfgevalle onder kinders van een tot vier jaar, en die sewende grootste oorsaak onder tieners en jong volwassenes onder 25. Teen die vroeë negentigerjare kan vigs een van die vyf grootste doodsoorsake word, het The AIDS/HIV Record van September 1989 gesê. Tog dui berigte aan dat daar wêreldwyd ’n oorgerustheid onder baie potensiële slagoffers van hierdie verskriklike siekte is. Beskou ’n paar ontstellende feite in die volgende artikel.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel