Die Katolieke Kerk in Spanje—die teenstrydighede
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
“Die skyn bedrieg.” Hierdie opmerking deur sir William Gilbert is ’n raak beskrywing van die Sagrada Familia-tempel in Barcelona (uitgebeeld op bladsy 10). Sy majestueuse torings verberg ’n leë binnekant—na honderd jaar van konstruksie is die tempel steeds net ’n leë dop. Spaanse Katolisisme is ook ’n vreemde mengsel van krag en leegheid, soos kommentare deur die volgende Spanjaarde toon:
“Johannes XXIII? Die naam klink bekend. Was hy ’n koning?” het Cristina, ’n Spaanse tiener wat nog nooit van daardie gewilde pous gehoor het nie, gevra.
Madrileense taxibestuurder José Luis en sy vrou, Isabel, wat baie selde kerk toe gaan, het ’n besoek by die plaaslike kerk afgelê om hulle seuntjie te laat doop. “Waarom wil julle jul seun laat doop?” is hulle gevra. “Omdat ons Katolieke is”, het die vader geantwoord. Maar toe hy verder uitgevra is, het hy erken dat hy hoofsaaklik probleme met die familie wou vermy.
IEMAND wat Spanje gedurende die Heilige Week besoek, word heel moontlik beindruk deur die optogte wat in stede dwarsdeur die land gehou word. Maar sommige Spanjaarde—veral die jongeres—weet min, indien enigiets, van die godsdiens wat hulle bely.
Godsdiensongeletterdheid hou dikwels verband met godsdiensonverskilligheid. Hoewel die meeste Spanjaarde deur die kerk gedoop, in die huwelik bevestig en begrawe word—en hulself inderdaad as Katolieke beskou—is dit ’n ander saak om volgens Roomse verordeninge te lewe.
Ouers laat hulle kinders doop, maar voel selde verplig om hulle die Katolieke geloofsleer te leer. Egpare laat hulle huwelik deur die kerk voltrek, maar voel selde verplig om kerkleerstellings oor huweliksake te volg. En 10 persent van diegene wat sê dat hulle Katolieke is, glo nie eens in ’n persoonlike God nie.
As ’n mens Spanje se langdurige maar teenstrydige verhouding met die kerk in ag neem, is hierdie situasie nie juis verbasend nie. Spanje, wat voorheen as “die lig [van die konsilie] van Trente, die hamer van die ketters en die swaard van Rome” beskryf is, het ook die “wreedste vervolging [veroorsaak] wat die Katolieke Kerk in sy hele bestaan verduur het”, sê ’n professor in kontemporêre geskiedenis aan die Universiteit van Deusto, Vizcaya.
In die 16de eeu het Spaanse geld en Spaanse leërs Europese Katolisisme teen die Protestantse stroom verdedig, maar in 1527 is Rome en die Vatikaan self genadeloos deur die leër van die Spaanse koning en keiser van die Heilige Romeinse Ryk, Karel V, geplunder.a Karel het hom, soos ander Spaanse heersers, eenvoudig nie gesteur aan enige Vatikaanse verordening waarvan hy nie gehou het nie.
Hierdie teenstrydighede in Spanje se onafhanklike dog unieke soort Katolisisme is toe te skryf aan ’n unieke Kerk-Staatverhouding wat gesmee is toe albei op hulle magtigste was.
[Voetnoot]
a Nadat Rome in 1527 geplunder is, het Karel pous Clemens VII sewe maande lank feitlik onder huisarres gehou in die Castel Sant’ Angelo, Rome.