Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 5/22 bl. 24-27
  • Die Haidas—’n unieke volk van die “mistige eilande”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Haidas—’n unieke volk van die “mistige eilande”
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie is die Haidas?
  • Totempale—hulle betekenis
  • Vikings van die noordwestelike Stille Oseaan
  • Wat hou die toekoms in?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
  • Die kano—Kanada se “volmaakte vervoermiddel”
    Ontwaak!—2010
  • Die Faroëreilande—Uniek verbind
    Ontwaak!—2010
  • Die raaf—Wat maak hom anders?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 5/22 bl. 24-27

Die Haidas—’n unieke volk van die “mistige eilande”

Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada

EUROPESE ontdekkingsreisigers en handelaars was verheug sowel as verbaas toe hulle sowat tweehonderd jaar gelede hulle eerste kontak met die Haida-volk gehad het, die unieke bewoners van ’n nuutontdekte eilandgroep aan die weskus van Kanada.

Daardie eerste ontmoetinge was plegtig sowel as vriendelik. Lang, smal, handgemaakte sederkano’s vol mans en vroue, soms in die mooiste robvelgewade geklee, het na elke handelskip gestroom om dit te verwelkom. By een geleentheid het die insittendes van ’n kano begin sing, en in ’n vriendelike gebaar het ’n man opgestaan om vere op die water te strooi. (Arendsdons was simbolies van vriendskap en verwelkoming.) By ’n ander geleentheid het ’n hoofman nader gekom en alleen ’n verwelkomingslied gesing terwyl tweehonderd stemme op die strand die refrein saamgesing het.

Haida-Gwaii, of die tuiste van die Haidas, bestaan uit ’n dolkvormige argipel van 150 eilande en lê omtrent 100 kilometer wes van die kus van Brits-Columbië in Kanada. Hierdie groep mistige eilande word nou die Koningin Charlotte-eilande genoem. Die warm seestroom vanaf Japan, die Japannese Stroom, temper die klimaat van die eilande. Ondanks die gematigde temperature kan die eilande egter deur sterk winde en rukwinde geteister word.

Wie is die Haidas?

Daar is min bekend oor die oorsprong van die Haidas of hulle aankoms op die Koningin Charlotte-eilande, omdat geen geskrewe verslag van hulle geskiedenis of kultuur ooit gehou is nie. Net soos die eilande deur mis bedek word, word hulle verlede deur die newels van die tyd verberg. Party meen dat die Haidas van Asië af oor die Straat van Bering gekom het, terwyl ander beweer dat hulle in kano’s met die Japannese Stroom gekom het. Al wat ons egter het, is ’n versameling mondelinge oorleweringe wat feit en fiksie ineenstrengel. Volgens een verhaal het die Haidas uit ’n groot gapermossel gekom wat deur ’n raaf by Rose Point op die noordoostelike puntjie van Graham-eiland—die grootste van die Koningin Charlotte-eilande—oopgemaak is.

Hierdie talryke mites en legendes werp min of niks lig op die oorsprong van die Haidas, maar interessant genoeg vertel verskillende verhale wel van ’n groot vloed wat die hoogste pieke bedek het, en dat mense dit net oorleef het deur ’n groot houtvlot te bou en dit vol kos te laai. Een Haida-oudste van Skidegate het dit beaam: “Baie van ons mense ken die verhaal van die Vloed, omdat dit die waarheid is. Dit het werklik gebeur, baie jare gelede.”

Die Haidas, vrymoedig, vindingryk en baie skeppend, het lank voor 1774, toe die Europeërs daar aangekom het, ’n ryk en komplekse sosiale struktuur tot stand gebring. Die volk is in twee basiese dele verdeel, die Arendstamgroep en die Raafstamgroep, wat by geboorte deur die moeder se geslagslyn bepaal is. In hierdie matrilineêre gemeenskap was die kinders altyd van die moeder se stamgroep. Huweliksmaats kon slegs uit die ander stamgroep gekies word, en die verlowing is dikwels deur die moeder gereël terwyl haar seun of dogter nog baie jonk was.

Totempale—hulle betekenis

Familie- of stamgroepwapens, met gewone diere of mitiese wesens as simbole, was trotse besittings vir persoonlike identifikasie. Die Arendstamgroep se wapens het stilisties gegraveerde of geverfde arende, kormorante, bewers en hondshaaie ingesluit, terwyl die Raafstamgroep se wapens sneeubokke, moordvisse, grysbere en reënboë ingesluit het. Hierdie wapens was nie net dekoratief nie, maar het die familie se stamboom, rykdom en status uitgebeeld, sowel as die voorregte, liedere en verhale van die stamgroep.

Hoewel die gekerfde pale nie verafgod is nie, het party van die wapenfigure mitiese of geestelike betekenis gehad en bonatuurlike voorouers met magiese kragte afgebeeld waarmee hulle hul in diere en dan weer terug in mense kon verander. Gedurende ’n tydperk van minder as honderd jaar, van ongeveer 1840 af, het die uitkerwing en oprigting van pale baie gewild geword. Nou is hierdie groot sederpale, wat deur die weer verbleik en tot ’n silwergrys gladgeskuur is, stadig besig om te verrot en een na die ander om te val. Party van die pale was 18 meter hoog en 1,2 meter dik.

Van die lente tot die herfs het die Haidas se lewe om die bymekaarmaak en opberging van voedsel gedraai. Uit die see het ’n oorvloed vis, gapermossels, haringeiers en seewier gekom. Hulle het robbe gevang vir die vet en dit geruil vir kersvisse, wat nie in hulle eilandwaters voorgekom het nie. Daar word tot vandag toe waarde aan kersvisvet geheg, aangesien dit smaak aan allerhande soorte disse gee. Voëleiers, wilde bessies, gemaalde plantwortels en wildsvleis het verskeidenheid aan hulle dieet verleen.

Toe aartappels van die vasteland af bekendgestel is, het die Haidas, ofskoon hulle nie as boere bekend was nie, ’n suksesvolle oes daarvan gemaak en dit aan die vastelandvolke teruggeruil. Gedurende die wintermaande was daar potlatches, vrolike samekomste, wanneer families dikwels seremoniële kleredrag van pragtige robvelle aangetrek het. Hulle potlatches was geleenthede om te deel en geskenke te gee, ’n manier om rykdom te verdeel of aansien in die gemeenskap te verkry. Dit was dae waartydens hulle fees gevier, gedans, gesing en verhale vertel het.

Die oorblyfsels van Haida-dorpe wat dwarsoor die eilande versprei is, getuig van ’n aansienlike bevolking wat eens op die Koningin Charlotte-eilande gewoon het. In die vroeë 1800’s was daar sowat 7000 bewoners op die eilande. Maar saam met die Witman se koms het sy siektes en sy alkohol gekom, wat tot algemene alkoholmisbruik gelei het. Die Haidas het hulle dorpe verlaat toe hulle ’n verwoestende pokke-epidemie probeer ontvlug het. Teen 1885 was daar ’n skrale 800 oor.

Vikings van die noordwestelike Stille Oseaan

Aangesien hulle tuiste deur water omring word, was die Haidas nog altyd tuis op die see, veral in hulle manjifieke kano’s. Party van hierdie kano’s was glad so groot dat hulle selfs langer as die seilskepe van die vroeë Europese ontdekkingsreisigers was! Die kano’s se lengte het gewissel van 23 meter, wat 40 mense en twee ton vrag kon dra, tot kleiner kano’s van 8 meter vir daaglikse kusvaart. In hierdie groter kano’s het die Haidas eeue lank, van Alaska in die noorde tot die Puget-Sont in die suide, strooptogte uitgevoer en onbetwiste handel gedryf. Hulle het vrees en ontsag by die inboorlingnasies op die vasteland ingeboesem, en hulle is die Vikings van die noordwestelike Stille Oseaan genoem.

Hoewel die Haidas nou moderne, goed toegeruste seevaartuie het, is die oorspronklike rooiseder-kano’s nie vergeet nie. ’n Paar word steeds vir spesiale geleenthede gebou, soos die Kanadese Wêreldtentoonstelling, Ekspo 86, wat in Vancouver, Brits-Columbië, gehou is. Die sagte hout van die groot rooisederbome is ideaal vir kanobou. Die hout se grein is reguit, maklik om mee te werk, en verweringbestand.

Wat hou die toekoms in?

Die Haidas is nou so min dat hulle net in twee dorpe woon, Old Masset en Skidegate, en baie wonder wat die toekoms vir hulle en hul kultuur sowel as hulle pragtige “mistige eilande” inhou. Alkoholmisbruik en siekte het beslis hulle tragiese merk gelaat. Die verlokking van die stadslewe het ’n uittog van die jonger geslag na die vastelandstede Prince Rupert en Vancouver veroorsaak. Hoewel industriële houtkappery baie werkgeleenthede op die eiland verskaf, het dit agterdog en kommer gewek onder diegene wat hulle geliefde eilande in gevaar sien.

Die Christendom se godsdienste was ’n ander negatiewe invloed op die Haidas se lewenswyse. In hulle ywer om te bekeer en te beheer, het kerksendelinge nie ’n baie ou, gevestigde kultuur in ag geneem nie. Een gesaghebbende beweer dat hulle “die Haida nooit probeer verstaan het nie—hoe hy homself uitdruk, sy denke, sy waardes”. Een na die ander is potlatches, danse, totempale en sjamane (toordokters) deur die sendelinge verbied. Wanneer eilanders gedoop is, is hulle gedwing om hulle name te verander. Gekoesterde, betekenisryke name is heeltemal veronagsaam en deur Angel-Saksiese vanne soos Smith, Jones en Gladstone vervang. Die nuwe name het ’n patrilineêre stelsel gevolg eerder as die matrilineêre stelsel wat die Haidas gebruik het. Die sendelinge het hulle ou waardes weggeneem, maar dit nie met skriftuurlike waardes vervang nie.

In onlangser jare is die Haidas egter geseën deur die aankoms van ’n ander soort sendeling—Jehovah se Getuies. Hulle boodskap het vanweë die Haidas se goeie eienskappe ingang by hulle gevind, en dit gee hulle ’n ware hoop vir die toekoms. Terwyl hierdie Christensendelinge aanhou om oral op die eilande van huis tot huis te gaan, en partymaal vissersbote en vliegtuie moet gebruik om afgesonderde nedersettings van Kaap St. James tot Langara-eiland te bereik, word hulle telkens deur die relatief ongeskonde skoonheid van die Koningin Charlotte-eilande asook die hartlikheid en vriendelikheid van die mense oorweldig.

Net soos die ontdekkingsreisigers van tweehonderd jaar gelede het Jehovah se Getuies ware vriende onder die Haidas gevind terwyl hulle die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk ywerig na elke huis op die eilande geneem het. En baie Haida-gesinne het gunstig gereageer en die waarheid in God se Woord die Bybel ingesien. Hulle het die ware verhouding tussen die mens en God, die mens en sy medemens, en mens en dier begin waardeer deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer.

Hulle het geleer dat die naam van die “allerhoogste wese” nie net die “Krag van die Glansende Hemele” is nie, maar dat dit Jehovah God is. Hulle het waardering verkry vir die broederskap van die mensdom en vir die feit dat alle mense deur Christus Jesus gelyk is in Jehovah se oë (Handelinge 10:34, 35). En ja, diere, voëls en visse is almal siele, net soos die mens ’n siel is. Hulle het nie ’n onsterflike siel of die bonatuurlike kragte wat die eertydse Haida-storievertellers aan hulle toegeskryf het nie.—Levitikus 24:17, 18; Prediker 3:18-21; Esegiël 18:4, 20.

Tien verskillende walvissoorte leef in die planktonryke water. Op rotsagtige punte wemel dit van Steller se seeleeus. ’n Halfmiljoen seevoëls, asook seldsame slegvalke, witkoparende en rawe, woon in die steil kranse. Dit wemel van allerhande soorte vis in die kuswaters, strome en mere. Die grootste swartbere ter wêreld hou in die mosbedekte woude waar bome van tot duisend jaar oud groei, waaronder die reusagtige Sitka-spar, die rooiseder en die kerwel.

Omgewingsgesindes is bekommerd dat die ongerepte skoonheid en ryk omgewing van hierdie eilande net soos ander gebiede verlate wildernisse sal word vanweë die mense se wanbestuur. Tog sien die Haidas wat die beloftes van die Allerhoogste, Jehovah God, aangeneem het met vertroue uit na die toekoms, aangesien sy beloftes nooit faal nie (Josua 23:14). Van ons Grootse Skepper kom die belofte dat die hele aarde onder die regverdige administrasie van God se Koninkryk ’n paradys sal word. Dan sal die onvergeetlike prag van die “mistige eilande” nooit weer bedreig word nie.—2 Petrus 3:13.

[Prente op bladsy 25]

Regs: Skilderagtige mistige eilande

Ver regs: Totempale van die dorp Ninstints, Anthony-eiland

Onder: Steller se seeleeus by Kaap St. James

[Prente op bladsy 26]

Links: Koninkryksaal in Koningin Charlotte-stad

Bo: Besembosse in blom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel