Die raaf—Wat maak hom anders?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
WIE sal enigsins verwag dat hierdie voël met sy somber kleure en droewige gekras iets besonders is? Vir diegene wat nie voëls ken nie, lyk hy dalk met die eerste oogopslag bloot na ’n groot kraai. Die raaf trek nie gou die aandag soos die blou spotvoël, sy kleurvolle naverwant met sy helder blou vere, nie. En baie min mense sal die raaf se gekras as sang beskou hoewel die voël onder die Passeriformes, of sangvoëls, geklassifiseer word. Maar moenie hierdie voël onderskat nie. Hoewel hy nie mooi kan sing en kleurvol is nie, vergoed hy op talle ander maniere hiervoor. Die raaf het prag en eienskappe wat eie aan hom is. Trouens, baie voëlkenners plaas die raaf heeltemal in ’n afsonderlike klas.
Kenmerkende eienskappe
Die gewone raaf (Corvus corax) is ongetwyfeld die grootste en statigste lid van die hele kraaifamilie (Corvidae). Hy kan meer as twee keer soveel as ’n gewone kraai weeg en is ongeveer 60 sentimeter lank, met ’n vlerkspan van sowat een meter. Hy verskil van die kraai, aangesien hy ’n groter snawel en ’n lang wigvormige stert het. As ’n mens die raaf van naderby beskou, sien jy ook sy kenmerkende borselagtige keelvere. In die lug sweef hy gewoonlik, terwyl kraaie geneig is om hulle vlerke af en toe te klap wanneer hulle sweef.
Die raaf word beskou as die grootste van al die voëls wat in bome slaap. As jy hierdie groot voël op ’n tak sien rus, wonder jy dalk hoe hy bly sit sonder om af te val. Aan die agterkant van elke poot is ’n sterk klou waarmee hy ’n tak of ’n loot kan vasgryp, maar die geheim van sy vasklouvermoë is dat hy ’n ingeboude sluittoestel het. Spiere en senings laat die tone outomaties in ’n vuisvorm saamtrek wanneer die voël gaan sit. Die raaf se sterk, veelsydige pote stel hom ook in staat om rond te loop en te skrop, wat hom dus goed toerus om in ’n groot verskeidenheid gebiede na kos te soek.
Verspreidingsgebied en vlug van die “swart blits”
Daar is baie min voëls wat so ’n groot verspreidingsgebied soos die raaf het. Hy is inderdaad ’n swerwer. Hy kom in baie dele van die Noordelike Halfrond voor. Hy leef in sulke uiteenlopende terreine soos woestyngebiede; die naaldbosse van Kanada en Siberië, waar hy hoog in die bome ’n ingewikkelde nes met stokke en ander beskikbare materiaal bou; die kranse langs die kus van Noord-Amerika en Skandinawië en die toendra sowel as die eilande van die Noordelike Yssee. Die wildernis is blykbaar die een gemeenskaplike kenmerk van sy verspreidingsgebied, want die raaf is gewoonlik ’n voël van die wildernis.
Voorbeelde van sy uiteenlopende habitats kan in die land van die Bybel gevind word, waar twee soorte groot swart rawe leef. Een maak sy tuiste in die uitgestrekte woestyn in die suide, terwyl die ander een in die noordelike gebied aangetref word. Swart rawe maak nes in die hoeke en skeure van kloofrotse. Jehovah het rawe gebruik om Elia te voed terwyl hy by die spruit Krit weggekruip het (1 Konings 17:3-6, NW). Jesaja se verslag van die rawe wat in die “woestheid” en “vormloosheid” van Edom woon, beskryf ook hulle habitat.—Jesaja 34:11.
Rawe kan uitstekend vlieg. Dit is ’n genot om hulle dop te hou terwyl hulle met gemak in wye sirkels sweef en die gebied onder hulle vir kos bespied. Hulle voer akrobatiese lugtoertjies met gemak uit—deur te tuimel en selfs kort rukkies onderstebo te vlieg—veral gedurende hofmakery en soms, so wil dit voorkom, vir die blote genot daarvan. Die raaf se vlug word raak beskryf deur Bernd Heinrich in Ravens in Winter: “Hy duik en tuimel soos ’n swart blits uit die lug of spoed voort met gladde, swewende bewegings.” Hy voeg by dat die raaf “die meester van die lug is, en dit is nie al nie”. Die raaf se goeie vliegvermoë is al as ’n rede gegee waarom Noag hom gekies het as die eerste dier wat tydens die Vloed uit die ark gestuur is.—Genesis 8:6, 7, NW.
Aanpasbare en vindingryke diewe
Natuurkenners beskou die raaf as een van die aanpasbaarste en vindingrykste voëls. Soos een bron sê: “Sy geslepenheid is legendaries.” Watter omstandighede die raaf ook al teëkom, hy bied die uitdaging die hoof om by die heersende omstandighede aan te pas, veral wanneer kos daarby betrokke is. Dit help natuurlik dat hy nie vol fiemies is oor wat hy eet nie! Die raaf sal feitlik enigiets eet waarop hy sy kloue kan lê—vrugte, sade, neute, vis, aas, klein diertjies, afval. En hy is nie uitsoekerig oor waar hy sy kos kry nie en sal selfs so ver gaan om in temperature van onder vriespunt in die noordelike dele van sy verspreidingsgebied onder die sneeu in te grawe om in vullissakke te krap. Rawe sal ook jagters en vissers dae lank volg, want op die een of ander manier weet hulle dat hulle mettertyd kos sal kry.
Die Corvidae, of kraaiagtiges, is berugte diewe, en rawe is geen uitsondering nie. Hulle skroom nie om kos by ander voëls of diere te steel nie, en daar is al gesien hoe hulle honde uitoorlê. Twee sal beurte maak—een sal die hond se aandag aflei terwyl die ander neerswiep om sy kos op te raap. Innuït-kuns beeld ’n slinkse raaf uit wat vis van ’n ysvisserman steel.
Vanweë ’n spesiale verhouding tussen rawe en wolwe volg hulle gereeld troppe wolwe. Hulle eet saam aan die wolwe se prooi, maar ook hier lyk dit asof hulle dit geniet om ’n paar koddige streke uit te haal terwyl hulle dit doen. Wolfbioloog L. David Mech skryf dat hy gesien het hoe rawe wolwe verpes. Hy vertel van ’n raaf wat na ’n slapende wolf toe gewaggel het, aan sy stert gepik het en eenkant toe gespring het toe die wolf na hom hap. Toe die wolf die raaf bekruip het, het die voël hom toegelaat om binne 30 sentimeter van hom af te kom voordat hy opgevlieg het. Daarna het hy ’n meter of wat van die wolf af geland en die speletjie herhaal. ’n Ander verslag vertel van ’n raaf wat ’n aanslaanspeletjie met klein wolfies gespeel het. Toe die wolfies moeg was vir die speletjie het die raaf gesit en skreeu totdat hulle die speletjie hervat het.
Die tydskrif Canadian Geographic verwys na ’n radio-uitsending uit Yellowknife, in die Noordwestelike Gebiede, wat vertel het van rawe wat op die skuins sinkdakke van handelsgeboue gesit het en blykbaar gewag het vir niksvermoedende voetgangers om onder verby te loop sodat hulle hopies sneeu op hulle kon afstoot. Dit is geen wonder dat die Haida-volk aan Kanada se weskus die raaf ’n bedrieër noem nie!
Geluide en leervermoë
Die raaf se “woordeskat” is besonder groot en vol verskeidenheid. Benewens die bekendste, diep, deurdringende gekras—wat glo aandui dat hy onraad bespeur—is daar al gesê dat die geluide wat hy maak teerheid, geluk, verrassing, opgewondenheid en woede uitdruk. Rawe kan ook die roep van ander voëls naboots as dit binne hulle stemomvang is, en hulle kan veral ’n kraai baie goed namaak.
In watter mate rawe geleer kan word om te praat, is ’n saak waaroor mense verskil. Maar Candace Savage het, in haar boek Bird Brains, verslae opgeteken van mak rawe wat geleer word om mensespraak na te boots. Volgens oorlewering het die digter Edgar Allan Poe ’n raaf aangeskaf en hom met groot moeite geleer om die woord nevermore in sy sombere gekras te sê, en dit het hom geïnspireer om sy welbekende gedig The Raven te skryf, wat beskryf hoe “’n jong man oor die dood van sy geliefde treur”.
Min mense betwis die raaf se vermoë om te leer. As voëls volgens intelligensie geklassifiseer kon word, lyk dit asof die raaf boaan die lys sal wees. Bernd Heinrich, ’n bioloog op die gebied, sê dat die raaf “as die intelligentste van al die voëls beskou word”. Hy sê dat “rawe insig aan die dag lê wanneer hulle aan toetse onderwerp word”. In een proefneming het ’n raaf binne ses uur uitgewerk hoe om ’n stuk vleis wat aan ’n toutjie gehang het in die hande te kry, terwyl kraaie 30 dae later nog steeds met die probleem geworstel het. Rawe is selfs al geleer om te tel. Hulle slimheid dra dalk tot hulle lang lewensduur by, want hulle word ouer as 40 jaar in die natuur en bereik tot 70 jaar in gevangenskap. Enige vermoëns wat die raaf het, moet natuurlik toegeskryf word aan die wysheid van sy Skepper.
Hierdie voël is welbekend, en hy word gerespekteer deur diegene wat van sy besondere eienskappe bewus is. Hy kan in die legendes van mense regoor die wêreld gevind word. Hy is beroemd gemaak deur skrywers van die verlede en die hede. (Sien venster, bladsy 24.) Ja, die raaf is ’n uiters interessante voël. Maar wat kan oor sy prag gesê word?
Prag wat eie aan hom is
Wel, het jy nog nie van ‘haarlokke, swart soos ’n raaf’ gehoor nie? (Hooglied 5:11). Sy blink swart vere met ’n kleurespel van staalblou en pers skakerings—die onderste vere het soms ’n titseltjie groen in—gee ware betekenis aan die woord “raaf”. Stel jou die swewende raaf voor met sy indrukwekkende grootte en blink swart vere, wat uitstaan teen die dorre woesteny van sy woestyntuiste. Of stel jou die kontras voor tussen hierdie glansende gitswart voël en skoon wit sneeu wat pas geval het. Kunstenaars het die raaf se prag al op doek vasgelê. Die kunstenaar Robert Bateman sê: “Die pragtige sneeubedekte hange in die Yellowstone-park het my aangetrek, ’n sterk, helder landskap wat goed gekombineer het met die kragtige vorm van die raaf.”
Daar kan waarlik gesê word dat die raaf ’n besonderse voël is wat prag, geskiedenis, verspreidingsgebied, vlug, slinksheid en gehardheid betref.
[Venster op bladsy 24]
Die raaf in legendes en literatuur
LEGENDES:
Chinese, Egiptiese, Griekse, Semitiese en Siberiese legendes beeld die raaf uit as ’n voorteken van storms of slegte weer. Miskien het sulke legendes gedurende die tyd van Noag en die Vloed ontstaan.
Die raaf beeld lewe en skepping uit in die legendes van Siberië en is die skepper-god van die inboorlinge in Noord-Amerika.
In legendes van Afrika, Asië en Europa is die raaf ’n teken van die dood.
LITERATUUR:
In die Bybel is die raaf die eerste voël wat spesifiek genoem word.—Genesis 8:7, NW.
Shakespeare se rawe word hoofsaaklik as onheilspellend en boos uitgebeeld (Julius Caesar, Macbeth, Othello), maar hulle word ook as weldoeners voorgestel wat weggooikinders voed.—Titus Andronicus, The Winter’s Tale.
Charles Dickens het die raaf as ’n vermaaklikheidskarakter in Barnaby Rudge voorgestel.
Edgar Allan Poe het die raaf in sy gedig The Raven met verlore liefde en wanhoop verbind.
[Venster op bladsy 25]
Lesse wat geleer word
Daar is lesse wat ons van die raaf kan leer. God se eie Seun het gesê: “Let goed daarop dat die rawe nie saad saai of maai nie, en hulle het geen pakhuis of voorraadskuur nie, en tog voed God hulle” (Lukas 12:24). Aangesien sy tuiste dikwels in woestenye is, moet hy sy kos oor ’n groot gebied soek. Rawe het lewenslank net een maat en is toegewyde ouers. Wanneer hulle broei, moet hulle voortdurend kos voorsien om die geskreeu van hulle honger kleintjies te stil. Toe Jehovah Job ’n les geleer het oor die wysheid wat in die skepping weerspieël word, het hy die raaf as ’n voorbeeld ingesluit (Job 38:41, NW). Aangesien God vir die raaf sorg, wat deur die Mosaïese Wet onrein verklaar is, kan ons seker wees dat hy die mense wat op hom vertrou, nie sal verlaat nie.
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Rawe op bladsye 23-5: © 1996 Justin Moore