Kunsmatige intelligensie—gelykstaande met ’n wurm
“DIE afgelope jaar het jy dalk baie praatjies gehoor oor neurale netwerke, parallelle verwerkers, multiverwerkers en ander kommersiële en akademiese pogings om rekenaars te bou wat nader aan die mensebrein is. Maar een ding waarvan jy dalk nie veel gehoor het nie, is wat hierdie poging in werklikheid beteken of wat die nuwe tegnologie vermag. ’n Vriend by ’n neuralenetwerk-maatskappy het my meegedeel dat die moderne produkte in terme van ‘bioverstandelike’ evolusie kop-aan-kop met die intelligensievlak van ’n wurm is. Net ’n wurm, vra jy? Ja, ’n wurm. Om die prestasies van die mensebrein te behaal sal . . . wel, ’n mensebrein vereis.”—Computerworld, 27 Februarie 1989, bladsy 21.
Elektrochemiese impulse vervoer inligting na die brein. “Selfs al is sulke impulse opvallend stadig—ongeveer [30 meter] per sekonde—oortref hulle steeds elektriese impulse via metaalgeleiers, wat teen ’n snelheid van ongeveer [0,3 meter] per nanosekonde of [300 miljoen meter] per sekonde kan beweeg.” Een van die ontsagwekkendste rekenaareenhede wat vandag bestaan, het 65 536 verwerkers om inligting te manipuleer en is so groot soos ’n wasmasjien; tog “druk die brein 150 000 keer meer verwerkers in die menseskedel in”. Die duurste rekenaar is ’n outistiese geleerde. Hy doen berekeninge so vinnig as wat jy die syfers kan invoer, maar as jy probeer om hom ’n rasionele besluit te laat neem, breek hy.
Die artikel in Computerworld sê ten slotte: “Die doel van hierdie hele bespreking is net om vir jou te toon hoe moeilik dit is om die mensebrein met hardeware- of sagteware-argitektuur van enige aard te probeer vervang. Onder selfs die eenvoudigste toestande is die brein steeds die oorspronklike rekenaar, en al die ander modelle—hoe goed hulle normtoetse ook al is—is nabootsers wat vergelykenderwys kruip.”