Die Guinee-wurm—sy laaste dae
Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië
DIT is ’n warm dag, soos alle ander dae. Chinyere bind haar baba op haar rug vas, tel twee uitgedroogde kalbaskruike op en sluit op die stowwerige pad by die ander aan wat in die dorpie woon. Saam stap hulle verby sonverskroeide landerye na die meertjie toe, die enigste waterbron in die gebied. By die meer klim sy versigtig by die glibberige modderbanke af en loop kniediep in om water te skep.
Sy sien die krokodille wat in die droë gras al met die oewer langs net onder die meer se oppervlak lê, maar sy is nie vir hulle bang nie. Soos die een man by die meeroewer sê: “Ons pla hulle nie, en hulle pla ons nie.”
Dit kan beslis nie van party ander lewende wesens gesê word wat in die meer leef nie. Chinyere kan hulle nie sien nie; hulle is te klein. Hulle is in die water wat in haar waterhouers invloei.
Die gevaarlike guinee-wurm
Chinyere gaan terug na haar kleihuisie met sy grasdak en gooi die water in ’n kleipot. Nadat die afsaksel gaan lê het, drink sy ’n bietjie daarvan. ’n Jaar later sien sy iets op die onderste deel van haar been wat soos ’n spataartjie lyk en voel. Maar dit is nie ’n aar nie. ’n Mikroskopiese organisme wat in die water was wat sy gedrink het, het ’n dun, 80-sentimeter lange guinee-wurm geword.
Die wurm sal spoedig ’n pynlike blaas op haar vel laat vorm. Dan sal die blaas bars en die roomkleurige wurm sal begin uitkom, om en by ’n paar sentimeter elke dag. Dit sal tussen twee en vier weke—miskien langer—duur voordat dit heeltemal uit is. Gedurende ’n groot deel van daardie tyd sal Chinyere waarskynlik bedlêend wees en baie pyn verduur. Die gebarste blaas kan met bakterieë besmet word, wat tot klem-in-die-kaak, bloedvergiftiging, gewrigsontsteking of ’n abses sal lei.
Chinyere het las van net een wurm, maar dit is niks ongewoons dat ’n slagoffer terselfdertyd met verskeie, selfs ’n stuk of twaalf of meer wurms besmet word nie. Hulle kom gewoonlik in die onderste ledemate voor, maar soms gaan hulle na ander liggaamsdele toe, soos die kopvel, bors en tong, waar hulle dan uitkom.
Maar danksy ’n internasionale bestrydingsveldtog kan die stryd teen die wurm dalk binnekort gewen word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar nou wêreldwyd minder as driemiljoen mense wat daarmee besmet is, en byna almal van hulle woon in Pakistan, Indië en 17 Afrika-lande. Minder as ’n dekade gelede was tot tienmiljoen mense daarmee besmet. In Asië is die guinee-wurm nou al amper heeltemal uitgeroei; in die meeste Afrika-lande waar dit voorkom, is die kanse goed dat die parasiet teen die einde van 1995 uitgeroei sal wees.
’n Lang geskiedenis
Die mens het al sedert die vroegste tye las van die guinee-wurm, veral in die Midde-Ooste en Afrika. ’n Verkalkte guinee-wurm is in die mummie van ’n 13-jarige meisie aangetref wat in Egipte ontdek is. Ongelukkig was albei haar bene afgesit, moontlik om die gangreen te stop wat deur die besmetting van die guinee-wurm veroorsaak is.
Daar is talle verwysings daarna in eertydse geskrifte. Die vroegste verwysing na die guinee-wurm is in ’n Egiptiese teks gevind. Dit het die gebruik beskryf om die wurm wat besig was om uit te kom om ’n stokkie te draai. In die tweede eeu v.G.J. het ’n Griek met die naam Agatharchides van Cnidus geskryf: “Die mense wat op die Rooi See siek geword het, het talle snaakse en onbekende siektes gehad, onder meer wurms, slangetjies, wat op hulle uitgekom het, hulle bene en arms weggevreet het en wanneer daar aan hulle geraak is, teruggetrek en in die spiere opgerol het waar hulle dan die ondraaglikste pyne veroorsaak het.”
Behandeling
Die gesegde: “Voorkoming is beter as genesing” geld beslis vir guinee-wurmsiekte. Trouens, daar is geen genesing nie. As iemand eers water gedrink het wat die guinee-wurmlarwe bevat, kan daar medies niks gedoen word totdat die wurm op die punt is om uit die vel te kom en voor dit ’n blaas veroorsaak het nie. In daardie stadium kan ’n bekwame dokter die parasiet soms verwyder nadat hy ’n snytjie langs die wurm in die middel van sy lengte gemaak het. Daarna gebruik hy ’n haakvormige instrument om ’n gedeelte van die wurm versigtig uit te trek totdat dit ’n lus bo die vel vorm. Eindelik trek hy dan die orige gedeelte van die wurm versigtig uit, ’n operasie wat binne etlike minute afgehandel word.
Wanneer die wurm egter eers vanself uitkom, kan hy as gevolg van die ontsteekte seerplek nie maklik uitgetrek word nie. Die verstandigste ding wat die slagoffer dan kan doen, is om die eertydse gebruik te volg deur die wurm versigtig om ’n stokkie te draai terwyl dit uitkom. Sorg moet aan die dag gelê word sodat die wurm nie breek nie. As hy breek, trek die gedeelte wat agterbly in die slagoffer se vel terug en veroorsaak dit meer ontsteking, pyn en infeksie.
Op mediese gebied kan daar nie veel gedoen word om ’n guinee-wurm te bestry wanneer hy in sy slagoffer se liggaam is nie. Maar baie kan gedoen word om die parasiet buite die menseliggaam te bestry.
Hoe om die stryd teen die guinee-wurm te wen
Een manier is om veilige waterbronne te voorsien, soos ’n boorgat, wat nie deur die guinee-wurmlarwe besmet kan word nie. Nog ’n manier is om mense te leer om óf hulle drinkwater te kook óf dit te filtreer deur dit deur ’n fyn stukkie lap te gooi. ’n Derde manier is om die meer met ’n chemikalie te behandel wat die larwe doodmaak, maar wat onskadelik is vir mense of diere.
In al die oorblywende lande waar die siekte endemies is, is mense ywerig besig met bestrydingsprogramme om vas te stel watter dorpies van die guinee-wurm las het en om inwoners te help om infeksie te voorkom. Tot dusver was hierdie pogings uiters geslaagd. Dit lyk asof die guinee-wurm se laaste dae nou aangebreek het. En niemand sal daaroor treur nie.
[Prent op bladsy 26]
Besmette water behoort nie gedrink te word nie tensy dit eers gekook of gefiltreer word