Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 7/22 bl. 15-18
  • Kom vaar saam met ons al met die Chobe op

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kom vaar saam met ons al met die Chobe op
  • Ontwaak!—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Kyk, die magtige seekoei!
    Ontwaak!—2003
  • Olifante—Vriende of vyande?
    Ontwaak!—1994
  • Woestynoorlewendes van die Namib
    Ontwaak!—1992
  • Op Safari in Ghana
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 7/22 bl. 15-18

Kom vaar saam met ons al met die Chobe op

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

ONS sit in ’n boot op die Chobe-rivier in die hart van suidelike Afrika. Die hoogtepunt van ons vakansie het aangebreek. Ons luister na die water wat sag teen die boot klots terwyl ander passasiers aan boord kom. Op die oewer wuif riete in ’n welkome briesie. Ons is dankbaar vir die wolke wat ons teen die warm Afrika-son beskerm.

“Ek hoop die olifante kom vanmiddag soos gewoonlik om te drink”, sê Jill, die skakelbestuurderes van die hotel wat hierdie vaart reël. Ons hoop ook so. Die Chobe is beroemd vir sy olifante. Die noorde van Botswana, wat aan die Chobe grens, het nagenoeg 45 000 olifante—die grootste konsentrasie in suidelike Afrika. “Maar”, waarsku Jill, “as gevolg van die onlangse reëns, het ons al drie dae lank nie olifante gesien nie.”

Maar die Chobe het baie ander bekoringe. In ’n bak in die boot sien ons vier dooie visse. “Die visarende wag altyd dat ons vis in die water gooi”, sê Rainford, ons Botswana-bootkaptein. Sal ons dit regkry om een van hierdie voëls af te neem terwyl hy neerskiet om ’n ete op te raap? Toe ’n ander toeristeboot, The Fish Eagle, verbyvaar, neem ons opgewondenheid toe. Ons boot se naam is Mosi-Oa-Tunya, ’n Afrika-naam vir die Victoria-waterval. Die Chobe-rivier en die magtige Zambezi kom bymekaar om oor die beroemde waterval, wat omtrent ’n uur se ry van hier af is, te stort.

Glo dit as jy wil, kort nadat die Mosi begin wegvaar, sien ons olifante deur ons verkykers. Maar, helaas, ons is nog ver weg toe verdwyn hulle in die bos. “Tot drie weke gelede”, sê Sandy, ons toergids, “het ons troppe van honderde gesien.” Ons aandag word vervolgens geboei deur ses koedoes wat van die oewer af na ons staar. Wanneer ’n mens met ’n motor nader kom, hardloop hierdie bok gewoonlik weg. “Dit lyk asof hulle nie so bang is vir ’n boot op die rivier nie”, sê Sandy.

Die sagte gekoer van duiwe word skielik deur ’n deurdringende skree onderbreek. Watter soort voël is dit? “Die kenmerkende luide roep van die visarend word altyddeur langs die Chobe gehoor”, verduidelik dr. Anthony Hall-Martin in die boek Elephants of Africa. Vier van hierdie manjifieke voëls hou ons dop uit bome langs die rivier. Ons stel ons kameras gou in toe Sandy ’n vis gooi. Net op die regte oomblik verlaat die eerste voël sy tak en sweef na ons toe. Vervolgens hoor ons ’n geplas toe die vis stewig in die voël se kloue vasgeklem word. Dan, met ’n geklap van sy majestueuse vlerke, vlieg hy van die water af op terwyl hy ’n oorwinningskreet—WHOW-kajow-kwow—laat hoor. Die koördinasie tussen oë, kloue, stem en vlerke wat deur die arend se breintjie verrig word, vervul ons met ontsag. Aan boord is daar gedempte stilte, buiten die klik van kameras, terwyl hierdie indrukwekkende vertoning nog drie keer herhaal word.

Onderwyl die boot verder vaar, sien ons ’n trop van 26 olifante, waaronder kalfies, wat in die water speel. Die woorde van Bruce Aiken in sy boek The Lions and Elephants of the Chobe kom in ons gedagte terwyl ons na hulle kyk: “Wanneer hulle onmiddellike dors eers geles is, gebruik die volwassenes hulle slurpe om die koel water tydsaam oor hulleself te spuit. Party, veral opgeskote volwassenes en bulle, sal dit heel moontlik in die rivier waag om speels te swem en te baljaar, dikwels met net die punte van hulle slurpe sigbaar bo die oppervlak om as snorkels te dien. Niemand geniet dit egter soveel soos die kalfies nie. Dit is die begin van speeltyd, en hulle baljaar en jaag mekaar sonder ophou rond . . . Dors geles, is dit vervolgens tyd vir die volgende en ongetwyfeld geliefkoosde aktiwiteit, die modderbad. . . . Alte gou, besluit die ou pretbederwerkoeie, wie se woord wet is, dat dit tyd is om te gaan.”

Ongelukkig laat ons groot dubbeldekkerboot die “pretbederwerkoeie” ongemaklik voel toe hy nader kom, en hulle lei die trop weg, maar nie voordat ons foto’s geneem het nie.

Die dag het nog nie geëindig nie, en die Chobe het ander verrassings. As gevolg van die stof van die omringende Kalahari-woestyn is sonsondergange oor die rivier skouspelagtig. Dit is ook in die aand die tyd wanneer lui seekoeie begin roer sodat hulle die water kan verlaat om hulle knuppeldik te vreet. Dit is hier waar die veiligheid van ons groot boot beslis ’n voordeel is. “’n Mens kan naby die seekoeie kom sonder om bang te word”, sê Rainford.

’n Harde, diep brulsnork kondig ons koms by ’n seekoeigat aan wat langs ’n eiland in die rivier geleë is. Aan albei kante van ons verskyn die seekoeie se groot koppe die een na die ander bo die water. Skielik hap twee seekoeie na mekaar met hulle bekke wawyd oop—bekke wat groot genoeg is vir ’n mens om daarin te hurk. Dan, uit die vlak water naby die eiland, loop ’n ander seekoei direk na ons toe—so naby dat sy enorme liggaam die lens van ons kamera vul. Die water raak dieper, sy kop verdwyn onder die water, en net sy groot agterlyf steek in die lug op. Dan, deur lug uit sy longe te blaas, gly die reuseliggaam onder die water in.

Ons is verbaas om uit te vind dat die seekoei, ten spyte daarvan dat hy tot vier ton kan weeg, baie rats in die water is. “Hy kan ten spyte van sy logge liggaam vinniger swem as die meeste visse en kan dikwels in helder water gesien word waar hy vinnig net onder die oppervlak swem”, sê Bradley Smith in sy boek The Life of the Hippopotamus. Of, as hulle dit verkies, gebruik seekoeie hulle kragtige bene om oor die bedding van ’n diep rivier te dans. Dit is net soos die mens se Skepper sê:

“Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos ’n bees. Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. As die rivier swel—hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis ’n Jordaan[rivier] teen sy mond” (Job 40:10, 11, 18). Terwyl ons so te sê deur hierdie vreesaanjaende voorbeelde van “sterkte” omring is, besef ons hoeveel te meer ons respek behoort te toon vir die Een wat hulle gemaak het. “Sal ’n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor?” vra Jehovah God, sodat ons ons menslike beperkinge kan onthou.—Job 40:19.

Dit is baie moeilik om te besluit of ons na ’n skouspelagtige sonsondergang of na die seekoeie gaan kyk, en ons is teësinnig om te gaan toe dit tyd is vir ons boot om terug te vaar. Later, by ons grasdakhut langs die rivier, kyk ons in verwondering toe terwyl die lug pienk en oranje word, met die kleure wat pragtig in die water weerkaats. Ons dink na oor die opwindende dinge wat ons gesien en gehoor het. “As julle werklik naby die wilde diere wil kom”, raai Sandy ons aan, “moet julle ’n klein motorboot gebruik.” Ons besluit om haar raad te volg en een vir die volgende middag te huur.

Hierdie keer kom ons inderdaad nader aan die wilde diere, met uitsondering van die gevaarlike seekoeie, en kan selfs aan die riete en waterlelies raak. Ons hou bontvisvangers dop wat bewegingloos bokant die water hang op soek na ’n vissie. Ander kleurryke voëls vlieg om ons rond, bruinkopvisvangers, rooikeelbyvreters en kleinstreepswaels. Dan is daar die groter voëls wat die veiligheid van die rivier se eilande geniet—kolganse, langtone, duikers en reiers, om net ’n paar te noem. Ons vaar verby ’n boom wat halfpad onder die water is en waarop van hierdie voëls sit.

Uiteindelik kom ons by die plek waar ons die vorige dag die trop olifante gesien het. Hierdie keer is daar ’n alleenloperbul wat ons ignoreer en aanhou drink en vreet. Dan, net toe ons begin wegbeweeg, kom ’n ma en haar kleintjies uit die bos te voorskyn. Sy aarsel toe sy ons sien. Ons hou ons asem in afwagting op. Sal sy nog kom, of nie? Gelukkig besluit sy om dit met haar kalwers in ons teenwoordigheid te waag. Wat ’n gesig is dit tog om te sien hoe moeder, die groter kalf en die kleintjie na ons toe aangehardloop kom!

Aiken maak hierdie verdere kommentaar in sy boek oor leeus en olifante: “Dit is maklik om die dors te begryp wat hierdie enorme diere elke dag moet ervaar . . . terwyl hulle die lang, warm reis na die rivier aflê. ’n Trop sal ywerig en so vinnig moontlik uit die bos loop en reguit op ’n drinkplek afpeil, en dikwels die laaste vyftig of honderd meter in oorgawe hardloop wanneer hulle die lewegewende water ruik.” Met reg kyk ons in verwondering toe terwyl die drie in ’n ry staan en drink, met die kleintjie beskermend in die middel. Maar dit word laat, en ons moet voor donker terug wees.

Behalwe olifante, sien ons buffels, krokodille, poekoes, koedoes, waterbokke, rooibokke, bobbejane en vlakvarke. Dit is vir ons onmoontlik om nie ’n diep bewondering te koester vir die Een wat hierdie pragtige verskeidenheid wilde diere geskep het en hulle in so ’n lieflike omgewing geplaas het nie. Gedurende die droë seisoen kom voëls en diere in groot getalle langs die rivier saam, en selfs leeus, luiperds en renosters kan gesien word.

Jy bly moontlik ver van hierdie afgeleë deel van Afrika, maar ons hoop dat jy nou, nadat jy ons op ons vaart vergesel het, ’n beter idee het van die manjifieke besienswaardighede wat op diegene wag wat met die Chobe langs vaar.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

All wood engravings: Animals: 1419 Copyright-Free Illustrations of Mammals, Birds, Fish, Insects, etc. by Jim Harter

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel