’n Nuushonger eeu
MENSE wou nog altyd nuus hê van dinge wat rondom hulle gebeur. Hulle hou daarvan om onmiddellik oor enige buitengewone gebeurtenis ingelig te word. Een beroemde boodskapper was ’n soldaat wat in 490 v.G.J. ongeveer 40 kilometer na Athene gehardloop het om die neerlaag van die Persiese leërs aan te kondig. Toe hy daar aankom, het hy na bewering die oorwinning by Marathon aangekondig en dood neergeslaan.
Sowat 600 miljoen televisiestelle en 1,4 miljard radio’s bring vandag nuus van gebeure wat net ure of selfs minute tevore plaasgevind het tot binne-in huise in alle wêrelddele. Sommige gebeurtenisse word regstreeks uitgesaai, terwyl dit gebeur. En honderdmiljoene koerante, sowel as tienmiljoene tydskrifte, word daagliks in tientalle tale gedruk om ’n nuushonger wêreld te bevredig.
Minder as 550 jaar gelede het Johannes Gutenberg ’n drukpers met los letters uitgevind wat die vinnige verspreiding van gedrukte nuus moontlik gemaak het. Die eerste nuusblaaie het egter ’n beperkte sirkulasie gehad, en weens die feit dat hulle so duur was, was dit dikwels net die rykes wat dit kon bekostig.
Persvryheid het spoedig ’n geskilpunt geword. Renaudot se Gazette is byvoorbeeld in die 17de eeu met die goedkeuring van die Franse koning gepubliseer, en die meeste van die nuus wat gedruk is, was volgens die voorskrif van die regering. Min joernaliste van daardie tyd het dit gewaag om die owerhede van hulle land teë te gaan.
Hedendaagse soektog na nuus
Aan die einde van die 19de eeu het nuuskanale grootliks vermeerder, vernaamlik weens die meganisasie van drukperse en die geweldige sirkulasie van dagblaaie, veral in Europa en Noord-Amerika.
Daar is spoedig begin om nuwe tegnieke, veral die radio, te gebruik om nuus rugbaar te maak. Byvoorbeeld: In 1917, gedurende die Russiese Revolusie, het die radiosender van die kruiser Aurora die inwoners van Petrograd (nou Leningrad) aangehits om in opstand te kom.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die radio ’n kragtige instrument vir propaganda geword, veral vir Nazi-Duitsland. Gedurende daardie oorlog het die BBC (die Britse uitsaaikorporasie) in Londen ook nuus oor die Geallieerdes oor ’n groot deel van Europa en die wêreld uitgesaai.
Hoewel daar voor die Tweede Wêreldoorlog met die televisie geëksperimenteer is, is die ontwikkeling daarvan deur die oorlog vertraag. Maar dit het spoedig as ’n nuusmedium ontwikkel. Honderdmiljoene kyk vandag na televisienuusprogramme.
In die laaste dekades het die perswese talle gespesialiseerde publikasies begin uitgee. Na die Tweede Wêreldoorlog is weeklikse tydskrifte gepubliseer wat die nuus ontleed het. Afgesien van die weeklikse tydskrifte oor televisieprogramme word tydskrifte vir jongmense, vroue, afgetredenes, sportmanne en ambagsmanne op groot skaal verkoop. Daar verskyn byvoorbeeld in Frankryk elke jaar ongeveer 200 nuwe tydskrifte.
Nuus in die toekoms
Dit is alreeds moontlik om deur middel van telekommunikasieverbindings op videovertoonterminale toegang tot databanke te verkry. Kabel- en satellietstelsels verskaf nou ’n paar televisiekanale (soos in die Verenigde State) wat dag en nag nuusuitsendings aanbied, en sommige voorspel dat die toekoms nog meer op ’n internasionale vlak inhou. Die 20ste eeu kan dus tereg die nuushonger eeu genoem word. Maar is die nuus altyd betroubaar? Waarborg die verskillende inligtingsdienste eerlike, onbevooroordeelde nuus?
[Prent op bladsy 4]
Gutenberg het ’n drukpers met los letters uitgevind wat bygedra het tot die verspreiding van nuus en idees