Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 2—Konings kom en gaan soos sterre
Monargie: ’n regering met ’n erfstaatshoof, soos ’n koning of ’n keiser, aan die hoof; Koninkryk: ’n monargale regeringsvorm met ’n koning of koningin aan die hoof; Keiserryk: ’n uitgestrekte gebied wat gewoonlik bestaan uit ’n groep nasies, state of volke onder die beheer van ’n enkele oppermag, gewoonlik met ’n keiser aan die hoof.
“EN IN die dae van Amrafel, die koning van Sinear.” Hier, aan die begin van Genesis hoofstuk 14, gebruik die Bybel die woord “koning” vir die eerste keer. Of Amrafel, soos sommige beweer, ’n ander naam vir Babilon se beroemde koning Hammoerabi was, weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat, wie hy ook al was, die gedagte van mensekoningskap nie sy oorsprong by Amrafel gehad het nie. Nimrod was etlike honderde jare vroeër klaarblyklik ’n koning, hoewel hy nie so genoem is nie. Trouens, hy was die eerste mensekoning in die geskiedenis.—Genesis 10:8-12.
Ons het weliswaar geen artefakte met betrekking tot koning Nimrod of koning Amrafel nie. “Enmebaragesi, koning van Kisj, is die oudste Mesopotamiese heerser oor wie daar oorspronklike inskripsies bestaan”, sê The New Encyclopædia Britannica. Die Sumeriese woord vir heerser, wat “groot man” beteken, is uit Kisj, ’n antieke stadstaat in Mesopotamië, afkomstig. Hoewel die tyd van Enmebaragesi se heerskappy van Bybelchronologie verskil, kom dit nietemin naby die tydperk wat die Bybel toelaat en, nog belangriker, dit plaas die oorsprong van menseheerskappy in dieselfde deel van die aarde as die Bybel.
Eenheid deur ’n meerderheid van een
Daar word oor die algemeen aanvaar dat die Chinese Sjang-, of Jindinastie, iewers tussen die 18de en die 16de eeu v.G.J. begin het, hoewel daar onsekerheid oor hierdie datums bestaan. Monargieë is in elk geval die oudste vorm van menseregering. Dit kom ook algemeen voor.
Die woord “monarg” kom van die Griekse woorde moʹnos, wat “alleen” beteken, en ar·kheʹ, wat “heerskappy” beteken. ’n Monargie verleen dus die oppermag aan een persoon wat op eie gesag permanent as staatshoof dien. In ’n absolute monargie is die koning se woord wet. Hy maak as ’t ware ’n meerderheid van een uit.
Daar is nog altyd gemeen dat monargieë help om nasies bymekaar te hou. John H. Mundy, wat Middeleeuse Europese Geskiedenis doseer, verduidelik dat, volgens politieke teorie in die Middeleeue, “die monargale instelling geskik was vir groot gebiede met uiteenlopende en botsende streekbelange, omdat dit verder gestrek het as bepaalde groepe”. Hierdie groot gebiede met “botsende streekbelange” was dikwels die gevolg van militêre verowering, omdat konings sonder uitsondering militêre leiers was. Trouens, geskiedskrywer W. L. Warren sê dat oorwinning in oorlog “oor die algemeen as die belangrikste maatstaf vir suksesvolle koningskap beskou is”.
Die monargale regeringsvorm was dus bevorderlik vir die oprigting van wêreldmagte soos die Griekse Ryk onder Alexander die Grote, die Romeinse Ryk onder die keisers, en, meer onlangs, die Britse Ryk. Laasgenoemde het, op die hoogtepunt van sy mag in die vroeë 20ste eeu, ongeveer ’n kwart van die wêreld se bevolking en ’n vierde van sy landoppervlakte onder een heerser verenig.
Koninklikes in godsdiensgewade
Baie eertydse konings het beweer dat hulle goddelik is. Soos geskiedskrywer George Sabine gesê het: “Van Alexander af is Hellenistiese konings ook onder die gode van die Griekse stede gereken. Die vergoddelikte koning het ’n algemene instelling in die Ooste geword en die Romeinse keisers moes die gebruik uiteindelik oorneem.” Hy sê dat hierdie beskouing dat konings goddelik is “tot vandag toe in die een of ander vorm” in Europa voortbestaan het.
In Sentraal- en Suid-Amerika is die Asteekse en Inka-state as heilige monargieë beskou. In Asië het wyle keiser Hirohito van Japan eers in 1946 afgesien van sy bewering dat hy die 124ste menslike afstammeling van die songodin Amaterasoe Omikami is.
Hoewel nie alle konings beweer het dat hulle goddelik is nie, het die meeste van hulle ten minste gesê dat hulle goddelike steun het. Om uitgesonder te wees as verteenwoordiger van God op aarde het met priesterlike charisma gepaard gegaan. John H. Mundy verduidelik dat “die eertydse gedagte dat konings ook priesterlik is deur die Weste versprei het, en dit het ’n prins die administratiewe hoof van sy kerk en die bestuurder van die apostolaat daarvan gemaak”. Dit was ’n godsdienskonsep “wat ontleen is aan die Konstantynse vennootskap van kerk en staat [gedurende die vierde eeu G.J.], en aan die ooreenstemmende opname van Neo-Platoniese denke deur die kerk”. Die geestelike seën wat ten tyde van die kroning uitgespreek is, het ’n wettigheid aan die koning se heerskappy verleen wat dit andersins nie sou gehad het nie.
In 1173 het Hendrik II van Engeland die titel “Koning deur Gods genade” begin gebruik. Dit het tot die gedagte gelei wat later as die goddelike reg van konings bekend geword het, en beteken het dat die koning se mag oorerflik was. God het kwansuis sy keuse deur die geboorte geopenbaar. In 1661 het Lodewyk XIV van Frankryk ’n uiterste vorm van hierdie leerstelling in werking gestel deur alle regeringsmag op homself te verenig. Hy het teenstand beskou as ’n sonde teen die God wat hy verteenwoordig het. “L’état c’est moi! [Ek is die Staat]”, het hy gespog.
’n Soortgelyke gedagte het min of meer dieselfde tyd in Skotland ontstaan. Terwyl hy as Jakobus VI oor Skotland regeer het, maar voordat hy in 1603 koning Jakobus I van Engeland geword het, het hierdie monarg geskryf: “Konings word Gode genoem . . . omdat hulle op GOD se Troon op die aarde sit, en moet aan [H]om rekenskap gee van hulle administrasie.” Ons weet nie in watter mate hierdie beskouing Jakobus beïnvloed het om die vertaling van die Bybel in Engels te magtig nie. Ons weet wat die resultaat was, die King James Version, wat steeds algemeen deur Protestante gebruik word.
Die eeu van absolute monargieë
Monargieë was sedert die vroeë Middeleeue die algemene regeringsvorm. Konings het ’n goedkoop en gerieflike manier van heers ontwikkel deur aan prominente grondbesitters gesag te verleen. Hulle het op hulle beurt ’n politieke en militêre stelsel bekend as feodalisme opgerig. Die grondbesitters het hulle vasalle grond gegee in ruil vir militêre en ander dienste. Maar hoe bekwamer en magtiger die feodale grondbesitters geword het, hoe waarskynliker het dit geword dat die koninkryk in feodale magsblokke sou verbrokkel.
Die feodale stelsel het burgers bowendien van hulle waardigheid en vryheid beroof. Hulle is oorheers deur militêre landhere vir wie se inkomste hulle hoofsaaklik verantwoordelik was. Omdat hy geen onderwys- en kulturele geleenthede gehad het nie, “het die lyfeiene min regte gehad wat volgens die wet aan sy grondheer opgedwing kon word”, sê Collier’s Encyclopedia. “Hy kon nie sonder die heer se toestemming trou, sy paggrond aan erfgename nalaat of die landgoed verlaat nie.”
Dit was nie die enigste manier waarop absolute monargieë regeer is nie. Party konings het administratiewe poste aan persone gegee wat later afgesit kon word as dit nodig was. Ander konings het plaaslike regering aan volksinstellinge toevertrou wat deur middel van tradisie en sosiale druk regeer het. Maar al hierdie metodes was op die een of ander manier onbevredigend. Skrywers van die 17de eeu, soos sir Robert Filmer van Engeland en Jacques-Bénigne Bossuet van Frankryk, het nietemin steeds absolutisme as die enigste geskikte regeringsvorm voorgestaan. Maar hierdie regeringsvorm se dae was getel.
“Gode” tot skynhoofde verlaag
Ondanks die algemene opvatting dat monarge net aan God verantwoordelik was, het druk lankal begin toeneem om hulle aan mensewette, -gebruike en -gesag verantwoordelik te maak. Teen die 18de eeu “het monarge retoriek aangewend wat verskil het van dié van die vorste van die sewentiende eeu”, sê The Columbia History of the World, maar dit voeg by dat “hulle ondanks die retoriek steeds vorste was”. Dit verduidelik dan dat “toe Frederik die Grote homself die ‘hoofkneg van die staat’ genoem het en van die goddelike reg van konings afgesien het hy nie van plan was om van sy mag afstand te doen nie”.
Maar na die Revolusie van 1688 in Engeland en die Franse Revolusie van 1789 was die dae van absolutisme grotendeels oor. Absolute monargieë het geleidelik plek gemaak vir beperkte monargieë wat parlemente of grondwette, of albei, gehad het. In teenstelling met die 12de eeu toe “koningskap nog was wat ’n koning daarvan kon maak en wat sy onderdane bereid was om te aanvaar”, om geskiedskrywer W. L. Warren aan te haal, is die politieke mag van die meeste konings en koninginne vandag taamlik beperk.
’n Paar monarge oefen natuurlik steeds heelwat mag uit. Maar die meeste van hulle het al lank gelede hulle stralekrans van “goddelikheid” verloor en is tevrede om te dien as skynhoofde, sentrale magsfigure om wie mense hulle in ’n gees van lojaliteit kan skaar. Beperkte monargieë het probeer om die verenigende eienskappe van eenmansheerskappy te behou terwyl hulle sy negatiewe aspekte uitgewis het deur die ware mag aan ’n parlement te verleen.
Die idee van beperkte monargieë is steeds gewild. In 1983 nog het Krisjna Prasad Bhattarai, leier van die Nepalese Kongresparty in Nepal, opgekom vir ’n monargie ‘as iets wat chaos teëwerk’, en gesê dat ‘die Koning noodsaaklik is om die land verenig te hou’. En hoewel die Franse in 1987 die finale voorbereidsels getref het om die 200ste herdenking van die Franse Revolusie te vier, was 17 persent van dié wat gevra is ten gunste van die terugkeer tot ’n monargie. ’n Lid van ’n monargistiese groep het gesê: “Die Koning is die enigste manier om ’n volk te verenig wat so lank deur politieke twis verdeel is.”
Die tydskrif Time het daardie selfde jaar gesê: “Vorste dwing lojaliteit af omdat monarge die laaste groot ikone van ons sekulêre eeu is, die enigste ontsagwekkende figure wat nog geloofwaardig kan wees terwyl hulle in geheimsinnigheid lewe. As God dood is, lank lewe die Koningin!” Maar dit het toe op ’n meer realistiese grondslag bygevoeg dat “die soewereine mag van die [Britse] Koningin hoofsaaklik in haar glinsterende magteloosheid lê”.
Te lig bevind
Absolute monargieë is onbevredigend. Hulle is uiteraard wankelbaar. Elke heerser sterf vroeër of later en moet met ’n opvolger vervang word, wat meestal weens sy afkoms gekies word en nie weens sy hoë morele standaarde of bekwaamheid nie. Wie kan waarborg dat ’n seun net so goed soos sy vader sal wees? Of as ’n vader sleg was, dat sy seun enigsins beter sal wees?
Soos Cristiano Grottanelli sê, word “die keuse van die koninklike opvolger” dikwels ook “net oppervlakkig voorgeskryf, sodat daar mededinging onder die kiesbare lede van die koninklike afstammelinge kan ontstaan. Die tyd na die koning se dood is dus gewoonlik, in werklikheid sowel as simbolies, ’n tydperk van sosiale (en kosmiese) chaos.”
Omdat dit ’n eenmansregering is, hang die doeltreffendheid van ’n absolute monargie af van hoe bekwaam sy heerser is. Sy talente en sterk punte sal in sy regering weerspieël word, maar dieselfde geld vir sy swakhede, beperkinge en gebrek aan kennis. Selfs mense met blou bloed is onvolmaak. Slegte konings rig slegte regerings op, goeie konings rig moontlik beter regerings op, maar net ’n volmaakte koning kan die soort regering oprig waarna die mens smag en wat hy verdien.
Parlementêre of beperkte monargieë skiet ook te kort. In die Verenigde Koninkryk het skynhoofkonings en -koninginne van Engeland gedurende hierdie eeu die grootste en magtigste ryk wat die wêreld nog geken het, sien verbrokkel.
’n Ander soort ster
Konings kom en gaan soos sterre—behalwe een. Jesus Christus sê van homself dat hy “die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” is (Openbaring 22:16). Omdat Jesus vleeslik ’n direkte afstammeling van koning Dawid is, voldoen hy aan die vereistes om Koning van God se regering te wees. As “die blink môrester”, is Jesus ook die “dagster” wat opgaan en die dag laat aanbreek.—2 Petrus 1:19, NW; Numeri 24:17; Psalm 89:35-38.
Hoe wys is dit, in die lig van hierdie feite, om op die onsekere sterre van mensemonargieë vir leiding te vertrou? Wysheid sal ons eerder lei om ons hoop te stel op God se aangewese Koning, Jesus Christus, “die Koning van die konings en die Here van die here, wat alleen [bo alle mensekonings] onsterflikheid besit” (1 Timotheüs 6:15, 16). Hy het reeds as onsigbare Koning in die hemel begin regeer, en hy sal binnekort die môre van ’n nuwe wêreld bring. Hy is ’n ster—’n koning—wat, noudat hy gekom het, nooit weer sal gaan nie!
[Prent op bladsy 17]
Selfs die beste mensekoning laat sy werk in onsekere hande wanneer hy sterf