Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 10/8 bl. 19-22
  • Deel 5—Onbeperkte mag—’n Seën of ’n vloek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 5—Onbeperkte mag—’n Seën of ’n vloek?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Grade van outoritêre heerskappy
  • Die strewe na absolute mag
  • Veroorsaak deur die ‘massagemeenskap’?
  • Imperialisme?
  • Is die omverwerping van outoritêre heerskappy die oplossing?
  • Deel 2—Konings kom en gaan soos sterre
    Ontwaak!—1990
  • Deel 8—’n Politieke mengsel van yster en klei
    Ontwaak!—1990
  • Deel 1b—Het ons werklik regering nodig?
    Ontwaak!—1990
  • Godsdiensvervolging—Waarom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 10/8 bl. 19-22

Menseheerskappy in die weegskaal

Deel 5—Onbeperkte mag—​’n Seën of ’n vloek?

Outokrasie: regering deur een persoon met onbeperkte mag; Outoritarisme: die gebruik van regeringsmag sonder die toestemming van diegene wat regeer word, minder ekstremisties as totalitarisme; Diktatorskap: regering met ’n heerser wie se absolute mag nie deur die wet beperk word of deur enige ander amptelike liggaam beheers word nie; Totalitarisme: gesentraliseerde beheer deur ’n outokratiese liggaam wat burgerlikes amper heeltemal aan Staatsgesag onderhorig maak.

OUTORITÊRE regerings, wat streng beheer uitoefen en min persoonlike vryheid gun, laat ’n mens dadelik aan byvoeglike naamwoorde soos “onderdrukkend”, “tirannies” en “eiemagtig” dink. Hulle is uiters nasionalistiese regeringstelsels wat elke vertakking van die regering beheer, al hulle burgers met valkoë dophou en aktiwiteite verbied wat nie nasionale belange bevorder nie, hoe onskadelik hulle ook mag wees. Ongelukkig is daar in die mens se geskiedenis nie ’n gebrek aan outoritêre regerings om van te vertel nie.

Grade van outoritêre heerskappy

The World Book Encyclopedia sê: “Die Russiese regering onder die tsare het baie na aan ’n absolute outokrasie gekom.” Maar nie alle outoritêre heerskappy is absoluut nie; daar is verskillende grade daarvan. En alle outoritêre regerings is nie outokrasieë, dit wil sê, regerings met een heerser, ’n diktator of ’n tsaar, aan die hoof nie. Party word deur ’n groep, miskien deur ’n militêre junta, of deur ’n oligargiese of plutokratiese elite beheer.

Selfs demokrasieë kan outoritêr wees. Hulle het weliswaar politieke partye, hou verkiesings, het geregshowe en spog met ’n parlement of wetgewende liggaam. Maar in die mate wat die regering hierdie verskillende instellings beheer, en hulle dwing om die regering se bevele te gehoorsaam, dermate is dit outoritêr, ongeag die struktuur daarvan. Nie dat dit opsetlik so beplan is nie. Gedurende oorlogstyd of tydperke van staatsonrus het die situasie dalk vereis dat daar noodmagte aan die regering verleen moes word. Die noodtoestand bestaan moontlik nie meer nie; maar die noodmagte wel.

Monargieë is in meerdere of mindere mate outoritêr. Maar absolute monargieë is merendeels deur beperkte monargieë vervang. Wetgewende liggame en geskrewe grondwette beperk die gesag wat sulke monargieë kan uitoefen, en dit verminder hulle potensiaal vir outoritarisme. Sodoende geniet individue onder hedendaagse beperkte monargieë baie groter vryheid as wat daar onder absolute monargieë in die verlede bestaan het.

Selfs toe absolute monargieë algemeen was, was hulle mag beperk. ’n Professor in die geskiedenis, Orest Ranum, verduidelik dat “die meeste konings nie die temperament òf die wesenlike mag gehad het om hulle onderdane heeltemal te domineer òf om soos ’n Hitler of ’n Mussolini of ’n Stalin rasse en kulturele minderheidsgroepe te onderdruk nie”. Dit is dus duidelik dat ’n koning se hoë sedes en goeie eienskappe—of gebrek daaraan—deurslaggewend was. In elk geval, Ranum sê: “Geen absolute monargie het na aan die graad van kulturele en ekonomiese sentralisasie van die hedendaagse totalitêre staat gekom nie.”

Die strewe na absolute mag

Gedurende die twintiger- en dertigerjare het daar in Italië, die Sowjetunie en Duitsland ’n nuwe outoritêre regeringsvorm op die wêreldtoneel verskyn, een waarvoor daar ’n nuwe term gesmee moes word om dit raak te beskryf. In hierdie lande het die media onder Staatsbeheer gekom. Die polisie het die dienaars van die heersende politieke party geword en was nie meer dienaars van die volk nie. Propaganda, sensuur, reglementering, geheime polisie wat mense dophou en selfs geweld is gebruik om verset teen te werk. Burgers is gedwing om die regering se amptelike politieke en sosiale ideologie as hulle eie te aanvaar. Met diegene wat geweier het, is daar afgereken asof hulle verraaiers was. Die term “totalitarisme” was gepas—’n staat wat sy eie doelwitte nastreef, in volkome beheer van al sy burgers.

Die Duitse tydskrif Informationen zur politischen Bildung (Inligting vir Politieke Opleiding) wei verder hieroor uit: “In teenstelling met ’n outoritêre bewind, is die staat wat na totale beheer mik nie tevrede met net die oorname van amptelike magsposisies nie. Dit is nie eers gewillig om burgers ’n mate van relatiewe vryheid te gee nie, maar eis te alle tye trou en aktiewe ideologiese ondersteuning van hulle. Hierdie onbeperkte eise verg dat ’n totalitêre staat invloed uitoefen op gebiede wat normaalweg vry van staatsinmenging is, soos die gesin, godsdiens en vrye tyd. Om dit te doen moet die totalitêre staat ’n organisatoriese net uitsprei wat te alle tye oor elke individu toesig kan hou.”

Uit die oogpunt van die Staat en sy belange is totalitêre regering natuurlik uiters doeltreffend. Maar joernalis Charles Krauthammer sê dat dit onmoontlik is om dit te handhaaf. Daar is eenvoudig te veel om te beheer. “Jy kan oor kort tye mense opsluit, selfs skiet”, sê hy, “maar jou koeëls, tronke, energie, selfs jou slagoffers raak naderhand op. . . . Dit is net permanente revolusie wat aan die totalitêre ideaal kan voldoen, en permanente revolusie is onmoontlik. Selfs tirannie moet slaap.”

Veroorsaak deur die ‘massagemeenskap’?

Verskeie teorieë is al aangevoer om te verduidelik waarom outoritarisme, veral in sy uiterste en suksesvolste vorm, totalitarisme, so kenmerkend van die 20ste eeu is. Volgens The World Book Encyclopedia “was die eerste twee derdes van die twintigste eeu ’n tydperk van groot veranderinge—moontlik die vinnigste en omvattendste veranderinge in die hele geskiedenis”. Dit het ongetwyfeld baie bygedra tot die tendens na outoritarisme.

Die bevolkingsontploffing, verstedeliking en tegnologiese vooruitgang is hedendaagse verskynsels wat die sogenoemde massagemeenskap help skep het. Hierdie term beskryf ’n industriële gemeenskap wat gekenmerk word deur groot, gesentraliseerde, burokratiese en onpersoonlike instansies. Dit is ’n gemeenskap waarin menseverhoudinge gewoonlik oppervlakkig en kortstondig is. Dit is ’n gemeenskap waarin daar tussen massas mense eensame individue is wat voortdurend op soek is na hulle identiteit en ’n gemeenskapsgevoel.

In watter mate die massagemeenskap die ontwikkeling van totalitarisme bevorder het, is betwisbaar. Volgens wyle Hannah Arendt, politoloog van Duitse herkoms, was die invloed daarvan aansienlik. Haar boek The Origins of Totalitarianism sê totalitarisme berus, nie op klasse nie, maar op massas mense wat “as gevolg van blote getalle, of onverskilligheid, of ’n kombinasie van albei, nie in enige organisasie met gemeenskaplike belange, in politieke partye of munisipale regerings of professionele organisasies of vakbonde verenig kan word nie”.

Arendt meld ook ander faktore wat tot die opkoms van totalitarisme bygedra het: imperialisme, antisemitisme en die verbrokkeling van die tradisionele nasiestaat.

Imperialisme?

Kort voor die wisseling van die eeu het kolonisasie toegeneem. Britse ekonoom John Atkinson Hobson sê 1884 tot 1914 was ’n tydperk van wat nou die nuwe imperialisme genoem word. Dit was niks anders nie as die outoritêre gebruik van mag deur monargale of demokratiese regerings met die doel om hulle ryke uit te brei. Die oorhand oor ander lande is deur regstreekse verowering of deur indirekte oorheersing van hulle politieke en ekonomiese aangeleenthede verkry. Hobson vertolk imperialisme hoofsaaklik as ’n ekonomiese aangeleentheid. In werklikheid het hierdie nuwe soort kolonialisme dikwels minder te doen gehad met politieke mag as met ekonomiese uitbreiding en met die skepping van nuwe afsetgebiede vir ’n nasie se produkte.

Dít was nêrens meer ooglopend as in wat later die Wedloop om Afrika genoem is nie. Brittanje, Frankryk en Portugal het alreeds in die vroeë 1880’s talle Afrikakolonies besit. Maar toe België en Duitsland afgunstige blikke op Afrika begin werp, was die wedloop aan die gang. Met die uitsondering van Ethiopië en Liberië, was die hele Afrika weldra onder Europese heerskappy. Swartmense in Afrika moes noodgedwonge toekyk terwyl blanke “Christen”-setlaars hulle land onteien.

Die Verenigde State van Amerika het ook ’n imperiale mag geword. In die laat negentiende eeu het hy Alaska, Hawaii, die Filippynse Eilande, Guam en Samoa en ander eilande van die Stille Oseaan, sowel as Puerto Rico en ander Karibiese eilande in besit geneem. ’n Opmerking deur Henry F. Graff, ’n professor in die geskiedenis aan die Universiteit van Columbia, is van meer as verbygaande belang. Hy skryf: “Die bedrywighede van Christensendelinge het net soveel as dié van publisiste tot die opkoms van hedendaagse imperialisme bygedra.” Maar as hierdie sendelinge van die Christendom ware Christene was, sou hulle in die wedloop om Afrika, asook om ander koloniale ryke polities neutraal gebly het, in ooreenstemming met Jesus se woorde: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”—Johannes 17:16; Jakobus 4:4.

Die era van imperialisme het na bewering in 1914 geëindig. Dit is egter nie die geval met sy outoritêre gees nie. Hierdie gees is goed opgesom deur Cecil Rhodes, eerste minister gedurende die 1890’s van wat nou ’n deel van Suid-Afrika is, toe hy gesê het: “Uitbreiding is alles.” Hy was ’n stukrag in die uitbreiding van die Britse Ryk en het eenkeer gespog: “Ek sou die planete annekseer as ek kon.” Hierdie gees van eiebelang motiveer nasies nog steeds om, sover moontlik, die politieke en ekonomiese beleid van ander lande tot hulle eie voordeel te beheer. Omdat Japan gefaal het om die wêreld deur krygsmag te verower, word hy byvoorbeeld soms daarvan beskuldig dat hy nou probeer om dit op ekonomiese gebied te verower.

Is die omverwerping van outoritêre heerskappy die oplossing?

Onbeperkte mag wat deur beginsellose en hebsugtige mense uitgeoefen word, is ’n vloek, nie ’n seën nie. Die woorde van eertydse koning Salomo is gepas: “Kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie.”—Prediker 4:1.

Die “trane van verdruktes” onder outoritêre heerskappy is inderdaad talryk. In sy boek Perestroika van 1987 het Mikhail Gorbatsjof nogtans gewaarsku: “Dit is moontlik om te onderdruk, te dwing, om te koop, te breek of op te blaas, maar net vir ’n beperkte tydperk.” Burgerlikes het gevolglik, ondanks die feit dat mag “aan die kant van hulle verdrukkers” is, herhaaldelik in opstand gekom om die boeie van outoritêre regering te verbreek. ’n Voorbeeld hiervan vind ons in Roemenië, waar die bewind van Nikolae Ceauşescu en sy sekuriteitsmagte, die Securitate, verlede Desember bloedig omvergewerp is.

Die omverwerping van outoritêre heerskappy kan inderdaad verligting bring. Maar dit is ook waar dat “jy eers met ’n nuwe heerser die waarde van die ou een besef”, soos ’n Birmaanse spreekwoord sê. Wie kan waarborg dat dít wat sleg is nie deur iets selfs slegter vervang sal word nie?

Om net een voorbeeld te noem: Die outoritêre heerskappy in een Latyns-Amerikaanse land is omvergewerp. Die bevolking was vol hoop dat toestande sou verbeter, maar het dit? ’n Nuustydskrif het jare later oor die situasie kommentaar gelewer en gesê dat die lewe “niks beter geword het nie, eerder slegter”. Toe die tydskrif oor inflasie gepraat het wat die hoogte inskiet, het dit gesê dat die land se geldstelsel “feitlik waardeloos” is, die land se skandelik ontoereikende gesondheidsdienste betreur en opgemerk dat wanvoeding toegeneem het. Daardie regime se bewind is mettertyd ook beëindig.

Is dit nie alte duidelik dat alle vorme van menseheerskappy ontoereikend is nie? En tog soek mense steeds na die ideale regering. Twee opvallende voorbeelde van die teleurstelling waartoe dit kan lei, en hoe dit hele nasies in die diepste wanhoop kan dompel met “geen trooster” nie, sal in ons volgende nommer bespreek word.

[Prent op bladsy 21]

Rusland onder die tsare was ’n voorbeeld van ’n byna absolute outokrasie

[Erkenning]

Alexander II by Krüger, c. 1855

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel