Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 3—Is ‘regering deur die beste’ werklik die beste?
Aristokrasie: regering deur die adel, ’n bevoorregte minderheid of ’n eliteklas wat beskou word as die geskikste om te regeer; oligargie: regering deur die minderheid, hetsy deur persone of deur families, dikwels vir korrupte en selfsugtige doeleindes.
DIT klink logies dat as die beste mense die regering uitmaak, dit die beste soort regering tot gevolg sal hê. Die beste mense is—volgens die redenasie—beter opgevoed, beter geskool en meer bevoeg en derhalwe bekwamer om ander te lei. ’n Aristokratiese regering wat deur so ’n eliteklas gelei word, kan een van verskeie soorte wees; byvoorbeeld, regering deur die rykes, ’n plutokrasie; regering deur die geestelikes, ’n teokrasie of regering deur amptenare, ’n burokrasie.
Talle primitiewe gemeenskappe, onder die bewind van stamoudstes of -hoofde, was aristokrasieë. Vroeër het Rome, Engeland en Japan, om maar drie te noem, almal aristokratiese regerings gehad. In eertydse Griekeland is die woord “aristokrasie” gebruik met verwysing na die stadstate, of poleis, waarin ’n klein groepie aan die bewind was. ’n Paar vooraanstaande families het dikwels die mag gedeel. Maar soms het net een familie die mag onwettig bekom en ’n tirannieke bewind gevoer.
Athene was oorspronklik, soos ander Griekse stadstate, ’n aristokrasie. Die stad het later, namate kulturele veranderinge die klasseverskille verswak en sy eenheid ontwrig het, demokratiese vorms aangeneem. Daarenteen is Sparta, wat na bewering in die negende eeu v.G.J. gestig is, deur ’n militêre oligargie geregeer. Hierdie stad het spoedig met Athene, wat veel ouer was, meegeding, en albei stede het om opperheerskappy oor die Griekse wêreld van hul tyd geveg. Regering deur die meerderheid, soos in Athene, het dus gebots met regering deur die minderheid, soos in Sparta. Hulle mededinging was natuurlik kompleks, en het meer as net ’n verskil oor regering behels.
’n Edele ideaal verderf
Politieke verskille was dikwels die onderwerp van filosofiese argumente onder Griekse filosowe. Plato se voormalige student Aristoteles het ’n onderskeid tussen aristokrasieë en oligargieë gemaak. Hy het suiwer aristokrasie as ’n goeie regeringsvorm bestempel, ’n edele ideaal wat mense met spesiale vermoëns en hoë sedelike standaarde in staat stel om hulleself ten behoewe van ander aan staatsdiens te wy. Maar as ’n tirannieke en selfsugtige elite aan die hoof van ’n suiwer aristokrasie staan, ontaard dit in ’n onregverdige oligargie. Hy het dit as ’n verdorwe regeringsvorm beskou.
Hoewel Aristoteles regering deur ‘die beste’ voorgestaan het, het hy erken dat as ’n mens aristokrasie met demokrasie verenig dit waarskynlik die gewenste resultaat sal hê. Dit is ’n idee wat steeds ingang vind by party politieke denkers. Trouens, die eertydse Romeine het in werklikheid wel hierdie twee regeringsvorme met ’n mate van sukses verenig. “Politiek [in Rome] was almal se saak”, sê The Collins Atlas of World History. Terselfdertyd “het die rykste burgers en diegene wat gelukkig genoeg was om van hoë afkoms te wees, [nogtans] ’n oligargie gevorm wat die ampte van magistraat, militêre bevelvoerder en priester onder hulself uitgedeel het”.
Europese stadsentrums het selfs laat in die Middeleeue en vroeg in die moderne tyd demokratiese en aristokratiese elemente in hulle regering verenig. Soos Collier’s Encyclopedia sê: “Die uiters konserwatiewe Venesiaanse Republiek, wat uiteindelik deur Napoleon omvergewerp is, voorsien die klassieke voorbeeld van so ’n oligargie; maar die Vrye Stede van die Heilige Romeinse Ryk, die stede van die Hanseverbond, en die vrystede van Engeland en westelike Europa openbaar dieselfde algemene neigings tot streng oligargiese beheer deur ’n betreklik klein maar trotse en hoogs gekultiveerde patrisiaat [aristokrasie].”
Daar is al met ’n mate van geldigheid aangevoer dat alle regerings aristokraties van aard is, aangesien hulle almal daarna streef om die geskikste persone in beheer te hê. Die konsep van ’n heersersklas het hierdie beskouing versterk. ’n Naslaanwerk kom gevolglik tot hierdie slotsom: “Heersersklas en elite word sinonieme uitdrukkings om die werklikheid te beskryf van wat Plato en Aristoteles as ideaal voorgestaan het.”
Op soek na ‘die beste’
Eeue voordat hierdie Griekse filosowe hulle verskyning gemaak het, het ’n feodale gemeenskap (gegrond op here en diensknegte) ’n mate van stabiliteit en vrede aan eertydse China onder die Tsjou-keisers besorg. Maar na 722 v.G.J., gedurende wat die Tsj’oen Tsj’ioe-periode genoem word, het die feodale stelsel geleidelik verswak. Aan die einde van hierdie tydperk het ’n nuwe elite te voorskyn gekom, wat bestaan het uit die vorige “here” wat in feodale huishoudings gedien het en die nageslag van die ou adel. Lede van hierdie nuwe elite het sleutelposte in die regering oorgeneem. Confucius, die beroemde Chinese wysgeer het, volgens The New Encyclopædia Britannica, beklemtoon dat “bekwaamheid en sedelike deug, nie afkoms nie, ’n mens vir leierskap geskik maak”.
Maar die uitkies van die elite, diegene wat die geskikste is om te regeer, het meer as tweeduisend jaar later in Europa min te doen gehad met “bekwaamheid en sedelike deug”. Harvard-professor Carl J. Friedrich sê dat “die elite in aristokratiese Engeland van die agttiende eeu ’n elite was wat hoofsaaklik op bloedafkoms en rykdom gegrond was. Dit was ook in Venisië die geval.” Hy voeg by: “In sommige lande soos agttiende-eeuse Pruise was die elite op bloedafkoms en militêre bekwaamheid gegrond.”
Die idee dat die goeie eienskappe van ‘beter mense’ deur hulle nakomelinge geërf word, verklaar die trougebruike van konings in die verlede. Die idee van biologiese meerderwaardigheid was gedurende die Middeleeue algemeen. Om met ’n nie-adellike te trou was soos om die edelheid van die familiegroep te verdun, ’n skending van goddelike wet. Konings was verplig om net met diegene van adellike afkoms te trou. Hierdie idee van biologiese meerderwaardigheid het later plek gemaak vir ’n meer gerasionaliseerde regverdiging—hulle meerderwaardigheid was die gevolg van beter geleenthede, opvoeding, talente of prestasies.
’n Beginsel bekend as noblesse oblige was veronderstel om die sukses van aristokrasieë te verseker. Dit het gedui op “die verpligting om eerlik, edelmoedig en verantwoordelik op te tree wat met hoë rang of afkoms gepaard gaan”, en beteken letterlik “adeldom lê verpligtinge op”. Weens hulle “meerderwaardigheid” was diegene van adellike afkoms verplig om verantwoordelik in die behoeftes van ander te voorsien. Hierdie beginsel is aangetref in sulke aristokrasieë soos die een in eertydse Sparta, waarvan die krygers verplig was om die belange van ander voor hul eie te stel, en in Japan onder die militêre kaste, die samoerai.
Aristokrasieë te lig bevind
Die gebreke van ’n aristokratiese regering word maklik toegelig. In eertydse Rome kon net persone van hoë afkoms, wat patrisiërs genoem is, in aanmerking kom om lede te wees van die Romeinse Senaat. Die gewone mense, wat plebejers genoem is, kon nie. Maar lede van die Senaat was allermins manne van “bekwaamheid en sedelike deug”, soos Confucius van heersers vereis het; hulle het al hoe korrupter geword en die volk al hoe meer onderdruk. Burgerlike oproer was die gevolg.
Die senatoriale oligargie het ondanks herhaalde hervormingstydperke voortbestaan, ten minste totdat Julius Caesar ’n diktatorskap opgerig het ’n paar jaar voordat hy in 44 v.G.J. vermoor is. Na sy dood is ’n aristokratiese regering weer opgerig, maar teen 29 v.G.J. is dit weer eens vervang. Collier’s Encyclopedia verduidelik: “Terwyl die mag, rykdom en geografiese grootte van Rome toegeneem het, het die aristokrasie ’n korrupte oligargie geword, en sy verlies van burgergees is in ’n verlies van openbare eerbied weerspieël. Toe dit ineenstort, het dit ’n absolute monargie tot gevolg gehad.”
Die daaropvolgende 1200 jaar of wat was aristokratiese regerings, al was hulle in naam monargieë, die Europese norm. Mettertyd het baie politieke, ekonomiese en kulturele veranderinge die stelsel geleidelik verander. Maar dwarsdeur daardie tydperk het die Europese aristokrasie magtig gebly, in staat om grondeiendomme en die wurggreep op militêre ampte te behou, terwyl dit al hoe parasietagtiger, spandabelriger, verwaander en vermaaksugtiger geword het.
In die 1780’s het ’n swaar slag die aristokrasie getref. Toe Louis XVI van Frankryk in geldnood verkeer het, het hy by lede van die Franse aristokrasie gepleit om party van hulle fiskale voorregte te laat vaar. Maar pleks van hom te ondersteun het hulle sy probleme uitgebuit, in die hoop om die monargie te ondermyn en van hulle verlore mag te herwin. “Omdat die aristokrasie ontevrede was met regering van die volk, deur die koning, vir die aristokrasie, wou hulle regering van die volk, deur die aristokrasie, vir die aristokrasie hê”, verduidelik Herman Ausubel, professor in die geskiedenis aan die Columbia-Universiteit. Hierdie gesindheid het die Franse Revolusie van 1789 help ontketen.
Hierdie gebeure in Frankryk het belangrike veranderinge teweeggebring wat ver buite die grense ’n invloed gehad het. Die aristokrasie het sy spesiale voorregte verloor, die feodale stelsel is afgeskaf, en ’n Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger, sowel as ’n grondwet, is aangeneem. Boonop is die mag van die geestelikes deur wetgewing beperk.
Regering deur die minderheid—al is die minderheid as die beste beskou—is deur die meerderheid geweeg en te lig bevind.
‘Die beste’ word uiteindelik gevind
Die blote feit dat ‘die beste’ nie altyd hul naam gestand doen nie, lig een van die hoofgebreke van ’n ‘regering deur die beste’ toe, naamlik, die probleem om vas te stel wie werklik ‘die beste’ is. Om te voldoen aan die vereistes om die geskikste regeerder te wees, is meer nodig as net rykdom, adellike afkoms of militêre vermoë.
Dit is nie moeilik om vas te stel wie die beste dokters, kokke of skoenmakers is nie. Ons kyk net na hulle werk of hulle produkte. “Maar met regering is die situasie nie so maklik nie”, sê professor Friedrich. Die moeilikheid is dat mense verskil oor wat regering moet wees en wat dit moet doen. Die doelwitte van ’n regering verander ook gedurig. Friedrich sê dus: “Dit bly ’n onuitgemaakte saak wie die elite is.”
’n ‘Regering deur die beste’ kan slegs werklik die beste wees as die elite deur iemand met bomenslike kennis en onfeilbare oordeel gekies word. Dié wat gekies word, moet persone van onverbreeklike onkreukbaarheid wees, volkome toegewy aan die onveranderlike doelwitte van hulle regering. Daar moet geen twyfel bestaan oor hulle bereidwilligheid om die welsyn van ander voor hul eie te stel nie.
Die Bybel toon dat Jehovah God presies so ’n klas uitverkies het—sy Seun Jesus Christus en ’n paar van sy getroue navolgers—en hulle aangestel het om duisend jaar lank oor die aarde te regeer (Lukas 9:35, NAV; 2 Thessalonicense 2:13, 14; Openbaring 20:6). Christus en sy medeheersers sal, nie as feilbare mense nie, maar as onfeilbare, onsterflike geesskepsele, seëninge van blywende vrede, veiligheid en geluk op die aarde uitstort en die mensdom tot volmaaktheid herstel. Kan enige menseregering—selfs ’n ‘regering deur die beste’—soveel bied?
[Venster op bladsy 26]
Hedendaagse oligargie
“Oligargiese neigings . . . is in al die groot burokratiese strukture van die moderne politieke stelsels te bespeur. Die toenemende kompleksiteit van die hedendaagse gemeenskap en sy regering plaas al hoe meer mag in die hande van regeerders en gesaghebbende komitees. Selfs in grondwetlike regeringstelsels is geen waarlik bevredigende antwoord gevind op die vraag oor hoe hierdie burokratiese beleidmakers aanspreeklik gehou kan word en hulle mag doeltreffend beperk kan word sonder om die doelmatigheid en redelikheid van die beleidvormende proses terselfdertyd in gevaar te stel nie.”—The New Encyclopædia Britannica.
[Prent op bladsy 25]
Aristoteles het geglo dat ’n kombinasie van aristokrasie en demokrasie die beste regeringsvorm sal voortbring
[Erkenning]
National Archaeological Museum, Athens