Mensheerskappy in die weegskaal
Deel 1b—Het ons werklik regering nodig?
ANARGIE: die afwesigheid van enige vorm van politieke gesag, wat lei tot ’n gemeenskap van individue sonder regering wat algehele vryheid vir hulleself eis.
GRIEKSE filosoof Aristoteles het gesê dat alle vorme van menseregering inherent onstabiel en tydelik is. Volgens een skrywer het hy beweer dat “die stabiliteit van alle regeringstelsels vanweë die vernietigende krag van die tyd afgebreek word”.
Met die oog op sulke toestande is dit nie verbasend dat sommige mense ’n beleid van hoegenaamd geen regering, of ten minste so min regering as moontlik, voorgestaan het nie. Maar die bepleiting van regeringloosheid is in werklikheid ’n aansporing tot anargie, ’n woord wat afgelei is van ’n Griekse woord wat “sonder heerser” beteken.
Pierre-Joseph Proudhon, ’n Franse politieke skrywer, het die woord “anargie” in 1840, presies 150 jaar gelede, gebruik. Maar die Engelsman Gerrard Winstanley het die filosofie van anargisme 200 jaar vroeër duidelik uiteengesit. Soos The New Encyclopœdia Britannica verduidelik, het “Winstanley dít bepaal wat later grondbeginsels onder die anargiste geword het: dat mag tot korrupsie lei; dat eiendom nie met vryheid versoen kan word nie; dat gesag en eiendom saam misdaad voortbring en dat mense net vry en gelukkig kan wees in ’n gemeenskap waar werk en die resultaat daarvan gedeel word en waar hulle volgens hulle gewete kan optree en nie volgens wette wat van bo aan hulle opgedwing word nie”.
Maar het die ondervinding ons nie geleer dat elke groep ’n raamwerk nodig het waarin hulle kan optree nie? “Van die vroegste tye af”, sê The World Book Encyclopedia, “het die een of ander regeringsvorm ’n noodsaaklike deel van elke gemeenskap gevorm.” Dit verduidelik dat “elke groep mense—van ’n gesin tot ’n nasie—gedragsreëls het om die lewe van sy lede te rig”. Hoe anders kan dit sy doelwitte tot voordeel van al sy lede bereik?
Die meeste mense sal dus die gedagte geredelik aanvaar dat sekere instellings die reg het om gesag uit te oefen en besluite tot voordeel van almal te neem. As daar geen regering is om besluite namens die gemeenskap te neem nie, sal elkeen die stem van sy eie gewete moet volg, soos Winstanley voorgestel het. Sal dit eenheid in die hand werk? Of sal elkeen nie eerder geneig wees om sy eie belange na te jaag, dikwels tot nadeel van die ewe regmatige regte van ander nie?
Eksperimente met anargie het nie die mensdom se lewensomstandighede verbeter nie. Die pogings van 20ste-eeuse terroriste om die gemeenskap te destabiliseer, om te vernietig wat hulle meen húlle vernietig, het nie beter gevaar nie.
Regeringloosheid lei eenvoudig tot chaos. Die vraag is dus nie: ‘Regering of regeringloosheid?’ nie maar eerder: ‘Watter soort regering lewer die beste resultate?’
Die oorsprong van menseheerskappy
Heerskappy deur God was die oorspronklike patroon wat meer as sesduisend jaar gelede vir die mens in die tuin van Eden gestel is. Die Skepper het die mensdom se afhanklikheid van hom en van sy leiding in sake benadruk in ooreenstemming met ’n beginsel wat later in die Bybel verwoord is: ‘Dit behoort nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie’ (Jeremia 10:23). Of soos ’n Chinese spreuk sê: “Sonder hulp uit die Hemel kan die mens nie ’n duim loop nie.”
Die eerste mensepaar het anders besluit. Hulle het gekies om “sonder hulp uit die Hemel” te loop en is gevolglik gedwing om uit die Paradys wat God hulle gegee het pad te gee. Later, toe die mensegesin groter geword het, het die behoefte aan wette om vrede en orde binne hierdie reëling te verseker ook groter geword. Toe God se heerskappy verwerp is, het menseheerskappy noodgedwonge oorgeneem om die leemte te vul.—Genesis 3:1-5.
Almal eenders—tog verskillend
Regerings het sedert hierdie ongelukkige begin baie vorme aangeneem. Of hulle nou baie eenvoudig of uiters ingewikkeld is, hulle toon almal sekere ooreenkomste. Hier is ’n paar:
Regerings voorsien in die behoeftes van hulle onderdane. ’n Regering wat dit nie doen nie, verloor sy wettigheid.
Regerings stel ’n gedragskode op, en as hulle onderdane nie daarby bly nie, word hulle gestraf. Hierdie kode bestaan uit reëls en wette sowel as tradisies wat deur die eeue heen ontwikkel het. Burgers gehoorsaam gewoonlik die gedragskode omdat hulle die nut daarvan kan insien, omdat hulle meen dat ‘dit die regte ding is om te doen’, omdat hulle aan portuurdwang onderworpe is of eenvoudig omdat hulle gestraf sal word as hulle dit nie doen nie.
Regerings lewer wetgewende, uitvoerende en geregtelike dienste deur middel van die een of ander organisatoriese stelsel. Wette word gemaak, die reg word toegepas en beleidsrigtings word deurgevoer.
Regerings handhaaf sterk ekonomiese bande met die handelswêreld.
Regerings verbind hulle ook dikwels met die een of ander vorm van godsdiens, sommige hegter as ander. Hulle doen dit om ’n soort wettigheid—‘die hemelse seën’—wat dit andersins nie sou hê nie aan hulle heerskappy te verleen.
Regerings verskil natuurlik ook. Politoloë klassifiseer en kategoriseer hulle op verskeie maniere. “Daar is byvoorbeeld”, skryf The New Encyclopœdia Britannica, “die klassieke onderskeid tussen regerings op grond van die aantal heersers—regering deur een man (monargie of tirannie), regering deur ’n paar (aristokrasie of oligargie) en regering deur baie (demokrasie).”
Regerings word soms op grond van hulle grondinstellings geklassifiseer (parlementarisme, kabinetsregering), volgens hulle grondbeginsels van politieke gesag (tradisioneel, charismaties), volgens hulle ekonomiese struktuur of op grond van hulle gebruik of misbruik van mag. “Hoewel nie een van hierdie ontledingsbeginsels omvattend is nie”, sê hierdie naslaanwerk, “is hulle almal in ’n sekere mate geldig.”
Maar ongeag hoe ons hulle klassifiseer, dit is belangrik om in gedagte te hou dat die verskillende vorme van menseheerskappy—sonder uitsondering—nou geweeg word. Dit sal vir ons almal verreikende gevolge inhou.
[Venster op bladsy 6]
Die apostel Paulus het oor die regeringsmagte wat tot vandag toe regeer, geskryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is” (Romeine 13:1, 7). Christene wat die Bybel se raad volg, gehoorsaam dus getrou al die wette van die land waar hulle woon, behalwe as daar van hulle verwag word om God se wette, die hoogste wet, te verbreek.
[Prent op bladsy 7]
Regering is nodig—net soos verkeersreëling—om chaos te vermy