Van ons lesers
Aanslag op die reënwoude Ek het besluit om die nommer oor reënwoude (22 Maart 1990) aan die Brasiliaanse Instituut vir die Omgewing en Hernieubare Natuurlike Hulpbronne te stuur. Hulle het geantwoord: “Baie dankie dat u ’n eksemplaar van die tydskrif Ontwaak! oor ontbossing aan ons gestuur het. Ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om u vir u inisiatief te prys en wil op die tydskrif se hoë standaard wys, wat beslis sal bydra tot ’n groter ekologiese bewustheid by die gemeenskap.”
C. H. A. S., Brasilië
Voormalige rassis Ek kan julle nie vertel hoeveel ek Virgil Dugué se verhaal “Ek het die wêreld probeer verander” (22 Maart 1990) geniet het nie. Dit het my laat besef wat die gevolge van rassisme is en hoe wreed dit kan wees.
J. N., Verenigde State
New York-stad se moltrein Nadat ek die artikel “’n Rit in die ‘Gat in die grond’” gelees het, voel ek genoodsaak om “Dankie” te sê (22 April 1990). As iemand wat daagliks op die moltrein ry, is dit moeilik om die treinstelsel te beskou vir wat dit werklik is—fassinerend. Terwyl ek vanoggend op pad was werk toe, het ek met ’n heeltemal ander uitkyk die trappe afgeklim en op die trein gestap.
M. H., Verenigde State
Geslane vrouens Ek is ’n vroueslaner wat probeer verander, en die Ontwaak! van 22 November 1988 het my werklik gehelp om te sien hoe laag vroueslanery is. Nadat ek die tydskrif gelees het, het ek in trane uitgebars. My bede is dat dit vir ons gesin iets van die verlede moet wees.
D. S., Verenigde State
Onsekerheid Ek skryf in verband met die artikel “Jongmense vra . . . Waarom voel ek so onseker?” (22 April 1990). Ek is 33 jaar oud, en die artikel het my baie gehelp. My moeder het selfmoord gepleeg toe ek ’n kind was. My vader was ’n alkoholis en het my uitgeskel asook liggaamlik en seksueel mishandel. Hy het ons die heeltyd verkleineer en nutteloos laat voel. As kind het ek gevolglik baie onseker gevoel. Ek voel soms nog onseker, maar glad nie so erg soos voorheen nie. Dit het my ook geweldig gehelp om ’n voltydse evangeliebedienaar te wees, want ek het Jehovah se seëning op my in hierdie werk gesien. En as Jehovah my liefhet, sê ek vir myself, hoef ek nie nutteloos te voel nie.
C. R., Verenigde State
Dit was uiters bemoedigend om te weet dat ander jongmense dieselfde gevoelens koester. Omdat die voorbeelde duidelik en spesifiek was, kon ek dit met my eie situasie vergelyk. Die artikel het ook getoon dat jy nie onmiddellik selfvertroue ontwikkel nie en dat daar moontlik terugslae sal wees. Dit is liefdevolle raad. Wanneer ek hierdie kalmerende woorde sien, skiet my gemoed vol, en is dit moeilik om die trane terug te hou.
C. T., Japan
’n Wêreld sonder vuurwapens Julle onlangse artikels oor vuurwapens (22 Mei 1990) het my ontstel. Die stelling “hoe meer wapens, hoe meer skietery” is versterk deur ’n reeks voorbeelde en aanhalings wat ’n wanbeeld van die ware situasie gee. Julle sê byvoorbeeld dat Switserland die hoogste vuurwapenbesit per persoon in Europa het. Maar nêrens in die artikel word genoem dat Switserland ook een van die laagste misdaad- en moordsyfers in die wêreld het nie! Dit lyk asof ’n mens die kern miskyk as jy vuurwapens blameer vir die probleme wat slegte mense veroorsaak.
K. C., Verenigde State
Ons waardeer hierdie opmerkings. Party van die meer kontroversiële statistieke in ons artikels moes miskien verder verduidelik gewees het. “Ontwaak!” het in elk geval nie ’n standpunt ingeneem teenoor die politieke geskil van vuurwapenbeheer nie, maar het op ’n toekomstige “wêreld sonder vuurwapens” onder God se Koninkryk gewys. Tot dan, word Christene deur die beginsels in Jesaja 2:4 en Mattheüs 26:52 gelei.—RED.