Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 10/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • BYBELBROSJURE IN 192 TALE
  • OORMATIGE GEBRUIK VAN PYNSTILLERS
  • SLIM SET
  • AFRIKA SE OORLOË
  • BABAS VERWEK VIR OFFERANDES
  • NOODLOTTIGE ONGELUK IN MEKKA
  • ’N NUWE BYBEL VIR ARKTIKA
  • DODELIKE MENGSEL
  • NUWE SOWJET-VATIKAANBANDE
  • DIE KRAG VAN WILSKRAG
  • ’N DODELIKE SPEL
  • Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Einde van ’n era—Hoop vir die toekoms?
    Ontwaak!—1996
  • ’n Koninkryk wat op sand, olie en godsdiens gebou is
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 10/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

BYBELBROSJURE IN 192 TALE

Die Guinness Book of World Records sluit die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe wat in 1968 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is in onder sy opskrif “Highest Printings”. Volgens die Guinness-boek is daar teen Mei 1987 106 486 735 eksemplare van die Waarheid-boek in 116 tale gedruk. Maar Jehovah se Getuies het meer onlangs die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! begin versprei. Hierdie brosjure, wat in 1982 deur dieselfde genootskap uitgegee is, is nou in 192 tale beskikbaar, en meer as 60 000 000 eksemplare is al gedruk.

OORMATIGE GEBRUIK VAN PYNSTILLERS

Volgens The Courier Mail het ’n Australiese amptenaar onlangs aangekondig dat ‘Australiërs jaarliks viermiljard pynstillers gebruik’. Die grootste rede tot kommer is dat ’n toenemende aantal skoolkinders, veral meisies, gewoontegebruikers van hierdie verdowingsmiddels word. Die Australiese Onderwysdepartement het die boek Painkillers: A Student Workbook vir verspreiding aan alle staatskole opgestel. Die doel van die boek is “om die gebruik van verdowingsmiddels onder skoolkinders as ’n middel om hulle probleme te verwerk te probeer verminder”, het The Courier Mail gesê. Een geneeskundige het gesê dat “baie meisies grootgeword het met die idee dat hulle ’n pil vir elke ongesteldheid moet drink”. Hy het ook bloedarmoede, hardlywigheid en maagpyn genoem as moontlike newe-effekte van die misbruik van pynstillers. Hy beveel aan dat ’n mens water drink, vroeg gaan slaap, oefening kry, in die vars lug stap en gereeld voedsame maaltye eet as alternatiewe middels teen kopseer en geringe pyne.

SLIM SET

Wil jy ’n beminlike en saggeaarde troeteldier hê? Probeer ’n Oos-Duitse waghond. Sowat 6000 van hierdie honde het die strook tussen Oos- en Wes-Duitsland gepatrolleer. Saam met geëlektrifiseerde draadheinings, landmyne en masjiengewere moes hulle Oos-Duitsers daarvan weerhou om na die Weste te vlug. Dit het gewerk. Georg, ’n Oos-Duitse grenswag, was selfs te bang om tydens sy rondtes naby hulle te loop. “Toe het ek opgemerk dat nie een van hulle eers vir my blaf nie”, het hy gesê. “Dit was alles net ’n bangmakery.” Met ’n verenigde Duitsland in die vooruitsig, is Wes-Duitsers wat die diere as waghonde wou gebruik teleurgestel. “Die meeste van die honde was net afskrikmiddels”, sê Ulrich Karlowski van Wes-Duitsland se Vereniging vir die Beskerming van Diere. “Hulle was opgelei om eenvoudige dinge te doen soos om te sit en te hardloop, nie om mense aan te val nie.”

AFRIKA SE OORLOË

Volgens die koerant Lesotho Today “het daar moontlik oor die afgelope dekade driemiljoen of meer mense as gevolg van Afrika se oorloë gesterf”. Volgens skatting wissel die sterfgevalle in die Ethiopiese Oorlog “tussen 500 000 en eenmiljoen”. Lesotho Today voeg by dat die arm bevolking van die platteland seker die meeste gely het en sê “die oorlog het sowat nege- tot 12 miljoen Afrikane dakloos gelaat, en hulle het vlugtelinge of ontworteldes geword”. Volgens The Star van Johannesburg was daar tot dusver gedurende die burgeroorlog in Mosambiek ’n geskatte lewensverlies van 600 000, waaronder 380 000 kinders. Dit is meer as tien keer die dodetal van Amerikaners in die Viëtnamese Oorlog.

BABAS VERWEK VIR OFFERANDES

Ondersoeke na die beoefening van Satanisme in verskeie dele van Suid-Afrika toon dat dit ’n houvas op al hoe meer jongmense kry. Maar volgens die Saturday Star, ’n Suid-Afrikaanse koerant, “is hele gesinne—vaders, moeders en kinders—” daarby betrokke, en sommige Sataniste is “beroepsmense van aansien in die gemeenskap”. Die polisie ondersoek die gebruike van kindermolestering, verkragting, bestialiteit en die vermoording van babas. Gewese Sataniste het aan die Kaapstadse polisie onthul dat 11 babas die afgelope vyf jaar ritueel vermoor is en dat die babas spesiaal vir offerandes verwek is, het die Saturday Star gesê.

NOODLOTTIGE ONGELUK IN MEKKA

Die stad Mekka in Saoedi-Arabië is jaarliks gasheer vir miljoene Moslempelgrims vanuit alle dele van die wêreld. Hierdie jaar, op 2 Julie 1990, het ’n verskriklike ongeluk hierdie godsdienspelgrimstog bederwe. Volgens The New York Times het Saoediese amptenare berig dat “1426 Moslempelgrims gesterf het in ’n stormloop in ’n voetgangerstonnel wat hierdie stad met ’n tentekamp vir pelgrims verbind”. Volgens berig het die tonnel, wat duisend mense kan hou, tot oorlopens toe vol geraak met sowat 5000 voetgangers. Een getuie het gesê dat buiten diegene wat in die stormloop vertrap is, talle flou neergeval en ander weens ’n tekort aan suurstof gesterf het. Die Times het gesê dat Saoedi-Arabië se koning Fahd van die ongeluk gepraat het as “God se wil, wat bo alles is”.

’N NUWE BYBEL VIR ARKTIKA

Dit is al lank ’n uitdaging om die Bybel in Inuktitut, die taal van die inheemse Inuit-volk in Arktika, te vertaal. Die taal het geen woorde vir skaap, perd of donkie nie, maar dit het 30 woorde vir sneeu. Volgens The Globe and Mail van Toronto, Kanada, is die vertaling wat tans gebruik word 90 jaar oud en wemel dit van verkeerde vertalings en lomp uitdrukkings. Dit vertaal byvoorbeeld die uitdrukking ‘die lam van God’ met “God se spesiale ding wat soos ’n kariboekalf lyk”. Maar die Inuit-volk is nou, danksy satelliettelevisie en onderwys, bekend met meer woorde wat voorheen onbekend aan hulle was. Daar word dus gewerk aan ’n nuwe vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte. Die woord “skaap” sal nou met die Inuit-woord “sheepi” vertaal word, maar “donkie” sal “die ding met groot ore” bly.

DODELIKE MENGSEL

Volgens Paulo Sérgio Fleury, polisiehoof in die Nasionale Dwelmdepartement (Denarc) in Sao Paulo, bevat die “kokaïen” wat aan dwelmgebruikers in Brasilië verkoop word net ongeveer 7,5 persent suiwer kokaïen. Dit kan dodelik wees om verdunde kokaïen te gebruik. Die Brasiliaanse koerant O Estado de S.Paulo het berig dat kokaïen waarop die polisie beslag gelê het, gemeng was met stowwe soos ‘boorsuur (’n gif wat gebruik word om miere en kakkerlakke dood te maak), versiersuiker, ’n middel teen diarree, ’n lokale doofmiddel, natriumchloried (sout), gips en selfs gepoeierde glas’. Gepoeierde glas, selfs al is dit fyngemaak, “kan inwendige barste, snye en wonde in die gebruiker veroorsaak”.

NUWE SOWJET-VATIKAANBANDE

Die ontmoeting tussen pous Johannes Paulus II en die Sowjetpresident Mikhail Gorbatsjof verlede Desember het daartoe gelei dat daar hierdie jaar vir die eerste keer sedert die Russiese Revolusie van 1917 amptelike bande tussen die Vatikaan en die Sowjetunie gesmee is. Die ooreenkoms, wat deur die Vatikaan se woordvoerder Joaquim Navarro as “pre-diplomatieke betrekkinge” beskryf is, vereis dat die Vatikaan ’n verteenwoordiger met die rang van pouslike gesant uitruil vir ’n Sowjetverteenwoordiger met die rang van buitengewone ambassadeur. Volgens berig het Gorbatsjof die pous belowe dat die Sowjetunie godsdiensvryheid sal waarborg.

DIE KRAG VAN WILSKRAG

Navorsers aan die Universiteit van Kalifornië in San Diego in La Jolla het bevind dat wilskrag die lewe onder sekere omstandighede kan verleng. Die navorsers het die sterftesyfer van bejaarde Chinese vroue oor ’n tydperk van 15 jaar bestudeer. Hulle het gevind dat die sterftesyfer in die weke voor die Chinese Oesmaanfees, ’n jaarlikse gebeurtenis waarin die vroue die belangrikste seremoniële rol speel, met 35 persent gedaal het. Gedurende die week na die fees was die sterftesyfer 35 persent hoër as normaal. Dit het ook gegeld vir Joodse mans met betrekking tot die Pasga. Sosioloog David P. Phillips, wat aan die hoof van die navorsing gestaan het, se woorde is in The Boston Globe aangehaal: “Die resultate dui taamlik sterk daarop dat party mense die dood ’n rukkie kan uitstel om ’n geleentheid te bereik wat sielkundig gesproke vir hulle belangrik is.”

’N DODELIKE SPEL

Kinders wat in hoë woonstelblokke in die stad New York woon, het ’n dodelike manier ontdek om sensasie te soek: om bo-op die hysers te ry. Die toertjie is al ten minste 20 jaar lank bekend, maar die polisie sê dat dit toeneem, en dat dit gedurende 1989 tot byna 200 arrestasies en 40 beserings gelei het, dubbel soveel as in 1988. Benewens die feit dat dit grusame beserings veroorsaak, het hierdie spel ook die dood tot gevolg. Een 12-jarige seun het van ’n balk tot op ’n bewegende hyser probeer bolmakiesie slaan en is doodgedruk, net drie weke nadat ’n rolprent wat kinders teen hierdie spel waarsku in dieselfde hyserskag gemaak is. Sommige jeugdiges probeer van die bokant van een bewegende hyser na ’n ander spring. Ander ry aan die onderkant van die hyser deur aan ’n elektriese kabel te hang. Meisies sowel as seuns speel die spel. Volgens woonstelbeamptes doen die kinders dit weens verveeldheid en ’n begeerte om hulle portuurs te beïndruk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel