Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/8 bl. 12-15
  • Einde van ’n era—Hoop vir die toekoms?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Einde van ’n era—Hoop vir die toekoms?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Glasnost en perestroika
  • Kommunisme begin wankel
  • Politieke perestroika lei tot revolusie
  • Die Koue Oorlog word beëindig
  • Onweer in die lug
  • ‘En toe val die muur’
    Ontwaak!—1991
  • Jehovah se Getuies in Oos-Europa
    Ontwaak!—1991
  • Dramatiese Groei
    Ontwaak!—1991
  • Die mens se planne vir internasionale veiligheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/8 bl. 12-15

Einde van ’n era—Hoop vir die toekoms?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

TUSSEN 1987 en 1990 het aardbewings wat 6,9 of hoër op die Richterskaal gemeet het dele van Armenië, China, Ecuador, Iran, die Filippyne en die Verenigde State geskud. Ongeveer 70 000 mense is dood en nog tienduisende is beseer, terwyl honderdduisende dakloos gelaat is. Skade het miljarde rande beloop.

Nogtans het nie een van hierdie aardskuddings so baie mense geskok, of hulle so erg geskok, soos ’n ander aardbewing wat die wêreld op dieselfde tyd geskud het nie. Dit was ’n politieke aardbewing, een wat ’n einde aan ’n era gemaak het. Sodoende het dit die toekoms vir miljoene mense verander.

Wat het tot so ’n uitsonderlike gebeurtenis aanleiding gegee? Wat sou die gevolge daarvan wees?

Glasnost en perestroika

Michail Gorbatjof is op 11 Maart 1985 as Hoofsekretaris van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie aangestel. Sowjetburgers, sowel as die meeste mense wat wêreldgebeure waarneem, het geen groot politieke veranderinge gedurende sy bewind verwag nie.

Minder as ’n jaar later het Arkadi Sjewtjenko, ’n voormalige politieke raadgewer van die Sowjetunie se Minister van Buitelandse Sake, en vyf jaar lank ’n ondersekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, ’n besonder insiggewende opmerking gemaak toe hy geskryf het: “Die USSR is op ’n keerpunt. As dringende ekonomiese en maatskaplike probleme nie in die nabye toekoms opgelos word nie, is verdere verswakking van die land se ekonomiese stelsel onafwendbaar, wat sodoende, op die lange duur, sy hele bestaan bedreig. . . . Gorbatjof het beslis ’n nuwe styl ingestel . . . Maar of sy bestuurderskap ’n nuwe era vir die USSR sal inlei, moet nog gesien word. . . . Hy het te kampe met probleme wat amper onoorkomelik is.”

Gorbatjof se posisie het hom nou die nodige politieke mag gegee om ’n beleid aan die Sowjetgemeenskap bekend te stel waaroor hy al in 1971 gepraat het. Dit was glasnost, wat “openbare inligting” beteken en ’n beleid van amptelike eerlikheid oor Sowjetprobleme verteenwoordig het. Dit het ’n minder geslote gemeenskap vereis, ’n gemeenskap waar Sowjetburgers en die pers meer vrye meningsuiting het. Glasnost het uiteindelik die weg gebaan vir openbare kritiek teen die regering en sommige van sy dade.

’n Ander uitdrukking wat Gorbatjof lank reeds gebruik het, was “perestroika”, ’n woord wat “herstrukturering” beteken. In ’n verhandeling wat in 1982 uitgegee is, het hy gepraat van “die behoefte aan ’n gepaste sielkundige herstrukturering” op die gebied van die landbou.

Nadat Gorbatjof hoof van die Sowjetunie geword het, was hy daarvan oortuig dat daar ook ’n herstrukturering van ekonomiese bestuur moes wees. Hy het geweet dat dit nie maklik uitvoerbaar sou wees nie—miskien selfs onmoontlik tensy dit met politieke verandering gepaardgaan.

Gorbatjof se ywer om die glasnost- en perestroikabeleid deur te voer, het nie beteken dat hy daarop uit was om Kommunisme te vernietig nie. Inteendeel. The Encyclopædia Britannica verduidelik: “Sy doel was om ’n revolusie te begin wat van bo af beheer word. Hy wou nie die Sowjetstelsel ondermyn nie; hy wou dit net doeltreffender maak.”

Die verslapping van beperkings as gevolg van hierdie beleide was ’n bron van onrus onder sommige lede van die Sowjetunie se leierskap. Dieselfde het gegeld vir leiers van sommige van die Oosbloklande. Hoewel baie van hulle die belangrikheid van ekonomiese herstrukturering besef het, het nie almal saamgestem dat politieke veranderinge nodig of wenslik was nie.

Gorbatjof het nietemin sy Oos-Europese bondgenote laat weet dat hulle maar met hulle eie perestroikaprogramme kon eksperimenteer. Intussen het Gorbatjof Bulgarye—en in werklikheid al die ander Oosbloklande ook—gewaarsku dat hervormings wel nodig was, maar dat hulle versigtig moes wees om nie die oorheersende rol van die Kommunistiese Party te laat afneem nie.

Kommunisme begin wankel

Kritiek teen Kommunisme, in die Sowjetunie sowel as in die Oosbloklande, het met die jare toegeneem. Die Hongaarse weekblad HVG (Heti Világgazdaság) het byvoorbeeld al sedert die vroeë tagtigerjare ortodokse Kommunistiese idees op aanvallende wyse in twyfel getrek, hoewel dit nie die Kommunistiese Party self direk gekritiseer het nie.

Solidariteit, die eerste onafhanklike vakbond wat ooit in die Oosblok bestaan het, is in 1980 in Pole gestig. Die oorsprong daarvan kan egter tot 1976 teruggevoer word, toe ’n groep andersdenkendes ’n Komitee vir die Verdediging van Werkers gestig het. Vroeg in 1981 het Solidariteit ’n ledetal van ongeveer tienmiljoen werkers gehad. Die vakbond het hom vir ekonomiese hervormings en vrye verkiesings beywer en by tye sy eise met stakings ondersteun. Die Poolse regering het voor die bedreiging van moontlike Sowjetinmenging geswig en uiteindelik die vakbond ontbind, maar dit het in die geheim voortbestaan. Stakings wat erkenning deur die regering geëis het, het daartoe gelei dat die vakbond in 1989 weer wettig verklaar is. Vrye verkiesings is in Junie 1989 gehou, en baie van Solidariteit se kandidate is verkies. Teen Augustus was daar, vir die eerste keer in amper 40 jaar, ’n nie-Kommunistiese eerste minister in Pole aan die bewind.

Glasnost en perestroika, asook probleme in die Kommunistiese wêreld, was beslis besig om die hele Oosblok te hervorm.

Politieke perestroika lei tot revolusie

“Tot en met Julie 1987”, skryf Martin McCauley van die Universiteit van Londen, “het dit gelyk asof alles verloop soos Michail Gorbatjof dit wou hê.” Selfs nog in Junie 1988, by die 19de Konferensie van die Kommunistiese Party in Moskou, het Gorbatjof glo “uitgebreide maar soms louwarm steun vir sy programme” ontvang. Maar dit was duidelik dat hy probleme ondervind het om die Kommunistiese Party en die Sowjetregering te herstruktureer.

In 1988 het grondwetlike veranderinge dit moontlik gemaak om die bestaande Opperste Sowjet te vervang met die USSR se Kongres vir Volksafgevaardigdes, wie se 2250 lede ’n jaar later in vrye verkiesings verkies is. Hierdie afgevaardigdes het weer onder hulleself ’n tweekamerparlement verkies waarvan elke deel uit 271 lede bestaan het. Boris Jeltsin het ’n vername lid van hierdie parlement geword. Hy het baie gou op perestroika se gebrek aan sukses gewys en die aandag gevestig op hervormings wat hy gemeen het nodig was. Selfs al het Gorbatjof in 1988 president geword, ’n posisie wat hy wou omskep en versterk, het teenstand teen hom dus bly toeneem.

Intussen het die twee supermoonthede, die Sowjetunie en die Verenigde State, groot deurbrake gemaak om militêre magte te verminder en die kernbedreiging te ontlont. Elke ooreenkoms wat gesluit is, het hernieude hoop laat opflikker dat wêreldvrede bereik kon word—in so ’n mate dat die skrywer John Elson in September 1989 gesê het: “Die laaste dae van die tagtigerjare dui, vir baie kommentators, op ’n einde aan die wapenstryd. Die koue oorlog is blykbaar amper verby; dit lyk asof vrede in baie wêrelddele gesluit word.”

En toe breek 9 November 1989 aan. Hoewel die Berlynse Muur fisies nog gestaan het, is dit, ná amper 28 jaar, oopgestel en was dit skielik nie meer ’n simboliese versperring tussen die Ooste en die Weste nie. Een na die ander, vinnig ná mekaar, het die nasies van Oos-Europa sosialistiese heerskappy verwerp. In sy boek Death of the Dark Hero—Eastern Europe, 1987-90 het David Selbourne daarvan gepraat as “een van die allergrootste geskiedkundige revolusies: ’n demokratiese, en hoofsaaklik anti-sosialistiese revolusie, waarvan die gevolge sal voortduur lank nadat die akteurs, en toeskouers, van die toneel af verdwyn het”.

Nadat die vreedsame revolusie sy hoogtepunt bereik het, was dit gou verby. ’n Kennisgewing in Praag, Tsjeggo-Slowakye, het dit so opgesom: “Pole—10 jaar; Hongarye—10 maande; Oos-Duitsland—10 weke; Tsjeggo-Slowakye—10 dae. En toe, ná ’n week van afgryslikhede, Roemenië—10 uur.”

Die Koue Oorlog word beëindig

Die skrywer Selbourne sê: “Die patroon van die ineenstorting van die Oos-Europese stelsel was merkwaardig konstant.” Dan voeg hy by: “Die katalisator was beslis Gorbatjof se bewindsaanvaarding in Maart 1985 in Moskou en sy beëindiging van die ‘Brezjnef-leer’, wat die Oos-Europese regimes die lewensbelangrike versekering van Sowjetbystand en -ingryping in die geval van ’n gewone opstand ontneem het.”

The New Encyclopædia Britannica noem Gorbatjof “die allerbelangrikste baanbreker van ’n reeks gebeure aan die einde van 1989 en 1990 wat die politieke struktuur van Europa verander het en die begin van die einde van die Koue Oorlog gekenmerk het”.

Gorbatjof kon natuurlik nie die Koue Oorlog alleen beëindig het nie. As aanduiding van wat kort daarna sou volg, het die Britse eerste minister Margaret Thatcher ná hulle eerste ontmoeting gesê: “Ek hou van mnr. Gorbatjof. Ons kan goed saamwerk.” Verder het die unieke verhouding tussen mev. Thatcher en Amerika se president Reagan haar in staat gestel om hom te oortuig dat dit verstandig sou wees om met Gorbatjof saam te werk. Gail Sheehy, skryfster van die boek Gorbachev—The Making of the Man Who Shook the World, sê: “Mev. Thatcher kan haarself gelukwens dat sy, ‘in die ware sin van die woord, die pleegmoeder van die Reagan-Gorbatjof-verhouding’ is.”

Soos al dikwels in die geskiedenis gebeur het, was die regte mense op die regte tyd aan bewind om veranderinge aan te bring wat andersins miskien nooit sou plaasgevind het nie.

Onweer in die lug

Onderwyl die Ooste en die Weste hulle oor die beëindiging van die Koue Oorlog verheug het, was daar op ander plekke onweer in die lug. In 1988 het die wêreld hom nie juis gesteur aan berigte uit Afrika dat ’n hele paar duisend mense in Burundi in ’n vlaag van etniese geweld doodgemaak is nie. En in April 1989 is daar ook nie veel aandag geskenk aan berigte uit Joego-Slawië dat die ergste etniese geweld sedert 1945 daar uitgebreek het nie. Intussen het die groter vryheid in die Sowjetunie tot wydverspreide onrus begin lei. Sommige van die republieke het selfs pogings aangewend om onafhanklikheid te verkry.

In Augustus 1990 het Irakse troepe Koeweit ingeval en dit binne 12 uur verower. Terwyl Duitsers, minder as ’n jaar ná die val van die Berlynse Muur, die Duitse eenwording gevier het, het Irak se president gespog: “Koeweit behoort aan Irak, en ons sal dit nooit afstaan nie, selfs al moet ons 1000 jaar lank daaroor veg.” In November het die Verenigde Nasies ingegryp en met militêre optrede gedreig as Irak hom nie aan Koeweit onttrek nie. Die wêreld het weer eens op die rantjie van ’n moontlike ramp gestaan, en die beheer oor olievoorrade was die basiese geskil.

Sou die hoop op vrede en veiligheid wat aan die einde van die Koue Oorlog opgeflikker het, verdwyn nog voordat dit vervul is? Jy kan in ons volgende nommer in die artikel “Die ‘Nuwe Wêreldorde’—’n swak begin” hieroor lees.

[Prent op bladsy 15]

Die Berlynse Muur was skielik nie meer ’n simboliese versperring tussen die Ooste en die Weste nie

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Gorbatjof (links) en Reagan: Robert/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel