Van ons lesers
Grimering Ek werk as ’n grimeerder en het die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek grimering reg gebruik?” (22 Junie 1990) baie akkuraat en insiggewend gevind. Wat die gevaar van bakteriologiese besmetting van winkelmonsters betref, is een verstandige voorsorgmaatreël om by ’n winkel met ’n goeie naam te koop. Sulke winkels het gewoonlik goed opgeleide personeel wat hard werk om hulle monsterhouers skoon en aantreklik vir klante te hou. Jy moet ook daarop aandring dat weggooi-aanwenders, soos wattepluisies of watteballetjies, gebruik word. Lipstiffies moet voor gebruik met alkohol skoongemaak word. Grimeerkwassies moet eers met ’n skoonmaakmiddel skoongemaak word. Oogpotlode moet voor elke gebruik skerp gemaak word. Jy kan ook die volgende klant in aanmerking neem deur nie jou vingers in enige van die produkte te druk nie.
C. H., Verenigde State
Vuurwapens Ek is gebelg oor julle verwronge uitbeelding van vuurwapens in die nommer van 22 Mei 1990. So ’n eensydige, negatiewe uitbeelding van lewelose dinge is belaglik. Vuurwapens is nie inherent goed of sleg nie; en die maak, verkoop of besit daarvan is ook nie.
J. P., Verenigde State
My oom het sy vrou in ’n motorongeluk verloor en drie maande lank straf gedrink. Uiteindelik het hy homself in die badkamer toegesluit en homself geskiet. Ek hoop dat mense wat die artikel lees, sal stilstaan en dink of dit die moeite werd is om ’n vuurwapen te besit.
M. C. A., Brasilië
Hoewel ek moet erken dat ek nog altyd ’n vuurwapen wou hê, het dit my verplig om, toe ek deur daardie bladsye gelees het, my af te vra of dit nog die moeite werd is om aan te hou spaar daarvoor.
D. M., Engeland
Katolieke verdeeldheid Ek was geskok oor julle nommer van 22 Junie 1990! Was dit nodig om ons gekruisigde Verlosser in twee gedeel te toon?
D. L. A., Verenigde State
Ons het nie bedoel om oneerbiedig teenoor Christus te wees nie. Die kruis word algemeen as simbool van die Katolieke Kerk self gebruik. Die foto het dus gehelp om die betreurenswaardige verdeeldheid in Katolisisme voor te stel. Interessant genoeg, toe die apostel Paulus die sektegees onder Christene in Korinthe veroordeel het, het hy hierdie aanskoulike illustrasie gebruik: “Is Christus verdeel?” (1 Korinthiërs 1:13).—RED.
Veels geluk. Die artikel was goed nagevors, interessant geskryf en nie-veroordelend. Julle sal my nooit tot julle godsdiens bekeer nie, maar julle artikel was insiggewend en leersaam.
V. O., Verenigde State
Epilepsie Ek moet my diepe dankbaarheid uitspreek vir die artikel oor epilepsie! (22 Junie 1990). Wat ’n verligting was dit tog om te besef dat ek nie die enigste een is wat aan epilepsie ly nie. Ek was so vreeslik depressief dat ek van plan was om ’n einde aan alles te maak. Die artikel het net betyds verskyn. Dit het getoon dat daar hoop is op ’n toekoms sonder siekte.
N. P., Bondsrepubliek Duitsland
Dierenavorsing Ek het julle artikel baie waardeer (8 Julie 1990). Ek het geweet dat daar met diere geëksperimenteer word, maar ek sou nooit kon dink dat hulle in die ontwikkeling van skoonheidsmiddels, sjampoes en reinigingsmiddels gebruik word nie! Ek wag gretig op die tyd wanneer sulke misbruike sal ophou.
R. M., Italië