Wanneer kanker geheim gehou word
EEN dag in Mei 1987 het ek die Ontwaak! se nommer van 8 Junie geneem en die rubriek “Van ons lesers” begin lees. Ek het onmiddellik ’n brief uit Japan gesien wat gesê het:
“Ons wil julle bedank vir die artikels oor kanker wat julle uitgegee het (8 Oktober en 22 Oktober 1986). Verlede jaar is daar skielik gediagnoseer dat ons dogter, wat nooit in 16 jaar een dag siek was nie, tuberkulose het en is sy ses maande lank in die hospitaal gehou. Aangesien geen tuberkelbasille teenwoordig was nie, is sy toe uit die hospitaal ontslaan.”
‘Verbasend!’ het ek gedink. ‘Daar is ’n meisie wat dieselfde ondervinding as ek gehad het.’ Ek het verder gelees:
“Maar die volgende maand het ons uitgevind dat sy kanker van die skildklier het en dat die kanker na haar longe versprei het. Sy het onmiddellik ’n operasie ondergaan om haar skildklier en omliggende limfkliere te verwyder, en ’n deel van haar longe is verwyder. Sy kry nou kobaltbehandeling.”
Ek het dieselfde operasie ondergaan. Ek het agterdogtig geraak. ‘Praat dit dalk van my?’ het ek gewonder. ‘Maar ek het nie kanker nie, het ek?’ My hart het in my keel geklop terwyl my oë oor die res van die brief gejaag het:
“Haar operasie was suksesvol, en sy lei ’n normale lewe. Maar as ouers was ons voortdurend besorg en bekommerd oor wat ons moes doen om ons dogter te help. Deur julle artikels is ons gerusgestel en het ons ons gemoedsrus herwin. Die artikels het goeie leiding voorsien oor hoe ons ons dogter in die toekoms kan aanmoedig.—H. K., Japan.”
Maar dit is dan Pa se voorletters! Is ek dan hierdie meisie? Ek het na my ma gehardloop. “Jy het besef dat dit van jou praat, né?” het sy gesê en geglimlag. Sy het hard probeer om my gesigsuitdrukking te peil. Dit is hoe ek uitgevind het dat ek kanker het.
Waarom ek nie vroeër ingelig is nie?
In Japan is dit nie gebruiklik om ’n pasiënt te vertel wanneer kanker gediagnoseer word nie. My dokters het my ouers aangesê om daardie beleid te volg. Ma was in werklikheid ten gunste daarvan om my te vertel, maar Pa was dit nie daarmee eens nie. Hy was bekommerd dat ek moontlik wanhopig sou raak en was dus huiwerig. Hulle was derhalwe onseker of hulle my van die siekte moes vertel of nie.
Toe verskyn ’n reeks artikels oor kanker in die Ontwaak! se nommers van 8 en 22 Oktober 1986. Nadat hulle dit gelees het, het my ouers besluit dat hulle my, as die geleentheid hom voordoen, moet vertel dat ek kanker het. Maar my pa het eers ’n brief van waardering vir die artikels aan die Wagtoringgenootskap in Japan gestuur. Toe sy brief in die Ontwaak! gepubliseer is, het my ouers gevoel dat dit deur Jehovah, die God van die Bybel, se toedoen gebeur het. Dit was ’n taktvolle manier om my van my kanker in kennis te stel, aangesien die verbasing om my pa se brief te sien op daardie oomblik alle ander emosies op die agtergrond geskuif het.
Ek het nie angsgevoelens ervaar nie, want ek glo opreg wat die Bybel aangaande die toestand van die dode leer. Dit sê dat hulle ‘glad niks weet nie’ (Prediker 9:5). Ek vertrou ook die Bybel se belofte dat “almal wat in die grafte is” ’n opstanding sal kry.—Johannes 5:28, 29.
Wat my daarenteen neerslagtig gemaak het, was die gedagte: ‘As ek sterf, hoe eensaam sal my ouers tog wees terwyl hulle op my opstanding wag.’ Ek is hulle enigste kind. ‘Jehovah sal my ouers beslis deur hulle jare van eensaamheid dra’, het ek geredeneer en van hierdie neerdrukkende gedagte vergeet.
Ingehok in ’n hospitaal
In April 1985, net twee jaar voor ek die Ontwaak! met my pa se brief gelees het, is ek hoërskool toe. Ek was net 15. Ek het in Mei, na ’n fisiese roetineondersoek, ’n kennisgewing ontvang wat gesê het: “Brongiëktase—Moet deeglik ondersoek word.”
Hoewel ek gedink het dat daar niks met my verkeerd was nie, het die groot woord my tot nadenke gestem. Ek het nog nooit ’n ernstige siekte gehad nie, en almal het my as ’n gesonde meisie beskou. Ek het nietemin na ’n plaaslike hospitaal gegaan vir ’n deeglike ondersoek. Hulle het daar gediagnoseer dat ek tuberkulose het en ek is dadelik in die hospitaal opgeneem.
Die lewe in die tuberkulosesaal was allesbehalwe aangenaam. Ek kon ses maande lank geen besoekers, behalwe my ouers, van buite die hospitaal ontvang nie. Briewe van Christenvriende en bandopnames van Christenvergaderinge het my versterk en gehelp om my neerslagtigheid te beveg. Daarbenewens het die feit dat ek die Wagtoringgenootskap se publikasies gelees het ook voorkom dat ek net aan myself dink. Maar bowenal het ’n persoonlike verhouding met God my gehelp om ’n positiewe beskouing te behou.
My besluit om God te dien
My ouers het die Bybel begin studeer toe ek vier maande oud was, en hulle het my van kleins af geleer om Bybelleerstellings as die waarheid te aanvaar. Toe ek ouer word, het ek danksy my ouers se opleiding my verhouding met Jehovah begin koester en uit eie aandrif my geloof in hom opgebou. Ek het my aan Jehovah toegewy en my toewyding op 4 Desember 1982, toe ek 13 jaar oud was, deur waterdoop gesimboliseer.
Wel, na byna ses maande in die hospitaal is ek in Oktober 1985 ontslaan. Ek het die eerste keer in my lewe besef hoe wonderlik dit is wanneer ’n mens vryelik kan rondbeweeg. Om my dankbaarheid te toon, het ek besluit om as tydelike voltydse bedienaar, of hulppionier, te dien. Ek het dus in November sowel as Desember 60 uur aan die Christenvrywilligerdiens bestee. In Desember het ek egter gehoor dat ek weer hospitaal toe moes gaan sodat ek ’n skildklieroperasie kon ondergaan. Net die gedagte aan die ingehoktheid het my laat huil.
Die bloedkwessie
God se Woord beveel Christene om hulle te “onthou . . . van bloed”, en as ’n toegewyde kneg van Jehovah wou ek alles doen om hom te behaag (Handelinge 15:29). Aangesien hulle my sou opereer, het ek met my dokter gepraat en verduidelik waarom ek nie bloedoortappings kon aanvaar nie. Hy het my standpunt gerespekteer en my gesê om my nie daaroor te bekommer nie.
Maar die dag voor die operasie is ek in ’n hospitaalvertrek ingebring waar daar meer as twaalf dokters op my gewag het. Hierdie chirurge, wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, sou tydens my operasie teenwoordig wees. My hart het vinniger geklop omdat ek voor soveel beroepsmense moes verskyn.
“Ons wil graag môre se operasie met jou bespreek”, het die dokter wat in beheer was, gesê. “Ons gaan na jou longe en jou skildklier kyk. Nou, na aanleiding van wat jy oor bloedoortappings gesê het, is jy seker jy wil hê ons moet presies doen wat jy gesê het selfs as daar ’n onvoorsiene noodsituasie opduik?”
“Ja, ek is baie seker”, het ek geantwoord terwyl die dokters met gespanne aandag geluister het. “Doen asseblief wat ek gevra het.”
Toe het party vrae begin vra, soos: “Waarom wil jy nie bloedoortappings aanvaar nie?” “Is dit werklik hoe jy voel?” Hulle het almal beleef geluister terwyl ek hulle vrae geantwoord het. My aanvanklike spanning het geleidelik verdwyn, en ek het verduidelik hoe dit gekom het dat ek God se beskouing van bloed aanvaar het. Ek het dit ook duidelik gestel dat dit my eie waardering vir God se wet is, en nie enige druk van my ouers nie, wat my beweeg het om ’n operasie sonder bloed te vra. Die dokters het my standpunt vriendelik gerespekteer en gesê ek moet my nie bekommer nie aangesien hulle baie goed vir die operasie sal voorberei.
Die operasie en kobaltbehandeling
Die operasie het behels dat hulle my nek oopsny en die skildklier, die limfkliere en ’n deel van die longe verwyder. Die dokters het ontdek dat wat hulle aanvanklik as tuberkulose gediagnoseer het in werklikheid kankergroeisels was wat van die skildklier af versprei het. Maar ek is nooit gesê dat die operasie aan die lig gebring het dat ek kanker het nie.
Aangesien die dokters gedurende die operasie aan my stembande geraak het, het hulle my ouers gewaarsku dat ek moontlik nog ’n operasie sou moes ondergaan om te kon praat. Die dokters en my ouers was dus in die wolke toe ek my bewussyn herwin en vra: “Julle het nie bloed gebruik nie, het julle?”
Danksy die dokters se opregte pogings was die operasie ’n sukses en het ek ’n rein Christengewete behou. Die dokters het egter vir my ouers gesê: ‘Sy kan miskien nog net vier jaar lewe. Sy kan selfs binne ’n jaar sterf. Sy sal uiteindelik sukkel om asem te haal en sy sal in pyn sterf. Van nou af sal sy gewig verloor ongeag hoeveel sy eet. Berei julleself asseblief op sulke gevolge voor.’ Ek het natuurlik niks van hierdie verskriklike prognose geweet nie. Maar my ouers was geskok en hulle was geweldig hartseer.
Na die operasie in Januarie 1986 is ek in Februarie en weer in November daardie selfde jaar vir kobaltbehandelings in die hospitaal opgeneem. Die dokter wat in die vertrek ingekom het waar hulle my behandel het, het ’n spesiale voorskoot en handskoene vir beskerming aangehad. Hy het twee kapsules uit ’n klein, ronde metaalhouer gehaal en hulle vir my gegee om te sluk. Ek het radioaktiewe materiaal opgeneem wat inwendig sou werk. Ek het dus radioaktiewe strale uitgestraal en moes gevolglik elke keer ’n week lank in ’n private kamer bly. Buiten die verpleegsters wat my kos gebring het, was ek van alle kontak van buite afgesny.
Ek moet sê, ek was verbaas om al die omslagtige voorbereidsels te sien en die erns van die behandeling het my opgeval. Maar, soos gebruiklik in Japan, het die feit dat ek kanker het vir my ’n goed bewaarde geheim gebly.
Aangesien die vertrek half ondergronds was en ’n afsluiting gebou is om te keer dat straling ontsnap, kon ek nie veel deur die vensters sien nie. Hoe hartverblydend was dit tog wanneer Christenvriende kom besoek aflê het en vir my gewaai het! Ek het hulle liefde aangevoel, en dit het my gedurende my afsondering krag gegee.
Ek verwesenlik my lewensdoel
Terwyl ek kobaltbehandeling ontvang het, het ’n verpleegster my gevra wat my so blymoedig gehou het. Ek het haar vertel dat ’n studie van die Bybel my gemoedsrus gegee het (Psalm 41:4). Hierdie gesprek het haar belangstelling gewek, en sy het die Bybel begin studeer.
Dit het my nog altyd gelukkig gemaak om met ander oor my God te praat. Dit was dus van kleins af my doel om ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies te word. Om daardie doel te bereik, moes ek my skoolwerk en bediening met my stryd teen kanker balanseer. Hoe bly was ek tog toe ek as gewone pionier in die voltydse bediening aangestel is net nadat ek my skoolloopbaan in Maart 1988 voltooi het!
My siekte is natuurlik nie volkome genees nie. Hoewel ek nie nou besonder swak voel nie, moet ek van tyd tot tyd vir roetineondersoeke in die hospitaal opgeneem word. Maar ek kan selfs in die hospitaal met dokters, verpleegsters en mede-pasiënte praat oor die hoop wat God op ewige lewe in ’n nuwe wêreld bied.—Openbaring 21:3, 4.
’n Hospitaalwerker het eenkeer vir my ouers gesê: “Met haar longe wat so erg aangetas is, behoort sy te hyg en na asem te snak, dit behoort seer te wees wanneer sy asemhaal en sy moet net rondsit en niks doen nie. Maar Rie hardloop rond. Ek kan dit nie verstaan nie. Is dit julle godsdiens wat haar so aktief en blymoedig maak?”
Ek het inderdaad ’n geheim wat my krag gee sodat ek nie ontmoedig raak nie. Dit is my verhouding met Jehovah God. Hy gee my krag sodat ek nie voor my siekte swig nie (Filippense 4:13). Dit is waarom ek, hoewel ek kanker het, my gemoedsrus behou en nie hoop opgee nie. Ek sal natuurlik graag wil lewe tot in die nuwe wêreld waarvan Jehovah die Skepper is en waar “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Maar wat ook al gebeur, selfs al sterf ek, vertrou ek dat Jehovah my nie sal vergeet as ek hom bly behaag nie.—Soos vertel deur Rie Kinosjita.
[Prent op bladsy 23]
Ek dien sedert Maart 1988 as voltydse bedienaar