Die T-selle en B-selle op tegnikon
DIE T-selle en B-selle kan nie sommer direk nadat hulle uit die beenmurg gekom het tot die stryd toetree nie. Hulle wapentuig is hipermodern. Hipertegnologiese opleiding is gebiedend voordat hulle die slagveld betree. Die T-selle sal by biologiese oorlogvoering betrokke wees. B-selle sal spesialiseer in geleide missiele. Hiervoor ontvang hulle hulle opleiding in die tegnikons van die immuunstelsel.
Die helfte van die miljoene limfosiete wat elke minuut in die beenmurg geproduseer word, gaan derhalwe na die timusklier—’n kliertjie wat agter die borsbeen geleë is—vir hulle opleiding as T-selle. Hieroor sê die boek The Body Victorious: “Die limfosiete wat die tegnikons van die timus bywoon, is die helper-, demper- en moordselle, wat bekend staan as T-limfosiete (of T-selle). Hulle tel onder die onmisbaarste gewapende magte van die immuunstelsel.”
Teenliggaampies—10 000 per sel per sekonde!
Volgens die boek The Body Victorious is die ander “helfte van die ongeskoolde limfosiete” B-selle wat vir opleiding na die limfnodes en verwante weefsel gaan om daar te leer om geleide missiele, genaamd teenliggaampies, te vervaardig en te lanseer. Wanneer die B-selle “in hierdie weefsels saamtrek, is hulle soos onbeskrewe bladsye: hulle weet niks nie en moet van nuuts af leer” om “die vermoë te ontwikkel om spesifiek te reageer teen stowwe wat vir die liggaam vreemd is”. In die limfnodes “vermenigvuldig en differensieer” ’n volwasse B-sel, wat deur die helper-T-selle en verwante antigeen geaktiveer is, “om plasmaselle te vorm wat identiese teenliggaampies met ’n enkele spesifisiteit afskei teen ’n tempo van sowat 10 000 molekules per sel per sekonde”.—Immunology.
Om ons te help begryp wat die omvang van die immuunstelsel se werksaamhede is, verskaf ’n artikel in die National Geographic van Junie 1986 die volgende besonderhede oor die probleem waarmee die timusklier te kampe het: “Namate die T-selle in die timus tot volwassenheid groei, leer die een op die een of ander manier om die antigene van byvoorbeeld die hepatitisvirus te herken, ’n ander om ’n griepantigeenstam uit te ken, ’n derde om rinovirus 14 [’n verkouevirus] op te spoor, en so voorts.” Nadat dit kommentaar gelewer het op die “verstommende taak waarmee die timus te kampe het”, sê die artikel dat “antigene in honderdmiljoene verskillende vorms” in die natuur voorkom. “Die timus moet ’n groep T-selle voortbring wat elkeen van hulle herken. . . . Die timus laat tienmiljoene T-selle uitstroom. Hoewel slegs enkeles ’n bepaalde antigeen kan herken, is die gesamentlike verkenningsmag groot genoeg om die bykans onbeperkte verskeidenheid antigene wat deur die natuur voortgebring word te identifiseer.”
Onderwyl party van die helper-T-selle die makrofage gestimuleer het om te vermenigvuldig, het ander in die limfnodes met die B-selle daarin gebind, sodat ook hulle vermenigvuldig het. Baie van hulle word plasmaselle. Die regte reseptors om met die B-selle te bind en hulle plasmaselle te laat produseer, moet weer eens op die helper-T-selle voorkom. Dit is hierdie plasmaselle wat duisende teenliggaampies per sekonde begin produseer.
Aangesien elke plasmasel slegs ’n sekere soort teenliggaampie vervaardig, waarvan die reseptor spesifiek vir slegs een siekteantigeen is, is daar spoedig miljarde in die voorste linie wat hulle toespits op die antigene van een spesifieke siekte. Hulle bind hulle aan die indringers en vertraag hulle, sodat hulle saampak en aanlokliker happies word vir die fagosiete om te verorber. Hierdie proses, tesame met die vrystelling van sekere chemikalieë deur die T-selle, sweep die makrofage so op dat hulle niks anders wil doen as invallers vernietig nie, wat tot gevolg het dat hulle miljoene van die invallende mikroörganismes verorber.
Hierbenewens kan die teenliggaampies self ook die dood van hierdie mikroörganismes veroorsaak. Wanneer hulle hulle aan die oppervlakantigene daarvan gebind het, pak spesiale proteïenmolekules wat as komplementfaktore bekend staan, op die kiem saam. Wanneer die nodige aantal komplementfaktore teenwoordig is, penetreer hulle die membraan van die mikroorganisme, vloei vloeistof daarin en bars en sterf die sel.
Hierdie teenliggaampies moet natuurlik ook die regte reseptors hê wat hulle aan die indringers kan bind. In hierdie verband sê die Encyclopædia Britannica se 1989 Medical and Health Annual, bladsy 278, dat B-selle in staat is “om tussen 100 miljoen en eenmiljard verskillende teenliggaampies te produseer”.
Moord-T-selle en hulle biologiese oorlogvoering
Teen dié tyd het die helper-T-selle al miljoene aasvretermakrofage gewerf om die vyand te verorber en ook die B-selle met hulle teenliggaampies gestimuleer om die indringers die stryd aan te sê, maar daar is ook nog ander magte wat deur die helper-T-selle vir die stryd opgeroep word. Die helper-T-selle monster miljoene van die dodelikste vegters om in die stryd te tree—die moord-T-selle.
Die virusse, bakterieë en parasiete se oogmerk is om die liggaamselle binne te dring, want as hulle eers daar is, is hulle veilig teen die makrofage en die B-selle en dié se teenliggaampies—maar nie teen die moord-T-selle nie! Selfs al skuur ’n besmette sel net liggies teen ’n moord-T-sel sal die moord-T-sel die besmette sel met dodelike proteïene vol gate skiet, sy DNA vernietig en sy inhoud in die dood uitstort. Op hierdie wyse kan moord-T-selle selfs mutantselle en selle wat kankeragtig geword het, aanval en vernietig.
Buiten die moord-T-selle is daar ook ander moordselle in die wapentuig van die immuunstelsel, naamlik natuurlike moordselle. Anders as T- en B-selle hoef hierdie natuurlike moordselle nie deur ’n spesifieke antigeen geaktiveer te word nie. Kankerselle en selle wat deur ander virusse binnegedring is, is kwesbaar vir hulle aanvalle. Maar hulle teikens is moontlik nie beperk tot virusse nie. Die Scientific American vir Januarie 1988 sê dat hulle “hoofteikens vermoedelik gewasselle is en moontlik ook selle wat deur ander agentia as virusse besmet is”.
Hoe kom hierdie siektebestryders met die indringende mikroörganismes in aanraking? Is dit blote toevalligheid? Nee. Niks word aan die toeval oorgelaat nie. Siekteantigene en T-selle, B-selle, fagosiete en teenliggaampies sirkuleer deur middel van die bloedstroom en limfatiese stelsel deur die liggaam. Die sekondêre limfoïede organe, soos die limfnodes, milt, mangels, adenoïede, spesialiseringsweefsel in die dunderm en die blindederm, is dele waar immuunreaksies geïnisieer word. Die limfnodes speel ’n belangrike rol. Limf is die vloeistof wat ons weefselselle baai. Dit ontstaan in daardie weefsel, versamel in dunwandige vate en vloei na die limfnodes, beweeg dan deur die res van die limfatiese stelsel en voltooi uiteindelik die kringloop wanneer dit in die groot are inloop wat na die hart lei.
Wanneer die siekteantigene deur die limfnodes beweeg, word hulle filtreer en vasgevang. Dit duur 24 uur voordat die siektebestryders van die immuunstelsel die hele limfatiese kringloop voltooi het, waarvan hulle 6 uur in die limfnodes deurbring. Dáár kom hulle in aanraking met die vasgevangde invallende antigene, en dit lei tot groot gevegte. Vyandelike antigene wat deur die bloedstroom beweeg, ontsnap ook nie. Hulle word na die milt gekanaliseer, waar siektebestryders wag om hulle te konfronteer.
Nou is die inwendige oorlog verby. Die invallende magte is oorwin. Die immuunstelsel met sy minstens eenbiljoen wit bloedselle het gewen. ’n Ander kategorie T-selle, naamlik die demper-T-selle, neem nou die beheer oor. Wanneer hulle sien dat die oorlog gewen is, staak hulle die geveg en roep hulle die vegtende magte van die immuunstelsel terug.
Geheueselle en immuniteit, met komplikasies
Teen hierdie tyd het die B-selle en T-selle ook ’n ander noodsaaklike diens verrig: Hulle het geheueselle voortgebring wat etlike jare—in party gevalle lewenslank—in die bloedstroom en die limfvate sal sirkuleer. As jy ooit besmet sou word met dieselfde soort griep- of verkouevirus, of enige ander vreemde element wat die liggaam in die verlede aangeval het, sal hierdie geheueselle dit dadelik opmerk en die immuunstelsel gereedmaak vir ’n vinnige en oorweldigende aanval. Die geheueselle sal vinnig ’n vloedgolf van die bepaalde B-selle en T-selle produseer wat die eerste aanval deur hierdie spesifieke aanvaller afgeweer het. Die nuwe inval word dan onderdruk voordat die aanvallers ’n vastrapplek kan kry. Wat oorspronklik drie weke kon duur om af te weer, word nou oorrompel voor dit kan begin. Jou vorige infeksie weens daardie spesifieke indringer het jou immuun daarteen gelaat.
Die situasie word egter verder bemoeilik deur die bestaan van verskillende griepvirusstamme, wat dikwels in verskillende dele van die wêreld ontstaan. Boonop is daar sowat 200 verkouevirusstamme, elkeen het sy eie bepaalde antigeen. Daar moet dus 200 verskillende tipes helper-T-selle wees, elk met ’n reseptor wat pas by die antigeen van een van die 200 verkouevirusse. Maar dit is nie al nie. Die verkoue- en griepvirusse muteer voortdurend, en telkens wanneer dit gebeur, ontstaan daar ’n nuwe verkoue- of griepantigeen, en dit vereis dat die een of ander helper-T-sel ’n nuwe reseptor kry wat daarby pas. Die verkouevirus hou aan om die slotte te verander, met die gevolg dat die T-sel moet aanhou om die sleutels te verander.
Voor jy spot met dokters se onvermoë om die gewone verkoue te genees, moet jy eers die probleem begryp. Die spesifieke verkoue wat jy het, kan dalk genees word sonder dat dit jou ooit weer aanval, maar as ’n pas gemuteerde verkouevirus sy verskyning maak, moet jou immuunstelsel ’n totaal nuwe helper-T-sel voorsien om die magte van die immuunstelsel te monster om dit te beveg. Die een geveg is skaars gewen of die volgende begin. Dit is ’n oorlog sonder einde.
Kommunikasie tussen die brein en immuunstelsel
Dit is geen wonder dat die immuunstelsel al gunstig met die brein vergelyk is nie. Navorsing bevestig steeds dat die immuunstelsel en die brein onderling oor ons gesondheid praat en dat die verstand ’n invloed uitoefen op die liggaam, met inbegrip van die immuunstelsel. Die volgende aanhalings bevestig dié verwantskap tussen die brein en die immuunstelsel. Dit is ’n geval van die brein wat die liggaam beheer en die liggaam wat die brein beheer.
“Immunoloë ontdek al hoe meer omtrent die verband tussen die verstand en die liggaam, die meganismes van psigosomatiese siekte.”—National Geographic, Junie 1986, bladsy 733.
Iets waarvan die mens wel kennis dra maar wat hy nie baie goed begryp nie, is die verband tussen die immuunstelsel en die brein. Geestespanning, die dood van ’n geliefde, eensaamheid en neerslagtigheid beïnvloed die werking van die wit bloedselle, of limfosiete, en dit verlaag T-sel-aktiwiteit. “Die biologiese grondslag van hierdie tussenverbindings bly nog grotendeels ’n raaisel. Dit is egter duidelik dat die senu- en immuunstelsel onskeidbaar verbind is, anatomies sowel as chemies.”—The Incredible Machine, bladsye 217, 219.
“Die immuunstelsel . . . is feitlik net so sensitief, spesifiek en kompleks as die sentrale senustelsel.”—Immunology, bladsy 283.
Die tydskrif Science het die volgende oor die verbinding tussen die brein en die immuunstelsel gesê: “Daar is talle bewyse wat toon dat die twee stelsels onskeidbaar verbind is. . . . Dit word al hoe duideliker dat die immuun- en senustelsel hoogs geïntegreerd is en in staat is om onderling te kommunikeer om hulle aktiwiteite te koördineer.”—8 Maart 1985, bladsye 1190-1192.
Dit alles weerspieël die ondeurgrondelike wysheid van die Skepper van beide die immuunstelsel en die brein. Dit bring ons weer voor die vraag of ons Skepper, nadat hy ons toegerus het met sulke verstommende wonderwerke soos die brein en die immuunstelsel, ons dan sou programmeer om te sterf. Eintlik het hy dit nie gedoen nie; dit is die wetenskaplikes wat sê dat ons so gemaak is. Ons word geleer dat selle verdeel—meer as 200 miljoen word elke minuut deur die liggaam voortgebring—om beseerde en verslete selle te vervang. Wetenskaplikes beweer egter dat ons selle nie meer as 50 keer sal verdeel nie. Kort voor lank verloor ons meer as wat ons kan vervang, tree ouderdom in en volg die dood.
Maar dit is nie hoe die mens geskep is nie; die mens het dit oor homself gebring. Hy is geskep om te lewe, vrugbaar te wees, te vermeerder, die aarde te vul en daaroor toesig te hou—solank hy aan sy Skepper gehoorsaam sou wees. Hy is egter gewaarsku: Wees ongehoorsaam, en “sterwend sal jy sterwe”. Die eerste mens was ongehoorsaam, het skuldig gevoel en het homself versteek. Sedert daardie oomblik is die mensdom in ’n sterwende toestand.—Genesis 1:26-28; 2:15-17, NW-naslaanuitgawe, voetnoot; 3:8-10.
Met verloop van tyd word sterk negatiewe gevoelens ’n “verrotting vir die gebeente” en laat “’n verslae gees . . . die gebeente uitdroog”. Die gevolg is ’n immuunstelsel met ’n verlaagde kapasiteit, aangesien gesonde, vogtige beenmurg nodig is om genoeg siektebestrydende wit bloedliggaampies te produseer.—Spreuke 14:30; 17:22.
Maar die sterfproses sal deur ’n proses van lewe vervang word, en ’n volmaak funksionerende immuunstelsel sal ’n belangrike bykomende faktor daarby wees. Jehovah se voorneme om ’n paradysaarde te hê wat gevul is met ’n regverdige, gehoorsame mensdom sal deur die losprysoffer van Christus Jesus verwesenlik word. Dan sal niemand siek wees nie, die dood sal vernietig word en alle vlees sal “fris [word] van jeugdige krag” (Job 33:25; Jesaja 33:24; Mattheüs 20:28; Johannes 17:3; Openbaring 21:4). Dan sal die verbasende immuunstelsel wat deur Jehovah ontwerp is nooit ’n geveg teen enige indringer verloor nie.
Selfs nou is ons immuunstelsel, ten spyte van sy tekortkominge, ’n skeppingswonder. Hoe meer ons daaromtrent te wete kom, hoe meer word ons met ontsag vervul vir die Grootse Skepper daarvan, Jehovah God. Ons maak die geïnspireerde woorde van die psalmis Dawid ons eie: “Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.”—Psalm 139:14, NAV.
[Venster/Diagramme op bladsy 8, 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Verdedigers in die geledere
1. Fagosiete Vreetselle, waarvan daar twee soorte is: neutrofiele en makrofage. Albei is aasvreters wat lewelose afval, dooie selle en ander uitgeskeide stowwe, asook ’n menigte invallende mikrobes, verteer. Makrofage is groter, taaier en sterker as die neutrofiele, leef langer en verteer baie meer mikroörganismes. Hulle is veel meer as blote afvalverwyderingseenhede, want hulle vervaardig verskillende ensieme en antimikrobiese agentia, en hulle tree ook op as kommunikasieverbindings tussen ander selle van die immuunstelsel en selfs van die brein.
2. MHC (hoof-histoverenigbaarheidskompleks) Molekules op die oppervlak van selle wat die selle as deel van die liggaam identifiseer. ’n Klein deeltjie van die antigene van slagoffers wat deur die makrofaag verteer is, word deur die MHC op die makrofage vertoon, en dit stimuleer die helper-T-sel sowel as die makrofaag om aansienlik in getal toe te neem en so hulle geledere vir die geveg teen infeksie te vermeerder.
3. Helper-T-selle Hulle tree as krygshoofde van die immuunstelsel op deur vyande te identifiseer, die produksie van versterkingsmagte vir die immuunstelsel te stimuleer en hierdie magte te versamel om die indringers aan te durf. Hulle roep versterkings op vir die geledere van makrofage en ander T-selle en B-selle en stimuleer die produksie van plasmaselle.
4. Limfokiene Hormoonagtige proteïene, onder andere interleukins en gamma-interferons, waardeur immuunselle met mekaar kommunikeer. Hulle aktiveer talle noodsaaklike reaksies van die immuunstelsel en bevorder sodoende sy reaksie teen siektekieme.
5. Moord-T-selle Hierdie T-selle vernietig selle waarin virusse en mikrobes hulle versteek het. Hulle vuur dodelike proteïene in hierdie selle in, wat hulle membraan perforeer en die selle laat skeur. Hulle wis ook selle uit wat kankeragtig geword het.
6. B-selle Weens stimulasie deur die helper-T-selle vermeerder B-selle in getal, en sommige verdeel en ontwikkel tot plasmaselle.
7. Plasmaselle Hierdie selle produseer miljoene teenliggaampies, wat dan, soos geleide missiele, deur die liggaam sirkuleer.
8. Teenliggaampies Wanneer teenliggaampies in aanraking kom met antigene waaraan hulle reseptors hulle kan bind, word die antigene vasgegryp en vertraag, sodat hulle saampak en aanloklike versnaperings vir die fagosiete word. Of hulle verrig self die taak met behulp van die komplementfaktore.
9. Komplementproteïene Wanneer die teenliggaampies hulle aan die oppervlak van die mikroörganisme gebind het, oorval proteïene wat as komplementfaktore bekend staan die mikroörganisme en spuit ’n vloeistof daarin wat dit laat bars en doodgaan.
10. Demper-T-sel Wanneer die infeksie onder beheer gebring is en die immuunstelsel die stryd gewen het, spring die demper-T-selle aan die werk en gebruik hulle chemiese seine om die hele reeks immuunreaksies te laat ophou. Die stryd is gewonne.
11. Geheueselle Teen hierdie tyd het die T-selle en die B-selle geheueselle voortgebring en agtergelaat wat jare lank, selfs lewenslank, in die bloedstroom en limfstelsel sirkuleer. Indien ’n sekere organisme wat voorheen verslaan is die liggaam weer inval, doen hierdie geheueselle ’n oorweldigende aanval en word hierdie nuwe inval sonder meer gestuit. Die liggaam is nou immuun teen daardie bepaalde mikroörganisme. Dit is hierdie meganisme wat inentings doeltreffend maak om siektes wat eens plae was—masels, kinderpokke, ingewandskoors, witseerkeel en ander—uit te wis.
[Venster op bladsy 10]
’n Drastiese toename in kennis, maar die raaisel bly onopgelos
Sedert die Vigs-virus toegeslaan en sy visier op die immuunstelsel ingestel het vir ’n doodskoot is baie intensiewer navorsing begin. Kennis het geweldig toegeneem. Die immuunstelsel is egter so verbasend ingewikkeld dat baie daaromtrent ’n raaisel bly, soos blyk uit die volgende verklarings deur immunoloë.
Immunoloog John Kappler sê: “Die veld brei so vinnig uit dat die tydskrifte reeds verouderd is wanneer hulle verskyn.”—Time, 23 Mei 1988, bladsy 56.
Immunoloog Leroy Hood, van die California Institute of Technology, sê: “Ons het ’n goeie begrip van die apparatuur van die immuunstelsel verkry, maar ons kennis van die programmatuur wat die stelsel aandryf—die gene wat die selle hulle opdragte gee—is feitlik nul.” Met verwysing na die limfokiene, die hormoonagtige chemiese seine wat reaksies aan die gang sit, sê Hood dat dié wat tot dusver ontdek is “slegs die tippie van die ysberg” is.—National Geographic, Junie 1986, bladsy 732; Time, 23 Mei 1988, bladsy 64.
Navorser Edward Bradley: “Waarskynlik weet ons nou net so min van die immuunstelsel as wat Columbus na sy eerste reis van die Amerikas geweet het.”—National Geographic, Junie 1986, bladsy 732.
[Venster op bladsy 11]
Die rook van marijuana “speel ’n kritieke rol in die verswakking van die immuunstelsel deur die ontwikkeling van sekere wit bloedselle te beperk”.—Industrial Chemist, November 1987, bladsy 14.
[Venster op bladsy 11]
Wanneer die oorlog ’n burgeroorlog word
“Die vermoë om tussen ‘eie’ en ‘nie-eie’ te onderskei, is ’n kenmerk van die immuunstelsel” (Immunology, bladsy 368). Maar wanneer daar iets met die stelsel verkeerd loop—wat somtyds gebeur—kan hy nie tussen ‘eie’ en ‘nie-eie’ onderskei nie en loop dit uit op ’n burgeroorlog, ’n geveg teen homself. Die kwale wat ons dan teister, word outoïmmune siektes genoem. Die volgende tel vermoedelik hieronder: rumatiekkoors, rumatiekvormige gewrigsontsteking, verspreide sklerose, Tipe 1-diabetes, miastenie gravis en sistemiese lupus eritematose.
Hierbenewens fouteer die immuunstelsel soms wanneer dit skadelose indringers as gevaarlike vyande beskou. Dit kan ’n korreltjie stuifmeel, ’n stofdeeltjie, velskilfers van diere of ’n bietjie krapvleis wees wat ’n allergiese reaksie tot gevolg het. Oormatige hoeveelhede sterk chemikalieë, soos histamiene, word geproduseer om dinge te beveg wat op sigself skadeloos is. Die simptome van hierdie allergiese reaksies kan groot ongerief veroorsaak—asemgefluit, niesbuie, ’n gesnuif, ’n lopende neus, waterige oë. In uiterste gevalle kan hierdie reaksies ’n toestand soortgelyk aan skok teweegbring, wat bekend staan as anafilaksie, en kan hulle selfs die dood veroorsaak.
[Venster op bladsy 12]
Daar is toenemende bewyse dat bloedoortappings skadelik is vir die immuunstelsel. Honderde wetenskaplike verhandelings gedurende die afgelope aantal jare het bloedoortappings met immuunonderdrukking verbind. “’n Enkele eenheid heelbloed was voldoende om immuunonderdrukking waar te neem”, het een verslag berig—Medical World News, 11 Desember 1989, bladsy 28.