Wagte wat jou gesondheid beskerm
“MEVROU”, het die dokter gesê terwyl hy na die uitslae van die bloedtoetse kyk, “jou immuunstelsel is baie verswak.” Dit is al ’n geruime tyd dat Veronica nie lekker voel nie. Herhaalde brongitisaanvalle het haar verswak, en onlangs het sy ook ’n oorinfeksie en ’n irriterende sinusontsteking gehad.
Wat is die immuunstelsel, en waarom is dit so belangrik? Hoe werk dit?
Beskerm teen aanvalle
Die immuunstelsel bestaan uit ’n komplekse netwerk molekules en gespesialiseerde selle wat deur noue samewerking infeksie teëwerk. Ons is van ons immuunstelsel afhanklik om ons teen aanvalle deur indringende organismes, soos bakterieë en virusse, te verdedig.
Ons kan die liggaam ter toeligting met ’n eertydse stad vergelyk. ’n Tipiese stad was op ’n hoogliggende gebied geleë sodat enige vyandelike leër van ver af gesien kon word. En die stad is deur ’n reeks mure en poorte beskerm wat deur wagte bewaak is. Met hierdie verdedigingstelsels het die stad ’n veilige tuiste gebly. As ons ons liggaam met so ’n stad vergelyk, kan ons ’n beter begrip verkry van wat dit verg om dit teen aanvalle te verdedig.
Ons liggaam se belangrikste beskerming teen indringing deur kieme bestaan uit die vel en slymvliese (dié wat byvoorbeeld die neus en keel uitvoer). Ons vel dien as ’n belangrike fisiese versperring. Baie van die miljarde kieme wat ons op ons veloppervlak het, word verwyder wanneer dit saam met die buitenste vellae afgewerp word.
Die slymvliese is nie so sterk soos die vel nie en is kwesbaarder. Maar dit bevat wel baie natuurlike stowwe wat kieme bestry. Een van hierdie stowwe, wat lisosiem genoem word, word in trane, speeksel en sweet aangetref. Hoewel die suurgehalte van sweet op sigself voldoende is om baie kieme se groei te beperk, vernietig lisosiem hulle deur hulle selwande af te breek. Dit is waarom ’n dier kan help om sy wonde te genees deur dit eenvoudig te lek.
Belangrikste wagte—wit bloedselle
Kom ons stel ons voor dat siekteverwekkende bakterieë dit regkry om ons “stad” deur ’n wond of deur besmetting binne te dring. ’n Leërmag van selle spring onmiddellik aan die werk met slegs een doel—om die indringerkiem te vernietig en sodoende van die siekte te herstel. Die selle wat veg om die liggaam te verdedig, word leukosiete, oftewel wit bloedselle, genoem. Drie belangrike soorte wit bloedselle wat op hierdie stadium van die stryd betrokke is, is monosiete, neutrofiele en limfosiete.
Wanneer monosiete chemiese seine “hoor” wat aandui dat ’n sekere liggaamsdeel ontsteek is, verlaat hulle die bloedstroom en dring hulle die aangetaste weefsel binne, waar hulle makrofage word, dit wil sê “groot eters”. Daar eet hulle alle vreemde organismes op. Hulle skei ook belangrike stowwe af wat sitokines genoem word, wat die liggaam voorberei om die ontsteking te bestry. Een funksie van die sitokines is om koors te veroorsaak. Koors is ’n nuttige verskynsel, want dit is ’n teken dat verdedigende meganismes in werking getree het. Dit kan die herstelproses versnel en ook as ’n nuttige diagnostiese aanduider dien.
Hierna “hoor” neutrofiele die chemiese seine van die ontsteekte gebied en snel hulle die makrofage te hulp. Hulle verswelg of sluk ook die bakterieë in. Wanneer hierdie neutrofiele doodgaan, word hulle as etter uit die liggaam gewerp. Die vorming van etter is dus nog ’n soort verdedigingsmeganisme. In hierdie geval is die Latynse uitdrukking wat eeue lank deur dokters gebruik is van toepassing: pus bonum et laudabile. Dit beteken “goeie en prysenswaardige etter”. Die vorming daarvan help om infeksie teë te werk. Nadat ons vriende, die makrofage, die kieme verteer het, vertoon hulle fragmente van die kiem aan die limfosiete om hulle teen die invaller te waarsku.
Die limfosiete is ’n supergespesialiseerde elitegroep in die stryd teen infeksie. Hulle vervaardig stowwe wat teenliggaampies genoem word, wat spesifiek met ’n bepaalde kiemfragment verbind. Daar is twee hoofgroepe limfosiete met verskillende vermoëns. Eerstens is daar die B-selle, wat die teenliggaampies wat hulle vervaardig in die bloedstroom vrystel. Die B-selle is al die gewapende korps van die immuunstelsel genoem, en hulle skiet hulle pyle, die teenliggaampies, met die grootste presisie. Hierdie teenliggaampies sal die kiem wat hulle herken, “soek” en die kiem op ’n noodlottige plek tref. Die ander belangrike groep limfosiete, die T-selle, hou die teenliggaampies wat hulle herken op hulle oppervlak geanker. Hulle gebruik dit om die vyand aan te val—en neem as ’t ware aan direkte konfrontasies deel.
Die stryd raak selfs ingewikkelder. ’n Subgroep T-selle, wat helper-T-selle genoem word, help hulle kamerade, die B-selle, om groot hoeveelhede teenliggaampies af te skei. Voordat hulle die aanval loods, kommunikeer die helper-T-selle met mekaar. Onlangse navorsing het getoon dat hierdie selle deur middel van chemiese seine op ’n opgewekte wyse met mekaar “praat” en inligting oor die vreemde agens uitruil, in wat al lewendige gesprekke genoem is.
Nog ’n belangrike groep, die natuurlike moordselle, verleen ook hulp. Hulle vervaardig nie teenliggaampies nie, maar hulle is gereed om selle te vernietig wat weens besmetting vir die liggaam “vreemd” geword het. Natuurlike moordselle help dus ook om die liggaam te beskerm.
Laastens kan limfosiete, danksy hulle immunologiese geheue, die eienskappe van ’n kiem onthou, asof hulle ’n rekord daarvan op lêer het. As daardie soort kiem ooit weer sou verskyn, het hierdie limfosiete dus alreeds spesifieke teenliggaampies om dit onmiddellik te vernietig.
Die makrofage, selle waardeur die immuunstelsel geaktiveer word, speel ook ’n rol om die taak te voltooi deur in die omgewing te bly om ontsteking te help onderdruk. Hulle verwyder alle dooie selle, selfragmente of puin uit die aangetaste gebied wat ná die stryd op die “slagveld” agtergebly het sodat die “stad” weer rustig en vreedsaam is.
Wanneer weerstand laag is
Die voorafgaande is slegs ’n kort oorsig van hoe die immuunstelsel vermoedelik sy verdedigingswerk doen. Maar jou weerstand kan weens verskeie redes laag wees: Daar kan primêre gebreke wees wat inherent aan die immuunstelsel is en sekondêre gebreke wat in die loop van ’n mens se lewe weens siektes opgedoen is.
Een van die ernstigste van hierdie siektes is vigs, die skrikwekkende pandemie wat gedurende die 1980’s uitgebreek het. Dit word deur die menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV) veroorsaak, wat die immuunstelsel ’n ernstige knou kan gee deur ’n sekere klas limfosiete geleidelik te vernietig. ’n Uiters belangrike deel van die persoon se verdedigingstelsel word sodoende buite aksie gestel. Daarna kry ’n mens herhaaldelik infeksies wat nooit heeltemal genees nie. Trouens, dit vererger, en die liggaam beskik nie oor die middele om homself te verdedig nie. Dit is soos ’n stad wat in puin lê, sonder mure, wat deur enigiemand verower kan word.
Gelukkig is nie alle immunologiese gebreke so ernstig nie. Veronica, wat aan die begin gemeld is, het ’n klein defek in die vervaardiging van een soort teenliggaampie gehad wat gewoonlik in die slymvliese, veral langs die lugweë, teenwoordig is. Dit het die herhaalde en hardnekkige infeksies verklaar wat sy gekry het.
Veronica het gesond geword. Nadat sy na haar dokter se verduideliking geluister het, het sy besluit dat sy die behandeling wat hy voorgeskryf het, noukeurig sou volg. Toe sy van haar sinusontsteking herstel het, het sy ingestem tot ’n reeks inspuitings wat die vervaardiging van teenliggaampies sou stimuleer.a Sy het ook opgehou rook en meer gerus. Kort daarna het haar gesondheid heelwat verbeter.
Ja, ons is gemaak om goeie gesondheid te geniet. Wanneer ons nadink oor die verbasende kompleksiteit van die immuunstelsel en ander ingewikkelde meganismes van die menseliggaam, word ons beweeg om ons Skepper se wysheid te bewonder en dankbaar te wees daarvoor (Psalm 139:14; Openbaring 15:3). En hoewel ons nou, weens onvolmaaktheid, nie altyd goeie gesondheid geniet nie, verseker God se geïnspireerde Woord ons dat mense in die naderende nuwe wêreld tot verstandelike en liggaamlike volmaaktheid herstel sal word, sodat “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”.—Jesaja 33:24.
[Voetnoot]
a Ontwaak! staan nie enige spesifieke vorm van behandeling voor nie omdat dit iets is waaroor elkeen self moet besluit.
[Venster op bladsy 13]
VLAKKE VAN VERDEDIGING:
• VEL EN SLYMVLIESE
• LEUKOSIETE, OFTEWEL WIT BLOEDSELLE
Monosiete dring aangetaste weefsel binne en verslind invallende bakterieë
Neutrofiele help om bakterieë in te sluk en word as etter uit die liggaam gewerp
Limfosiete het ’n immunologiese geheue; as dieselfde soort kiem weer sou verskyn, sal teenliggaampies dit onmiddellik vernietig
• B-selle stel teenliggaampies soos goed gemikte pyle vry; hulle “soek” kieme en val hulle aan
• T-selle help om teenliggaampies te vervaardig, wat as ’t ware direkte konfrontasies met kieme het
—Helper-T-selle help B-selle om groot hoeveelhede teenliggaampies vry te stel
—Natuurlike moordselle vernietig besmette selle regstreeks sonder om teenliggaampies te vervaardig
[Prent op bladsy 15]
Wit bloedselle val bakterieë aan
[Erkenning]
Lennart Nilsson