’n Insiggewende kykie na skoenmodes
HET jy onlangs na die uitstalvenster van ’n skoenwinkel gekyk? Of jy nou hou van wat jy sien of nie, een ding is seker: Dit lyk of daar, veral vir vroue, ’n oneindige verskeidenheid skoenmodes is.
Jaarliks word daar sowat 200 000 nuwe skoenontwerpe in die Verenigde State alleen geskep, en Europese ontwerpers kom met net soveel, indien nie meer nie, vorendag. Maar voor dit ooit die mark bereik, word ongeveer die helfte daarvan afgekeur, en van die oorblywende helfte word net sowat 25 000 winsgewend. Dit is nogtans ’n verstommende syfer. Dit is geen wonder dat dit vir sommige so opwindend maar vir ander so uitputtend is om skoene te koop nie.
Variasies op ’n paar basiese temas
Maar kan jy glo, al dink jy ook wat van die ontelbare uitstallings van skoenmodes, dat al die duisende skoenontwerpe in werklikheid net variasies op ’n paar basiese skoentipes is?
Die bygaande illustrasies sal jou ’n goeie begrip gee van wat die sewe basiese skoentipes is: die veterskoen, stewel, hofskoen, klomp, muil, sandaal en mokassin. Hoewel ons elke jaar onder duisende nuwe ontwerpe toegegooi word—en modebewuste mense spog daarmee dat hulle tred hou met die jongste ontwerpe—is nie een nuwe basiese skoentipe in werklikheid gedurende die afgelope 350 jaar, sedert die veterskoen, bekend gestel nie. Die oudste basiese tipes, soos die sandaal en die mokassin, het letterlik duisende jare gelede ontstaan.
Daar is vandag ’n baie groter verskeidenheid en baie meer dameskoene as manskoene. Tog is al sewe basiese tipes oorspronklik deur en vir mans ontwerp. Hoe die skoene lyk, die afwerking en die materiaal het natuurlik deur die eeue heen aansienlik verander, maar dit is uit hierdie paar basiese style dat die duisende verskillende skoene ontwikkel het om by elke smaak en lewenstyl te pas. Maar hoe het hierdie sewe basiese style ontstaan?
Leer die basiese tipes ken
Die veterskoen is die jongste van die sewe tipes. Die Engelse naam is oxford, want dié skoen het sy oorsprong in Oxford, Engeland. Dit het in die middel van die sewentiende eeu daar gewild geword onder universiteitstudente. Die stewel, wat vóór die veterskoen gekom het, was oorspronklik twee stukke drag: ’n skoen onder en ’n kamas daarbo. In Engels heet die stewel ’n boot, en een teorie is dat dié naam van die Franse woord butt (wateremmer) kom omdat die stewel ietwat na ’n emmer lyk. Die woord het mettertyd boute geword, en toe die Engelse die styl in die 11de eeu van die Normandiërs oorgeneem het, het hulle dit boot genoem.
Die hofskoen (Engels, pump) is ’n deftige dog eenvoudige, diep uitgesnyde skoen met ’n dun sool en ’n lae hak. Dit het blykbaar in die dae van koningin Elizabeth I in gebruik gekom. Sommige meen dat die hofskoen aanvanklik deur koetsiers gedra is, wat die pedale van die koets met hulle voete moes pomp. Dit het mettertyd tot ’n dameskoen ontwikkel en ’n gewilde mode geword wat tydens formele, deftige en galageleenthede gedra word. Daarom meen sommige deskundiges dat die naam afkomstig is van die Franse woord pompe, wat “praal, statigheid, plegtigheid, luister, pronkery” beteken.
Die klomp dateer uit ’n vroeër tyd en kry sy naam van ’n ou Engelse woord wat “blok hout” beteken. Dit is omdat die eerste klompe geheel en al uit hout gesny is. Die boere en die arbeidersklas het dit gedra omdat dit goedkoop was om te maak. Baie mense dra vandag graag klompe met ’n leerstuk bo wat aan ’n basis van hout of ander materiale geheg is. Die muil is ook oop agter soos die klomp, behalwe dat dit veel meer verfyn is en gewoonlik binnenshuis gedra word. Sy ontwerp het ontstaan uit die mulu van die Sumeriërs, wat ’n soort sloffie of pantoffel met ’n plat sool was. Die hedendaagse weergawe het hakke en het ’n modieuse skoen geword.
Die oudstes onder die sewe skoentipes is die sandaal en die mokassin. Van die twee is die sandaal die algemeenste gebruik en in Bybelse tye het almal dit gedra. Dit was eenvoudig ’n stuk hout of leer wat met riempies aan die voet vasgebind is. Daarenteen het die mokassin baie bekend geraak vanweë die Noord-Amerikaanse Indiane wat dit sy naam gegee het, wat eenvoudig “voetbedekking” beteken.
Sal jy as jy weer ’n paar skoene sien, kan sê watter een van die sewe tipes dit is? Met die eerste oogopslag lyk dit dalk nie so maklik nie. Dit is omdat die basiese tipes deur die jare vryelik aangepas is om by veranderende smake en modes te pas. Maar as jy dit van naderby beskou, sal jy die skoen reg kan identifiseer. Drafskoene lyk byvoorbeeld nie soos enige van die sewe basiese tipes nie, maar hulle is niks anders nie as veterskoene wat van ander materiale gemaak is. ’n Dameskoen met ’n oop hak is in werklikheid ’n muil met bandjies aan, en ’n Loafer is eintlik ’n mokassin met ’n sterker sool.
Hoe skoenmodes begin het
Skoenmodes was honderde jare lank uitsluitlik die domein van die rykes en die aristokrasie. Vir die gewone mense was skoene net skoene—bedekking en beskerming vir die voete—en die funksie was die hoofsaak; daar is min aandag geskenk aan hoe dit lyk. Die hele gedagte, en bedryf, van modieuse skoene soos ons dit vandag ken, het baie onlangs ontstaan.
Een faktor wat verhinder het dat die skoenbedryf bloei, is dat skoene eeue lank met die hand gemaak is. Dit het tyd gekos om hulle te maak en hulle was duur. Die meeste mense kon dit nie bekostig om ’n nuwe paar skoene te kry wanneer hulle daarna gevoel het nie. Wat dit alles verander het, was die bekendstelling van masjinerie om skoene mee te vervaardig in die middel van die negentiende eeu in die Verenigde State. ’n Kuns het oornag ’n bedryf geword. Skoene was nou nie net maklik verkrygbaar nie maar ook goedkoop. Dit het egter twee ander gebeurtenisse gekos om skoenmodes aan die gang te kry: die aanneming van die Volstead Act van 1919 (ook bekend as die drankverbod) en die goedkeuring van die Konstitusionele wysigingswet in 1920 wat vroue stemreg gegee het.
Hierdie gebeurtenisse het ingrypende veranderinge in die Amerikaanse gemeenskap tot gevolg gehad. Die drankverbod het nuwe vorme van vermaak, dans en musiek gebring. Vroue, met hulle nuutgevonde vryheid, het hulle met hierdie sogenaamde selfbevrydingsaktiwiteite besig gehou en alles nagejaag wat nuut en anders was. Saam met skoonheidsmiddels, korter rompe en nuwe haarstyle het ’n oordrewe belangstelling in skoenmodes gekom. Die uitdagende “Flappereeu” het sy naam gekry van jong vroue wat doelbewus nie hulle skoene vasgegespe het nie. Wanneer hulle geloop het, het hulle skoene hard “geflapper” en so die aandag gevestig op die vroue en hulle saak.
Al hierdie dinge het ’n geweldige aanvraag na elegante en bekostigbare skoene geskep. Dit, gepaard met die nuwe tegnieke en stowwe wat vir die vervaardiging van skoene gebruik is, het skoenmodes gebring tot waar hulle vandag is. Nou, vir die eerste keer in die geskiedenis, is skoenmodes nie meer die alleenreg van die rykes en die invloedrykes nie, maar is dit binne byna almal se bereik.
Dit is verbasend dat die sewe basiese tipes wesenlik onveranderd gebly het ten spyte van die ophef wat in vorige eeue van skoenmodes en -ontwerpe gemaak is. Die oneindige verskeidenheid en die duisende ontwerpe en vorms van skoene wat vandag beskikbaar is, getuig nietemin van die vindingrykheid van diegene in dié bedryf. Hierdie wye verskeidenheid toon ook dat smake en modes so veranderlik is dat ’n mens maklik die prooi kan word van diegene wat die pas in sulke dinge aangee.
[Venster op bladsy 26]
Ou skoenverhale
◻ Die ou Egiptenaars het ’n sandaal aan die brand gesteek en die rook ingeasem om kopseer te verlig.
◻ Om maagpyn te genees het sommige eertydse Amerikaanse setlaars met ’n paar swaar stewels op hulle maag gaan lê.
◻ ’n Arabier kon eens op ’n tyd van sy vrou skei deur eenvoudig haar skoene by die deur uit te gooi, baie soos hy ’n verslete paar pantoffels sou weggooi.
◻ Die bekendste skoenverhaal is ongetwyfeld dié van Aspoestertjie. Mense dwarsdeur die wêreld vertel honderde weergawes van hierdie verhaal. Die oudste gedrukte weergawe is in Chinees. Dit is in die negende eeu opgeteken, sowat 800 jaar voor die gewilde Westerse weergawe.
[Prente op bladsy 26]
Sandaal
Hofskoen
Stewel
Klomp
Veterskoen
Muil
Mokassin