Oos-Europa—’n Godsdiensoplewing?
DIE onderdrukking van vrye meningsuiting gedurende die laaste paar dekades in Oos-Europese lande het streng beperkinge op godsdiens ingesluit. Ateïsme is in alle erns verkondig, en party katedrale en kerke is in museums van ateïsme verander, soos die een in Leningrad wat deur talle toeriste besoek word. Enige fungerende geestelikes het die lakeie van die heersende regering geword. Toe alle aanbiddingsplekke, soos kloosters, kerke en moskees, in 1967 amptelik gesluit is, het Radio Tirana Albanië selfs die “eerste ateïstiese staat in die wêreld” genoem.
Wat gebeur nou met godsdiens terwyl vryheid oral in Oos-Europa soos lenteblomme bloei? Soos Franse skrywer Jean-François Kahn geskryf het: “Godsdiens wat onderdruk word, kan saamwerk met ’n nasie wat verdruk word. Dit het gister in Iran gebeur. Dit gebeur vandag in Sowjet-Aserbeidjan. Môre kan dit soos ’n veldbrand deur Rusland versprei.” Party godsdienste verbind hulle nou al met nasionalistiese ideale en strewes en word een van die hoofwerktuie van politieke protes, en hulle regverdig dit deur die teenwoordigheid van hulle Katolieke en Ortodokse priesters en Lutherse predikante.
Hoe vaar godsdiensvryheid dus in die nuwe demokratiese atmosfeer?
Hoe het dinge tog nie verander nie!
Die vernaamste godsdienste van Oos-Europa, veral die Katolieke Kerk, het onmiddellik stappe gedoen om wetlike erkenning van die nuwe regerings te verkry. Byvoorbeeld, L’Osservatore Romano het berig dat “die Heilige Stoel en die Republiek van Hongarye op 9 Februarie [1990] ’n ooreenkoms aangegaan het”. Volgens hierdie ooreenkoms het die twee partye ingestem om weer diplomatieke betrekkinge aan te knoop. (Die Vatikaan word as ’n aparte soewereine staat beskou.)
Nog ’n verslag van die Vatikaan sê dat die Katolieke Kerk van die Oekrainse Ritus, wat in 1946 verbied is, gevra het om wettig verklaar te word en samesprekings begin voer het “met die Regering en met die Russies-Ortodokse Kerk oor praktiese vrae in verband met die Kerklewe in die Oekraine”.
Die pous het in April 1990 Tsjeggo-Slowakye besoek en is by die Praag-lughawe verwelkom “deur hooggeplaastes van die Kerk en die Staat, waaronder . . . mnr. Vaclav Havel, president van die republiek” (L’Osservatore Romano). ’n Nuwe godsdiensklimaat is ook besig om daar te ontwikkel.
In Pole was die Katolieke Kerk nog altyd ’n mag waarmee ’n mens rekening moes hou. Nou, met sy nuutgevonde vryheid, probeer hy om sy invloed te laat geld en beywer hy hom om weer godsdiensklasse in die skole in te stel. Een priester het gesê: “Skole is die eiendom van die volk. Die Poolse volk is meer as 90 persent Katoliek. . . . Godsdiensonderrig in die skool sal, met die gepaste respek vir ander godsdienste, die gesag van die onderwysers, en . . . van die owerhede herstel, want dit het te doen met die etiese ruggraat van die mens.”
’n Verslag oor die Ortodokse Kerk in Roemenië sê: “Die Patriarg en ’n aantal biskoppe wat kop in een mus was met die [Ceauşescu-]regime is gedwing om te bedank. ’n Kommissie is aangestel om nuwe lewe in die Kerk in te blaas. Talle vorige ongelowiges wend hulle tot godsdiens en vul die plaaslike kerke . . . Die Roemeense Bisantynse Katolieke Kerk, wat 40 jaar gelede gedwing is om te ontbind, is toegelaat om te reorganiseer.”—Orthodox Unity, Julie 1990.
Veranderinge in Albanië
Volgens persberigte vind verbasende veranderinge geleidelik plaas in Albanië, ’n klein, bergagtige landjie met drie en ’n kwart miljoen inwoners, wat weggesteek is aan die Adriatiese kus tussen Joego-Slawië en Griekeland. Die Duitse koerant Die Welt het berig: “In Albanië, die laaste vesting van die ou soort kommunisme in Europa, het mense met hulle voete begin stem” deur skuiling te soek in Westerse ambassades, waarvandaan hulle dan toegelaat is om na Italië, Duitsland en ander lande te gaan.
Die verslag sê voorts: “In Mei 1990 is daar aan die Albanese belowe dat hulle paspoorte kan kry en dat wette wat godsdiensbeoefening verbied, afgeskaf sal word.” (Aangehaal uit The German Tribune, 15 Julie 1990.) Soos professor in die geskiedenis Denis R. Janz geskryf het: “Dit lyk asof die lang en moeilike stryd om algehele sekularisasie ter syde gestel is.” Maar hy voeg by: “Daar is getuienis . . . dat godsdiens in werklikheid ’n verpletterende hou in hierdie gemeenskap toegedien is.”
Jehovah se Getuies handhaaf hulle gebruiklike en streng neutraliteit onder sulke omstandighede. Op grond van Bybelbeginsels raak hulle nie by politieke en nasionalistiese verdeeldhede betrokke nie. Hulle vertrou op God om hulle ’n vreedsame omgewing te gee waarin hulle hul aardwye opdrag om God se Koninkryk te verkondig, kan vervul.—Mattheüs 22:21; 1 Timotheüs 2:1, 2; 1 Petrus 2:13-15.
Wat dan van Jehovah se Getuies in Oos-Europa? Het hulle vooruitgegaan onder die verbod? Is daar godsdiensvryheid vir hulle?
[Prent op bladsy 7]
Sal die mense terugkeer na die kerke van Oos-Europa?