Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 1/22 bl. 9-13
  • “Ons sending was selfmoord”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ons sending was selfmoord”
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op die selfmoordsending
  • Vlootopleiding
  • Die selfmoordaanval
  • Lugaanval!
  • Ek vind die betroubare God
  • Van ’n dodelike sending tot ’n vreedsame weg
    Ontwaak!—2002
  • Van stille diens tot heilige diens
    Ontwaak!—2009
  • Ek sal nie meer leer om oorlog te voer nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 1/22 bl. 9-13

“Ons sending was selfmoord”

TOE 15 Augustus 1945 aanbreek, was ons diep in die Stille Suidsee. Ek was op ’n sending as lid van die Kaiten- Spesiale (Selfmoord-) Aanvalskorps, aan boord van die duikboot A-367. Toe ons die Keiser se aankondiging van oorgawe oor die radio hoor, het almal verbysterd op hulle poste gestaan. Die oorlog in die Stille Oseaan was verby.

Binne tien dae het ons na Japan teruggekeer. Dié van ons wat die Vloot ons loopbaan gemaak het, kon nie begryp waarom die ander matrose so gelukkig was om gedemobiliseer te word nie, en dit nadat ons boonop die oorlog verloor het! Hoe irriterend was dit tog om te sien hoe mense hulle in die beëindiging van die oorlog verheug nadat so baie jongmanne vir hulle land gesterf het!

Op die selfmoordsending

Ek het teruggedink aan die tyd toe ek sowat agt maande vantevore aan die Vloot se Teenduikboot- en Duikbootskool gegradueer het. Dit was op 25 Desember 1944, en ek is pas tevore beveel om my vir diens op die duikboot A-367 aan te meld. Toe ons op Nuwejaarsdag van 1945 in Jokosoeka aan boord stap, het ons opdrag ontvang om aan spesiale aanvalsmaneuvers deel te neem. Die woorde “spesiale aanval” het selfmoordaanval beteken, net soos die kamikase in die lug. Ons is die Sjimboe-afdeling van die Kaiten- Spesiale Aanvalskorps genoem.

Ter voorbereiding vir die maneuvers het ons na Koere gevaar, ’n groot oorlogshawe naby Hirosjima waar ombouingswerk aan die duikboot gedoen is om die kaiten te dra. ’n Kaiten was ’n omgeboude torpedo met ’n beknopte beheerkajuit vir een persoon aan boord. Nadat dit van die bodek van ’n duikboot afgevuur is, het die operateur dit na die teiken gestuur, vandaar die naam menslike torpedo. As dit eers afgevuur is, was daar geen terugkeer nie. Om die teiken te tref, het ’n heldedood beteken, terwyl iemand wat sy teiken mis ’n hondedood gesterf het; soos die Japannese dit noem wanneer iemand onnodig sterf.

Om vir jou land te sterf, so het ons gedink, was ’n glorieryke voorreg. Toe ons bevelvoerende offisier vrywilligers gevra het om lede van die selfmoordafdelings te word, het almal soos een man vorentoe getree. Hoewel ek nie ’n kaiten-operateur was nie, is al die bemanningslede as lede van die selfmoordaanvalskorps beskou. Wat ’n eer!

Nadat ons opgelei is om die kaiten te lanseer, het ons op ’n sending vertrek met vyf kaitens wat op die bodek gemonteer is. Onderweg na die Stille Oseaan oor die Binnesee, het ek op die dek gestaan en na die prag van die vroeë somer gekyk. Ek het gewonder watter beloning daar op hierdie doodsvaartuie wag en het teruggedink aan aangename en onaangename herinneringe uit my dae as vlootkwekeling.

Vlootopleiding

Omdat ek van kindsbeen af die Vloot my loopbaan wou maak, het ek in 1944, toe ek 18 geword het, by die Vloot se Mynskool aangesluit. Die eerste twee maande het ons opleiding die grondbeginsels van landgevegskuns en ’n spoedkursus in gesonde oordeel in die Vloot behels. Daarna is die skool se naam verander en het dit bekend gestaan as die Vloot se Teenduikbootskool. Hier het ons opleiding ontvang in die gebruik van hidrofone en sonar sodat ons ten volle opgelei na die oorlogsfront gehaas kon word.

Die eerste twee skooldae is ons soos gaste behandel. Die instrukteurs het vriendelik alles wat ons nie verstaan het nie aan ons verduidelik. Toe, op die derde dag, het die eerste “aanpassing” gekom. Onmiddellik nadat die offisier op wag sy rondte gedoen het, en ons reeds gaan slaap het, het ons die bevel van ’n instrukteur gehoor: “Almal op! Almal in gelid op die dek!” Omdat ons nie geweet het wat om te doen nie, het ons blindelings rondgehardloop. “Beweeg! Maak gou! In gelid!” Ons is goed uitgeskel. Nadat ons uiteindelik almal in gelid gestaan het, is daar vir ons gesê: “Julle het almal ’n bietjie moreel nodig.” Daarop het die “aanpassings” begin. In die Vloot het “aanpassing” ’n drag slae beteken. Ons is eers aangesê om met ons voete uitmekaar te staan en op ons tande te byt sodat ons nie vooroor sou val of die binnekant van ons mond sou sny nie. Toe is ons herhaaldelik deur die gesig geslaan.

Aanpassings is op grond van gemeenskapsverantwoordelikheid gegee. As een lid van ’n afdeling ’n fout gemaak het, het die hele afdeling aanpassings ontvang. Baiekeer is ’n stok wat soos ’n bofbalkolf gelyk het, gebruik om ons oor ons agterstewe te slaan. Dit is genoem “die stok om die soldategees te kweek”. Aanpassings was kwansuis daarop gemik om ’n gees van spanwerk te kweek, wat baie belangrik op see is. Elke keer as ek ’n aanpassing ontvang het, het ek gewonder of dit werklik van nut sou wees in ’n regte geveg.

Nadat ek aan die Teenduikbootskool gegradueer het, is ek tot die Duikbootskool toegelaat. Nou het ons die ander sy van die saak geleer; ons het lesings en opleiding ontvang wat ons geleer het om die geluid van ’n skip op die oppervlak uit ’n duikboot op te vang en die skip aan te val. Hier was die opleiding selfs veeleisender, en ons het ’n roetine gevolg wat deur die Japannese Vloot ’n “Maan-Maan-Dins-Woens-Don-Vry-Vry”-roetine genoem is. Met ander woorde—geen vry naweke nie.

Die selfmoordaanval

“Ons het nou die Boengo-straat verlaat”, het die luidspreker geskal, en dit het my uit my herinneringsvlug teruggeruk. “Ons sal tot môreoggend op die oppervlak vaar. Ons verwag van julle om hierdie sending as die Sjimboe-afdeling van die Kaiten- Spesiale Aanvalskorps uit te voer. Doen julle bes in julle aangewese poste.” Ons sending was om skepe wat die voorraadroetes tussen Okinawa en Guam bevaar het in ’n hinderlaag te lok en te vernietig. Vier dae lank het ons teen sonop afgeduik en teen sononder weer opgekom.

Om 14h00, of 2:00 nm., op die vyfde dag, het ons ’n geluidbron opgevang. Ons het op ’n diepte van 14 meter gehou en stadig nader gekom terwyl ons die teiken deur die periskoop dopgehou het. Skielik was daar ’n stortbui bevele.

“Elkeen op sy pos!”

“Kaitens staan gereed!”

“Operateurs na vaartuie!”

Terwyl die operateurs hulle deur die nou gang gehaas het en besig was om bande met die teken van die Opgaande Son om hulle voorkoppe te bind, het die bemanningslede hulleself teen die wande vasgedruk en die ander vaarwel gesalueer.

Die operateurs het met die leer opgehardloop na die verbindingsbuis (die gang wat van binne die duikboot na die stuurkajuite van die torpedo’s lei), by die luik omgedraai, en gesalueer terwyl hulle geskree het: “Dankie almal, omdat julle so goed na ons omgesien het. Ons sal ons bes doen!” Dié wat onder gestaan het, was stil, hulle gesigte strak.

“Vaartuie gereed vir lansering!” Die ordonnans se stem het gebewe toe hy die kaptein se bevel oordra.

“Teikens: ’n groot voorraadskip en ’n torpedojaer”, het die kaptein gesê. “Vaartuig nr. 1 is buite werking. Nr. 2 en nr. 3 sal dus op die teikens afvuur. Die ander staan gereed.”

“Vaartuig nr. 2, vuur!”

“Vaartuig nr. 3, vuur!”

“Plof! Plof!” Die draadbande wat die kaitens in posisie hou, het ontkoppel en die dek getref. Vaartuig nr. 2 het losgeruk, en terwyl sy bulderende gedreun nog weergalm, het vaartuig nr. 3 hom gevolg. Die operateurs se seunsgesigte het deur my gedagtes geflits. Ek het my aandag gevestig op my taak om die kaitens met die hidrofone te volg.

“Dis omtrent tyd dat hulle die teikens tref”, het iemand gemompel. Die kaitens is maar 15 minute vroeër gelanseer, maar dit het soos ’n uur of meer gevoel. “Boo—oem!” het die slag van die ontploffing weerklink, wat kort daarna deur nog een gevolg is.

“Bootsman Tsjiba tref die teiken!”

“Bootsman Ono tref die teiken!”

Doodse stilte. Niemand het ’n geluid gemaak nie, nie eers gekug nie. Party het hulle hande in gebed saamgepers in die rigting van die ontploffing. Trane het spore gelaat op die gesigte van bemanningslede wat sprakeloos gestaan het. ’n Ongelooflik kalm gesig na so ’n briljante resultaat.

Versteek tussen sy persoonlike besittings het ons ’n afskeidsgedig gevind wat deur bootsman Ono geskryf is volgens die Japannese gebruik om ’n oorspronklike gedig na te laat wanneer ’n persoon verwag het om te sterf. Hy het geskryf: “Wanneer die kersiebome van Ou Japan bloei en die kroonblaartjies verstrooi word, word hulle diep onder in die see verstrooi.” Hy was 19 jaar oud.

Lugaanval!

Ons het aangehou om na vyande te soek, en het telkens voor sonop afgeduik en weer teen sonsondergang opgekom. Na twee weke se vrugtelose gesoek, het die kaptein aangekondig dat ons onverwyld na Koere sou terugkeer. Die hele bemanning was verheug. Onderwyl die duikboot in Koere vir herstelwerk voor anker gelê het, sowel as om voorrade aan te vul, het die bemanningslede in die plaaslike kruitbaddens rondgejakker.

Dit was 15 Junie 1945. Terwyl ons vir ons volgende sending voorberei het, het ons vasgemeer gelê in die kaai naby die Vlootarsenaal. Die lugalarm het weergalm. Daar was nie tyd om voor te berei nie. ’n Groot eskader B-29-bomwerpers het op die arsenaal afgepeil. Ek het van die bodek na die kaai gespring om die voorste meertoue los te maak, en vir bootsman Mohri, wat toe net teruggekeer het, geskree om die agterste meertoue los te maak. Die duikboot het van die kaai af weggegly en ons agtergelaat.

Ons het onder ’n afdak naby die kaai skuiling gesoek, maar dit was vol arsenaalwerkers. Terwyl ons by die ingang gestaan het, het ’n bom geval, en ons is uitgeslinger. Ons het gemeen dat dit gevaarlik sou wees om daar te bly en het besluit om na ’n grot te hardloop wat in ’n heuwel agter die arsenaal gegrawe is. Ons het bereken dat daar drie minute tussen die bomaanvalle verloop. Net nadat een van die groepe bomwerpers verby is, het ons uitgespring en na die heuwel gehardloop. Ek het skaars die grot bereik of ’n bom ontplof agter my en slinger my na binne. Gelukkig is ek nie beseer nie. Bootsman Mohri, wat my gevolg het, was nêrens te sien nie. Onmiddellik ná die lugaanval het ek hom begin soek en my spore terug kaai toe gevolg. Die bomme het verskeie groot gate in die pad gelaat. Ek het oral na my kameraad gesoek, maar tevergeefs.

Ek het nog nooit tevore soveel dooies en beseerdes gesien nie. Die ellende en nutteloosheid van die oorlog het my erger as ooit tevore getref. Nòg God nòg Boeddha kan bestaan, het ek gedink. As hulle bestaan het, sou hulle nooit sulke wandade toegelaat het nie.

Ek vind die betroubare God

Dit was net twee maande na die lugaanval dat ek daardie somersdag in die Stille Suidsee die nederlaag van die Japannese Ryk moes aanvaar. Nadat ek verskillende los werkies gedoen het, het ek op 20 November 1945 na my huis teruggekeer. Twee dae later het ek ’n werk by die Japannese Nasionale Spoorweë gekry. Ek het die volgende 30 jaar as kondukteur en stasiebeampte in verskeie stede op die eiland Sjikokoe gewerk. As gevolg van my wedervaringe gedurende die oorlog het ateïstiese gedagtes my denke begin oorheers.

In 1970 is ek aangewys om by die Sako-stasie te werk, wat drie ure se reis na die aangrensende prefektuur beteken het. Op reis per trein het ek koerante en tydskrifte gelees. Elke oggend as ek my tas oopgemaak het, was Die Wagtoring en die Ontwaak! in die boonste hoek ingepak. My vrou het kort tevore een van Jehovah se Getuies geword en het hulle daar gesit. Aanvanklik was ek ontsteld om hulle daar te kry en het hulle op die bagasierak gegooi. Ek was gekant teen godsdiens en het my vrou se Christelike godsdiens daadwerklik teengestaan. “Moet nooit weer daardie tydskrifte in my tas sit nie”, het ek vir haar geskree wanneer ek tuis gekom het. Maar die volgende dag was die tydskrifte maar weer daar.

Een dag het ek opgemerk dat ’n persoon die tydskrifte van die rak afneem en hulle begin lees. ‘Wat is so interessant omtrent daardie tydskrifte?’ het ek gewonder. Nadat dit ’n paar keer gebeur het, het ek eendag, nadat ek my koerant klaar gelees het, heel ongeërg deur Die Wagtoring geblaai. Ek kon nie juis verstaan wat daarin geskryf was nie, maar het die Ontwaak! interessant gevind. Nadat ek hulle net een keer gelees het, het ek besef dat hulle anders was, en sedertdien lees ek albei. Weens my standpunt as teenstander het ek hulle weliswaar nie tuis gelees nie, maar het geleidelik begin verstaan waarom my vrou elke dag uitgegaan het om te preek.

Sedert die begin van 1975 het my fisiese toestand versleg, en in April van daardie jaar het ek afgetree. Dokters het kanker in my keelholte gediagnoseer. Terwyl ek in die hospitaal was, het ’n Getuie my besoek en vir my The New World Translation of the Christian Greek Scriptures en die boek Is hierdie lewe al wat daar is? as geskenk gegee. Ek was verveeld, en aangesien die Bybel vir my as geskenk gegee is, het ek nou ’n verskoning gehad om dit openlik te lees.

Nadat ek die hospitaal verlaat het, het die man my dadelik weer besoek. Die eerste twee besoeke was net vriendelike gesprekke. Ons het oor oorlogswedervaringe gesels. Maar teen die derde besoek het hy my ’n Bybelstudie aangebied, wat ek aanvaar het. Nadat ek my ateïstiese denke te bowe gekom het, wat ’n gevolg van die oorlogservaring was, is ek uiteindelik in 1980 tydens ’n streekbyeenkoms gedoop. Sedertdien geniet ek die voorreg om ander te dien, en onlangs is ek aangestel om in ons plaaslike gemeente as ouere man te dien.

As ek terugdink, kan ek verstaan waarom die politieke en militêre leiers jong manne kan oorreed om hulle lewe onselfsugtig vir hulle land op te offer. Soos dit uit my ondersoek van God se Woord, die Bybel, duidelik geword het, was dit te wyte aan die sterk kragte van Satan die Duiwel. Agter die massahisterie van selfmoordsendings kan ek nou Satan se sadistiese bedoeling sien. Openbaring 12:7-9, 12 het dit voorspel: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”

My sinne is lank verblind om te glo dat selfmoordsendings ’n eer was, maar nou kan ek die onverbloemde waarheid sien. Ek sien nou wie my blindheid veroorsaak het. Die apostel Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 4:3-6 maak dit duidelik: “Maar as die evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.”

Om tot ’n kennis van die waarheid van die enigste lewende en ware God te kom, kan vergelyk word met die lieflike reuk, ja, die frisheid, van die lug wanneer die duikboot deur die oppervlak breek en ons die luik kon oopmaak. Niemand sou daardie lieflike reuk en frisheid meer as ons kon waardeer nie. Vir hierdie geestelike verfrissing is ek Jehovah innig dankbaar. En ek is ook my vrou dankbaar vir haar onvermoeide pogings om my van hierdie Bybelwaarhede te vertel deur tien jaar lank te volhard totdat ek my uiteindelik aan God toegewy het. As gevolg hiervan neem ek nou deel aan die Christenbediening, ’n lewensreddende sending vir die lewende God.—Soos vertel deur Josjimi Aono.

[Prent op bladsy 10]

Danksy my vrou se onvermoeide pogings neem ek nou deel aan ’n lewensreddende sending vir die lewende God

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel