Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 12/8 bl. 18-21
  • Van ’n dodelike sending tot ’n vreedsame weg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van ’n dodelike sending tot ’n vreedsame weg
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kamikaze- Spesiale Aanvalskorps
  • Ohka—’n selfmoordbom
  • Laaste dae van die oorlog
  • My soeke na vrede
  • Ek besluit om die God van vrede te dien
  • “Ons sending was selfmoord”
    Ontwaak!—1991
  • Van keiseraanbidding tot ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Ek sal nie meer leer om oorlog te voer nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Van soldate tot vredemakers
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 12/8 bl. 18-21

Van ’n dodelike sending tot ’n vreedsame weg

SOOS VERTEL DEUR TOSJIAKI NIWA

’n Voormalige Japannese vlieënier wat opgelei is om gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n kamikaze-aanval op ’n Amerikaanse oorlogskip te doen, vertel hoe hy gevoel het terwyl hy gewag het om die dodelike sending uit te voer.

NÁ ’N verpletterende nederlaag by die Slag van Midway in Junie 1942 is die Japannese uitbreiding in die Stille Oseaan skielik gestuit. Van toe af het Japan die een slag na die ander verloor teen die Verenigde State en sy bondgenote namate hulle die gebiede begin terugneem het wat deur Japan verower is.

In September 1943 het die Japannese regering aangekondig dat universiteitstudente wat van diensplig vrygestel was, nou opgeroep sou word. Ek het in Desember, op 20-jarige ouderdom, van die kampus af by die vloot aangesluit. ’n Maand later het ek ’n student in vlootlugvaart geword. In Desember 1944 is ek opgelei om ’n vegvliegtuig te vlieg wat ’n Zero genoem is.

Kamikaze- Spesiale Aanvalskorps

Japan het op ’n nederlaag afgestuur. Teen Februarie 1945 het lugaanvalle op Japan deur B29-bomwerpers toegeneem. Terselfdertyd het ’n Amerikaanse vloottaakmag die hoofeiland genader en dit die teiken gemaak van lugaanvalle vanaf vliegdekskepe.

’n Paar maande vroeër het die militêre leiers van Japan besluit om in ’n finale aanslag selfmoordaanvalle te gebruik. Hoewel dit toe al duidelik was dat Japan nie die oorlog sou wen nie, het daardie besluit die oorlog verleng en ongetwyfeld nog duisende lewens geëis.

Die Kamikaze- Spesiale Aanvalsmag is derhalwe op die been gebring. Dit is vernoem na die goddelike wind, kamikaze, ’n tifoon wat volgens tradisie in die 13de eeu die skepe van Mongoolse invallers weggewaai het. Vir die eerste kamikaze-aanval is vyf Zero-vegvliegtuie elk toegerus met ’n 250-kilogram-bom vir ’n selfmoordduikaanval op ’n teikenskip.

Die Jatabe-vlootvliegkorps waaraan ek behoort het, het die opdrag ontvang om ’n spesiale selfmoordeskader te organiseer. Elkeen van ons moes ’n vorm invul, waarop ons moes aandui of ons gewillig sou wees om ’n lid van die selfmoordaanvalskorps te word.

Ek het gevoel dat ek my lewe vir my land moet opoffer. Maar al sou ek aanbied om my lewe op te offer deur op ’n selfmoordsending te gaan, kon ek afgeskiet word voordat ek die teiken tref, en dan het ek verniet gesterf. Sou my ma tevrede wees as ek my lewe beëindig sonder om my gesinsverpligtinge na te kom? Dit was moeilik om myself te oortuig dat ’n selfmoordsending die beste manier sou wees om my lewe te gebruik. Tog het ek aangebied om te gaan.

In Maart 1945 is die eerste groep van die Jatabe- Spesiale Aanvalskorps gevorm. Hoewel 29 van my kollegas gekies is, was ek nie een van hulle nie. Nadat hulle spesiale opleiding ontvang het, is daar besluit dat hulle in April vanaf die Kanoja-lugbasis in die Kagosjima-distrik op die dodelike sending sou vertrek. Voordat hulle na Kanoja oorgeplaas is, het ek my vriende besoek, want ek wou graag uitvind hoe hulle oor die selfmoordsending voel.

“Ons gaan sterf”, het een van hulle kalm gesê, “maar jy moenie haastig wees om te sterf nie. As enigeen van ons dit oorleef, moet hy ander vertel hoe kosbaar vrede is en probeer om dit te bewerkstellig.”

Op 14 April 1945 het my makkers vertrek. Ure later het ons almal na ’n uitsending geluister om te hoor wat gebeur het. Die omroeper het gesê: “Die Eerste Sjowa-eenheid van die Kamikaze- Spesiale Aanvalsmag het ’n duikaanval op ’n vyandelike taakmag op see, oos van die Kikai Sjima, uitgevoer. Almal het in die aanval gesterf.”

Ohka—’n selfmoordbom

Ná twee maande is ek na die Konoike-vlootvliegkorps oorgeplaas as ’n lid van hulle Jinrai- Spesiale Aanvalseskader. Jinrai beteken “die goddelike donderweer”. Die eskader het bestaan uit landvliegtuie (wat Aanvallers genoem is), begeleidende vegvliegtuie en bomwerpers wat van vliegdekskepe af kon opstyg.

Aan elke “moeder”-vliegtuig—dit wil sê die tweemotorige Aanvaller—het ’n Ohka gehang, wat “kersiebloeisel” beteken. Dit was ’n simbool van die jong vlieëniers wat bereid was om hulle lewens op te offer. Die Ohka was ’n eensitpleksweeftuig met ’n vlerkspan van vyf meter en het 440 kilogram geweeg. In die neus was daar ongeveer een ton plofstof.

Terwyl die moedervliegtuig die teiken genader het, het ’n vlieënier in die Ohka geklim, wat dan van die moedervliegtuig losgemaak is. Dit het ’n ruk lank gesweef terwyl dit aangedryf is deur drie vuurpyle, wat elk tien sekondes lank gebrand het, en dan het dit in die teiken vasgevlieg. Dit kon tereg ’n selfmoordbom genoem word. As dit eers gelanseer is, was daar geen terugkeer nie!

Gedurende oefensessies het Ohka-vlieëniers Zero-vegvliegtuie gebruik om van ’n hoogte van ongeveer 6 000 meter af op die teiken af te peil. Ek het gesien hoe ’n hele paar vlieëniers hulle lewe tydens hierdie oefensessies verloor.

Voordat ek by die eskader aangesluit het, het die eerste groep vertrek. Dit het bestaan uit 18 Aanvallers wat met Ohkas toegerus is en deur 19 vegvliegtuie begelei is. Die Aanvallers was swaar en stadig. Nie een van hulle het hulle teiken bereik nie. Al die Aanvallers en die vliegtuie wat hulle begelei het, is deur Amerikaanse vegvliegtuie afgeskiet.

Aangesien daar toe nie meer vegvliegtuie oor was om hulle te begelei nie, moes die Jinrai-eskader hulle latere sendings daarsonder uitvoer. Dié wat daarna op sendings gegaan het, het nooit teruggekeer nie. Hulle het almal gesterf in die gevegsgebied van Okinawa.

Laaste dae van die oorlog

In Augustus 1945 is ek na die Otsoe-vlootvliegkorps oorgeplaas. Die basis waarheen ek gestuur is, was aan die voet van Hiei-zan naby die stad Kioto. Omdat daar verwag is dat Amerikaanse troepe die hoofeiland van Japan sou binneval, is planne gemaak om Ohkas van die berg af te lanseer om selfmoordaanvalle op Amerikaanse oorlogskepe te doen. Spore vanwaar die sweeftuie af gelanseer kon word, is bo-op die berg aangebring.

Ons het gewag op die opdrag om aan te val. Maar daardie opdrag het nooit gekom nie. Nadat Hirosjima en Nagasaki op 6 en 9 Augustus deur atoombomme vernietig is, het Japan op 15 Augustus onvoorwaardelik aan die Verenigde State en sy bondgenote oorgegee. Uiteindelik was die oorlog verby. Ek het dit amper nie oorleef nie.

Teen die einde van Augustus het ek na my tuisdorp Jokohama teruggekeer, maar ons huis is heeltemal verwoes in lugaanvalle deur B29-bomwerpers. Ons gesin was in volslae wanhoop gedompel. My suster en haar seun het in die vlamme omgekom. Dit was egter ’n troos dat my jonger broer veilig teruggekom het.

Te midde van al die verwoesting en ernstige voedseltekorte is ek terug universiteit toe om my opleiding te voltooi. Ná ’n jaar het ek gegradueer en werk gekry. In 1953 is ek met Mitsjiko getroud en mettertyd het ek die vader van twee seuns geword.

My soeke na vrede

In 1974 het Mitsjiko die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies begin studeer. Kort voor lank het sy hulle vergaderinge begin bywoon en saam met hulle aan die predikingswerk deelgeneem. Ek het nie daarvan gehou dat sy so dikwels uitgaan nie. Sy het verduidelik dat die Christelike bediening tot ware vrede en geluk bydra. As dit die geval is, het ek gedink, moet ek haar nie teëstaan nie. Ek moet eerder met haar saamwerk.

Omstreeks daardie tyd het ek ’n paar jong Getuies gekry om as nagwagte by my firma te kom werk. Toe die jong Getuies kom, het ek hulle oor hulle organisasie en bediening uitgevra. Ek was verbaas om te sien dat hulle, anders as ander jongmense van hulle ouderdom, doelgerig was en ’n vrywillige gees gehad het. Die Bybel het hulle gehelp om hierdie eienskappe aan te kweek. Hulle het verduidelik dat daar onder die Getuies regoor die wêreld geen rassediskriminasie is nie en dat hulle streng bly by die Bybel se opdrag om God en hulle naaste lief te hê (Matteus 22:36-40). Hulle beskou hulle medeaanbidders as broers en susters, ongeag hulle nasionaliteit.—Johannes 13:35; 1 Petrus 2:17.

‘Dis niks anders as idealisme nie’, het ek gedink. Aangesien die talle Christelike godsdienste teen mekaar geveg het, was dit vir my moeilik om te glo dat Jehovah se Getuies anders is.

Ek het my bedenkinge uitgespreek. Die jong Getuies het die Yearbook of Jehovah’s Witnesses gebruik om vir my te wys dat die Getuies in Duitsland opgesluit en selfs tereggestel is weens hulle neutrale standpunt onder die Hitler-regime. Dit het my oortuig dat Jehovah se Getuies ware Christene is.

Intussen het my vrou in Desember 1975 haar toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Ek is by daardie geleentheid ’n Bybelstudie aangebied. Maar toe ek dink aan my finansiële verpligtinge, soos my seuns se studiegeld en die verband op my huis, het ek dit vir eers nie aanvaar nie. Getroude mans in die gemeente het hulle sekulêre werk aangepas sodat hulle meer vrye tyd kon hê. Ek het aangeneem dat dit ook van my verwag sou word. Maar nadat daar vir my gewys is hoe ’n balans gehandhaaf kan word tussen die Christelike weg en sekulêre werk, het ek uiteindelik besluit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer.

Ek besluit om die God van vrede te dien

Nadat ek twee jaar lank gestudeer het, het my Bybelstudiehouer my gevra of ek al daaraan gedink het om my lewe aan God toe te wy. Maar ek het gehuiwer om dit te doen, en dit het my gepla.

Eendag het ek by die werk by die trappe afgehardloop. Ek het gestruikel, geval, die agterkant van my kop gestamp en my bewussyn verloor. Toe ek my bewussyn herwin, het ek ’n verskriklike hoofpyn gehad, en ek is in ’n ambulans hospitaal toe geneem. Hoewel die agterkant van my kop erg geswel was, was daar nie ’n breuk of inwendige bloeding nie.

Hoe dankbaar was ek tog teenoor Jehovah vir die feit dat ek nog lewe! Van toe af was ek vasbeslote om my lewe te gebruik om Jehovah se wil te doen, en ek het my aan hom toegewy. In Julie 1977 is ek op die ouderdom van 53 gedoop. My oudste seun, Jasoejoeki, het ook die Bybel gestudeer en is omtrent twee jaar later gedoop.

Ongeveer tien jaar ná my doop, het ek afgetree. Gedurende daardie jare het ek ’n balans gehandhaaf tussen my Christelike lewenswyse en my sekulêre werk. Tans het ek die voorreg om as ’n ouer man in Jokohama te dien en baie tyd in die Christelike bediening deur te bring. My oudste seun dien as ’n ouer man en ’n voltydse bedienaar in ’n nabygeleë gemeente.

Aangesien ek die spesiale aanvalseskader en sy dodelike sending oorleef het, is ek dankbaar om te kan lewe en is dit vir my ’n eer om aan die verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk” deel te neem (Matteus 24:14). Ek is ten volle daarvan oortuig dat die voorreg om as een van God se knegte te wandel, die allerbeste lewenswyse is (Psalm 144:15). In die nuwe wêreld wat voor die deur is, sal die mensdom nooit weer oorloë beleef nie, want “nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie”.—Jesaja 2:4.

As dit God se wil is, sal ek graag in die opstanding my makkers wil ontmoet wat in die oorlog gesterf het. Dit sal wonderlik wees om met hulle te praat oor die vreedsame lewe wat hulle op ’n paradysaarde onder die regverdige heerskappy van God se hemelse Koninkryk kan geniet!—Matteus 6:9, 10; Handelinge 24:15; 1 Timoteus 6:19.

[Prent op bladsy 19]

Toe ek in die vlootlugmag was

[Prent op bladsy 18, 19]

“Ohka”—’n selfmoordbom

[Erkenning]

© CORBIS

[Prent op bladsy 20]

Saam met my makkers voor die dodelike sending. Ek is tweede van links af, die enigste oorlewende

[Prent op bladsy 21]

Saam met my vrou, Mitsjiko, en my oudste seun, Jasoejoeki

[Foto-erkenning op bladsy 18]

U.S. National Archives photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel