Ek sal nie meer leer om oorlog te voer nie
SUIDDAKOTA in die Midde-Westelike Verenigde State is ’n boerderystaat. Beeste wei op sy mooi vlaktes. In die somer staan die landerye vol van die koring, gars, hawer, mielies en rog. Hier, in die dorp Aberdeen, het ek op 10 Julie 1921 die eerste lewenslig aanskou. In my veelbewoë lewe sou ek die uiterstes van oorlog en vrede, haat en liefde ervaar.
My ouers was hardwerkende Duitsers wat in godsdiens en opvoeding geglo het. Ek is gevolglik in die Lutherse geloof gedoop en grootgemaak. In 1939 het ek my skoolloopbaan voltooi. My ouers was toe reeds geskei, en my vader het ons ontval. Watter lewensweg sou ek nou inslaan?
Omdat ek ’n diepe waardering vir die Bybel en vir God gehad het, het ek aansoek gedoen om toelating tot ’n Lutherse kweekskool om vir predikant te leer. Intussen het die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek, en aangesien ek nog nie van die kweekskool gehoor het nie, het ek in Julie 1940 by die Amerikaanse Vloot aangesluit. So is die teerling gewerp vir ’n loopbaan in oorlog in plaas van vrede.
Na my basiese opleiding het ek besluit om in die Vloot se Lugmag te dien. My eerste oorsese toewysing was by ’n lugbasis in Olongapo in die Filippyne, nie ver van Manila af nie. Omdat die Verenigde State nog nie tot die oorlog toegetree het nie, was ons sendings hoofsaaklik daarop gemik om die Japannese vloot in die Stille Oseaan dop te hou.
Die Japannese aanval
Op 7 Desember 1941 was ek op naweekdiens, wat bloot beteken het dat ek die radio moes beman. Dit was gewoonlik ’n tyd om te ontspan. Meteens het die radio ’n ontstellende boodskap in Morsekode begin uitstotter: “Die Japannese val Pearl Harbour aan”! Ek het uit die stoel opgespring om alarm te maak. Ek het geweet dat dit nie lank sou wees voor die Japannese ook die Filippyne aanval nie.
My vrese was gegrond, want teen dagbreek het die bomme geval. Baie van ons vliegtuie is op die grond vernietig. Dié wat in die lug gekom het, het die Japannese oorlogskepe met bomme en torpedo’s bestook. Nuwe bemannings het telkens die oues vervang wanneer die vliegtuie kom land het. Ek het ook aan hierdie skynbaar oneindige, gevaarlike sendings deelgeneem.
Dit was ’n verlore stryd. Die Japannese vegvliegtuie het op ons neergeskiet soos ’n valk op ’n weerlose kuikentjie. Binne ’n paar dae is al ons vliegtuie vernietig, en van die 500 man op die basis was daar net ongeveer 50 oor. Ons moes van die eilande af wegkom. Met ’n klein Franse passasierskip wat ons opgekommandeer het, het ons deur die Japannese blokkade gebreek en na NederlandsIndië, ongeveer 3 200 kilometer daarvandaan, ontvlug.
Ons het in Surabaja, in wat nou Indonesië genoem word, aan wal gegaan. Maar die Japannese was gou op ons spoor, en ons moes terugval tot by Port Darwin in Australië, waar ons gedink het dat ons ’n rukkie veilig sou wees. Die volgende oomblik het Japannese troepevliegtuie uit die niet verskyn en die hawe in ’n brandende inferno verander.
’n Stuk of 20 skepe is gekelder. Ons skip, die Willie B. Preston, ’n torpedojaer wat tot ’n vliegtuiggeleiskip omgebou is, het onder bomme en masjiengeweervuur deurgeloop totdat dit aan die brand geslaan het. Ons het die brande geblus gekry en het daardie nag mank-mank uit die hawe geglip en al met die weskus van Australië langs gevaar tot in Fremantle.
Daardie nag is die dooies, baie van hulle my boesemvriende, in seil toegedraai en verswaar, en toe, na ’n paar woorde wat baie min troos gebied het, is die lyke in die grys see gestort. Die oorlog het my reeds geleer om die vyand te haat. Hierdie verskriklike slagting het my nog bitterder gemaak.
’n Nuwe oorlogsveld
Na dertig dae verlof is ons na die Aleoeteeilande verplaas, ’n eilandketting wat suidweswaarts van Alaska af wegkrul. Ons is voortdurend uitgestuur om Japannese skepe uit te snuffel en te vernietig.
Op 8 Augustus 1942, tydens die slag van Attoe, is ons vliegtuig getref en het ons radar in die slag gebly. Op pad terug na die basis toe het ons in digte mis verdwaal. Die laaste wat ek kan onthou, was toe die kaptein geskreeu het: “Ons gaan verongeluk!”
Toe ek my bewussyn herwin, het ek gesien dat ons vliegtuig nog brand. Ons het teen ’n berghang vasgevlieg en ek is uit die wrak geslinger. Die stertgedeelte het afgebreek, en as iemand nog gelewe het, sou hy daar wees. Die pyn in my liggaam was ondraaglik, maar ek het daarin geslaag om na die stert te kruip, en daar het ek my beste vriend nog lewend aangetref. Sy toestand was uiters kritiek. Ek het hom met ’n groot gesukkel van die brandende wrak af weggesleep en toe weer my bewussyn verloor.
Dit was waarskynlik die geraas van die motore van die soekvliegtuie terwyl hulle laag oor die wrak gevlieg het wat my die volgende dag wakker gemaak het. Toe die vliegtuig bokant ons was, het ek my vliegbaadjie gewaai en toe weer bewusteloos geraak.
Toe ek daar wakker word, was ek in ’n Vloothospitaal met my makker in die bed langs my. Hy het net ’n paar dae gelewe. Nou was ek die enigste oorlewende van ’n bemanning van nege. Voor daardie tyd het ek baie manne sien sterf, maar nou was my beste vriende almal dood. Ek het my bly afvra: ‘Maar hoekom ek? Hoekom het ek dit oorleef?’ Op hierdie stadium het ek opgehou om die Bybel te lees en het my geestelikheid ’n laagtepunt bereik.
’n “Harp” verander my lewe
Van Dutch Harbour in die Aleoete af is ek met ’n Vloot-hospitaalskip na die Bremerton-Vloothospitaal in die staat Washington geneem. My kakebeen, wat op verskeie plekke gebreek was, was nie reg gespalk nie en moes weer gebreek en gespalk word. Dit het ongeveer ses maande geduur voor ek van my veelvuldige beserings herstel het.
Na my ontslag uit die hospitaal het ek my ouer suster in Kalifornië besoek. Eendag het ek gesien hoe haar buurman boeke weggooi wat nog nuut gelyk het. Een boek se titel was Prophecy. Ek het gevra of dit oor die Bybel gaan. Hy het gesê: “Ja, en daar is nog ander ook. Jy kan hulle almal kry.” Dit is hoe ek The Harp of God en verskeie van die Wagtoringgenootskap se ander boeke in die hande gekry het.
My belangstelling in geestelike dinge is weer aangewakker. Ek wou die Bybel graag beter verstaan. Ek het die boek Prophecy geneem en van voor tot agter deurgelees, maar ek kon dit nie verstaan nie. Ek het toe al die boeke weggegooi behalwe The Harp of God, wat ek in my vlugsak geprop het.
’n Paar maande lank het ek saam met ’n hooggeplaaste Vlootoffisier rondgevlieg om Vlootbasisse aan die weskus van die V.S.A. te inspekteer. Dit het my heelwat vrye tyd gegee vir die sogenaamde genietinge van die lewe, maar dit het my op die end leeg en rusteloos gelaat. Ek het aangebied om na die aktiewe diens terug te keer. My nuwe eskader van vinnige, middelslagbomwerpers is na Saipan en Tinian in die Stille Oseaan gestuur. My opdrag was om bomme met behulp van radar uit die eskader se voorste vliegtuig te werp. Elke bemanning is met tussenpose van ’n paar dae op gevegsendings uitgestuur, met die gevolg dat ons heelwat vrye tyd by die basis gehad het.
Terwyl ek op ’n dag in my vliegsak rondgevroetel het op soek na ’n pakkie kaarte, het ek op die boek The Harp of God afgekom. Ek het dit begin lees. Tot my verbasing het ek geleer dat “die hel” die graf is, dat die mens ’n siel is en nie onsterflik is nie en dat daar geen Skriftuurlike stawing vir die Drie-eenheidsleer is nie. Hierdie basiese begrip het my verstom.
Ek het gou my Bybel uitgehaal en al die teksverwysings begin naslaan. Ek kon skaars my oë glo. Dit was alles so duidelik en eenvoudig. Ek was verheug oor wat ek geleer het. Maar nadat ek die saak oordink het, het ek besluit om na die Protestantse en Katolieke kapelane te gaan en hulle te vra om vir my uit die Bybel te bewys dat die hel nie die graf is nie.
’n Kapelaan se advies
Hulle kon dit natuurlik nie doen nie. Een het vir my advies gegee wat ek tot vandag toe onthou. Hy het gesê: “Miller, jy het ’n fantastiese Vlootrekord en is hoog gerespekteer. Jy het ’n goeie toekoms in die Vloot. Jy is een van die jongste eerste onderoffisiere wat nog ooit aangestel is. Moenie die vreeslike fout maak om by die Jehovasgetuies aan te sluit wat nie die vlag salueer of vir hulle land veg nie.” Hierdie kapelane het geweier om enige van my Bybelvrae te beantwoord, en hulle enigste reaksie was om uit te vaar teen welbekende Getuies wat toe reeds dood was.
Hulle aanmerkings het my bevooroordeeld gemaak teen Jehovah se Getuies. Maar nie een van hulle wou die Bybel oopmaak om my nuutgevonde oortuigings te weerlê nie. Ek het gedink: ‘Wel, dit is die waarheid. Ek moet my bes doen om ander te help om dit te verstaan.’ Die volgende dag het ek vir die ander manne begin vertel wat ek geleer het. Hulle het almal gedink dat dit baie anders was as my vroeëre denkwyse.
Die bevelvoerder het van my prekery te hore gekom en my na sy kantoor ontbied. Hy het gesê: “Miller, ons het al baie saam deurgemaak en oor ’n paar dae vertrek ons op een van ons gevaarlikste sendings, Iwo Jima! Ek weet hierdie prekery gaan my nie eintlik aan nie. Maar ek vra jou om daarmee op te hou totdat hierdie sending verby is.” Dit het na ’n billike versoek geklink en ek het ingestem.
Die slag van Iwo Jima
Voor ’n sending het ons altyd eers ons opdragte ontvang. Daar is vooraf geraam hoeveel manne sou sneuwel as ons Iwo Jima wou inneem. Ek het yskoud geword toe ek die getal hoor. Verliese was nie meer blote syfers op ’n stuk papier nie, maar menselewens.
Die Japannese het hard probeer om hierdie strategiese eiland te behou. Hulle het hulle in die koraalrotse al langs die kus ingegrawe, wat dit feitlik onmoontlik gemaak het om hulle uit te kry. Daar was net een manier om dit te doen—vlieg laag en bestrooi die kranse met dodelike napalmbomme. Toe hulle die grond tref, het vloeibare vuur in die krake en skeure ingeloop en die plek in ’n inferno verander.
Na ’n paar dae het ons Iwo Jima ingeneem en kon ons eindelik op die vliegveld land. Toe ek uit die bomwerper klim, het ek die dood oral om my gesien. Ek het op die koraalstrand gaan loop om die gevolge van die aanval te aanskou. Geen woorde kan die aakligheid van daardie tonele beskryf nie—verkoolde lyke het oral gelê. Dit was skokkend. Ek was diep ontroerd.
Volgens amptelike syfers het 8 000 Amerikaners by Iwo Jima gesneuwel, en 26 000 is beseer. Die Japannese het 22 000 man verloor. Dit alles vir ’n eiland van 20 vierkante kilometer!
In Augustus 1945 is die atoombomme op Japan gegooi. Binne ’n week het die Japannese oorgegee en was die oorlog verby.
Eerste kontak met die Getuies
By my terugkeer na die Verenigde State het ek my familie in Portland, Oregon, gaan besoek. Hulle was bitterlik gekant teen my nuwe oortuigings. Maar hulle het Howard Meier, een van Jehovah se Getuies, geken. Ek het dadelik met hom in aanraking gekom en hom gekonfronteer met wat die kapelane my omtrent die Getuies vertel het. Hy het gou daardie leuens opgeklaar. Ek het begin om die vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon en aan die predikingswerk deel te neem.
My studie van Bybelbeginsels oor oorlog en vrede het my laat besef dat ek nie langer aan militêre bedrywighede kon deelneem of ‘n militêre loopbaan met ’n waarlik Christelike lewe kon versoen nie (Jesaja 2:4; Mattheüs 22:37-40). Ek moes besluit wat ek gaan doen, want ek moes eerlank weer vir diens aanmeld.
Op hierdie tydstip het Howard Meier my raad gegee waarvoor ek hom altyd dankbaar sal wees. Hy het gesê: “Geestelik is jy nog ’n baba. In plaas daarvan om nou dadelik te besluit wat vir jou reg sou wees, beveel ek aan dat jy liewer na jou basis terugkeer, die vergaderinge by die nabygeleë Koninkryksaal van Jehovah se Getuies bywoon en, namate jy meer kennis en begrip verkry. Jehovah om sy hulp en leiding vra.”
Ek het my by die lugbasis op Whidbey Island, Washington, aangemeld. Ek het dadelik met die Anacortes-gemeente van Jehovah se Getuies begin assosieer. Kort daarna het ek van huis tot huis begin preek en die openbare toesprake op straat geadverteer. Dit was nie lank nie of ek het tussen agt en tien Bybelstudies by die basis gehou.
Die Vlootbasis het klagtes begin ontvang oor ’n eerste onderoffisier wat Bybeltoesprake op straat loop en adverteer. Ek is deur die kapelaan ingeroep, en hy het my baie duidelik laat verstaan dat ek ‘hierdie onsin moet STAAK!’ Ek het natuurlik geweier.
Voor die krygsraad
Terwyl ek op straat gepreek het, is ek deur die Vlootpolisie in hegtenis geneem. Die aanklagte? Ek sou die Vlootuniform skande aangedoen het. Dit het gelei tot ’n krygsraadverhoor wat detensie en/of oneervolle ontslag kon beteken. Ek het die gebruik van ’n Vlootprokureur van die hand gewys omdat ek van mening was dat ek my standpunt en my nuwe Bybelse oortuigings die beste kon verduidelik.
Ek het voor die krygsraadregters van die Vloot verskyn, en die aanklagte is voorgelees. Na heelwat bespreking en ’n lang kruisverhoor oor my oortuigings is ek gevra of ek ’n paar laaste woorde wou sê.
“Ja, ek wil”, het ek gesê. Ek het na die Amerikaanse vlag gewys en gesê: “Is daardie vlag ’n simbool van bespotting?”
“Wat de . . . bedoel jy daarmee, Miller?” het een van die bevelvoerders geblaf terwyl hy uit sy stoel orent gekom het.
“Wel, here, julle het my hele Vlootverslag voor julle. Julle weet dat ek my dienste aangebied het en dat ek geveg het vir die dinge waarvoor daardie vlag staan—dat ek veel meer gedoen het as wat my plig vereis het. Ek het geglo dit staan vir vryheid van aanbidding, spraak en godsdiens. Ek het gesien hoe my vriende voor my oë in die lug geblaas is omdat hulle ook vir daardie vryhede geveg het. Ek het duisende dood sien lê in die Filippyne, Australië, Nieu-Guinee, Saipan, Tinian, die Aleoete en Iwo Jima. Ek het oor die honderd gevegsendings en talle gevaarlike patrollies meegemaak. Ek het meer medaljes en eervolle vermeldings as feitlik enige van die duisende manne by hierdie basis. Gaan julle my die einste dinge ontsê waarvoor ek geveg het en waarvoor die vlag staan—vryheid van aanbidding en vryheid van spraak?”
Jy kon ’n speld in die hofsaal hoor val toe ek gaan sit het. Die regters het die sitting verdaag maar gou teruggekeer met die verklaring dat hulle nie ’n besluit oor my geval kon neem nie en dat dit na Washington, D.C., verwys sou word. Later het die finale beslissing van Washington, D.C., af gekom. Ek moes my diens van drie maande voltooi en sou dan diens ontvang wat ek gewetensgetrou kon doen. Op 14 Julie 1946 het ek eervolle ontslag gekry. Wat sou nou die volgende stap in my lewe wees?
Van oorlog tot vrede
Onder die veteraneprogram het ek die geleentheid gehad om ‘n kollege of universiteit by te woon en vir die loopbaan van my keuse te leer. Ek het dit van die hand gewys. Noudat ek ’n kennis van die waarheid en die Bybel se hoop op ewige vrede op aarde gehad het, wou ek ander help om die lewe te verkry. Ek wou die nagmerrie van oorlog en doodslag deur ‘n lewegewende werk vervang.—Psalm 46:9, 10; Jesaja 9:5, 6.
Ek is in Augustus 1946 by die “Blye Nasies”-byeenkoms in Cleveland, Ohio, gedoop. Ek het na Anacortes teruggekeer en tot die voltydse bediening toegetree. In 1947 het ek aansoek gedoen om by die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, te dien. Ek is aanvaar en het op 29 Maart 1948 by Bethel aangemeld. Ek het in verskeie afdelings gewerk voordat ek na die Diensafdeling verplaas is. Dit was hier dat ek die voorreg gehad het om sekretaris te wees vir broer T. J. (Bud) Sullivan, wat later ’n lid van die Bestuursliggaam geword het.
Hy was ‘n bron van wyse raad en ervaring en het ander altyd met vriendelikheid behandel. Ek onthou dat wanneer Bud ‘n moeilike geval hanteer het, hy altyd gesê het: “As ons dan ’n fout gaan maak, laat ons dit aan die genadekant maak, want Jehovah is ‘n God van genade.” ‘Watter goeie punt’, het ek gedink!—Psalm 116:5.
In 1953 het N. H. Knorr, destyds president van die Wagtoringgenootskap, my onverwags as die nuwe opsiener van die Diensafdeling aangestel. Dit sou beteken dat ek toesig moes hou oor al die dienswerk in die Verenigde State. Met Jehovah se hulp het ek daardie verantwoordelikheid 22 jaar lank nagekom. Sedert 1975 word dit deur ‘n komitee behartig.
In Maart 1952 het ’n pragtige jong suster Bethel toe gekom. Sy was reeds sedert 1947 in die voltydse diens. Haar naam was Brook Thornton. Ons het verlief geraak en is in Mei 1957 getroud. Brook het my lewe verryk en ons was nog altyd baie gelukkig terwyl ons saam by Bethel dien.
Vrede bring veranderinge mee
In 1969 het ek ’n ondervinding gehad wat my diep geroer het. Ek en my vrou het die voorreg gehad om die internasionale “Vrede op aarde”-byeenkoms van Jehovah se Getuies in Tokio, Japan, by te woon. Ek moet erken dat ek gemengde gevoelens gehad het omtrent ’n besoek aan Japan. Dit is baie moeilik om die herinneringe aan die oorlog uit te wis. Al het ek die Bybel se leringe aanvaar, het ek gewonder hoe ek in Japan sou reageer.
Die paar dae wat ons in daardie land deurgebring het, was vir my ’n openbaring! Ek het daar ’n vriendelike, nederige, vreedsame volk aangetref wat nou net so ’n afkeer van oorlog gehad het as ek. Hulle het ook verander in die jare sedert 1945. Ek was diep beïndruk.
My gesondheid verswak
In 1979 het ek ’n beroerteaanval gehad wat my gedeeltelik verblind en my hart aangetas het. En toe, in 1981, het ek verlam geraak weens ’n gebreekte skyf. Hoewel hierdie terugslae moeilik was om te aanvaar, het dit my meer as ooit geleer hoe belangrik dit is om begrip te hê vir ander se probleme en omstandighede.
Ek kan nie meer doen wat ek eens gedoen het nie. My werkdag is korter, maar ek geniet nog die voorreg om as lid van die Diensafdeling-komitee te dien. Ek het die getal aktiewe verkondigers in die Verenigde State sien aangroei van ongeveer 66 000 in 1946 tot meer as 640 000 in 1983. Net soos ek beywer hulle hulle vir vrede onder God se Koninkryk. Tot my groot vreugde was my moeder onder diegene wat in 1975 gedoop is. Al is sy 86, preek sy nog.
Nou hunker ek na die dag, nou so naby, wanneer Jehovah God sy regverdige Nuwe Orde gaan bring waarin oorloë, pyn en die dood vir altyd verby sal wees. Die Bybel sê: “Ons verwag volgens sy belofte [God se eie onfeilbare woord] nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Dit is my opregte begeerte om deel te wees van daardie “nuwe aarde” en vir ewig die gruwels van die oorlog waaraan ek deelgeneem het te vergeet.
[Prent op bladsy 25]
Harley Miller as eerste onderoffisier, V.S.A. se Vloot, 1945
[Kaart op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronlike teksuitleg)
KANADA
ALASKA
ALEOETE-EILANDE
Attoe
BERINGSEE
SIBERIE
[Prent op bladsy 30]
In Japan is ek diep beïndruk deur ’n vriendelike, nederige, vredeliewende volk