Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 2/8 bl. 5-7
  • Slagoffers ontmoet oortreders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Slagoffers ontmoet oortreders
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die slagoffers
  • ’n Oortreder
  • Die paneel sluit af
  • Wie is skuldig?
    Ontwaak!—1991
  • ’n Dodelike Kombinasie
    Ontwaak!—1991
  • Ek was ’n inbreker van beroep
    Ontwaak!—1991
  • My brandende begeerte om God te dien
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 2/8 bl. 5-7

Slagoffers ontmoet oortreders

DIE agtergrond: Paneel van DB-slagoffers, Geneseedistrik, noordelike New York. Die toneel: Ses persone, met foto’s van hulle geliefdes en saamgebind deur ’n gemeenskaplike band van droefheid, neem deel aan ’n pynlike poging om oortreders wat daaraan skuldig bevind is dat hulle onder die invloed bestuur het die oortreding op die hart te druk.

Hier volg enkele uittreksels uit hulle opmerkings wat deur die Ontwaak! verkort is.

Die slagoffers

’n Vader: “Dit is ons seun Eric. Hy was ’n ideale seun, vol humor, altyd glimlaggend. Nou is ek ’n bedroefde, treurende vader wie se seun van 17 dood is. In ’n oomblik was ons drome daarmee heen, ons toekomsverwagtinge, ons liefde—vernietig deur ’n dronkbestuurder.

“Ek besoek die begraafplaas saam met my vrou. Dit is die laaste draadjie waaraan ons kan vasklou. Ons lees Eric se woorde wat op die grafsteen gegraveer is: ‘Ek sal julle met my hele hart mis, en ek hoop dat ons nie ver van mekaar sal wees nie; en as ons is, sal ek huil, want ek wou nooit tot siens sê nie.’ En ons wil ook nie tot siens sê nie.”

’n Jong weduwee: “Dit is my gesin. ’n Twee-en-twintigjarige man is by ’n huweliksonthaal weg onder die voorwendsel dat hy nie besope is nie. Teen ’n hoë spoed het hy ’n waarskuwingsteken op ’n donker, onbekende pad met sy bakkie genader en dit geïgnoreer, toe ’n stopteken veronagsaam en in ons vasgejaag. My volgende gewaarwording was toe ek met ’n verskriklike pyn in my bors bygekom het. Terwyl ek met moeite probeer het om my oë oop te maak, het ek my man vaagweg gesien waar hy slap oor die stuurwiel hang. Ek het my baba hoor huil. Ek onthou dat ek gevra het: ‘Wat het gebeur?’

“Niemand het geantwoord nie. My man, Bill, 31 jaar oud; my oudste seun, 6 jaar oud; en my tweelingseuns, 4 jaar oud, was dood. Al wat vir my oorgebly het, was my klein nege maande oue dogtertjie wat met ’n ernstige hoofbesering in die hospitaal opgeneem is.

“Terwyl ek op ’n somber, nat, Woensdagoggend in die hospitaal gelê het, is my man en my drie seuns begrawe. Ek het aan vier doodskiste gedink, vier verminkte liggame, vier mense wat ek nooit weer sou sien, sou hoor of sou aanraak nie. Hoe was ek veronderstel om voort te gaan?

“Ek en my dogtertjie moes noodgedwonge ’n nuwe lewe begin. Ek het my huis verkoop omdat ek nie met al die herinneringe kon saamleef nie. Ek vind dit moeilik om die gedagte te verwerk dat my man en drie pragtige seuns in die begraafplaas lê. Al die sorg, die bekommernis, die liefde was nie genoeg om hulle te beskerm nie. Die pyn, frustrasie en leegheid wat ek ondervind, kan nie in woorde beskryf word nie. Hulle lewe was so kort.

“Die persoon wat die lewens van my gesin geneem het, was nie ’n geharde misdadiger of ’n alkoholis of ’n gewoonteoortreder nie—net ’n gewone mens wat ’n gesellige aand uit wou geniet. Ek betaal hierdie verskriklike prys omdat iemand besluit het om te drink en te bestuur. Mag dit nooit met jou of met iemand vir wie jy lief is, gebeur nie.”

’n Moeder: “My dogter se naam is Rhonda Lynn. Sy sou op 21 Junie haar hoërskoolloopbaan voltooi het. Op 10 Junie was sy besig met die laaste les van haar bestuurkursus. Op daardie dag het twee persone wat partytjie gehou en straf gedrink het die onverantwoordelike besluit geneem om te bestuur. In een kortstondige oomblik het hulle Rhonda se lewe, sowel as dié van haar bestuurinstrukteur en twee van haar klasmaats, beëindig.

“Daardie middag het ek ’n oproep ontvang om te sê dat Rhonda in ’n ongeluk betrokke was. Al waaraan ek kon dink, was om by haar te wees. Toe ek by die hospitaal aankom, is ek afgeraai om in te gaan om Rhonda te sien. Maar ek moes seker wees. Ek het hulle die laken laat wegtrek. Haar gesig was baie geswel en erg gekrap. Ek het net na haar pragtige oë gestaar en aan haar arm gevat, maar ek kon nie haar verminkte liggaam gesond maak nie. Al wat ek kon doen, was om haar pragtige hare te streel. Daar was geen reaksie nie. Sy was dood.

“Ek het die ongelukkige taak gehad om haar pa en broers te vertel dat sy dood is. As gevolg van die verskriklike leemte is ons lewe nou nie meer dieselfde nie. As ons haar net teen ons kon vasdruk, haar nog net een keer kon vashou. Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Al wat vir ons oorgebly het, is die herinneringe.”

’n Oortreder

’n Jong man: “My verhaal verskil van die wat julle tot dusver gehoor het. Myne het 23 maande gelede begin. Ek onthou dit asof dit gister was. My vriendin het daardie aand ’n kegelballigawedstryd gespeel, en ek het besluit om ’n paar drankies te geniet terwyl ek kyk hoe sy speel. Ek het vyf of ses glase bier in die daaropvolgende twee en ’n half uur gedrink. Ek het gedink dat ek verantwoordelik sal optree en ’n uur sal wag voordat ek huis toe ry.

“Na sowat 30 minute op pad terug huis toe was daar ’n ambulans in die pad en ’n man in die middel van die pad wat die verkeer gereguleer het. Ek het die man nie gesien voor dit te laat was nie. Ek het probeer uitswaai en het rem getrap. Toe my voorruit aan skerwe spat, het ek vir myself gesê: ‘Laat dit tog ’n takbok of ’n hond wees!’ Maar ek het geweet dit is nie. Ek het uit die kar geklim en na hom toe gegaan terwyl ek skreeu: ‘Is alles reg? Is alles reg?’ Hy het nie geantwoord nie. Ek onthou dat ek oor hom gebuk en na sy gesig gekyk het. Dit was alles so morbied.

“Die verkeerspolisie het na my toe gekom en my begin vrae vra. Toe het hulle gesê: ‘Jy werk goed saam, maar jy loop en praat eienaardig. Het jy gedrink?’ Hulle het my na die polisiekwartiere geneem en my getoets. Dit was 0,08 [’n onwettige bloed-alkoholinhoud in die meeste dele van die Verenigde State]. Ek kon nie glo dat dit besig was om met my te gebeur nie. Ek het gedink dat so iets nooit met my kan gebeur nie. Maar nou staan ek tereg op aanklagte van strafbare doodslag uit nalatigheid, BMAV [Bestuur met Aangetaste Vermoëns].

“Dit was net ’n maand voor ek my onderwysersdiploma sou kry. Julle weet hoe die gemeenskap onderwysers beskou. Hulle verwag van hulle om moreel onberispelik te wees. Dit is waarvoor ek gewerk het, en nou staan ek in gevaar om dit alles te verloor.

“Ek is ’n proeftyd van ’n jaar opgelê, het my rybewys vir 19 maande verloor, is ’n boete van 625 rand opgelê, het ’n naweek in die tronk deurgebring, het 600 uur gemeenskapsdiens verrig en het ’n nege weke lange voorligtingskursus oor die gebruik van alkohol gevolg. Hierbenewens onthou ek die nagte wat ek bewend wakker geword het met daardie man se gesig voor my. En ek moes teruggaan en al my vriende en familie in die oë kyk. Dit het vir my na ’n stryd gelyk om met my lewe voort te gaan. Ek was nie seker of dit die moeite werd was nie. Ek moes teruggaan as proefonderwyser en al daardie kinders in die oë kyk. Ek kon nie help om te wonder hoeveel van hulle geweet het wat ek gedoen het nie. En ek was gevul met skuldgevoelens en selfverwyt teenoor die man se gesin.

“Die aand van die ongeluk moes ek die moeilikste ding doen wat ek nog ooit in my lewe gedoen het—ek moes my ma bel en vir haar sê: ‘Ma, ek het per ongeluk ’n man doodgery. Ek het iemand nodig om my huis toe te neem.’ Toe sy daar kom, het ons mekaar net vasgehou en gehuil. Ek wens my ergste vyand nie toe om deur te maak wat ek moes deurmaak nie. Mense wat drink en bestuur—dis ’n probleem waarmee ek wil help. Wanneer julle van hierdie vergadering weggaan, hou ons in gedagte. Moet ons nooit vergeet nie.”

Die paneel sluit af

Patricia Johnston, koördineerder van hierdie paneel van slagoffers, het met haar eie tragiese ervaring van haar alkoholiese vader se noodlottige ongeluk afgesluit. Sy het gesê: “As ek al die verdriet wat alkohol veroorsaak in ’n bottel kan gooi en dit ‘een vir die pad’ maak, sal dit nooit weer nodig wees om ’n program soos hierdie aan te bied nie!”

Ter afsluiting het die voorsitter gevra of enigiemand nog vrae wou vra. Geen vrae is gevra nie. Maar daar was baie wat met oë vol trane gesê het: “Julle sal nooit weer hoor dat ek drink en bestuur nie.”

Slegs die tyd sal leer watter sukses sulke panele het om die tempo te beïnvloed waarteen gearresteerdes dit weer dronk op die pad waag. Maar wat hierdie probleem so skrikwekkend maak, is die geweldige aantal, miljoene persone, wat dit op die pad waag terwyl hulle onder die invloed is en wat nie gevang word nie.

Onlangse verslae van die Buro van Regstatistiek van die VSA se Departement van Justisie het getoon dat byna twee miljoen persone in ’n onlangse jaar vir BOI (Bestuur Onder die Invloed) gearresteer is. Maar statistiek het ook getoon dat daar vir elke persoon wat vir DB (Dronkbestuur) gearresteer word, tot 2000 persone is wat in ongepatrolleerde gebiede onopgemerk bly, getalle wat net wag om tot ongelukke te lei.

Wat het bygedra tot die skepping van ’n omgewing wat sulke dodelike en onverantwoordelike optrede bevorder? Waarom duur die stryd teen drink-en-bestuur voort sonder om die oorhand te kry? Kom ons kyk na ’n paar van die antwoorde.

[Prent op bladsy 7]

Voorstelling van skuldige voor paneel van slagoffers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel