Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 2/8 bl. 15-17
  • Wat van nagklubs?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat van nagklubs?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nagklubs vandag
  • Wie gaan jy ontmoet?
  • Wees versigtig
  • Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?
    Ontwaak!—2004
  • Pas op vir musiek wat verderf!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Jongmense—Weerstaan die gees van die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 2/8 bl. 15-17

Jongmense vra . . .

Wat van nagklubs?

“ONS het ’n bietjie ontspanning nodig.” “Ons gaan net om te dans.” “Almal gaan.” “Ons wil net ’n bietjie pret hê.” Dit is hoe verskeie jongmense aan ’n Ontwaak!-verslaggewer verduidelik het waarom hulle nagklubs gereeld besoek het. Sulke nagklubs is uiters gewild onder baie jongmense, en as daar nagklubs in jou omgewing is, het jy dit dalk al oorweeg om self te gaan.

Baie jongmense stroom vandag na die volgende klubs soos die tydskrif Friday dit beskryf: “Partytjietyd is enige tyd en enige tyd is vanaand. Die partytjie hou nooit op vir dié met geen inhibisies nie. Danskoors voer die stad mee in ’n vloed van koeldranke, flikkerende neonligte en opgewekte musiek wat jou voete laat jeuk. ‘Klubs het nou iets vir almal se smaak. . . . Daar is klubs wat in jong beroepsmense, studente, homoseksuele en ouer mense se smaak val.’”

Vir die gesofistikeerde mense is daar klubs wat ’n aardige bedraggie as toegangsgeld, deftige kleredrag en selfs die korrekte gedragspatroon vereis om toegang te verkry. Vir dié wat nie so welgesteld is nie, is daar klubs wat nie so rojaal is nie, wat ’n partytjie-atmosfeer teen ’n laer prys aanbied. En vir jongmense wat te jonk is (of nie slinks genoeg is nie) om toegang tot klubs vir volwassenes te verkry, is daar tienerklubs wat sogenaamd alkoholvry is.

Dit is nie moeilik om te verstaan waarom nagklubs ’n sterk aantrekkingskrag vir baie jongmense het nie. Dit is heeltemal natuurlik om pret te soek wanneer jy jonk is. (Vergelyk Prediker 11:9.) ’n Aand op die dansvloer lyk dalk soos ’n heilsame manier om van die spanning van skool en werk ontslae te raak. Maar hoe heilsaam is nagklubs werklik?

Sonya, ’n jong vrou wat nagklubs vroeër gereeld besoek het, erken: “Die gedagte is dalk heel onskuldig. Jy gaan om te dans en die aand te geniet. Maar dikwels loop dit op baie meer uit. Jy begin om op aande te gaan wanneer die musiek op sy lewendigste en die mense op hulle vrolikste is. Kort voor lank ken jy al die gereelde besoekers en is jy ook ’n gereelde besoeker. Die doel van alles is om te dans—en iemand te ontmoet. En al is dit nie die rede waarom jy gaan nie, is dit altyd die rede waarom hulle gaan.” Oordryf Sonya?

Nagklubs vandag

Die diskowêreld van tien jaar gelede het berug geword as ’n teelaarde vir geslagsonsedelikheid, dwelmmisbruik en self homoseksualiteit.a En sedertdien het dinge nie veel verander nie. Hoewel die musiek (in die Verenigde State word dit dikwels huismusiek of eenvoudig dansmusiek genoem) en die danspassies verander het, kom die atmosfeer in baie nagklubs onrusbarend ooreen met die onsedelike diskowêreld.

In ’n artikel in die tydskrif Life oor huismusiek sê een nagklubliefhebber: “Dansmusiek het op sy eenvoudigste nog altyd ’n primitiewe gevoel gehad—’n polsende maatslag en ’n erotiese ritme, wat ’n mens meesleur totdat ’n soort gemeenskaplike verrukking jou aangryp. Iets het ontbreek in die betonoerwoud, en huismusiek vul daardie skreiende leemte.” David Piccioni, ’n platejoggie van New York, sê: “Die oogmerk is om die hele nag lank heeltemal van jouself te vergeet.”

Met die oog op onlangse dansgiere soos die onsedelike lambada, het die tydskrif Mademoiselle gesê: “Seks: Dit is uit die badkamers uit en terug waar dit hoort—op die dansvloer. In die ou dae (die sewentigerjare) was die dansvloer daar vir die liefdesvoorspel en die badkamers vir seks en dwelms. Noudat almal bekommerd is oor Vigs is die badkamers daar vir optooiery en is die dansvloer die plek waar jy kyk hoe ander mense seks het, of die indruk skep dat hulle seks het.” Ja, musiek kan gebruik word om ’n atmosfeer te skep waar sedelike inhibisies oorboord gegooi en seksualiteit opgewek word.

Wie gaan jy ontmoet?

Sommige klubs is ook bekend as plekke waar jy iemand van die ander geslag kan ontmoet. Maar watter soort mense sal jy dalk ontmoet? Een meisie wat vroeër in nagklubs geboer het, erken: “Baie van die mense wat daar is, lei ’n onsedelike lewe en stel daarin belang om seks met iemand te hê. As hulle tot jou aangetrokke voel, sal hulle vir jou drankies, drankies en drankies koop en die hele aand om jou draai en mooi, liewe dinge sê in die hoop dat jy hulle hul sin sal gee.”

Sommige plekke is selfs ontwerp om voorsiening te maak vir hierdie onsedelike bedrywighede. Doris, ’n jong vrou wat nagklubs ook vroeër gereeld besoek het, sê: “Daar is klubs wat sitgedeeltes het waar mense gaan om mekaar te soen en aan mekaar te vat. Baie getroude mans is daar sonder hulle vrouens. Party is daar in die hoop dat hulle iemand sal ontmoet wat die nag by hulle sal deurbring of met wie hulle ’n verhouding kan aanknoop, en ander is op soek na ’n maat.” Doris sluit af deur te sê: “Die atmosfeer in nagklubs is baie bevorderlik vir onsedelikheid. Sterk drank word tot in die vroeë oggend-ure in groot hoeveelhede gedrink, en enigiets is toelaatbaar.”

Die nagklubbedryf word ook met strawwe dwelmgebruik in verband gebring. Een klubeienaar het na bewering gesê: “Die beweging is . . . geheel en al betrokke by dwelms.” Dwelms en sterk drank kan dikwels gevind word by sogenaamde alkoholvrye tienerklubs. Jesse, nog iemand wat nagklubs voorheen gereeld besoek het, voeg by: “Dagga- en sigaretrook hang in die lug. Die meeste mense daar trek aan op ’n wyse wat die vlees prikkel: nousluitende en gewaagde klere, wulpse style, oordadige juwele.”

Wees versigtig

Musiek en dans is van die ou tyd af gebruik om mense te verlok sodat hulle hulle aan wangedrag skuldig kan maak. Ons lees byvoorbeeld dat die Israeliete eenkeer ‘gaan sit het om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om hulle te vermaak.’ Dit het wilde musiek en onbeheerste dansery ingesluit. Maar hierdie “vermaak” was ’n voorspel tot flagrante afgodediens en skaamtelose losbandige gedrag.—Exodus 32:6, 17-19, 28, vgl. NW.

Christenjongmense moet dus enige situasie vermy wat maklik ’n ‘brassery’, of ‘wilde partytjie’, kan word (Galasiërs 5:19, 21; Byington). Eerste Korinthiërs 15:33 (NW) herinner ons: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf goeie gewoontes.” Kan ’n mens hom werklik in ’n partytjie-atmosfeer verlustig saam met individue wat “verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God” sonder om ten kwade beïnvloed te word? (Efesiërs 4:18). En soos een jong vrou erken: “Intieme omgang en vriendskappe [met ander gereelde besoekers aan nagklubs] kan ontstaan en ontstaan baie keer wel.” Watter uitwerking kan dit op jou geestelikheid hê?

Maar party redeneer dalk dat dit die probleem sal oplos as hulle ’n groep mede-Christene saambring. Regverdigheid kan egter net in ’n Christelike atmosfeer oorvloedig wees (Jakobus 3:18, NW). En die atmosfeer in baie nagklubs is geskep om gevoelens op te wek wat “aards, dierlik, demonies” is, nie geestelik nie.—Jakobus 3:15, NW.

Dit is weliswaar nie alle nagklubs wat tot die uiterstes gaan wat hier bespreek word nie; ook is dit nie redelik om alle restaurante waar daar gedans word of vermaak aangebied word voor die voet te veroordeel nie. Maar Paulus maan ons om ‘ons voortdurend af te vra of iets vir die Here aanneemlik is’ (Efesiërs 5:10, NAV). En as jy uitgenooi word na ’n plek waarvan die reputasie onbekend of twyfelagtig is, moet jy die grootste versigtigheid aan die dag lê voordat jy die uitnodiging aanvaar.—Spreuke 14:15.

Jy kan jouself vrae vra soos: Wie gaan almal, en watter soort reputasie het hulle? Wat weet jou ouers of ander verantwoordelike grootmense van die plek? Watter soort atmosfeer is daar? Watter soort mense besoek dit gereeld? Bevredig dit net jongmense se smaak? Indien wel, hoe waarskynlik is dit dat die atmosfeer heilsaam sal wees? As daar vermaak is, wat behels dit? Watter soort musiek sal daar gespeel word? Is dit ’n plek wat klante toelaat om hulle min of meer eenkant te hou, of is dit ’n sosiale atmosfeer waar jy genoodsaak is om met ander om te gaan?

Doris, wat vroeër aangehaal is, erken: “Satan laat nagklubs fassinerend, opwindend, betowerend, prettig lyk—enigiets om ons te verlei.” Maar moenie bedrieg word deur die glans van nagklubs nie! Hulle is ’n gevaarlike strik vir baie jongmense. Vind aanvaarbare, heilsame maniere om jou te vermaak.b

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 22 Julie 1979.

b Sien hoofstuk 37 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat uitgegee word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir wenke in hierdie verband.

[Prent op bladsy 16]

Baie wat nagklubs gereeld besoek, stel meer belang in immorele seks as in vermaak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel