Die elegante kimono—Sal dit voortbestaan?
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
VANDAG is ’n spesiale dag vir jong Kioko. Sy gaan haar nuwe sykimono vir die eerste keer dra. Dit is in ’n skakering van pienk met helderrooi blompatrone.
Die loshangende moue, wat furisode genoem word, kom byna tot by die soom. Haar hare is opgekam in ’n bolla en is vasgemaak met rooi linte wat by haar kimono pas. Terwyl sy grasieus aanstap in haar rooi brokaat-zori, of -sandale, is sy die verpersoonliking van grasie.
“Ek voel soos ’n dame wanneer ek ’n kimono aan het”, sê Kioko. En dit laat haar inderdaad elegant voorkom.
Die volksdrag
Die kimono is die volksdrag van Japan vir vroue sowel as vir mans. Die woord beteken eenvoudig “dra-artikel(s)”.
Maar vir die Japannese is ’n kimono nie net ’n mooi kledingstuk nie. Dit verteenwoordig ’n lewenswyse, ’n deel van hulle kultuur. Kimono-aantrekkery, tesame met hulle tradisionele kuns van blommerangskikking en die teeseremonie, beliggaam glo die eienskappe van skoonheid, liefde, hoflikheid en harmonie in die alledaagse lewe.
Die kimono is noupassend. Dit word styf vasgemaak by die middel met ’n breë, stywe lyfband wat die obi genoem word. Die moue is egter ruim, en lyk na ’n paar vlerke wanneer die arms uitgestrek word. Die kleed self is nou en lank, en kom tot by die enkels, en dit het nie slippe in nie. Dit is geen wonder dat die meisies so grasieus loop wanneer hulle kimono’s aan het nie!
Die kleur en ontwerp van kimono’s word tradisioneel bepaal deur die ouderdom van die vrou wat dit dra. Helder kleure, treffende motiewe en loshangende, lang moue betaam die uitbundigheid van jong meisies. Wanneer hulle ouer word, kan hulle die materiaal laat bleik en weer laat kleur om by hulle ouderdom te pas. Vroue in hulle twintiger- en dertigerjare dra gewoonlik kimono’s in sagte pastelkleure met subtiele motiewe. Vir ouer getroude vrouens is swart kimono’s met ’n teengestelde obi en kleurryke motiewe in die rompe die betaamlikste.
Hoewel min mense nog elke dag kimono’s dra, is daar elke jaar ’n aantal geleenthede waartydens party mense dit aantrek. Een van hierdie geleenthede is die 15de Januarie, bekend as Seidjin no Hi, of Grootmensdag, vir dié wat gedurende die jaar twintig word. Gradeplegtighede en Sjogatsoe, of Nuwejaarsdag, is ander geleenthede wanneer party die kimono dra. Ja, dames uit alle wêrelddele is altyd bly wanneer hulle ’n geleentheid het om hulle op te tooi!
Tydens formele geleenthede, soos troues en begrafnisse, kan geskikte kimono’s ook gedra word. By ander geleenthede dra mans ook soms kimono’s saam met ’n driekwart jas wat die haori genoem word. ’n Man se kimono is gewoonlik ’n sagte, donker kleur, soos grys, blou of bruin. As formele drag word ’n broekrok, wat die hakama genoem word, saam met die haori gedra.
Kinders dra vir die eerste keer kimono’s tydens die sjitsji-go-san-fees (sewe-vyf-drie-fees) in November. Op hierdie dag sal jy sewejarige, vyfjarige of driejarige seuns en meisies sien wat hulle eerste kimono aanhet. Die oorheersende kleur is rooi, maar die agtergrond kan blou of pers wees, met tipiese Japannese motiewe van blomme, voëls, gevoude waaiers of tromme. Hou die seuntjie dop wat aanslof in sy zori, en elegant in sy vlootblou en witgestreepte hakama en passende haori voel. Gister was hy gewis baie gemakliker in sy klinknaelbroek, T-hempie en seilskoene! Maar wanneer hy later sy sjitsji-go-san-foto’s sien, sal hy waarskynlik heel in sy noppies wees.
Hoewel party mense verkies om die kimono te dra tydens geleenthede wat hulle as spesiaal beskou, is dit natuurlik glad nie verpligtend nie. Weens hulle oortuiginge, of gewete, verkies ander mense dalk om nie sulke ‘spesiale geleenthede’ te vier nie en sal hulle klere dra wat hulle uit hulle oogpunt as betaamlik genoeg beskou.
Hoe om die kimono aan te trek
Wil jy graag een aantrek? Dit is nie so maklik soos party mense dink nie. Kom ons begin met die lang onderkleed wat nagajoeban genoem word. Dit moet reg verstel word, anders sal die kimono nie mooi sit nie. Die oorvoukraag van hierdie kledingstuk is styf en hou die boonste deel van die kimono in sy plek. Jy moet sorg dat die kraag nie agter aan die nek raak nie.
As jy ’n Westerse vrou is, sal jy waarskynlik die voorkant van die kledingstuk regs oor links toemaak soos jy met jou bloese of jas doen. “Nee! Nee!” roep ons Japannese vriendin uit. “Net lyke word hier van regs na links toegemaak!” Jy sal dus jou nagajoeban links oor regs toemaak, en dit dan met ’n dun lyfband vasmaak.
Jy is nou gereed vir die kimono self. Dink jy dit is te lank? “Geen probleem nie”, sê ons vriendin, “ons begin nog maar net.” Draai die kimono om jou—onthou, links oor regs—en maak dit met ’n lyfband vas. Verstel nou die lengte deur die ekstra materiaal oor die lyfband op te trek totdat die soom net bokant die vloer hang. Trek die kraag reg en stryk die lyfie glad. Laat die ekstra materiaal netjies hang en maak dit met nog ’n lyfband vas.
Nou kom die ingewikkeldste deel—die obi. Dit is van stywe materiaal gemaak en is ongeveer 30 sentimeter wyd en 4 meter lank, en daar is letterlik honderde maniere om die strik agter vas te maak. Dit is nogal ’n uitdaging om dit alleen aan te sit, maar ons Japannese vriendin help graag. Elke stap om die obi te rangskik, vereis ’n koord of ’n lyfband om dit in sy plek te hou. Die laaste een om die strik in sy plek te hou word netjies voor vasgemaak.
Wel, hoe voel dit om vir die eerste keer ’n kimono te dra? ‘Regtig elegant, maar taamlik nou’, sê jy ongetwyfeld.
Die materiaal
Die wenslikste materiaal vir ’n kimono was nog altyd suiwer sy. Dit is onoortroffe wat sagtheid, glans en duursaamheid betref. Verskeie streke is bekend vir hulle besonderse weefbinding en hulle kleurproses.
Byvoorbeeld, op die eiland Amami O Sjima, suid van Kioesjioe, het die regering ’n unieke kleurproses, wat van die bas van die tetsji-boom en die ysterryke klei van die eiland gebruik maak, ’n “nasionale ontasbare kulturele bate” verklaar.
’n Patroon, wat Bingata genoem word, kom van die eiland Okinawa. Bin beteken rooi, maar ander helder kleure word bygevoeg in sierlike motiewe van blomme, voëls, riviere en bome. Kioto, die gewese hoofstad van Japan, is ook bekend vir sy kimono-materiaal.
Hoewel daar deesdae meestal met masjiene geweef word, word tapisseriemotiewe steeds met die hand gedoen. Nadat die motief op die materiaal gesjabloneer is, word die kleure met die hand aangebring met al die versigtigheid wat nodig is om ’n voortreflike skildery voort te bring. Goud- en silwertooisel kan bygevoeg word, en party dele van die motief moet dalk met die hand geborduur word. Die resultaat is ’n ware kunswerk.
Veranderende tye
In die laaste jare het die aanvraag na kimono’s egter afgeneem. ’n Opname wat deur die koerant Jomjoeri gedoen is, toon dat terwyl 64 persent van diegene wat ondervra is ’n kimono op Nuwejaarsdag gedra het net 3 persent dit gereeld dra. ’n Koerantfoto wat toon hoe werkers “masjinerie stukkend slaan wat gebruik is om elegante symateriaal te weef omdat die aanvraag na kimono’s onrusbarend afgeneem het”, is ook ’n aanduiding van die afname.
Waarom die afname? Dit is gedeeltelik te wyte aan die gewildheid en gerief van Westerse klere en gedeeltelik aan die uiters hoë koste van goeie gehalte sykimono’s. Oor die algemeen kan hulle ’n halfmiljoen jen (sowat R5000) kos, met die passende obi teen ongeveer die helfte soveel. Voeg hierby die prys van die zori, tabi (die sokkie met een toon wat saam met die zori gedra word), beursie en haarornamente, en jy kan sien waarom dit ’n regte weelderigheid is om ’n sykimono te dra.
Party gesinne open ’n spaarrekening wanneer ’n dogtertjie gebore word sodat sy ’n goeie kimono kan hê wanneer sy ’n jong vrou word. En so ’n kimono word dikwels van geslag tot geslag oorhandig.
Maar daar is iets anders. Norio Jamanaka, voorsitter van die Sodo Kimono-akademie sê: “Ons daaglikse lewe is te besig. . . . Die Japannese, veral mans, was te besig om brood te verdien in die naoorlogse dae. Hulle was te besig om ’n kimono te bekostig.” Die gejaagde hedendaagse samelewing laat hulle min ruimte vir sulke tradisies wat van hulle verre voorouers oorgelewer is.
Net die tyd sal leer of die elegante kimono te midde van die druk van die hedendaagse samelewing sal voortbestaan. Maar hierdie kleurryke volksdrag van Japan het sekerlik heelwat bygedra tot die fassinerende verskeidenheid kleremodes wat rondom die wêreld gevind word.