Modes—Altyd aan die verander
HETSY ons dit besef of nie, ons daaglikse besluite oor wat ons gaan aantrek, word ten minste in ’n sekere mate beïnvloed deur wat in die mode is. Uiteindelik is dit tog die heersende modes wat grootliks bepaal wat beskikbaar is om te koop.
Selfs kledingstukke wat ons nou as vanselfsprekend aanneem, was eens op ’n tyd die jongste styl. Kraaghemde en dasse vir mans het byvoorbeeld meer as ’n eeu gelede die modegier geword. En in die 1920’s het oortrektruie vir vroue ’n gevestigde styl geword.
Twee basiese begeertes is die dryfkrag agter die modebedryf—die begeerte na iets nuuts en die begeerte om in te pas. Feitlik almal hou daarvan om iets nuuts te dra. Dit is waarom ons partykeer klere koop, nie omdat ’n ouer kledingstuk verslyt is nie, maar bloot omdat ons ’n verandering wil hê. Terselfdertyd wil ons nie anders lyk nie en daarom koop ons klere wat in ’n sekere mate inpas by die styl wat mense om ons dra. Deur die eeue heen het die klerebedryf hierdie begeerte om iets nuuts te dra en om in te pas, probeer bevredig—en soms uitgebuit.
’n Kort geskiedenis
Ontwerpers gebruik vyf basiese elemente om ’n styl te skep: kleur, silhoeët, drapering, tekstuur en lyn (of patrone op die oppervlak van die materiaal). Die beskikbare opsies vir ontwerpers en kleremakers het deur die jare op al vyf gebiede vermenigvuldig. In antieke Egipte was plaaslik vervaardigde deurskynende linne byvoorbeeld die gesogste materiaal, en dit was ideaal vir ’n warm klimaat. Maar aangesien linne nie maklik gekleur kon word nie, was dit gewoonlik net een kleur—gebleikte wit. Egiptiese modeontwerpers het nietemin die materiaal geplooi sodat hulle klere mooi gehang en ’n aantreklike silhoeët gevorm het. So het een van die wêreld se blywendste style sy ontstaan gehad.
Teen die eerste eeu G.J. was daar nuwe tekstiele en kleure beskikbaar. Welgestelde Romeine het sy uit China of Indië ingevoer, hoewel geweefde sy weens die vervoerkoste so duur soos goud was. Gekleurde wol uit Tirus was ook in die mode, waarvan een kilogram 2 000 denarii gekos het —ses jaar se loon vir ’n tipiese werker. Die nuwe kleurstowwe en materiale het dit vir ryk Romeinse vroue moontlik gemaak om ’n stola te dra—’n lang, los bokleed—van blou katoen uit Indië of miskien geel sy uit China.
Hoewel nuwe style van tyd tot tyd verskyn het, sou ’n duur kledingstuk waarskynlik ’n leeftyd in die mode wees. Veranderinge het stadig plaasgevind en het gewoonlik net die adellikes geraak. Maar met die koms van die industriële revolusie het modes vir gewone mense al hoe belangriker geword.
Gedurende die 19de eeu het groot nywerhede verrys om die rykes sowel as die armes te klee. Die aantal gemeganiseerde katoen- en wolfabrieke het vinnig toegeneem, en die prys van tekstielstowwe het gedaal. Met naaimasjiene kon klere goedkoper gemaak word, en nuwe sintetiese kleurstowwe het mense baie meer kleure gegee om van te kies.
Maatskaplike en tegnologiese veranderinge het ’n selfs groter rol daarin gespeel om die massas te klee. In Wes-Europa en Noord-Amerika het mense meer geld gehad om uit te gee. In die 1850’s het vrouetydskrifte verskyn, en kort daarna het afdelingswinkels pasklaar klere in standaardgroottes begin verkoop. Charles Frederick Worth het ook in die 19de eeu modeskoue met lewende mannekyne begin aanbied om die aandag van voornemende klante te trek.
In die 20ste eeu het nuwe sintetiese vesels, soos rayon, nylon en poliëster, vervaardigers ’n groter verskeidenheid van tekstiele gebied. Gerekenariseerde ontwerpe het dit maklik gemaak om nuwe style te skep, en as gevolg van globalisasie kon nuwe modes amper tegelykertyd op die strate van Tokio, New York, Parys en São Paulo verskyn. Intussen het ontwerpers en vervaardigers nuwe maniere gevind om hulle produkte te bemark.
Vandag het jongmense die plek van die rykes ingeneem as die mees entoesiastiese modeslawe. Elke maand koop miljoene van hulle nuwe klere, en die bedryf vervaardig elke jaar biljoene rande se klere.a Maar is daar verborge valstrikke?
[Voetnoot]
a Volgens skatting is klere ter waarde van R2,4 biljoen in ’n onlangse jaar vervaardig.
[Venster/Prente op bladsy 4, 5]
Die modeleiers
Eeue lank het konings en adellikes die standaard gestel waarvolgens mense aangetrek het. In die 17de eeu het koning Lodewyk XIII van Frankryk besluit om ’n pruik te dra om sy bles weg te steek. Kort voor lank het Europese adellikes hulle koppe geskeer en pruike begin gedra—’n styl wat meer as ’n eeu lank die mode was.
In die 19de eeu het vrouetydskrifte die aandag op modeneigings begin vestig en selfs goedkoop patrone ingesluit sodat vroue hulle eie klere kon maak. In die 20ste eeu, namate rolprente en die televisie al hoe gewilder geword het, het akteurs en aktrises internasionale sterre geword en die mode begin aangee. Populêre musikante het ook radikale style gedra, en baie jongmense het hulle gou nageaap. Vandag het min verander en adverteerders maak doeltreffend gebruik van modeskoue, glanstydskrifte, reklameborde, winkelvensters en televisieadvertensies sodat daar altyd ’n vraag na nuwe klere sal wees.
[Prent]
Koning Lodewyk XIII
[Erkenning]
From the book The Historian’s History of the World
[Prent op bladsy 4]
Hierdie antieke Egiptiese linnekleed was een van die wêreld se blywendste modes
[Erkenning]
Photograph taken by courtesy of the British Museum
[Prent op bladsy 4]
In antieke Rome het vroue ’n stola gedra
[Erkenning]
From the book Historia del Traje, 1917
[Prent op bladsy 4, 5]
Die kimono word sedert om en by 650 G.J. gedra
[Erkenning]
From the newspaper La Ilustración Artística, Volume X, 1891
[Prent op bladsy 5]
In die ou tyd sou ’n duur kledingstuk waarskynlik ’n leeftyd in die mode wees
[Erkenning]
EclectiCollections
[Prent op bladsy 5]
Die industriële revolusie het dit vir gewone mense moontlik gemaak om meer modebewus te wees
[Erkenning]
EclectiCollections