Pogings om te verenig
Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk
SKAAMTE! Ja, dit was skaamte wat die ekumeniese beweging begin het. Skaamte waaroor? Skaamte oor die skrynende spektakel wat die Christendom die nie-Christelike wêreld gebied het, naamlik ’n huis wat teen homself verdeeld is.
By die heel eerste vergadering van die WRK (Wêreldraad van Kerke) het sy algemene sekretaris, dr. W. A. Visser ’t Hooft, verduidelik: “Ons is ’n Raad van Kerke, nie die Raad van die een onverdeelde Kerk nie. Ons naam dui ons swakheid en ons skaamte voor God aan, want daar kan uiteindelik net een Kerk van Christus op die aarde wees en daar is net een.”
’n Franse Katolieke ensiklopedie wat onlangs uitgegee is, erken: “Gedurende die 19de eeu was daar ’n groter bewustheid van die skandaal van verdeelde kerke. Dit was veral die geval onder sendelinge, wie se onderlinge vyandigheid die Evangelie wat hulle aan nie-Christene moes verkondig, weerspreek het. . . . Die grootste skok het gekom met die ontwikkeling van die sendingwerk in Afrika en Asië wat die verdeeldheid tussen Christene, wat die evangelisasiewerk belemmer het, duidelik aan die lig gebring het.”
Sy ontstaan
Die woord “ekumeniese” kom van die Griekse woord oi·kou·meʹne (bewoonde aarde). Die ekumeniese beweging, wat sy ontstaan in die middel van die 19de eeu gehad het, se doelwit is om wêreldeenheid onder die kerke van die Christendom te bewerkstellig. Omdat hulle bewus was van die nadele van verdeeldheid tussen kerke, het hervormers gedurende die 19de en vroeë 20ste eeu verskeie interkerklike verenigings op die been gebring.
Sendelinge wat gestuur is om nie-Christene te bekeer, was veral bewus van die skeuringe in die Christendom. Hulle kon nouliks op die bloedbesmeerde bladsye van die kerkgeskiedenis wys as bewys van die voortreflikheid van hulle godsdiens. Hoe kon hulle die bestaan van so baie kerke regverdig wat almal beweer dat hulle Christelik is, terwyl hulle terselfdertyd Jesus of die apostel Paulus aanhaal wat albei die belangrikheid van Christelike eenheid beklemtoon het?—Johannes 13:34, 35; 17:21; 1 Korinthiërs 1:10-13.
Hierdie situasie het ongetwyfeld bygedra tot die stigting van die hedendaagse ekumeniese beweging wat in 1910 die Eerste Wêreldsendingkonferensie in Edinburg, Skotland, byeengeroep het. Later, in 1921, is die Internasionale Sendingraad gestig. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die Internasionale Sendingraad is nie net gestig om inligting oor effektiewe sendingmetodes te versprei nie, maar ook om die skandaal van Christelike verdeeldheid minder opvallend te maak deur kompetisie in nie-Christelike lande te vermy.”
Katolieke afsydigheid
Wat het die Rooms-Katolieke Kerk egter gedoen om die skandaal van Christelike verdeeldheid minder opvallend te maak? In 1919 is die Katolieke Kerk genooi om deel te neem aan ’n interkerklike bespreking oor geloof en orde, waartydens verskille in leerstelling en die bediening bespreek sou word. Maar pous Benedictus XV het hierdie aanbod van die hand gewys. In 1927 het die Katolieke Kerk weer ’n uitnodiging ontvang om deel te neem aan die Eerste Wêreldkonferensie oor Geloof en Orde, wat in Lausanne, Switserland, gehou is. Afgevaardigdes van verskeie Protestantse en Ortodokse kerke het byeengekom om struikelblokke in die weg van eenheid te bespreek, maar pous Pius XI het geen Katolieke deelname toegelaat nie.
In sy artikel oor pous Pius XI sê die New Catholic Encyclopedia: “Die Heilige Stoel het ’n negatiewe gesindheid teenoor die ekumeniese beweging van die nie-Katolieke Christendom ingeneem.” Hierdie negatiewe gesindheid het in openlike vyandigheid ontaard toe die pous sy omsendbrief Mortalium animos in 1928 uitgegee het. Daarin het hy die ekumeniese beweging veroordeel en Katolieke verbied om enige ondersteuning aan ekumenisme te gee.
In 1948 is die WRK gestig. Toe dit gestig is, het dit omtrent 150 kerke as lede gehad, waarvan die meeste Protestants was. ’n Paar Oosters-Ortodokse kerke is ingesluit en ander Ortodokse kerke het later by die WRK aangesluit. Al hierdie kerke het die volgende verklaring as grondslag vir lidmaatskap aanvaar: “Die Wêreldraad van Kerke is ’n gemeenskap van kerke wat die Here Jesus Christus as God en Saligmaker aanvaar.” Ten spyte van hierdie duidelik Trinitariese formule het pous Pius XII ’n uitnodiging verwerp om die Katolieke Kerk met hierdie ekumeniese raad te verenig.
’n Verandering onder Katolieke?
Johannes XXIII, wat in 1958 as pous verkies is toe hy byna 77 jaar oud was, is deur baie Katolieke slegs as ’n papa di passaggio, of waarnemende pous, beskou. Hy het egter die Vatikaan se vensters oopgemaak vir winde van verandering wat tot vandag toe beroeringe in Katolieke kringe veroorsaak. Een van pous Johannes se eerste besluite vroeg in 1959 was om ’n ekumeniese konsilie te belê, wat in Katolieke taal ’n algemene vergadering van die biskoppe van die hele Katolieke Kerk beteken het.
Die doel van hierdie vergadering was ten eerste om “die kerk te moderniseer” en ten tweede om “die weg te open tot die hereniging van die verdeelde broeders van die Ooste en die Weste in die een skaapstal van Christus”. In ooreenstemming met hierdie tweede voorneme het pous Johannes XXIII in 1960 die Sekretariaat vir die Bevordering van Christelike Eenheid in die Vatikaan ingestel. Dit is verwelkom as “die eerste amptelike erkenning deur die Rooms-Katolieke Kerk van die bestaan van die ekumeniese beweging”.
Dit het ongetwyfeld gelyk of die winde van verandering gewaai het. Maar was die Roomse Kurie, die invloedryke groep prelate waaruit die administratiewe bestuur van die kerk saamgestel is, ten gunste van hierdie veranderinge? En indien wel, wat was hulle beskouing van Christelike eenheid?