Die vreeslose slangvanger
SY TENGERIGE bou en sagte pels laat die muishond kwalik na ’n slangvanger lyk. Maar skrywer R. O. Pearse sê: “Die muishond . . . is waarskynlik die slang se gevaarlikste vyand.” Pearse sê voorts: “Hierdie kêreltjie dra gewis net soveel louter, onbedekte moed in sy liggaampie rond as enige ander dier van die veld . . . Sy aanvalle op slange is legendaries.”
Wat presies is hierdie buitengewoon dapper skepseltjie? Die muishond is deel van ’n groot familie wat in baie dele van Afrika, Asië en Suid-Europa voorkom. Daar bestaan verskeie genusse en meer as 40 spesies van hierdie soogdiertjie. Hulle wissel in grootte van die dwergmuishond, wat net meer as 0,3 meter lank is, tot die krapvretermuishond van Suidoos-Asië, wat 1,2 meter lank is. Die meeste van hulle het kort bene, lang ruie sterte en lang lywe wat bedek is met ’n dik, growwe, grys- tot bruinkleurige pels. Hulle ore is klein en hul neuse is gewoonlik skerp.
Party is alleenlopers en nagdiere. Ander, soos die geelmuishond, wat in groepe van tot 50 voorkom, kom bedags uit en is taamlik sosiaal. Hulle blyplekke? Hoofsaaklik klipskeure of gate in die grond. Soms grawe hulle hierdie gate self, maar dikwels betrek hulle eenvoudig die verlate gate van ander diere. Dit is selfs bekend dat hulle hul intrek in leë termietneste en miershope geneem het.
Hoewel die muishond betreklik skadeloos lyk, moet jy jou nie misgis nie: Hy is ’n roofdier—waaksaam, moedig en rats. Sommige spesies se dieet sluit insekte, kewers, wurms, slakke, akkedisse, paddas en krappe in, sowel as eiers en vrugte. Die muishond is intelligent en geslepe. Daar word byvoorbeeld beweer dat die gebande muishond ’n toertjie uitvoer waar hy regop op sy agterpote staan en dan sywaarts omval. Waarom? Om nuuskierige tarentale nader te lok—en te vang!
Dit is egter sy reputasie as ’n slangvanger wat hom sy roem laat verwerf het.
Slang versus muishond
Maar kan hierdie tengerige diertjie werklik ’n skrikwekkende kobra in ’n geveg verslaan? Suid-Afrikaanse skrywer Laurens van der Post beskryf ’n tipiese geveg van ’n slang en ’n muishond in sy boek The Heart of the Hunter: “Ek het gesien hoe [’n muishond], wat van sy kop tot sy stert skaars [33 sentimeter] lank is en waarskynlik net [13 sentimeter] hoog is, ’n [1,8 meter] lange kobra aandurf. Na ’n reeks behendige en ratse skynbewegings waartydens die slang herhaaldelik na hom gepik en hom telkens met ’n skrale millimeter gemis het, het hy ingestorm, die kobra agter die nek beetgekry en sy rugstring in ’n oogwink deurgebyt.”
Dit is die buitengewone selfvertroue en moed van die klein muishond, tesame met sy blitssnelle vermoë om die pik van die slang te ontwyk, wat hom in staat stel om sy dodelike vyand te oorwin.
Die slang se byt
Is die muishond dan op die een of ander manier immuun teen die slang se gif? Nie heeltemal nie. Maar baie gif is nodig om ’n muishond dood te maak. Een kenner sê dat agt keer soveel gif nodig is om ’n muishond dood te maak as wat vir ’n haas nodig is. Dit gebeur selde dat ’n muishond van ’n slangbyt vrek.
Die kanse is groter dat ’n muishond sal vrek omdat hy ’n giftige slang geëet het! Ja, nadat hy sy gevaarlike vyand doodgemaak het, maak die oorwinnaar ’n maaltyd van hom en begin gewoonlik met die kop. The International Wildlife Encyclopedia sê: “Etlike [muishonde] is al dood gevind, en ’n nadoodse ondersoek het getoon dat hulle ’n slang geëet het wie se giftande hul maagwand deursteek het sodat die gif in die bloedstroom gekom het.”
Hoewel muishonde dodelik is as dit by kobras kom, het hulle egter ietwat minder welslae met adders. Om maar een ding te noem, hulle bou nie immuniteit op teen ’n adder se gif nie. Boonop kan adders vinniger as kobras pik.
Muishonde as troeteldiere?
Jy moet egter nie die gevolgtrekking maak dat die muishond inherent gevaarlik is nie. Inteendeel, party soorte muishonde is al mak gemaak en het liefdevolle, intelligente troeteldiere geword. In Sauce for the Mongoose gee skrywer Bruce Kinloch ’n prettige beskrywing van sy troeteldier, ’n gebande muishond met die naam Pipa.a Die ondeunde Pipa was ’n voortdurende bron van vermaak vir die gesin vanweë sy baie streke en lewendige toertjies. Een toertjie—algemeen onder muishonde—het die gesin laat skater van die lag toe hulle dit die eerste keer gesien het. Die skrywer beskryf wat gebeur het:
‘Pipa het ’n ronde, wit seeskulp ontdek en homself behendig beweeg totdat hy met sy rug naby een van ons piekniekmandjies gestaan het. Toe het hy die skulp stewig tussen sy voorpote vasgeknyp, sy lyf op en af, vorentoe en agtertoe, gewieg, terwyl hy heeltyd die skulp in sy voorpote swaai, amper soos ’n bofbalbouler se voorbereidsels vir ’n gooi. Skielik het hy in die lug in gespring en die seeskulp agtertoe, tussen sy agterbene deur, gegooi om die piekniekmandjie met ’n knal soos die van ’n rewolwerskoot te tref. Uiteindelik het dit vir ons duidelik geword. Uit pure instink was Pipa besig om die seeskulp te probeer breek net soos ’n muishond gewoonlik ’n eier sal breek.’
Ons wollerige vriendjie is dus liefdevol—en gedug. En hoewel sy toevallige rol as slangvanger ons ’n bietjie laat gril, vermaak hy ons met sy manewales.
[Voetnoot]
a Kinloch beweer: “Die meeste muishonde is alleenlopers en nagdiertjies en maak daarom swak troeteldiere.”
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Johannesburg Zoological Gardens