Van ons lesers
Eetversteurings Ek het 15 jaar lank ’n stryd teen eetversteurings gevoer. Julle artikel (22 Desember 1990) was logies en simpatiek en het die oorsaak van die probleem—’n lae selfbeeld—aangeroer. Ek wil byvoeg dat dit tyd kos om die vernietiging van spierweefsel, verlies van beenmassa en spysverterings- en klierprobleme reg te stel wat deur eetversteurings veroorsaak kan word. Genesing kan baie frustrerend en ontmoedigend wees, aangesien ’n mens vreemde veranderinge in vorm en grootte, wisselende gemoedstemminge, depressie, prikkelbaarheid en warm gloede ondervind. As jy egter bewus is van wat genesing behels, sal jy minder geneig wees om terug te val.
L. B., Verenigde State
Enkelouerhuishoudings Ek is beweeg om waardering uit te spreek vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek gelukkig wees met net een ouer?” (22 Desember 1990). My ma was die hoof van ’n enkelouerhuishouding, en hierdie artikel het herinneringe teruggebring. Uit ondervinding kan ek sê dat die wenke oor hoe om spaarsaam te wees en vermorsing te vermy werklik werk, en hulle strek my as voltydse evangelis steeds tot voordeel. Ek sal altyd dankbaar wees vir die puik opvoeding wat my ma ons gegee het. Sy het God altyd die eer gegee vir haar sukses as enkelouer.
J. F., Verenigde State
My pa het onlangs gesterf. Ek dink die artikel het net vir my op die regte tyd verskyn. Ek kan sien dat Jehovah werklik omgee. Nogmaals dankie!
L. J., Verenigde State
Dierenavorsing Julle nommer van 8 Julie 1990 was vir my baie ontstellend. Die hond op die voorbladfoto het so ’n treurige uitdrukking gehad; dit het gelyk of hy vra dat iemand na hom moet omsien.
S. P., Duitsland
Die hond op die foto is by ’n plaaslike troeteldierwinkel geleen, en ons het hom goed versorg en gevoer terwyl hy by ons was. Dit lyk of hy van nature so ’n verlate uitdrukking het.—RED.
Dood van ’n kind Dankie vir die artikel “Die Bybelse beskouing—‘Waarom het God my kind geneem?’” (8 Februarie 1991). Die artikel het deur die pos gekom op dieselfde dag dat ek en my man ons eerste kind weens ’n miskraam verloor het. Dit was ’n gerusstellende herinnering aan ons dat God nie vir ons verlies verantwoordelik is nie.
J. G., Verenigde State
Muishond Ek het julle artikel oor muishonde geniet (8 Maart 1991). ’n Mens moet egter versigtig wees wanneer jy ’n uitheemse dier uit die natuur verwyder om daarvan ’n troeteldier te maak.
P. L., Verenigde State
Dit is ’n goeie punt. Die makmaak van sekere spesies muishonde is slegs genoem om die feit te illustreer dat hulle nie inherent gevaarlik is nie. In werklikheid verbied die Verenigde State die invoer van muishonde vir gebruik as troeteldiere.—RED.
Drink en bestuur Ek het onlangs my rybewys gekry en daarom het ek julle nommer van 8 Februarie 1991 interessant gevind. Die artikel was bemoedigend, maar het tog ’n duidelike waarskuwing bevat. Niemand sal ooit in die situasie wil wees van die jong man wat vertel het hoe hy ’n man doodgemaak het nie! Ek sal ’n eksemplaar van die tydskrif vir my ry-instrukteur gee.
L. K., Duitsland
Julle artikel “Slagoffers ontmoet oortreders” het trane oor my wange laat rol. Ek wens net dat mense nie sal drink en bestuur nie. Hulle sal so baie lewens spaar.
K. M., Verenigde State