Struikelblokke in die weg van vrede tussen mens en dier
Kinders hou baie van prente soos die een op die buiteblad van hierdie tydskrif. Volwassenes word ook dikwels deur so ’n toneel aangetrek.
Waarom reageer mense so? Is ware vrede tussen die mens en selfs die wildste dier net ’n kinderdroom? Of sal dit ’n werklikheid word?
Die mens ’n struikelblok
’n Groot struikelblok in die weg van sulke vrede is die mens self. ’n Ou spreuk sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). En die mens se reputasie om sy eie soort te benadeel, word weerspieël in sy behandeling van diere.
Talle wilde diere is byvoorbeeld gevang en gedwing om in die arenas van antieke Rome te veg. In 106 G.J. het die Romeinse keiser Trajanus na bewering spele gereël waartydens 10000 gladiators en 11 000 diere doodgemaak is om die bloeddorstigheid van die sadistiese toeskouers te bevredig.
Daardie bepaalde soort vermaak is weliswaar nie vandag aan die orde van die dag nie. Maar die groeiende lys uitgestorwe en bedreigde spesies getuig daarvan dat daar iets skort met die mens se behandeling van wilde diere. Namate die mensebevolking toeneem, word wilde diere se habitat al hoe kleiner. En as gevolg van die mens se hebsug is daar ’n aanvraag na eksotiese dierevelle, -horings en -tande. Party kenners vrees dat die enigste voorbeelde van die meeste groot spesies uiteindelik in dieretuine ingehok sal wees.
Mensvreters
’n Ander struikelblok in die weg van vrede is blykbaar sommige wilde diere self. In Afrika en Asië is dit nie ongewoon om verslae te lees van wilde diere wat mense aangeval en doodgemaak het nie. The Guinness Book of Animal Facts and Feats sê dat lede van die katfamilie “waarskynlik verantwoordelik is vir bykans 1000 sterfgevalle elke jaar”. Net in Indië maak tiers meer as 50 mense elke jaar dood. Party luiperds in daardie land het ook mensvreters geword.
In sy boek Dangerous to Man verduidelik Roger Caras dat luiperds soms mensvreters word omdat hulle ná siekte-epidemies op lyke aas. Sulke epidemies, verduidelik hy, word dikwels “deur maande van vrees gevolg wanneer luiperds hulle nuwe voorliefde vir mensvleis bevredig deur mense dood te maak”.
Maar Caras meld dat siekte-epidemies nie vir alle luiperdaanvalle verantwoordelik is nie. ’n Ander rede is dat die dier baie maklik opgewonde raak, veral wanneer hy naby kinders is.
Kolonel J. Corbett sê in sy boek The Man-Eating Leopard of Rudraprayag dat een luiperd gedurende die tydperk van 1918-26 125 mense in Indië doodgemaak het. Dekades later het mensvreterluiperds minstens 82 mense in die omgewing van Bhagalpoer doodgemaak.
’n Wildbewaarder in Tanganjika (nou ’n deel van Tanzanië) het vertel hoe hy in 1950 vyf maande lank vrugteloos probeer het om ’n mensvreterluiperd te skiet wat paniek onder mense in die omgewing van die dorpie Ruponda gesaai het. Die luiperd is uiteindelik deur ’n swart dorpsbewoner gevang nadat hy 18 kinders doodgemaak het. ’n Ander luiperd het 26 vroue en kinders in die dorpie Masaguru doodgemaak.
Dan is daar ook die Afrika-leeu. Wanneer hy ’n mensvreter word, is die slagoffers gewoonlik volwasse mans. “Gedurende my drie-en-twintig jaar in die Departement Wildbewaring”, skryf C. Ionides in sy boek Mambas and Man-Eaters, “het ek meer as veertig leeus geskiet, waarvan die meeste mensvreters was, terwyl die res òf op pad was om mensvreters te word òf vee aangeval het.” Volgens Ionides word leeus ’n bedreiging vir mense wanneer die mens dié dier se gewone prooi drasties uitdun.
Wêreldwye vrede voorspel
Ten spyte van sulke struikelblokke in die weg van vrede tussen mens en dier, sê die Bybel: “Want elke soort natuur van wilde diere . . . word getem en is getem deur die menslike natuur.”—Jakobus 3:7.
In Esegiël 34:25 voorspel die Bybel: “En [God] sal ’n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.”
Is sulke Bybelprofesieë net ’n onrealistiese droom? Voordat jy die vooruitsig op wêreldwye vrede tussen mens en dier verwerp, kan jy gerus van die bewyse ondersoek wat dui op die waaragtigheid van die Bybelse uitsprake. Party verbasende voorbeelde van harmonie tussen sorgsame mense en potensieel gevaarlike diere is al opgeteken.