Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 5/8 bl. 16-18
  • Ontmoet die geheimsinnige sneeuluiperd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoet die geheimsinnige sneeuluiperd
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kat in die hoogtes
  • Waarom word hulle so selde gesien?
  • Die sneeuluiperd in Helsinki
  • Die luiperd—’n geheimsinnige kat
    Ontwaak!—1995
  • ’n Winterkombers
    Ontwaak!—1996
  • Snoesig in die sneeu
    Ontwaak!—2008
  • Die dieretuin—Die natuurlewe se laaste hoop?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 5/8 bl. 16-18

Ontmoet die geheimsinnige sneeuluiperd

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND

MIN diere is so geheimsinnig soos die sneeuluiperd. Net ’n handjie vol mense het al een in die natuur gesien, en daar is nie veel oor hulle lewenswyse bekend nie.

Die sneeuluiperd lok baie mense na Finland se Helsinki-dieretuin. Die vreemde gewoontes van dié kat—wat deur baie as die pragtigste van al die groot katte beskou word—maak hom ’n fassinerende dier.

Die kat in die hoogtes

Hoewel hy in ten minste ’n dosyn lande van Boetan tot Rusland gevind kan word, word die sneeuluiperd gewoonlik met die Himalajas geassosieer. Hierdie berge—die hoogste ter wêreld—is asemrowend mooi. Maar dit is geen plek vir mense nie. Die berge van Sentraal-Asië is van die koudste en onherbergsaamste plekke ter wêreld.

Die sneeuluiperd woon egter heel maklik op hoogtes van 3 000 tot 4 500 meter. Sy dik pels voorsien genoeg beskerming teen die koue, terwyl ’n groot neusholte hom in staat stel om die nodige suurstof uit die dun atmosfeer te kry. Die sneeuluiperd se breë, harige pote laat hom toe om rats deur diep sneeu te beweeg. Maar wat van die ruwe bergterrein? Dit is geen probleem nie, want die sneeuluiperd kan, deur sy lang, wollerige stert te gebruik om hom te stuur, tot 15 meter ver van een krans na ’n ander spring, selfs verder as die grootgryskangaroe.

Die sneeuluiperd weeg gewoonlik tussen 27 en 45 kilogram, hy staan omtrent 0,6 meter hoog en is twee meter lank van neus tot stert. Maar wat die sneeuluiperd waarlik uniek maak, is sy geaardheid. “Hy is baie saggeaard”, sê Leif Blomqvist, kurator van die Helsinki-dieretuin. “Die sneeuluiperd maak maklik vriende met mense, en by die dieretuin kom hy sy oppasser soggens groet.” Blomqvist voeg ook by dat die saggeaardheid selfs in die welpies gesien kan word. “Hulle spartel nie wanneer die dieretuin se werkers hulle weeg en ent nie”, sê hy. Maar sê nou jy hanteer enige ander soort luiperd van dieselfde ouderdom? “Dis ’n byna onmoontlike taak”, sê Blomqvist. “Jy het beskermende klere en handskoene nodig omdat hulle met alle geweld terugbaklei.”

Waarom word hulle so selde gesien?

As jy met ’n sneeuluiperd wegkruipertjie sou speel, sal dit baie frustrerend wees, want hierdie wit-en-grys kat smelt soos ’n verkleurmannetjie met die bergterrein saam. Sy doeltreffende kamoeflering is een rede waarom so min sneeuluiperds in die natuur gesien word. Sommige navorsers wat die ruwe berge aangedurf het om hierdie geheimsinnige kat te bestudeer, het teruggekeer sonder om die dier selfs een keer te sien!

Die feit dat sneeuluiperds in sulke afsondering leef, maak dit nog moeiliker om een raak te sien. Daarbenewens is hulle gebied redelik groot, omdat hulle prooi, wat gewoonlik ’n wilde skaap of bok is, in die berge nogal skaars is. Ongelukkig het wilddiewe—wat agter die sneeuluiperd se pels aan is—daartoe bygedra dat hulle bevolking soveel afgeneem het dat die sneeuluiperd tans as ’n bedreigde spesie geklassifiseer word.a Dieretuine doen baie om dié uitsonderlike dier te bewaar.

Die sneeuluiperd in Helsinki

Die Helsinki-dieretuin was tot dusver redelik suksesvol met die teel van sneeuluiperds. Trouens, in 1976 is hierdie fasiliteit die taak gegee om die internasionale stamboek van die sneeuluiperd te hou. Die stamboek is ’n nuttige instrument om die sneeuluiperdbevolking in gevangenskap te beheer.

Soortgelyke stamboeke word gehou van baie spesies wat in dieretuine woon, maar veral in die geval van bedreigde spesies. ’n Stamboek katalogiseer die besonderhede van alle diere van ’n besondere spesie wat in dieretuine aangetref word. Dieretuine het die verantwoordelikheid om die houer van die stamboek in kennis te stel van enige nuwe welpies asook van enige diere wat verskuif word of doodgaan. Die stamboeke word gebruik om geskikte teelmaats vir die diere in gevangenskap te vind. “Omdat sulke bevolkings redelik klein is, kan degenerasie en inteling maklik plaasvind”, verduidelik Blomqvist.

In die Helsinki-dieretuin alleen is daar al meer as ’n honderd welpies gebore, en die meeste van hulle is na buitelandse dieretuine gestuur. Om verskeidenheid in die bevolking te verseker, word sneeuluiperds in gevangenskap dikwels tussen dieretuine uitgeruil. Daar is nou soveel verskeidenheid in die sneeuluiperdbevolking in gevangenskap dat dit nie meer nodig is om dié wat nog in die natuur is, te vang nie.

Baie dieretuine, insluitende die een in Helsinki, lewer ’n bydrae tot natuurbewaring deurdat hulle daarna streef om ’n geneties gesonde dierebevolking te handhaaf. Natuurlik bied dit besoekers ook ’n fassinerende blik op unieke diere. Die sneeuluiperd maak waarlik ’n blywende indruk en strek die Skepper, wat ‘alles mooi gemaak het’, tot eer.—Prediker 3:11.

[Voetnoot]

a Dit is moeilik om met sekerheid te sê hoeveel sneeuluiperds daar nog oor is. Skattings wissel tussen 3 500 en 7 000.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Bladsy 16: Middel: ©Aaron Ferster, Photo Researchers; bladsy 17: Regs bo: © Korkeasaaren Eläintarha/Markku Bussman; onder: ©T. Kitchin/V. Hurst, Photo Researchers

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Chuck Dresner/Saint Louis Zoo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel