Kan mens en dier in vrede lewe?
“Ek het gevoel asof ek op die drumpel van die paradys staan; mens en dier in volle harmonie en vertroue.” So het Joy Adamson ’n toneel langs Kenia se Urarivier beskryf terwyl sy ’n verskeidenheid voëls en diere by ’n drinkplek dopgehou het. ’n Fassinerende aspek van dié toneel was die dier wat vreedsaam langs haar gesit het—’n volgroeide leeuwyfie!
Was daar enigiets buitengewoons omtrent hierdie besondere leeuwyfie, Elsa, wat miljoene deur Joy Adamson se boek Born Free leer ken het? Nee, sy was ’n gewone leeuwyfie. Die verskil was dat sy geleer het om vreedsaam met mense saam te leef.
Later, toe die rolprent Born Free gemaak is, is ’n aantal mak leeuwyfies gebruik om Elsa uit te beeld. Een se naam was Mara. Sy was eers wantrouig, maar later het sy baie besitlik geword en wou nie haar nuwe mensevriende onder haar oë uitlaat nie. Om haar te kalmeer, het Joy se man, George Adamson, sy tent tot teenaan Mara se kamp geskuif. Uiteindelik het hy sy tent tot reg binne-in die kamp geskuif! “Die volgende drie maande”, skryf hy in sy boek Bwana Game, “het sy gereeld binne-in [my tent] geslaap, gewoonlik uitgestrek op die vloer langs my bed en soms bo-op die bed. . . . Sy het my nooit onrustig laat voel oor my persoonlike veiligheid nie.”
“Een van ons geliefkoosde speletjies”, het mnr. Adamson geskryf, “was wanneer ek plat op die grond agter ’n graspol weggekruip het. Dan het Mara my steelsgewys bekruip, pens laag op die grond net soos dit ’n ware leeu betaam en dan was daar die blitssnelle stormloop en het sy bo-op my geland. Sy het altyd haar gevaarlike naels ingetrek en het my nooit seergemaak nie.”
’n Ander leeuwyfie wat die rol van Elsa vertolk het, was Girl. Na die film voltooi is, is Girl weer in die natuur vrygelaat waar sy gepaar en twee welpies gehad het. Twee van Adamson se vriende het die skuilplek opgespoor. Adamson het geskryf: “In ’n toonbeeld van vertroue en goedaardigheid het Girl die twee mans, wat baie gewaag het, toegelaat om [tot ’n meter] of wat van die geboorteplek af te kom . . . Girl se gedrag was selfs nog merkwaardiger aangesien [een van die mans] ’n betreklike vreemdeling vir haar was.” Wat Adamson betref, Girl het hom selfs toegelaat om aan haar welpies te vat, terwyl sy ander leeus verjaag het.
’n Kwaai leeu word mak gemaak
Elke leeu het ’n verskillende geaardheid. Terwyl Joy Adamson Elsa grootgemaak het, het ’n wildbewaarder, Norman Carr, verder suid in Noord-Rhodesië (nou Zambië), twee mannetjies grootgemaak. Een van die welpies, Big Boy, was baie vriendelik. Die ander een, Little Boy, was geneig om nukkerig te wees. Carr het oor laasgenoemde in sy boek Return to the Wild soos volg geskryf:
“Wanneer Little Boy in een van hierdie buie is en vir my grom, hurk ek langs hom, maar net buite bereik van sy pote waarmee hy maklik gevaarlik sal kap met sy vlymskerp [vyf sentimeter] lange naels ontbloot. Ek probeer hom dan paai deur saggies met hom te praat terwyl ek stadig nader en nader skuif; en wanneer ek uiteindelik aan hom raak, grom hy nog, maar nie meer so met mening nie. Wanneer ek my arm om sy ruie skouers plaas en sy bors streel, kan jy duidelik sien hoe hy ontspan asof al sy gespanne spiere slap word. . . . Hy lê sy kop op my skoot en nooi my so om hom te streel.”
In die voorwoord by Carr se boek vertel die Graaf van Dalhousie, wat destyds goewerneur-generaal van die land was, van ’n insident wat hy aanskou het toe die leeus al ouer as twee was en sonder toesig op ’n vlakte naby Carr se kamp rondgeloop het. Carr het gefluit, en die Graaf se beskrywing van hulle reaksie lui soos volg: “Met groot spronge het hulle hul meester tegemoetgehardloop en hulle massiewe koppe teen hom geskuur terwyl hulle hul blye maar vreeswekkende begroeting uitgebrul het. Hulle liefde vir hom het gewis nie afgeneem nie.”
Leeus het gelukkig ’n natuurlike vrees vir die mens en probeer hom gewoonlik vermy. Hierdie instinktiewe reaksie wat by leeus en ander diere aangetref word, word akkuraat in die Bybel beskryf (Genesis 9:2). Daarsonder sou die mens ’n baie maklike prooi wees. Party diere word nietemin mensvreters.
“Uitsonderings op die reël”
Roger Caras, wat ’n kenner op die gebied is, verduidelik: “Dit lyk asof daar onder feitlik al die grootkatspesies ’n aantal abnormale enkelinge gevind word wat die mens as voedsel uitsoek. Hulle is uitsonderings op die reël . . . Oor die algemeen kan die mens redelik in vrede met die [groot katte] saamlewe.”
Dit lyk asof baie diere die mens nie herken wanneer hy in ’n voertuig sit nie. Sodoende kan mense nabyfoto’s van leeus neem. “Maar”, waarsku die boek Maberly’s Mammals of Southern Africa, “jy lok aansienlike gevaar uit as jy jou deur oopmaak, of na aan die leeus probeer kom, omdat hulle die mens se teenwoordigheid herken, en die skielike verskyning vergroot die dier se skok en vrees, wat hom maklik laat aanval omdat hy dink dat hy homself moet verdedig. . . . Dit is minder gevaarlik om ’n leeu van aangesig tot aangesig in die bos teë te kom as om skielik voor hom uit ’n motor te verskyn!”
Wat van luiperds?
Luiperds wat mensvreters word, is ook uitsonderings op die reël. In sy boek The Leopard’s Tale verduidelik Jonathan Scott: “As hy nie gesteur word nie en in goeie gesondheid verkeer, is die luiperd ’n skugter, sku dier met ’n opmerklike vrees vir die mens. As hy gekonfronteer word, sal hy gewoonlik wegvlug na die naaste beskikbare skuiling toe.”
Scott het etlike maande in Kenia se Masai Mara-wildreservaat deurgebring terwyl hy die bewegings van ’n luiperdwyfie bestudeer het, wat hy Chui genoem het. Chui het geleidelik gewoond geraak aan Scott se voertuig en by een geleentheid het haar welpies, wat hy Dark en Light genoem het, tot by sy motor gekom en dit ondersoek. Scott glo dat daar ’n potensieel vriendelike geaardheid agter die luiperd se koue voorkoms lê.
Ander mense het ook die vriendelike sy van ’n luiperd se geaardheid ervaar. Joy Adamson het byvoorbeeld ’n luiperdwesie grootgemaak, wat sy Penny genoem het. Nadat sy in die veld vrygelaat is, het Penny gepaar en ’n werpsel kleintjies gehad. Toe haar mensevriende in die omgewing was, het Penny te voorskyn gekom en hulle aangemoedig om na haar pasgebore welpies te kom kyk. Adamson het die pragtige toneel beskryf toe sy in die skuilplek langs die trotse moeder gesit het: “Sy het ons hande gelek terwyl die welpies hulle tussen haar voorbene opgekrul het, almal so doodgelukkig. Die algemene beskouing is dat luiperds die gevaarlikste van alle diere in Afrika is en dat luiperdwyfies met kleintjies veral kwaai is.” Maar Adamson het gesê dat haar ondervinding met Penny moontlik bewys dat “die meeste van die aanvaarde beskouings op wanbegrippe berus”.
Arjan Singh van Noord-Indië het nog ’n merkwaardiger ondervinding gehad met ’n ander “goedgeaarde” luiperdwyfie genaamd Harriet. Singh het Harriet grootgemaak vandat sy ’n welpie was en haar opgelei om vir haarself te sorg in die oerwoud langs sy plaas. As deel van die opleiding het Singh die luiperd soms aangemoedig om aan te val. “Wanneer ek gebuk het en haar uitgelok het om te storm”, verduidelik hy in sy boek Prince of Cats, “het sy my reg van voor bestorm . . . , maar wanneer sy my bespring het, het sy baie seker gemaak dat sy oor my kop spring terwyl sy haar omdraai en teen my rug afgly sonder om ’n skrapie op my kaal skouers te maak.”
Die luiperd se spelery met Singh se hond Eelie was net so merkwaardig. Singh sê dat ’n “rolprent [die luiperd] wys waar sy op haar hurke sit en na die hond boks wanneer dié op haar afstorm—maar sy wend geen poging aan om die aanvaller plat te slaan nie. Haar groot pote beweeg teen die een kant van Eelie se nek op, oor haar kop en gly dan so sag soos verestoffers teen die ander kant af.”
Hierdie vriendelike verhouding tussen mens, hond en luiperd het voortgeduur nadat Harriet die huis verlaat het om haar lewe in die aangrensende oerwoud voort te sit. “As enigiemand sê dat luiperds nie betroubaar is nie”, sluit Singh af, “hoef ek maar net aan die talle kere te dink wat Harriet in die middel van die nag na [my plaas] toe gekom het en my sagkens wakker gemaak het om my te groet waar ek buite gelê en slaap het.”
Harriet het mettertyd gepaar en twee welpies gehad. Toe haar skuilplek deur ’n vloed bedreig is, het die luiperd die welpies in haar bek gedra en hulle een vir een na die veiligheid van Singh se huis gebring. Toe die vloed verby was, het Harriet in Singh se boot geklim en hom oorreed om haar heen en weer oor die rivier te roei terwyl sy haar welpies een vir een na ’n nuwe skuilplek in die oerwoud geneem het.
Die Afrika-olifant
Daar word beweer dat die Afrika-olifant te wild is om mak te maak. Baie mense het egter bewys dat die teendeel waar is. Een voorbeeld is die hartroerende verhouding tussen drie Afrika-olifante en ’n Amerikaner met die naam Randall Moore. Die olifante was deel van ’n groep kalfies wat in die Nasionale Krugerwildtuin gevang en na die Verenigde State gestuur is. Met verloop van tyd is hulle opgelei om in ’n sirkus op te tree en het goed gevaar. Toe hulle eienaar dood is, is die drietal aan Moore gegee, en hy het hulle na Afrika toe teruggebring.
Die twee koeie met die name Owalla en Durga is in 1982 in die Pilanesberg-natuurreservaat in Bophuthatswana vrygelaat. Op die tydstip was daar ’n aantal verweesde olifantkalwers in die park wat in ’n slegte toestand was en die sorg van volwasse koeie nodig gehad het. Sou Owalla en Durga, wat vir die sirkus opgelei was, hierdie rol kon vervul?
Ná ’n jaar is Moore laat weet dat sy olifante al 14 die wesies aangeneem het en dat nog wesies in die park vrygelaat sou word. Nadat hy vier jaar lank weg was, het Moore teruggekeer om self te sien hoe dit gaan. Aangesien hy verwag het om lank in die berge van Pilanesberg te soek, was hy verbaas om Owalla en Durga, kort na sy aankoms, tussen ’n groot trop olifante te gewaar. “My eerste, onprofessionele impuls”, het hy in Back to Africa geskryf, “was om hulle tegemoet te hardloop, hulle te omhels en hulle met lof te oorlaai. Ek het dié drang onderdruk en op ’n meer rasionele benadering besluit.”
Aanvanklik moes Owalla en Durga eers sekerheid kry oor die teenwoordigheid van hulle ou vriend. Hulle het sy uitgestrekte hand met hul slurp ondersoek. “Owalla”, skryf Moore, “het oor my getroon asof sy vir die volgende bevel gewag het. Die res van die trop het stilswyend om ons saamgebondel. Ek het gedoen wat sy wou hê. ‘Owalla . . . Slurp OP en VOET!’ Owalla het haar voorpoot onmiddellik hoog opgetel en haar slurp lugwaarts gekrul in die klassieke saluut van daardie sirkusdae lank gelede. Wie was die eerste om te sê dat ’n olifant nooit vergeet nie?”
Drie jaar later, in Oktober 1989, is Owalla se geheue weer op die proef gestel. Hierdie keer het Moore besluit om iets te doen wat hy nog nie gedoen het sedert die olifante sewe jaar gelede in die park vrygelaat is nie. Owalla het sy bevel gehoorsaam om af te buig en hom toe te laat om op haar rug te klim. Televisiekykers in Suid-Afrika was in vervoering om te sien hoe hy te midde van 30 wilde olifante op haar rug ry. “Ek het dit gedoen”, het Moore in ’n onderhoud met Ontwaak! verduidelik, “nie om publisiteit te kry nie, maar omdat ek graag wou uitvind tot hoeveel intelligensie en gebondenheid die olifant in staat is.” Die Pilanesberg-wesies het onder Owalla en Durga se intelligente sorg gedy.
Dit is waar dat gevalle van vriendskap tussen mense en wilde diere nie vandag die reël is nie; dit moet sorgvuldig aangekweek word. En dit sal inderdaad roekeloos van die gewone persoon wees om dit die bosse in te waag en om leeus, luiperds en olifante te probeer nader. Maar hoewel sulke vriendskap tussen wilde diere en mense vandag betreklik seldsaam is, wonder ’n mens oor die toekoms. Sal dit dan die reël wees?
[Venster/Prent op bladsy 8]
Leeus kan mak gemaak word!
“KOM neem ’n paar foto’s van my en my leeus”, het Jack Seale, bestuurder van die Hartebeespoortdam se Slang-en-dierepark gesê. Ek het hom senuagtig na die leeuhok gevolg en gehoop dat hy my sou toelaat om die foto’s van buite die beskermende heining te neem.
Die hok was skoon, met genoeg skaduwee van die omliggende bome. Nege gesonde leeus het hulle afrigter dadelik herken toe hy en ’n helper in die hok instap. Die leeus het vriendelik gegrom en opgewonde rondgestap.
“Kom in”, het Jack gesê. Ek het gemaak of ek hom nie hoor nie. “Kom in”, het hy harder gesê. Al wat hulle as beskerming teen die leeus gehad het, was stokke! My hart het vinnig geklop terwyl ek teen my lafhartigheid geveg het, en uiteindelik het ek ingeklim. Ek het vinnig begin foto’s neem toe Jack ’n paar van sy manjifieke pleegkinders vertroetel. Hoe verlig was ek tog nie toe ons almal weer veilig buite staan nie! Maar ek kon gerus maar ontspan het.
“Die rede waarom ons stokke by ons het”, het Jack later verduidelik, “is omdat die leeus liefdevol is en ons lieftallig byt. Ons hou die stokke vir hulle sodat hulle daaraan kan kou pleks van aan ons arms.” Jack en sy trop leeus het so pas van die Nasionale Etosha-wildtuin in Namibië teruggekeer. Waarom het hy hulle so ver die wildernis ingeneem? Hy het verduidelik:
“Hulle is gebruik in ’n dokumentêre film oor navorsingswetenskaplikes se werk om die bevolkingsaanwas onder die leeus van Namibië in die natuurlike staat te beheer. Maar my leeus verkies die lewe waaraan hulle hier gewoond geraak het. In Namibië het hulle na my vragmotor toe gekom sodra hulle dit gewaar het. Dit was glad nie moeilik om hulle te kry om terug te kom huis toe nie.”—Bygedra.
[Erkenning]
Courtesy Hartebeespoortdam Snake and Animal Park
[Prent op bladsy 9]
Randall Moore met sy pleegkinders in die bosse van Afrika