Die luiperd—’n geheimsinnige kat
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
DIE son was besig om te sak. Ons het die dag in Kenia se Masai Mara-wildreservaat deurgebring waar ons die pragtige wild dopgehou en gefotografeer het. Voor ons die aand in die tentekamp tot rus gekom het, het ons nog ’n opwindende skouspel beleef. Een van die kamppersoneel het die voorbereidsels hiervoor getref toe hy, met ’n stuk bokvleis oor sy skouer, die toubrug oor die Talekrivier oorgesteek het. Hy het die vleis in ’n mik hoog in ’n akasiaboom vasgemaak.
Terwyl die kleure van die kort tropiese skemer saggies in donkerte oorgegaan het, het ’n groot luiperdmannetjie stilletjies teen die boom opgeklim en aan die vleis begin ruk en skeur. Hy is deur soekligte vanaf die kykpunt verlig. Die luiperd het egter sy maaltyd geniet en het ons geïgnoreer terwyl ons met ontsag en verwondering toegekyk het. Ons het later verneem dat hy die boom met die vleis elke aand besoek en dat hy dit al ongeveer ses jaar lank doen. Die volgende aand kon ons die skouspel dus weer sien!
Ons kon werklik begryp waarom die luiperd al beskryf is as “die volmaakste van die groot katte, pragtig en grasieus”. Met ’n gewig van 60 kilogram of meer is die luiperd een van die diere met die sterkste spiere; hy het ’n gemiddelde skouerhoogte van oor die 60 sentimeter en ’n gemiddelde lengte van 2 meter van neus tot stertpunt. Wanneer ons na die kenmerkende swart kolle kyk wat in rosette op sy geelbruin pels gerangskik is, word ons aan die vraag herinner wat die profeet Jeremia eenmaal gevra het: “Kan ’n Kusiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke?”—Jeremia 13:23.
Sy glimmende groen oë is veral opvallend. Hulle is toegerus met ’n spesiale laag selle—die tapetum—wat hom buitengewone nagsig gee. Die luiperd kan sien in lig wat ses keer swakker is as wat die mens se oog nodig het. Hierdie sellaag, wat lig deur die retina terugkaats, skep die glanseffek wat ’n mens sien wanneer ’n ligstraal sy oë in die nag tref.
As jy na die luiperd kyk wanneer hy gedurende die dag rus, sal jy oplet dat hy hyg asof hy op die randjie van uitputting is. Maar sy vinnige asemhaling is deel van ’n effektiewe koelstelsel. Deurdat hy tot 150 keer per minuut asemhaal, kan klammigheid vanaf sy tong, mond en neusgange verdamp.
Die luiperd is die aanpasbaarste van die groot katte en kan aangetref word in woestyne en woude; in berge en op seevlak; in lande wat so van mekaar verskil soos China, Indië en Kenia. Ten spyte van die mens se inbreuk op groot dele van die luiperd se habitat reken wetenskaplikes dat daar in Afrika en Asië alleen nagenoeg ’n miljoen is. Nogtans ontwyk die luiperd al eeue lank ernstige wetenskaplike bestudering. Neem byvoorbeeld die Sinai-luiperd. Totdat hy onlangs in die wildernis van Judea herontdek is, is daar lank gemeen dat daardie luiperd uitgesterf het!
Die alleenloperkat
Hoe kry die luiperd dit reg om nie deur die mens raakgesien te word nie? Hy doen dit deur hoofsaaklik ’n nagdier te wees—en is boonop uiters stil en sku. In gebiede waar die mens ’n bedreiging inhou, is die luiperd versigtig stil. Net wanneer hy kwaad gemaak word, sal hy dreigende grom- en hoesgeluide maak soos ’n leeu. In normale omstandighede is sy vokalisasie baie minder intimiderend: ’n growwe krassende geluid—baie soos die geluid van ’n saag wat hout sny. Volgens die boek Animals of East Africa, deur C. T. Astley Maberly, klink dit soos “Grom-ha! Grom-ha! Grom-ha! Grom-ha!—en eindig dit gewoonlik met ’n harde sug”. In ooreenstemming met sy skuheid maak die luiperd ook ’n verskeidenheid van lae-intensiteitgeluide, waarvan die mens die meeste nie kan hoor nie.
In teenstelling met leeus wat in troppe voorkom, is luiperds nie sosiale katte nie. Al word pare nou en dan gesien, jag die luiperd alleen. Om onverwagte of vyandige konfrontasies te verminder, baken die luiperd vir hom ’n persoonlike gebied af wat van 25 tot 65 vierkante kilometer groot kan wees. Hy spuit ’n afskeiding uit spesiale kliere om die grense van sy gebied te merk. Die reukmerk kan ander luiperds oor die geslag, ouderdom, seksuele stand en moontlik selfs die identiteit van die “grondeienaar” inlig.
Die luiperd jag op sy kenmerkende stil manier. In Bybeltye was hy daarvoor bekend dat hy naby dorpe gelê en wag het, gereed om huisdiere met dodelike vaart te bespring (Jeremia 5:6; Hosea 13:7; Habakuk 1:8). Om sy buit teen aasdiere soos hiënas en jakkalse te beskerm, bêre hy sy groter vangste ongeveer 9 of 12 meter bo die grond in die mik van ’n boom. Maar hoe kry hy dit reg om die karkas van ’n wildsbok of ’n een en ’n half meter lange kameelperdkalf so hoog op te trek? Dit is ’n geheim wat die luiperd nie maklik verklap nie. Maar geduldige waarnemers beweer dat hy dit met louter brute krag regkry. Luiperds verkies dit om op hulle gemak te eet, met hulle liggame lui-lui oor die takke gedrapeer, heeltemal privaat, gekamoefleer deur die takke en blare.
Wanneer die luiperd nie uitgedaag word nie, neig hy om skaam en teruggetrokke te wees en sal hy ’n konfrontasie met die mens vermy. Terwyl party luiperds dus hulle vrees vir die mens verloor het en mensvreters geword het, hou die meeste min gevaar vir die mens in. Maar as ’n luiperd gewond of vasgekeer is, toon hy geen vrees vir sy vyand nie. “’n Luiperd wat kwaad is”, skryf Jonathan Scott in The Leopard’s Tale, “is die beliggaming van wreedheid, . . . en is in staat om al sy energie in ’n blitsvinnige aanval oor ’n kort afstand in te span.”
Luiperdmoeders
Dit is dan ook nie verbasend dat luiperds hulle welpies in betreklike privaatheid grootmaak nie. Pasgebore welpies word die eerste twee maande van hulle lewe weggesteek, dikwels in ’n grot. Hoewel die vader geen rol in die grootmaak van die welpies speel nie, vorm die moeder ’n hegte band met hulle deur hulle te voer, skoon te maak en warm te hou. Mettertyd verskuif die moeder haar werpsel van twee of drie welpies na ’n nuwe tuiste deur hulle in haar mond te dra as hulle nog klein is of hulle eenvoudig agter haar aan te roep as hulle groter is.
’n Luiperdmoeder probeer ook om haar welpies onder die oë van vyande, soos bobbejane, uit te hou. Maar as bobbejane haar welpies aanval, sal sy hulle stormloop en haarself in gevaar stel om haar welpies die geleentheid te bied om na veiligheid te vlug. Sy neem ook groot risiko’s om haar welpies te voed. Die kat wat gewoonlik teruggetrokke is, sal deur ’n trop trompetterende olifante loop om vleis na haar honger kleintjies te bring.
Dit is interessant dat jong luiperds ’n tyd lank nie hulle onafhanklike gees openbaar nie. Welpies word op ongeveer ses maande gespeen, maar maak eers hulle eie prooi dood as hulle ’n jaar oud is. Mannetjies word eers alleenlopende volwassenes wanneer hulle ongeveer twee en ’n half jaar oud is. Wyfiewelpies deel soms hulle moeder se tuisgebied selfs wanneer hulle volwasse is.
Die luiperd—Uiteindelik in vrede?
Maar daardie troetelbare katjies is dodelik as hulle grootword. Dit kan dus moeilik wees om te glo dat die woorde van die profeet Jesaja ooit waar sal word: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie.”—Jesaja 11:6.
Onlangse pogings om luiperds te tem, het maar min sukses gehad. Sieuwke Bisleti van der Laan en haar man het ’n werpsel welpies op hulle plaas in Afrika grootgemaak. Die welpies het “algehele vryheid” geniet en is dikwels met die hand gevoer. Maar hulle was nooit werklik mak nie. Sieuwke Bisleti skryf: “Sodra ’n luiperd volgroeid is, gaan hy sy eie gang. ’n Leeu sal jou altyd liefhê en gehoorsaam; ’n luiperd sal jou altyd herken, maar hy besluit self hoe hy op enige gegewe oomblik sal reageer.”
Uiteindelik het hulle dit as te gevaarlik beskou om die volgroeide welpies toe te laat om vryelik op die plaas rond te loop. Daar is besluit om hulle in die natuur vry te laat. Het die feit dat die jong luiperds deur vriendelike mense grootgemaak is hulle bederf? Hoegenaamd nie. Binne drie dae ná hulle vrygelaat is, is die mannetjie gesien by ’n waterbok wat hy doodgemaak het.
Sulke beperkte welslae om luiperds te tem, maak Jesaja se geïnspireerde profesie van vrede tussen luiperd en bok nietemin nie kragteloos nie. Hierdie opsienbarende gebeurtenis sal plaasvind, nie deur mensepogings nie, maar deur Goddelike ingryping. God se heerskappy sal egter meer doen as om net vrede in die diereryk te bring. “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE”, het Jesaja voorspel (Jesaja 11:1-9). Selfs die mens sal dan die dierlike gedrag laat vaar wat tot oorlog en verdeeldheid gelei het. Terselfdertyd sal die mensdom se gesindheid teenoor die dierewêreld ook verander. Geen dier sal meer die slagoffer van blindelingse slagting wees nie. En die mens sal nie meer hulle habitat vernietig of hulle voortbestaan bedreig nie, want Jehovah sal dan ‘die verderwers van die aarde verderf het’.—Openbaring 11:18.