Loterykoors—die wêreld se dobbelspel
“AL WAT jy nodig het, is ’n dollar en ’n droom.” Die droom was om die New Yorkse loterypryspot van 45 miljoen dollar (R112500 000) te wen. ’n Dollar kon ’n wenkans koop. Die dromers het by miljoene opgedaag. Terwyl hulle tougestaan het om hulle kaartjies te koop, het hulle oor seiljagte en pelsjasse en groot woonhuise gesels—alles dinge wat hulle sou koop indien hulle die prysgeld wen. Op een tydstip het hulle, oor die hele staat, kaartjies opgeraap in ’n tempo van 28 000 per minuut. Die laaste drie dae voor die loting het hulle 37,4 miljoen kaartjies gekoop.
Sake is altyd bedrywig by die 10 000 wettige loterystalletjies in Japan waar die mense saamdrom om kaartjies vir die einde van die jaar se Jumbo-Takarakoeji (Lotery) te koop. By een stalletjie in Tokio waar vyf eerstepryskaartjies na bewering in vorige jare verkoop is, het sowat 300 mense reeds tougestaan toe die stalletjie vir sake geopen het. Een jong vrou wat geglo het dat vroegopstaners ’n groter kans op geluk het, het al van 1:00 vm. daar gewag. Verlede jaar se veelbegeerde pryspot: ’n rekordbedrag van 100 miljoen jen (R1785 712).
In ’n hoofstad in Wes-Afrika is die gebied wat onder die plaaslike inwoners as die Lotto College bekend staan altyd vol mense wat daarheen kom om kaartjies te koop en oor toekomstige nommers te spekuleer. Lang lyste van vorige wennommers word verkoop aan diegene wat hoop om die een of ander leidraad vir toekomstige kombinasies daarin te kry. Vir diegene wat aan geheime voorkennis glo, is daar lotto-profete byderhand wat, teen vergoeding, nommers sal voorspel waarop hulle kan wed.
Uitsonderlike gevalle? Geensins. Loterykoors is pandemies. Dit versprei deur elke wêrelddeel. Dit kom in ryk sowel as in arm lande voor. Dit is opwindend vir jonk en oud op elke ekonomiese, sosiale en opvoedkundige vlak van die gemeenskap.
Ja, loterye is ’n groot bedryf, en dit bloei welig. In 1989 het staatsloterye in die Verenigde State alleen $18,5 miljard ingebring. Slegs 27 jaar gelede was daar geen loterye nie. Maar nou is loterye die tweede grootste vorm van dobbelary in die Verenigde State, en die bedryf groei jaarliks met 17,5 persent, net so vinnig soos die rekenaarbedryf.
Volgens die jongste beskikbare syfers van die tydskrif Gaming and Wagering Business is daar in 1988 wêreldwyd altesaam R140,95 miljard se loterykaartjies verkoop. Dit is ’n ontsaglike bedrag. Dit is meer as 25 rand vir elke man, vrou en kind op aarde! En dit in nét een jaar!
Hoewel niemand kan ontken dat loterye floreer nie, is baie mense sterk daarteen gekant. Die volgende twee artikels ondersoek die toenemende gewildheid van loterye en die geskil daaragter. Wanneer jy die feite in oënskou neem, sal jy self kan besluit of jy daaraan moet deelneem. Is dit verstandig om daaraan deel te neem? Hoe maklik is dit om te wen? Kan jy meer as net geld verloor?