Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 5/8 bl. 4-6
  • Loterye—Waarom so gewild?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Loterye—Waarom so gewild?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is loterye ’n nuwigheid?
  • Aantrekkingskrag vir promotors
  • Drome van rykdom
  • Loterye—Wie wen? Wie verloor?
    Ontwaak!—1991
  • Loterykoors—die wêreld se dobbelspel
    Ontwaak!—1991
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Insig in die nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 5/8 bl. 4-6

Loterye—Waarom so gewild?

WAAROM neem mense aan loterye deel? “Dis vermaaklik, dis pret”, het ’n woordvoerster van ’n loteryraad gesê. Dit is dalk so, maar die grootste aantrekkingskrag is ongetwyfeld die prysgeld. ’n Bietjie ekstra geld sal die meeste van ons goed te pas kom. En loterye hou die belofte van baie geld in. In vandag se wisselvallige wêreld met sy stygende pryse, beursinstortings en doodloopbaantjies glo miljoene mense dat om ’n lotery te wen die enigste moontlike manier is waarop hulle fabelagtig ryk kan word.

Die feit dat loterye eenvoudig is en dat dit maklik is om daaraan deel te neem verhoog hulle aantrekkingskrag. Daar is ’n groot verskeidenheid, soos Lotto, nommerspele en wedstryde waar jy op die papier krap om geheime nommers te onthul, maar hulle almal het twee kenmerke gemeen. Eerstens wen deelnemers as die nommers op hulle kaartjie ooreenstem met dié wat deur die organiseerders geloot word. Tweedens, in teenstelling met ander vorms van dobbelary het ’n mens geen spesiale vaardigheid of kennis nodig om te kan wen nie. Wen of verloor is ’n saak van pure toeval.

Mense neem ook aan loterye deel omdat dit maklik is om kaartjies te koop. Die meeste Amerikaners kan kaartjies by die plaaslike kruidenierswinkel koop. Op ander plekke kan deelnemers weddenskappe per pos, telefoon, teleks of faks aangaan as daar nie ’n loterystalletjie naby is nie.

Is loterye ’n nuwigheid?

Is loterye iets nuuts? Glad nie. Tydens feesvieringe in antieke Rome het keisers Nero en Augustus slawe en eiendom as pryse weggegee. Een van die eerste aangetekende kontantpryse is waarskynlik dié wat in 1530 deur ’n lotery in Florence, Italië, uitbetaal is. In die daaropvolgende eeue het loterye in Europa gefloreer. Loterye het ook in die vroeë Amerika gefloreer en geld ingebring wat gehelp het om Jamestown, die Kontinentale Leër en die oprigting van invloedryke universiteite, soos Harvard, Dartmouth, Yale en Columbia, te finansier.

In die 19de eeu het die bedryf egter probleme ondervind. Teenstanders het uitgevaar teen massadobbelary en beweer dat daar met lotings geknoei is. Loterye was deurtrek van omkopery, korrupsie en boewery. Private promotors het geweldige winste ingepalm. Gevolglik is loterye in die Verenigde State, Frankryk en Brittanje verbied.

Was dit die einde van die saak? Klaarblyklik nie. Loterye het steeds op ander plekke gefloreer—byvoorbeeld in Italië en Australië. In 1763 het Carlos III van Spanje ’n lotery begin; die moderne weergawe daarvan is in 1812 deur wetgewing tot stand gebring. Die een land na die ander het met die loterystroom meegegaan.

In 1933 het Frankryk sy verbod opgehef en die Loterie nationale ingestel. Ierland het ook in die dertigerjare met sy welbekende Irish Hospitals’-Sweepstake begin. Japan se Takarakoeji het in 1945 begin. Brittanje het sokkerpoel en premie-obligasietrekkings goedgekeur, wat in wese loterye was, hoewel nie in naam nie. En in 1964 het die Verenigde State weer die bedryf betree.

Toe, in die sewentigerjare, het twee ontwikkelinge die loterybedryf ’n gedaantewisseling laat ondergaan. Die eerste was die gebruik van rekenaars wat aan kleinhandelterminale gekoppel was. Nou was dit moontlik om baie groot spele kort op mekaar te organiseer waarin spelers self hulle nommers kon kies. Dit was nie meer nodig om weke of maande te wag om te sien of hulle gewen het nie; spelers kon binne dae, ure of selfs minute weet.

Die tweede ontwikkeling was die bekendstelling van Lotto, ’n spel waarin die kanse om te wen gering is. As die Lottopryspot nie gewen word nie, word dit oorgedra na daaropvolgende spele. Die prysgeld kan dus tot miljoene rande vermeerder. Met die instelling van Lotto het verkope die hoogte ingeskiet en het die bedryf groot geword, werklik groot.

Aantrekkingskrag vir promotors

Waarom bevorder regerings dobbelary? Omdat dit ’n maklike manier is om geld in te bring sonder om belastings te verhoog. Terwyl muntoutomate en roulette tot 95 persent van die geld wat ingeneem word aan prysgeld uitbetaal, betaal loterye minder as 50 persent uit. In 1988 is sowat 48 sent van elke loterydollar in die Verenigde State byvoorbeeld as pryse terugbetaal en is 15 sent vir promosiewerk, verkope en administrasie gebruik. Die oorblywende 37 sent is gebruik om verbeterings aan openbare geriewe, opvoeding, gesondheidsorg en die versorging van bejaardes te finansier. Dit het landwyd $7,2 miljard (R18 miljard) beloop.

Maar regerings organiseer loterye nie net om geld te maak nie. As hulle nie by die bedryf betrokke raak nie, kan hulle geld verloor. Hulle burgers kan dalk elders gaan deelneem. Wanneer een land of staat dus ’n lotery begin, word sy buurlande aan druk onderwerp om dieselfde te doen. Hierdie sneeubaleffek is duidelik waarneembaar in die Verenigde State. In 1964 was daar een Staatslotery; in 1989 was daar 30.

Drome van rykdom

Natuurlik is daar baie mense wat ’n deel van die verbruikersrand wil kry. Hoe oortuig promotors gevolglik die publiek om hulle geld op loterye te spandeer? Deur reklame! Kry die meesters in oorreding!

Beklemtoon advertensies dat ’n deel van die opbrengs (hoewel dit maar gering is) opvoeding of die versorging van bejaardes sal help finansier? Beslis nie! Dit word selde genoem. In plaas daarvan beklemtoon advertensies hoeveel pret dit sal wees om miljoene rande te wen. Hier is ’n paar voorbeelde:

◻ “Die fabelagtige lewenstyl van die Rykes & Beroemdes kan oombliklik joune word . . . as jy aan Kanada se beroemde multimiljoen-dollar-lotery, die LOTTO 6/49, deelneem.”

◻ “DIE FLORIDA-LOTERY . . . Word ryk in Amerika se grootste lotery.”

◻ “Kom maak geld in Duitsland—SLAAN ’N SLAG en word oornag ’n miljoenêr.”

’n Aggressiewe verkoopstyl? Ongetwyfeld! Pogings om reklame sagter te stel, word gewoonlik oorboord gegooi wanneer kaartjies nie verkoop nie. Trouens, promotors wend hulle tot intensiewer wedstryde en bemarkingsmetodes om nuwe deelnemers te lok en oues se belangstelling te behou. Promotors moet voortdurend iets aanbied wat nuut lyk. Oregon se loterybestuurder, James Davey, het gesê: “Ons het dobbeltemas, soos Olimpiese Spele. Gedurende Kersfees bied ons Vakansiekontant aan. Met Stergeluk sinspeel ons op mense se astrologiese tekens. Ons het gevind dat ons meer kaartjies verkoop as ons twee of drie, vier of vyf spele tegelykertyd aanbied.”

Maar die reusepryspot het verreweg die grootste aantrekkingskrag. Wanneer die Lottoprysgeld die hoogte inskiet, soos toe dit in 1989 in Pennsilvanië op $115 miljoen gestaan het, word dit groot nuus. Mense gaan op loop om kaartjies te koop in wat deur een skrywer ’n “dobbelaar se versadigingswaansin” genoem is. Te midde van sulke histerie reik selfs diegene wat nie normaalweg aan loterye deelneem nie na hulle geld.

[Venster op bladsy 6]

Dobbelkoors en godsdiens

“Die Katolieke Kerk het my geleer om te dobbel. Bingo en uitlotings verskil glad nie van loterye nie. As die Katolieke Kerk die voortou neem en ’n einde aan alle dobbelary maak, sal ek dit heroorweeg om nie aan loterye deel te neem nie. As ek hebsugtig is, is dit omdat dit bykans ’n Kerksakrament is.”—Leser aan die tydskrif U.S. Catholic.

“Volgens ’n opname wat deur die Notre Dame-Universiteit van Katolieke gemeentes gemaak is, is die weeklikse bingospel die geleentheid wat naas die Sondagmis die beste in Katolieke kerke bygewoon word.” Verskeie priesters beweer egter dat die meeste van diegene wat die bingospele bywoon nie kerk toe gaan nie.—The Sunday Star-Ledger, New Jersey, VSA.

“Sint Pancratius het geluk na Madrid gebring”, het die opskrif van die internasionale uitgawe van die Spaanse weekblad ABC gelui. Die artikel het voorts gesê: “‘Dit was Sint Pancratius’ het die twee werknemers van ’n loterywinkel oor en oor uitgeroep . . . nadat hulle die enigste reeks van 21515, die ‘gordo’ [grote] ten bedrae van 250 miljoen [pesetas, of vandag R6250 000], in Madrid verkoop het. [Die werknemers] het erken dat hulle gebid het tot dié heilige, wie se beeld oor hulle onderneming waak en waarop hulle ’n takkie pietersielie geplaas het, sodat hulle die goeie geluk sou hê om die ‘gordo’ van die Kersfees te verkoop.”

“In ’n poging om hulle gelukslag te verduidelik was die ouer wenners geneig om te glo dat God en die noodlot hulle uitgesonder het om die geld te wen. . . . ‘Ons wil glo dat die geluk en teenspoed aan iets toegeskryf kan word en dat dit nie blote toeval is nie’, het dr. Jack A. Kapchan, ’n professor in die sielkunde aan die Universiteit van Miami gesê. ‘En waaraan kan ons dit anders toeskryf as aan God?’”—The New York Times.

Wat sê die Bybel omtrent die geluk? Jehovah het vir die ontroues in Israel gesê: “Maar julle [“is diegene”, NW] wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot.”—Jesaja 65:11.

Hoeveel van die betreklik min wenners dink ooit daaraan dat hulle uitsonderlike geluk gegrond is op die ongeluk van miljoene verloorders? Is dobbelary in enige opsig ’n weerspieëling van ‘naasteliefde’? Is dit redelik of skriftuurlik om te dink dat die Soewereine Heer van die heelal hom sou inlaat met sulke selfsugtige ondeugde soos dobbelary?—Mattheüs 22:39.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel