Wie wil ’n miljoenêr wees?
DIE antwoord is blykbaar: feitlik almal. En die maklikste manier om ’n miljoenêr te word—só dink die meeste mense—is om ’n slag in ’n lotery of ’n sokkerpot te slaan.a
Omdat regerings van Moskou tot Madrid, van Manila tot Mexiko-stad die publiek dít wil gee waarvan hulle hou—en omdat hulle die ekstra inkomste wil hê wat loterye inbring—borg hulle staatsloterye wat pryse van tot 275 miljoen rand uitloof.
Daar is wel enkele mense wat miljoenêrs word. Een Engelsman het 25 jaar lank inskrywingsvorms vir sokkerwedstryde ingevul voordat hy uiteindelik ’n rekordpryspot gewen het. Hy het met R1,40 se speelgeld nagenoeg R4,1 miljoen gewen. Die uitbetaling aan ’n vrou van New York, wat een van die wêreld se grootste wenners geword het toe sy R151 miljoen in Florida se staatslotery gewen het, was selfs meer opsienbarend.
Maar hulle is uitsonderings. Die geval van die middeljarige Spaanse klerk wat 30 jaar lank elke week loterykaartjies gekoop het, is meer kenmerkend. Hoewel hy nog nooit iets noemenswaardigs gewen het nie, het dit hom nog geensins ontmoedig nie. Hy sê: “Ek verwag altyd om te wen.” ’n Man in Montreal, wat ’n hele week se loon op ’n Kanadese lotery uitgegee het, het eweneens die beskouing van baie mense opgesom toe hy verduidelik het: “Deelname aan sulke loterye is die enigste manier waarop die gewone man ’n kans staan op ’n beter lewe.” Maar hy het nie gewen nie.
Ten spyte van die wêreldwye aantrekkingskrag van loterye is daar ’n ander vorm van dobbelary wat al hoe gewilder raak: om op die dobbelmasjiene te speel. Hoewel die dobbelmasjiene ’n mens nie oornag ryk sal maak nie, bied hulle die speler ’n geleentheid om ’n pryspot—wat ’n aansienlike bedrag kan beloop—op die daad te wen. En dobbelmasjiene word nie meer net in casino’s aangetref nie. Oulike deuntjies, flitsende ligte en die geklingel van geld wat af en toe uit die masjiene rol, maak ’n mens bewus van die feit dat hulle algemeen in baie Europese koffiehuise, klubs, restaurante en hotelle voorkom.
Frances is ’n bejaarde weduwee wat in New York-stad woon. Sy reis twee of drie keer per week twee en ’n half uur per bus na Atlantic City, New Jersey. Wanneer sy daar aankom, gaan sy by een van die stad se casino’s in en speel daar nagenoeg ses uur lank op die dobbelmasjiene voordat sy weer huis toe gaan. “Ek weet nie wat ek sonder Atlantic City sou doen nie”, sê sy. “Dit is ons pret, verstaan jy, dit is wat ons doen.”
Vir ander is dobbelary veel meer as net vermaak, ’n afwisseling van die daaglikse roetine of ’n veelbelowende kans om ryk te word. In hulle geval is dit ’n belangrike—miskien selfs onontbeerlike—deel van die lewe.
“Ek is ’n dobbelaar omdat ek die risiko geniet wat daarmee gepaardgaan”, verduidelik Luciano van Córdoba, Spanje. “Ek maak nie verskonings vir myself nie”, sê hy verder, “maar die feit is ek het terneergedruk gevoel, en dit is waarom ek bingo begin speel het. Toe het ek ander gelukspeletjies gesoek. Jy voel so goed wanneer jou sak vol note is en jy reg is om te speel.” Nog ’n gewoontedobbelaar, wat sy werk as direkteur van ’n maatskappy verloor het, is gevra of hy dit al ooit oorweeg het om sy slegte gewoonte op te gee. “Dit opgee?” het hy geantwoord. “Ek kan dít nie doen nie. Dis hoe ek ’n bestaan maak.”
Hoewel die beweegredes verskil, is dobbelaars beslis nie ’n minderheidsgroep nie. In meerdere of mindere mate dobbel 3 uit 4 volwasse Amerikaners; in Spanje, nog ’n land waar dobbelary endemies is, is die verhouding soortgelyk. En dobbelary is ’n reusebedryf. Daar is slegs enkele nywerheidskorporasies in die wêreld wat ’n groter jaarlikse omset as die gesamentlike loteryinkomste van 39 lande het.
Dobbelary het onteenseglik ’n kragtige betowering. Maar is dit ’n onskuldige bekoring of is daar verskuilde gevare daaraan verbonde? ’n Spreuk uit die ou tyd waarsku: “Hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie” (Spreuke 28:20). Is dit waar in die geval van diegene wat deur dobbelary ryk wil word?
[Voetnoot]
a Om op die uitslae van sokkerwedstryde te wed.