Wêreldbekersokker—Sport of oorlog?
Deur Ontwaak!-medewerker in Italië
DIE wêreld se aandag was op sokker gevestig. Van 8 Junie tot 8 Julie 1990 het honderdmiljoene mense vasgenael voor hulle televisieskerms gesit om die gebeurtenis van die jaar te volg—die Wêreldbeker-sokkerkampioenskap wat in Italië gehou is. ’n Wêreldwye televisietoeskouertal van altesaam 30 000 000 000 mense het die verloop van 52 wedstryde dopgehou—dit is ses keer soveel as die wêreldbevolking!
Hierdie televisieskouspel is moontlik gemaak deur ’n organisasie wat gebruik gemaak het van ongeëwenaarde hipertegnologie—’n TV-produksiesentrum wat 147 netwerke, verteenwoordigend van 118 nasies, bedien het, met 180 televisiekameras, 38 produksie-eenhede en 1 500 tegnici. Boonop is die wedstryde, wat in 12 Italiaanse sokkerstadions gespeel is, deur 2515 000 toeskouers en 6000 joernaliste uit alle dele van die wêreld bygewoon. Hierdie syfers vertel egter nie die volle verhaal nie. In ’n poging om hierdie reusagtige “ontvlugting van die werklikheid” te beskryf, soos party dit genoem het, het skrywers, sosioloë, sielkundiges, kunstenaars en selfs teoloë kommentaar gelewer oor die gebeurtenis.
Het Wêreldbekersokker egter tot internasionale harmonie en sportiwiteit bygedra? Het die miljoene mense wat die wedstryde per satelliet dopgehou het, en wat deur hulle passie vir die sport verenig is, daarin geslaag om hulle nasionalistiese antagonisme gedurende daardie 30 dae te bowe te kom? Het sokker as ’n krag tot eenheid gedien?
Sport of oorlog?
Kom ons beskou net een aspek wat kenmerkend is van soveel hedendaagse sportgebeurtenisse—geweld. Hierdie verskynsel word dikwels by sokkerwedstryde gesien—op die veld, op die paviljoene en buite die stadion. Sielkundiges, sosioloë en joernaliste is dit eens dat sport geen uitsondering is in ’n wêreld wat so intens gewelddadig is nie. Fundamentele morele waardes word genadeloos ondergrawe. Pogings om die gewelddadige werklikhede van hedendaagse sport goed te praat deur die gebruik van sinsnedes soos “sport is ’n eerlike botsing”, “die gees van vriendskap”, of “broederskap” slaag nie.
Die Wêreldbekerkampioenskap was geen uitsondering nie. Geruime tyd voor die wedstryde begin het, is kommerwekkende berigte reeds ontvang. ’n Opskrif wat 18 dae voor die eerste wedstryd in die koerant La Repubblica verskyn het, het gelui: “Gewelddadige sokkerfanatisme skrik mense af en toeriste verlaat Italië.” Mense was die bangste vir die berugte sokkerboewe (hooligans), ’n groep Engelse sokkerentoesiaste wat oor die hele Europa bekend is vir hulle vandalisme vóór, gedurende en ná elke spel.a
Die nommer van 1 Junie 1990 van Turyn se dagblad La Stampa het die oorsake van die geweldpleging en ongepoetste gedrag van sokkerboewe in die stadions in oënskou geneem en gesê: “Teen hierdie tyd word niks meer half gedoen onder die sokkergroepe nie. Teenstanders is nie meer net teenstanders nie maar ‘vyande’; ’n botsing is nie die uitsondering nie maar die reël, en dit moet hewig wees, so hewig moontlik.” Maar waarom? “‘Omdat ons mekaar haat’, het party sokkerboewe van Bologna geantwoord.” In ’n poging om die logika agter sulke haat te verduidelik, het sosioloog Antonio Roversi gesê: “Die stadionjeugdiges ly aan ‘bedoeïensindroom’. Die van hulle wat aan dié sindroom ly, beskou hulle vriende se vyande as húlle vyande, hulle vyande se vriende as húlle vyande, en, omgekeerd, die vriend van ’n vriend is ’n vriend en die vyand van ’n vyand is ’n vriend.”
Haat, geweld, wedywer, vandalisme, die “bedoeïensindroom”—die Wêreldbeker-sokkerkampioenskap het nog nie eers begin nie of die atmosfeer was reeds een van oorlogverklaring. Italië het nietemin in feestelike stemming vir die geleentheid voorberei.
Pouslike seënbede
Selfs die pous, wat nie maklik van ’n groot gehoor wegbly nie, het die Wêreldbeker-“tempel”, die opgeknapte Olimpiese Stadion in Rome, besoek en dit geseën. Hy het gesê: “Afgesien daarvan dat dit ’n sportfees is, kan die Wêreldsokkerkampioenskap ’n fees van solidariteit tussen die volke word.” Hy het bygevoeg dat moderne sport verskriklike gevare moet vermy, soos die beheptheid met materiële gewin, die oormatige klem op die skouspelagtige, die gebruik van opkikkers, bedrog en geweld. Hy het die hoop uitgespreek “dat al die moeite en opofferings daartoe sal bydra dat ‘Italia ’90’ ’n tydperk van groei in broederskap sal wees vir julle medeburgers en vir alle mense”. Jesuïet Paride Di Luca, ’n voormalige sokkerspeler, het die pous se sentiment herhaal met sy ‘Gebed van die Sokkerentoesias’ toe hy gesê het: “Kom, O my God, kom kyk na die Wêreldbeker.”
Maar was die Wêreldbeker regtig ’n groot fees? Sou die God van die heelal hom daaraan steur? Kom ons beskou sport soos dit werklik is en kyk na die waardes wat dit verheerlik.
Sportboewe
Weens die sokkerboewe was stede soos Cagliari en Turyn in ’n staat van besetting vir die duur van die eerste fase van die kampioenskap. Hier is ’n paar koerantopskrifte: “Rimini geskud deur die oorlogvoering”; “Cagliari, oorlog breek uit”; “Geweldpleging in Turyn: ’n Duitser en ’n Brit met messe gesteek”; “’n Dag van onluste tussen Engelse, Duitse en Italiaanse entoesiaste”; “Beskerm ons teen die Engelse entoesiaste—Die burgemeester van Turyn doen ’n beroep”; “Nagte van botsings tussen ekstremiste. Die burgemeester: Die mense van Turyn is die werklike boewe.” Hier is nog ’n ysingwekkende voorbeeld: “‘Hoe om ’n opponerende entoesias met ’n mes te steek’—In Engeland uitgegee: Die handleiding vir die volmaakte sokkerboef.” Hierdie opskrifte is genoeg om die situasie te skets. Maar sulke dinge is maar net die natuurlike gevolg van ’n gemeenskap wat op geweld teer.
Die groot sportgebeurtenis het nie op ’n gelukkige noot geëindig nie. Die kleinerende gefluit van die Italiaanse entoesiaste teenoor die Argentynse span en sy baasspeler, Maradona, omdat hulle die Italiaanse span uitgeskakel het, het die vrolikheid van die eindstryd oorskadu en die laaste spel bederf. Daardie aand in Julie was daar geen “groot sportbroederskap” in die Olimpiese Stadion te bespeur nie; die Wêreldbeker-“tempel” is ontheilig. Die koerant Il Tempo van 10 Julie 1990 het berig: “Daar buite op die veld het hulle die spel beledig—op die paviljoene het hulle die sport besoedel.”
’n Treurige slot vir ’n gebeurtenis wat sommige gehoop het die wêreld minstens 30 dae lank in ’n “wêreldwye dorp” sonder grense sou omskep. Maar as sokker nie vrede en harmonie teweeg kan bring nie, hetsy op die veld of elders, is dit dan realisties om te verwag dat dit wêreldvrede kan bevorder?
’n Gebalanseerde beskouing van sokker
La Stampa het sokker opgehemel deur dit te beskryf as “’n heilige oorblyfsel van voorvaderlike gevegte, die sokkerbal as die simbool van onvoorspelbaarheid, die wese van alle sportwedstryde”. Met hierdie soort denkwyse in gedagte, hoe moet die opregte Christen sokker beskou? Trouens, hoe moet die Christen alle professionele sport beskou?
‘Diegene wat nie van sokker hou nie, loop iets in die lewe mis’, het Bertrand Russell na bewering geskryf. Dit kan natuurlik genotvol en gesonde ontspanning wees om sokker te speel of enige ander sport te beoefen, veral aangesien so baie mense ’n sittende lewe lei. Maar beteken dit dat daar geen gevare daaraan verbonde is nie?
Die Bybel sê: “Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart [“onderlinge wedywer aanwakker”, NW] en mekaar beny nie” (Galasiërs 5:26). Die Wêreldbekerkampioenskap dien tot duidelike bewys dat geweld en ’n gesindheid van ‘wen-tot-elke-prys’ dikwels hand aan hand gaan. Hierdie is die negatiewe sy van professionele sport. Ten einde sulke “werke van die vlees” te vermy, moet Christene, deelnemers sowel as toeskouers, hul gees in bedwang hou, veral met betrekking tot die begeerte om die beste te wil wees (Galasiërs 5:19-21). Onthou wat die digter gesê het: “Want wanneer die Een Groot Tellinghouer kom om teenoor jou naam te skryf, dan teken hy aan—nie dat jy gewen of verloor het nie—maar hoe jy die spel gespeel het.”
’n Ander aspek wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die tydfaktor. Tel jy onder die miljoene naarstige televisiekykers wat ure sonder tal na sportgebeurtenisse kyk? Hoeveel uur wy jy daarteenoor aan fisiese oefening? Balans—dit is die sleutelwoord. Dit beteken dat jy tyd moet inruim vir fisiese oefening en ontspanning sonder om belangriker geestelike bedrywighede af te skeep. Die apostel Paulus het die jong Timotheüs raad gegee wat vandag nog méér geld: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”—1 Timotheüs 4:8.
[Voetnoot]
a Een verklaring van die oorsprong van die woord “hooligan” is: “’n Man met die naam Patrick Hooligan, wat heen en weer tussen mense geloop en hulle beroof en partykeer geslaan het.”—A Dictionary of Slang and Unconventional English, deur Eric Partridge.
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Photo Agenzia Giuliani