Loterye—Wie wen? Wie verloor?
DIE basiese betoog ten gunste van regeringsloterye is dat hulle miljoene rande vir die regering inbring, geld wat andersins slegs deur ’n verhoging van belastings verkry sou kon word. ‘En hoe maklik is dit tog nie!’ sê die ondersteuners daarvan. Dit is soos belasting wat niemand hóéf te betaal nie; dit is vrywillig. Trouens, mense is gretig om te betaal; hulle staan tou om te betaal!
Maar wat is sommige van die besware teen loterye?
Een is dat loteryadvertensies dikwels inligting verswyg of dat hulle eenvoudig misleidend is. Hulle bevorder die gedagte dat jy gáán wen. ’n Sprekende voorbeeld is ’n Kanadese loteryadvertensie wat lui: “Ons maak dit maklik om te . . . WEN!! ”
Maar hoe maklik is dit om te wen? Alie neem gereeld aan ’n Wes-Duitse lotery deel. Die advertensie basuin dit uit: “Jou kanse om te wen is ongelooflik.” En tog betreur Alie sy lot: “Ek neem al tien jaar lank aan die lotery deel, en ek het nog nooit iets gewen nie. En ek ken ook niemand anders wat al iets gewen het nie.”
Vir elke groot pryswenner is daar miljoene soos Alie, verloorders wat week na week, jaar na jaar, hulle geld uitgee maar niks terugkry nie. In die Verenigde State maak diegene wat al $1 miljoen (R2,5 miljoen) gewen het 0,000008 persent van die 97 miljoen loterydobbelaars in die land uit.
Die kanse dat jy ’n topprys sal wen, is nie net een uit ’n miljoen nie (naastenby die kans dat ’n mens deur weerlig getref sal word); dit kan een kans uit etlike miljoene wees. Byvoorbeeld, toe dit duidelik geword het dat meer kaartjies verkoop word as die pryspot groter is, het die kanse om die New York-Lotto te wen van 1 uit 6 miljoen tot 1 uit 12,9 miljoen die hoogte ingeskiet!
Geen wonder nie dat mense die loterye daarvan beskuldig dat hulle druk uitoefen op onbedagte kopers wat heeltemal onbewus is van die geweldige kanse teen hulle. Dr. Valerie Lorenz, hoof van die Amerikaanse Nasionale Sentrum vir Patologiese Dobbelary sê eenvoudig: “Loterye? Dit is die grootste swape-weddenskap wat jy kan kry. Die kanse teen jou is absoluut buitensporig.”
Maar gestel jy wen ’n miljoen dollar (R2,5 miljoen)? Jy sal dit nie alles kry nie. Nadat die belastinggaarder sy deel geneem het, kry wenners in die Verenigde State 20 jaar lank elke jaar $35 000 (R87 500). Dit is $700 000 (R1 750 000), waarvan die waarde oor die tydperk van 20 jaar nog verder deur inflasie verminder sal word.
Uitwerking op die armes
Nog ’n punt van kritiek is dat die groot spandeerders arm mense is, diegene wat dit allermins kan bekostig. Die loterypromotors redeneer dat dit onwaar is en sê dat opnames toon dat loterye gewilder is onder die middelinkomstegroep. Hulle sê verder dat deelname aan loterye vrywillig is; niemand word gedwing om deel te neem nie. Advertensies wakker nietemin doelbewus die begeerte van deelnemers aan, en baie deelnemers is arm mense. ’n Kassier by ’n kafee in Florida, sê: “Ons sien dieselfde groep mense elke week. Party koop elke dag 10 kaartjies. Party koop elke week 100. Hulle het nie geld vir kos nie, maar hulle neem aan ‘Lotto’ deel.”
In sommige minder ontwikkelde lande is die situasie dikwels nog erger. Die regering van Indonesië het onlangs sy Porkas-sokkerlotery weer in oënskou geneem toe die media berig het dat hele dorpe tekens van “Porkas-waansin” toon. Die tydskrif Asiaweek het berig: “[Indonesiese] koerante was vol gruwelberigte: mans wat hulle vrouens en kinders slaan; kinders wat geld van hulle ouers steel; kinders wat swaar verdiende geld spandeer wat vir skoolgeld bedoel was—dit alles vir Porkas.”
Namate loterye wêreldwyd volop voorkom, kom meer en meer mense met dobbelary in aanraking. Party, nie net die armes nie, word kompulsiewe dobbelaars—loteryverslaafdes. Arnie Wexler is die hoof van die Raad vir Kompulsiewe Dobbelary in New Jersey, VSA. Hy sê: “Die wetgewers meen dat hulle ’n pynlose, maklike manier gekry het om geld in te vorder, maar in werklikheid is hulle besig om baie gesinne te vernietig, asook baie sakeondernemings, baie mense, en baie lewens.”
’n Kwessie van waardes
’n Ander belangrike saak van kommer is dat regeringsloterye mense se gesindheid ten opsigte van dobbelary verander het. Hedendaagse staatsbeheerde loterye, soos “Play 3”, of “Lucky Numbers”, bied kanse van duisend teen een, maar hulle betaal slegs sowat 50 persent aan prysgeld uit. Voordat die regering met loterye begin het, was die spel “uit die bose”, ’n onwettige swendelary, ’n ondeug. Nou word dieselfde spel beskryf as vermaak, pret, ’n daad van burgerlike verantwoordelikheid!
’n Belangrike verskil tussen die onwettige nommerspel en regeringsloterye is natuurlik die feit dat winste nou ten behoewe van regeringsprojekte aangewend word pleks van in die sakke van misdadigers te beland. Baie waarnemers is nietemin besorg oor die invloed van loterye op die etiese waardes van die gemeenskap wat veronderstel is om daarby baat te vind.
Dit is omdat loterye die hoop en begeerte aanwakker om sonder inspanning ryk te word. Paul Dworin, die redakteur van Gaming and Wagering Business, het gesê: “In die verlede het die staat gesê dat dit met jou goed sal gaan as jy hard werk. Nou is dit: ‘Koop ’n kaartjie en word ’n miljoenêr.’ Dit is ’n eienaardige boodskap vir ’n staat om te verkondig.” En George Will het in Newsweek geskryf: “Hoe meer die mens glo aan die belangrikheid van die geluk, lot, toeval en die noodlot, hoe minder glo hy aan die belangrikheid van tradisionele deugde soos vlyt, spaarsaamheid, die uitstel van bevrediging, werkywer, leergierigheid.”
Nog ’n fundamentele uitgangspunt van die mensegemeenskap is: Mense moet nie probeer voordeel trek uit die teenspoed van ander nie. Die promotors van loterye staan egter die beskouing voor dat dit in orde is vir ’n persoon om wins te maak en genot te put uit ander se skade. So ’n denkwyse is selfsugtig; dit druis in teen die Bybel se vermaning: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Mattheüs 22:39.
Loterye neem ondanks baie teenstand steeds wêreldwyd toe. ’n Besoeker aan Wes-Afrika het honderde mense opgemerk wat by ’n staatsloterygebou saamgedrom het. “Waarom mors al hierdie mense hulle geld op die lotery”, wou hy van ’n plaaslike inwoner weet, en bygevoeg, “veral aangesien hulle arm is?”
“My vriend, hulle neem deel aan die lotery omdat dit hulle hoop gee”, het die inwoner geantwoord. “Vir baie van hulle is dit die enigste hoop wat hulle in die lewe het.”
Maar bied dit werklik enige hoop as jy die lotery wen? Dit is veel eerder ’n sinsbedrog, ’n droombeeld, ’n onwaarskynlike droom. ’n Nougesette Christen sal beslis nie sy tyd en geld mors in die ydele najaging van dobbelrykdom nie. Dit is baie beter om die raad van die apostel Paulus te volg wat geskryf het dat verstandige mense “nie hulle hoop . . . stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet”.—1 Timotheüs 6:17.
[Lokteks op bladsy 8]
“Die wetgewers meen dat hulle ’n pynlose, maklike manier gekry het om geld in te vorder, maar in werklikheid is hulle besig om baie gesinne te vernietig, asook baie sakeondernemings, baie mense, en baie lewens”
[Venster op bladsy 9]
Die beste wenke vir dobbelaars
“Daar is geen killer glimlag as dié van ’n beroepswedder wat ’n klant groet wat gewen het nie. . . . Dit is ’n uitsonderlike beroepswedder wat ’n gereelde wedder [dobbelaar] sal verhinder om te wed omdat sy klant te veel verloor. . . . Onthou ook dat suksesvolle wedders net so skaars is soos verarmde beroepswedders.”—Graham Rock, The Times, Londen.
“Die gewaarborgde pryspot van $45 miljoen (R113 miljoen) in vanaand se Lotto-loting is die grootste in die geskiedenis van die staat New York. Maar die kanse om $1 te wed en te wen is 12 913 582 teen 1.”—The New York Times.
“’n Dwaas en sy geld word gou van mekaar geskei.” ’n Algemene gesegde sedert die 16de eeu.—Familiar Quotations, deur John Bartlett.
“Dobbelaar, moenie bly wees nie; wie ook al vandag wen, verloor môre.”—’n Spaanse spreuk.